Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 29 Maart 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Dit is ’n slegte ruil
Alte baie Afrikaanse woorde verloor hul oorspronklike betekenis deurdat die betekenis van oënskynlik eenderse Engelse woorde aan hulle geplak word. En alte dikwels verloor Afrikaans daardeur aan die een kant sonder dat hy aan die ander kant iets bykry. Dit word ’n slegte ruil.
Kyk byvoorbeeld wat is met pamperlang aan die gebeur. Dit is ’n lekker, nuttige woord wat beteken om te flikflooi, witvoetjie te soek, deur vleiery iets te verkry, mooi broodjies te bak. ’n Kind wat graag iets wil hê, veral iets waarin sy ouers geen sinnigheid het nie, kan by hulle pamperlang totdat hy dit kry. Volgens Boshoff en Nienaber se Afrikaanse Etimologie kan die woord dalk afkomstig wees van die Oud-Friese woorde “pampeln”, wat klets beteken, en “(an)langen”, wat aankom beteken. “Pamperlang” sou dan eintlik beteken om met kletspraatjies aan te kom. Maar nou word die woord al hoe meer gebruik as vertaling van die Engelse “pamper”. Al wat dié twee woorde eintlik gemeen het, is die eerste twee lettergroepe, want “pamper” beteken iets heeltemal anders, naamlik om te koester, vertroetel, verwen of bederf.
Van ’n kind wat in alles sy sin kry, kan gesê word dat hy ’n verwende of bedorwe brokkie is, “pampered” op Engels.
Party mense reken wel dat “pamperlang” al so baie in die sin van “pamper” gebruik word dat dié betekenis maar erken kan word. Dit is jammer, want dit kan maar net daartoe bydra dat die oorspronklike betekenis van die woord al hoe verder op die agtergrond beland. Nou kan ’n mens nie meer so maklik sê wat voorheen met “pamperlang” gesê kon word nie. Die woord in sy nuwe gedaante is besig om “verwen” en “bederf” te verdring.
Eintlik verloor ons dus na albei kante toe.
Daar is heelparty Afrikaanse woorde wat gereeld verkeerd gebruik word omdat hulle so baie lyk op Engelse woorde met ’n heeltemal ander betekenis. So ’n woordpaar is die Afrikaanse raar en die Engelse “rare”. Wat op Engels ’n “rare flower” heet, is op Afrikaans ’n skaars of seldsame blom, nie ’n rare blom nie. Die Afrikaanse “raar” slaan op iets koddigs of sonderlings, veral in ongunstige sin. So kan van iemand gesê word dat hy ’n rare vent is.
So ook met “brave” en braaf. Die Afrikaans vir “brave” is dapper, nie braaf nie. Braaf bestaan wel, maar beteken deugsaam, ordentlik. In dié sin word dit so selde gebruik dat dit vir baie mense prakties nie meer bestaan nie.
“Brutal” en brutaal is ook so ’n woordpaar. Die Engelse “brutal” beteken wreed, en dergelike meer, en behoort nie vertaal te word met “brutaal”, wat op onbeskoftheid of astrantheid dui nie.
Net so kan die Engelse “eventual” nie met die Afrikaanse eventueel vertaal word nie, omdat die twee woorde verskillende betekenisse het. Hulle lyk maar net so eenders. Die Engelse woord beteken “uiteindelik” of “op die ou end”.
Daar kan byvoorbeeld van die “eventual result” van iets gepraat word. Die Afrikaanse woord slaan daarenteen net op ’n moontlikheid. So kan gesê word dat eventuele geskille oor iets soos ’n kontrak, d.w.s. geskille wat moontlik kan ontstaan, aan arbitrasie onderwerp sal word.
J.J.J. Scholtz, Taalgereedskap, 14 Oktober 1991 © Die Burger, Media24
trefwoorde
betekenisverskuiwing | Engels | taalverarming
meerkat
Mense laat hul voorsê
met iets deel
metonimie
Moenie ’n schmuck wees nie
Moge ’t treffe
nie
Nie net vir koppel nie
Nuwe taalreëls
Ontgroende word oorlams
Ontlening boei
Paps en Mams
plekhouers en stopwoorde
Probleme berispe
Raak naamgewing
Retro-taal, waarom nie?
riemspring en streepsuiker
Rododendron of viooltjie?
saam (met)
Sê en meen is twee
See-erfenis in idiome
sien
Sinne met so
Slegte ruil
snel groeiende
Spelkeuses is taaldemokrasie
Standaardtaal in die kollig
stappe doen of neem?
Taal is baas
taboewoord
testament tot
Turkye, Türkiye
Uitspraak van vreemde woorde
vals verkleinings
Variëteite wys taalverskeidenheid
vergeleke met
Verskynsels gee woorde
voornaamwoordelike bywoorde
Vraagteken uit Latyn
Waar hou woorde op?
Wanneer anglisisme?
Welkom vreemdelinge
Woord sê nie alles nie
Woordeboekdag