Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 5 Februarie 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui in watter bron jy wil soek, of in albei. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Getal trefwoorde vandag: 3 318 (woordeboek) | 222 (rubrieke)
Sinne wat met “So” begin
So, hoekom begin sprekers sinne met “so”? En hoekom is dit vir só baie lesers só ’n bron van irritasie dat hulle vra ek moet daaroor skryf? Is “so” aan sinsbegin bloot ’n irriterende aanwendsel? Nuut is dit nie, maar skielik is dit oral. Sodra iemand die aandag daarop vestig, begin jy dit hoor, soos ’n druppende kraan wat jy tevore nie opgelet het nie.
As eksperiment kyk ek na ’n kookdemonstrasie. Binne agt minute word dié werkesel 22 keer voor ingespan, nes in Engels ook. In 2010 reeds verwys ’n rubriekskrywer in die New York Times na “so” as die nuwe “um” en “like”. Meestal let ons dit nie op nie. Dit pla nie almal wat dit hoor nie. Maar soos dit met taalverskynsels gaan, raak dié wat dit steurend vind, hoogs geïrriteerd. Party noem dit ’n gier; ander ’n plaag.
Prof. Sali Tagliamonte van die Universiteit van Toronto sê: Bedaar. “So” en dergelike woorde is belangrik in gesprekke. Een van die funksies van “so” is om ’n diskoers te begin: “Luister, ek gaan jou iets vertel.” Nog sulke merkers is “wel”, “nou”, “streng gesproke”, “oor die algemeen”, “om te herhaal”. Voorbeelde van wegwysers binne ’n gesprek – woorde wat subtiel aandui in watter rigting die geselsery gaan verloop – is “daarom”, “ewenwel”, “nietemin”, “nogtans”, “tog” en dergelike.
Aan die begin van ’n sin kan “so” inligting vra (“So, hoe het dit gegaan?”); dit kan ’n gesprek help vloei (“So, toe ons daar kom ...”); dit kan oorsaak en gevolg verbind (“Die bakpoeier was verslaan; so, toe val die koek plat”). Die meeste klagtes handel egter oor kundiges wat “so” gebruik om antwoorde op vrae in te lei in gevalle waar hulle dit nodig ag om eers die agtergrond te skets.
Deur my antwoord met “so” te begin, dui ek aan: “Ek verstaan jou vraag en ek gaan nou vir jou die antwoord daarop gee.” Terwyl ek nog my gedagtes orden, begin ek met “so”. Dit is ’n beleefde gebruik wat wys ek neem die luisteraar in ag, sê Tagliamonte.
Maar respondente in meningspeilings heg aan “so”-sinne ook ander konnotasies. Een groep beweer sprekers wat met “so” begin, gee daardeur te kenne dat hulle gehoor ’n bietjie dom is en moeilike woorde nie sal verstaan nie. Dié groep beskou enige buitensporige “so”-sêery as grootdoenerigheid: Die spreker wil belangrik klink en ander beïndruk. ’n Tweede groep vermoed mense wat met “so” begin, is self onseker. ’n Derde kry hond se gedagte: Dat die spreker op die punt staan om ’n klomp onwaarhede kwyt te raak. ’n Sielkundige meen sprekers gebruik soms “so” as hulle nie ’n reguit antwoord kan of wil gee nie. ’n Rubriekskrywer waarsku: Doen dit te dikwels en jy ondermyn jou geloofwaardigheid.
Dalk stem jy nie saam nie. Maar kalkoentjies trap al-so, al-so. En ’n taalkundeprofessor sê nie verniet nie: Kenners steek “so” by hulle eweknieë aan en versprei dit soos ’n virus. Kies daarom dalk maar die middelgrond en volg prof. Tagliamonte se raad: Probeer, wanneer iemand weer met “so” wegval, om nie geïrriteerd te raak nie. Begin liewer luister en dink aan plaasvervangers vir jou eie arsenaal.
Jana Luther, Woordewisseling, 22 Oktober 2021 © Beeld, Netwerk24
loop en stap
meerkat
Mense laat hul voorsê
met iets deel
metonimie
Moenie ’n schmuck wees nie
Moge ’t treffe
nie
Nie net vir koppel nie
Nuwe taalreëls
Ontgroende word oorlams
Ontlening boei
Paps en Mams
plekhouers en stopwoorde
Probleme berispe
Raak naamgewing
Retro-taal, waarom nie?
riemspring en streepsuiker
Rododendron of viooltjie?
saam (met)
Sê en meen is twee
See-erfenis in idiome
sien
Sinne met so
Slegte ruil
snel groeiende
Spelkeuses is taaldemokrasie
Standaardtaal in die kollig
stappe doen of neem?
Taal is baas
taboewoord
testament tot
Turkye, Türkiye
Uitspraak van vreemde woorde
vals verkleinings
Variëteite wys taalverskeidenheid
vergeleke met
Verskynsels gee woorde
voornaamwoordelike bywoorde
Vraagteken uit Latyn
Waar hou woorde op?
Wanneer anglisisme?
Welkom vreemdelinge
Woord sê nie alles nie
Woordeboekdag