Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 29 Maart 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Verwelkoming van vreemdelinge
Ons dink Afrikaans is mans genoeg vir die taak. Tot op ’n punt. Dan gooi ons tou op en ons gebruik die Engelse woord in een of ander mom, of somaarso naak.
Byvoorbeeld ons sweep vir die Engelse parlementêre whip. In die Kersnommer van Die Burger van 1917 word vertel van die mislukte pogings om die Volksraad se whip te vertaal. “Aandrijver is aan de hand gegeven, maar deze benaming heeft weinig bijval gevonden.” (De Burger was toe nog Hooghollands.) “Sjambok is voorgesteld en zou een vrij Afrikaanse vertaling van whip zijn, maar ook dat woord heeft geen vat gekregen ... Aldaar kent men de eigenaardige ambtenaar eenvoudig als sweep.”
So het sweep in ’n totaal onbekende betekenis kaart en transport in Afrikaans gekry, maar in dié sin is “dat woord” geen vertaling nie, hoogstens ’n transkripsie. Soos blerrie of bleddie geen vertaling van bloody is nie. (Dié woord staan nie in WAT nie, darem in die Tweetalige Woordeboek.)
Tot ’n punt
Dit bring ons terug by “tot op ’n punt” bo. Ons het allerhande lelike name vir mense wat oral Engels tussenin gooi, maar dit lyk of ons op elke terrein ’n punt bereik waar ons besware opraak en ons die vreemde verwelkom. Daar is byvoorbeeld die Engelse rugbywoord skrum, wat volgens die Uitspraakwoordeboek selfs ook met ’n Engelse u uitgespreek word. Die woord het geen verwant in Afrikaans nie. Selfs in Engels is dit ’n korrupsie van skirmish. Maar ons gebruik hom net so in Afrikaans, terwyl ons in ander gevalle skakel en los gemaal uitgedink het.
Ons kan leer
Uit die baie dergelike leenwoorde wat ons het, noem ek net dolliwarie (van Dolly Varden) omdat hy my die meeste van almal amuseer. Iemand behoort ’n studie van sulke gevalle te maak om vas te stel wat daar gebeur dat ons in ’n sekere fase ons Afrikanerstrewe skielik oorboord gooi en dat woord goedkeur.
Laat ek ophou met ’n mooi woord wat ek by ’n jong ma gekry het virjolly jumper, wat met sy speelsheid, alliterasie en ritme so lekker sê dat ons hom in sy Engelse kleed moeilik gaan keer. Haar woord was huppeltuig. Ek kon darem daarvoor sorg dat die woord in die Tweetalige Woordeboek staan vir alle voornemende jong moeders van die toekoms.
Deurhak
Dolly Varden is nie die enigste jakkals wat sowel van hare as snare verander het nie; soos skirmish doen baie woorde dit, onder ons oë. Uitdrukkings doen dit ook. So sien ons nou byna daagliks dat aan die man bring gebruik word in die betekenis van die skuldige aanwys of laat boet, terwyl dit altyd beteken het dat ’n handelswaar verkoop word. Die knoop deurhak word byna daagliks gebruik in die betekenis van besluit om te trou. En sondebok word die skuldige, pleks van die onskuldige wat vir die sondaar moet boet.
Mev. A.H. Jacobson van Kaapstad is bekommerd oor knoop deurhak. Sy sê dat Gordius volgens die mite van die orakel gehoor het dat die knoop in sy perde se stringe losgemaak sou word deur iemand wat baas van die wêreld sou word. Toe Alexander die Grote dit hoor, gaan kap (hak) hy die knoop los met sy swaard. Sedertdien beteken knoop deurhak met daadkragtigheid ’n einde maak aan ’n geklaag en gesukkel. Maar nou dwing mense om aan die uitdrukking die ander inhoud te gee. En as genoeg mense lank genoeg aanhou, sal ons later moet toegee.
Johan Spies, Taalgereedskap, 16 Augustus 1993 © Die Burger
trefwoorde
Engelse woord | etimologie | leenwoord | neologisme | nuutskepping | oorklanking | transkripsie | uitdrukking | volksetimologie | vreemde woord | woordeboek
saam (met)
Sê en meen is twee
See-erfenis in idiome
sien
Sinne met so
Slegte ruil
snel groeiende
Spelkeuses is taaldemokrasie
Standaardtaal in die kollig
stappe doen of neem?
Taal is baas
taboewoord
testament tot
Turkye, Türkiye
Uitspraak van vreemde woorde
vals verkleinings
Variëteite wys taalverskeidenheid
vergeleke met
Verskynsels gee woorde
voornaamwoordelike bywoorde
Vraagteken uit Latyn
Waar hou woorde op?
Wanneer anglisisme?
Welkom vreemdelinge
Woord sê nie alles nie
Woordeboekdag