Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 29 Maart 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Hayi wena, moenie ’n schmuck wees nie, wees ’n meshuggeneh
Taalpuriteine doen veel om oorspronklike woorde en sêgoed te bewaar, maar in hulle ywer stuit baie van hulle ’n potensieel ryke kruisbestuiwing en woorduitruiling tussen tale.
Ek het in die meestal Sesotho-sprekende Vrystaat grootgeword. Ek onthou hoe ek as kind graag ha ke tsebe (as een woord) gesê het om te kommunikeer dat ek nie weet nie, of tsamaea om vir iemand te vertel om van my weg te gaan sonder om die f-woord te gebruik. Ons het alle ouer swart mans ntate (meneer, vader) en die swart dominees moruti genoem.
My kollega Anneliese Burgess het oor Xhosafringlish geskryf en Xhosa-woorde genoem wat Engels en Afrikaans gebruik word, soos gwala (lafaard) en tshotsho (ek het jou mos gesê).
Nie baie Afrikaanssprekendes weet dat hulle gereeld woorde uit die Ngunitaal gebruik nie; woorde soos babelas, impi, tollie, donga, of die baie Afrikaanse woord aikona, van haikona.
Afrikaans is ook deur die Maleise tale van die destydse slawe en imams verryk. Woorde soos blatjang, bobotie, borrie (“turmeric”), piesang en sosatie is vandag suiwer Afrikaans – soos die woord baie.
Ander Suid-Afrikaanse tale het weer van Afrikaans geleen, soos voesek/fusak van voertsek, terwyl fokol sy verbintenis met die Engelse fuckall verloor het en deesdae sommer parlementêre taal is.
Daar is natuurlik geen Suid-Afrikaanse taal wat van ’n “pick-up truck” praat nie. Dit is bakkie, of in Zoeloe, baki.
Maar geen ander taal in die geskiedenis het soveel geleen, geskuif, aangepas en gedeel soos Yiddish nie. En ná ’n duisend jaar is Yiddish steeds vir die mensdom ’n bron van unieke, ekspressiewe woorde en uitdrukkings, wat ek terloops glo heelwat meer in Afrikaans en ander plaaslike tale gebruik kan word.
Yiddish was die taal wat deur die Ashkenazim gepraat is, die Jode wat in Oos- en Sentraal-Europa gewoon het. Dit was breedweg op ou Duits, Hebreeus en Aramees gegrond, maar is sterk deur plaaslike tale soos Pools en Russies beïnvloed.
Die meeste Yiddish-sprekers is tydens die Holocaust vermoor en die taal het amper gesterf. Vandag word dit net as primêre taal deur klein gemeenskappe van Hasidiese en ultra-ortodokse Jode gebruik.
Dit is ’n ryk, kleurvolle en warm taal, vol humor, maar met ’n byt; ’n refleksie van die geskiedenis van die mense wat dit oor baie eeue heen gepraat het.
In die video hier onder word die skrywer Eric Jong só aangehaal: “Yiddish wasn’t just words, you see, it was an attitude. It was sweet and sour. It was a shrug and a kiss. It was humility and defiance in one.”
Heelwat Yiddishe woorde het in veral Amerikaanse Engels ingesluip, maar nie elke gebruiker daarvan besef eens dat dit Yiddish is nie: woorde soos chutzpah, mensch, schlep, schmalz en spiel.
Hier is ’n kort lys van Yiddishe woorde wat ons maklik in vandag se gesprekke kan gebruik.
alterkaker ’n Old fart.
boychik Seun of jong man. ’n Boytjie.
bubkes of bupkes Niks, zilch (kort vir kozebubkes, bokdrolle).
bubuleh Liefling, skat, bokkie.
chutzpah ’n Mengsel van durf, selfvertroue en arrogansie.
dreck Drek.
futz Om nonsens te maak, speletjies te speel. (Van die Yiddishe frase arumfartsn zikh, “to fart around”.)
ganef of gonif ’n Swernoot, dief, boef.
glitch ’n Klein foutjie of wanfunksie.
haimish of heimish Soos by die huis; warm en vriendelik.
kanipshin ’n Woede-aanval – ’n tantrum.
kibitzer Iemand wat knaend ongewensde kommentaar of advies lewer.
klutz ’n Lomp mens wat oor sy/haar voete struikel en goed laat val.
kvell ’n Uitdrukking van trots in iemand anders of wat hulle bereik. (Ek kvell, my seun is vir die eerste span gekies.)
kvetch (selfstandige naamwoord of werkwoord) Kerm en kla.
mamzer ’n Baster (kwetsend, neerhalend, rassisties) (“bastard”).
maven Aficionado, kenner.
mazal tov Veels geluk!
megillah ’n Lang, vervelige storie, voorlegging of produksie. (Van megile, ’n boekrol, met verwysing na die lees van so ’n rol by Joodse godsdienstige dae. Jy kan ook praat van “die hele megillah”.)
mensch ’n Ordentlike, deernisvolle mens.
meshuggeneh Om iemand te beskryf wat verspot, mallerig of ’n moeilikheidmaker is, maar met ’n stukkie deernis gesê.
mishpacha Familie, of dit nou bloedfamilie of gekose familie is.
narrischkeit verspottigheid, nonsens.
nebbish of nebbich ’n Pateet, ’n nonentiteit, ’n stofpoeper.
noodge of nudzh (werkwoord of selfstandige naamwoord) Om te kerm, te kla of lastig te val.
nosh ’n Klein porsie kos, of om te peusel.
oy vey of oy gevalt ’n Uitroep van verbasing of onthutsing as iets skeefloop, teleurstel of verras.
pisher ’n Onervare, onbelangrike mens.
plotz Om ineen te stort, ’n oorval te kry by die aanhoor of aansien van iets. (Ek het amper geplotz toe ek vir Siya Kolisi in die restaurant raakloop.)
potch of petch ’n Snotklap.
putz Gomgat, skepsel. Die letterlike betekenis is “penis”.
schlemiel ’n Lomp, onbekwame mens, ’n droogmaker.
schlep Om êrens heen te moet gaan of iets êrens heen te neem wat vir jou moeite is. (Ek moes al die pad na sy huis toe schlep.)
schlimazel Iemand wat nooit goeie geluk het nie.
schlock Goedkoop, minderwaardige item.
schlong Penis. (Uit die Duits Schlange, slang.)
schlub ’n Slonskous.
schmaltz Oordadig sentimentele kuns of musiek. (Die letterlike betekenis is hoendervet, ’n gewilde bestanddeel in Joodse geregte.)
schmaltzy Oordadiglik sentimenteel of emosioneel.
schmooze Vriendelike geselsies maak.
schmuck ’n Poephol, ’n vent, ’n misoes. (Van shmok, “penis”, uit die ou Pools smok, “grasslang”.)
schnook ’n Saggeaarde mens, of ’n oulike kind.
schnorrer ’n Bedelaar, iemand wat op ander teer. (Die komediant Jerry Seinfeld definieer schnorrer as “someone who picks the cashews out of the mixed nuts.”)
schnoz of schnozz of schnozzle Neus, veral ’n grote.
schtup Om seks te hê.
schvitz Om te sweet.
shemozzle ’n Onderonsie, ’n bakleiery.
shepping naches (of net shepping) Om trots te voel op iemand of dit wat hulle bereik het.
shmendrik ’n Swaap.
shpilkes Rusteloosheid, ongeduld. (Ek het die shpilkes; kan ons nie nou maar huis toe gaan nie?)
shtick Iets waarvoor iemand bekend is, wat hy/sy graag doen. (Hy bak altyd poetse by partytjies, dis sy shtick.)
shtum Tjoepstil.
spiel ’n Lang storie, toespraak of voorlegging.
tchotchke Snuistery.
tuchus Boude. (Hy het hom ’n klap op die tuchus gegee.)
verkakte of farkakteh of vakakte Swak, vrot, sleg, kakkerig.
verklempt Oorkom deur emosie.
yenta ’n Skinderbek, ’n vrou wat baie praat.
yutz ’n Dwaas.
zaftig ’n Volronde vroueliggaam, maar bedoel as kompliment. (Van zaftik, “sappig”.)
Max du Preez in © Vrye Weekblad, 24 November 2023
trefwoorde
Jiddisj | leenwoord | Maleis | Ngunitaal | Sotho | taalpurisme | vreemde woord | Xhosa | Zoeloe
Jiddisj-Nederlandse woordeboek
Één een
fooi
Gesukkel met name
Hoe werk die Taalkommissie?
Hoekom sprinkaan?
huh en uh-huh
huidiglik
hulpmiddele by skryf
Idiome wys taalvaardigheid
ingevoerde woorde
Is Afrikaans jonk?
kaplaks
kerfstok
kiri slam en iesegrimmig
Komma as desimale skeier
kort name
lankmoedig en verdraagsaam
Lexikos
loop en stap
meerkat
Mense laat hul voorsê
met iets deel
metonimie
Moenie ’n schmuck wees nie
Moge ’t treffe
nie
Nie net vir koppel nie
Nuwe taalreëls
Ontgroende word oorlams
Ontlening boei
Paps en Mams
plekhouers en stopwoorde
Probleme berispe
Raak naamgewing
Retro-taal, waarom nie?
riemspring en streepsuiker
Rododendron of viooltjie?
saam (met)
Sê en meen is twee
See-erfenis in idiome
sien
Sinne met so
Slegte ruil
snel groeiende
Spelkeuses is taaldemokrasie
Standaardtaal in die kollig
stappe doen of neem?