Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 5 Februarie 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui in watter bron jy wil soek, of in albei. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Getal trefwoorde vandag: 3 318 (woordeboek) | 222 (rubrieke)
loop en stap
Wat is die verskil tussen loop en stap?
Of is loop en stap volkome sinonieme?
Vir fisieke menslike beweging te voet teen die gewone pas, is loop en stap gelyk, wat betekenis betref. Mens kan net so wel sê: Ek loop net gou winkel toe, as: Ek stap net gou winkel toe. In dié opsig is hulle dan volkome sinonieme. Maar dit is nie hoe taal werk nie, nie eens met sinonieme nie. Wie sê oorwegend watter woord waar in die land? Geen idee nie.
Maar dié gegewe ooreenkoms in betekenis tussen loop en stap word skoon oorweldig deur die verskille tussen die twee woorde. Ek konsentreer net op die hoofwerkwoord.
Hoe sê mens oor diere? Dit lyk my diere van vandag loop net, hulle stap nie. Dit is nou behalwe perde. Perde kan loop én stap. Die stap van ’n perd is dan ’n spesiale manier van loop: so op ’n stappie. Let wel: nie lopie nie. Maar oor die algemeen loop diere. Ons praat byvoorbeeld van beeste wat losloop, van rondloperhonde, en van wegloperkatte.
Vroeër jare moes die reëls van Afrikaans anders gewees het. Jan Celliers skryf byvoorbeeld: Die osse stap aan deur die stowwe. En daar is die volksliedjie oor osse, wat so begin: Aanstap rooies, die pad is lank en swaar.
Daar is stappies en daar is lopies, maar hulle is nie dieselfde nie. Nooit nie. As jy uitloop of uitstap uit ’n vergadering is jy byvoorbeeld nog glad nie op ’n uitlopie óf op ’n uitstappie nie. En as mense ’n misstap begaan, kan dinge misloop, maar jy kan nie self misloop nie en dinge begin ook nie ’n misstap nie.
Mens kan met iemand saamstap of saamloop, maar omstandighede
kan net saamloop, nie saamstap nie.
Jy kan ’n onaangename persoon systap en sodoende moeilikheid misloop, maar vroeër of later gaan jy tóg dié onaangename persoon onverwags raakloop, en dan kan dié mens jou deurloop of stormloop of inloop of selfs uit trap. Maar jy kan hóm nie syloop nie, en jy kan móéilikheid nie misstap nie. Jy kan iemand nie raakstap nie, en niemand kan jou deurstap of stormstap of instap of jou selfs uitstap nie.
Die enjin of motor van ’n masjien of ’n voertuig loop, hy stap nie. Ook die vloeistof in ’n ding met vloeistof loop, dit stap nie. Dink maar wat doen ’n rivier, ’n spruit, ’n wasbak wat te vol is, en ’n melkbeker wat te vol is. En sake wat hiermee verband hou, word ook met loop raakgenoem, nie met stap nie. Dink aan die boloop en benedeloop van die rivier, en aan die inloop van ’n sytak van ’n rivier. Dink aan die oorloop van die damwal. Dink daaraan dat ’n dam kan droogloop of leegloop of volloop. Nie in een van dié gevalle kan mens stap in plaas van loop gebruik nie.
Dink maar aan die naloop, die laaste lekker bietjie nastap sal dit nooit word nie. Dit is mos ’n loopdop, nie ’n stapdop nie. In idiome is dit niks snaaks dat ’n bepaalde woord onvervangbaar is nie. Daarom dink ek nie dit is byvoorbeeld snaaks dat mens jou rieme kan styfloop maar nie kan styfstap nie. Maar dit interesseer my dat plante en bolle en knolle (wat nie te voet kan beweeg nie) wat weer begin groei, uitloop, hulle stap nie uit nie. Aan ’n aartappelmoer is daar byvoorbeeld uitloopsels, nie uitstapsels nie.
Tyd kan stap én loop: die tyd stap aan (as jy kyk op ’n oorlosie wat goed loop), of dit loop uit, soos sand uit ’n uurglas.
Nou moet ek einde se kant toe staan, want die ruimte loop lê staan en min raak.
Johan Combrink, Taalskatkis, 20 Februarie 1995 © Die Burger, Media24
trefwoorde
sinonieme
Deftig wees
Dialektiese variasies
Die tyd is nou
diernaam
dit wat
Één een
fooi
Gesukkel met name
Hoe werk die Taalkommissie?
Hoekom sprinkaan?
huh en uh-huh
huidiglik
hulpmiddele by skryf
Idiome wys taalvaardigheid
ingevoerde woorde
Is Afrikaans jonk?
kaplaks
kerfstok
kiri slam en iesegrimmig
Komma as desimale skeier
kort name
lankmoedig en verdraagsaam
Lexikos
loop en stap
meerkat
Mense laat hul voorsê
met iets deel
metonimie
Moenie ’n schmuck wees nie
Moge ’t treffe
nie
Nie net vir koppel nie
Nuwe taalreëls
Ontgroende word oorlams
Ontlening boei
Paps en Mams
plekhouers en stopwoorde
Probleme berispe
Raak naamgewing
Retro-taal, waarom nie?
riemspring en streepsuiker
Rododendron of viooltjie?
saam (met)
Sê en meen is twee
See-erfenis in idiome
sien
Sinne met so