Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 5 Februarie 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui in watter bron jy wil soek, of in albei. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Getal trefwoorde vandag: 3 318 (woordeboek) | 222 (rubrieke)
Van huisraad tot kos, waarom nie ook retro-taal nie?
Hierdie blog is ’n uitgebreide en verrykte weergawe van ’n rubriek wat op Vrydag 23 Maart 2018 in Beeld verskyn het.
Seisoen ná seisoen bly retro-giere en retro-modes in die nuus.
Retro – van die Latynse voorvoegsel re-, wat “opnuut”, “van voor af” beteken, en die bywoord retro, “agtertoe”, “terugwaarts”. Retro is ook ’n verkorting van die byvoeglike naamwoord retrospektief met die sinoniem terugskouend. Want ons kyk graag terug.
Van die 1970’s al verwys die woord retro na die nabootsing van voorkomste wat in vroeëre eras, in toeka se tyd, gewild was. Blaai ’n mens deur ’n stapel ou tydskrifte kom jy dit gou agter:
“Ons keer terug na die veertigs met getailleerde pakke …”
“Daar’s die retro-boetiek met die goed uit die vyftigs. Dis nou rêrig mooi; só in die mode …”
“Die geometriese patrone van die smeulende sestigs is terug …”
“Retro-fietse uit die sewentigs is weer in in Brittanje …”
“Dra jou denims met ’n tikkie retrosjiek …”
“Goeie nuus! Dié retro-lipstiffie sal by ál jou uitrustings pas …”
Retro-bekers, -kleure, -kolle, -kussings, -lampe, -stoele; retro-haarstyle, -beenkouse, -broeke; van retro-suède-tekkies tot retro-popmusiek; retro-armbande en -oorbelle en antieksjiek nommertjies tot retrotrouvenues en retro-klassieke geregte.
Op Facebook is Ali en Magriet se Huisraad Quirky Finds and Collectibles een van my gunstelinge. Van “gatskop- ou radio’s”, retro-TV-trollies en “windgattafeltjies” uit die jare vyftig kom verby, “kaaltannieskilderye” tot art deco-pronkstukke.
Soos Laurika Rauch sing: “Ons gee ons oor aan die nostalgie.”
So, hoekom nie uit dié oude doos, terselfdertyd, ook sommer ’n paar van ouma en oupa se woorde afstof nie? Soos die naam van nog ’n sosialemediablad met digby die 10 000 lede dit stel: Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool!
Og, nou ja, nie álmal nie. Uit die sesde papieruitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT6) is altesame 3 246 Noagwoorde weggelaat, en al staan baie van daardie oues nog in HAT Aanlyn wek nie almal ewe veel nostalgie nie: Niemand bel meer aan as hy of sy die deurklokkie lui nie. Iemand is dalk lief, maar nie aanminlik nie. As jy vra of jy jou hand mag gebruik om ’n beentjie af te kluif (“kou”), of in Ouma se babbeljoentjie (“hemelbed”) mag slaap, sal mense gou-gou sê jy basel (“praat kaf”).
Wie word nog gebenedy (“geseën”)? Van vlugtelinge wat berooid (“van hulle aardse besittings gestroop”) oor die aardbol swerf, hoor niemand nie. Ons word dalk besteel, maar bestolenes is ons nie. Heilgimnas en heilgimnastiek vir fisioterapeut en fisioterapie? Kinderskaar vir ’n groep kinders, kloekmoedig vir dapper, kondoleansie vir medelye, pompelmoere vir appelliefies? Sak, Sarel.
Nie elke oue is ’n goue nie, nee, sekerlik nie. ’n Lewende taal word daaraan uitgeken dat dit verander. Laat ons niks verwerp omdat dit nuut is nie. Piet Verdriete se sikkeneurigheid oor elke pikkedil, pikeer net soveel as mense wat vir woorde soos sikkeneurigheid (“foutvinderigheid”), pikkedil (“kleinigheid”) en pikeer (“irriteer”) (nie almal in dieselfde sin nie) hulle wenkbroue lig.
Ten opsigte van eietydse taalgebruik is hiperkritiese houdings, taalluiheid en mense wat gedurig daarop uit is om met ander se taalgebruik die spot te dryf, ewe ongewens. As gevolg daarvan word bruikbare woorde dalk net in die doofpot gestop, en as bruikbare woorde en betekenisse wat verdwyn, nie deur ander woorde met dieselfde betekenis vervang word nie, verarm die taal, verloor dit seggingskrag.
Tooi gerus dus jóú Afrikaans, nes jou huis en jou lyf, na jóú sin. Gerus ook met ’n tikkie retro, as jy wil.
Wat van bebrou? Piet bebrou alles. Beknor? Daardie twee beknor mekaar al die hele week. Bral? E. se gebral (‘gespog’) staan my nie aan nie. Wys my wie’s nie moeg vir gluiperige (‘huigelagtige’) politici nie? Sy kan T. se glunderende (‘selfvoldane’) bakkies nie langer verduur nie. Gerda is vandag weer baie kittelorig (‘opvlieënd’). Die kinders ravot (‘speel uitbundig’) op die gras. Ek het al weer my tyd hier sit en verbabbel. Die dief is geswind (“gedenk aan Klaas Geswind syn perd”, “rats”) oor die muur.
Ouderwets? Miskien. Maar beskou dit as ’n nostalgie-ding. Verhinder niemand om sy of haar dubbeltjies in Afrikaans se armbus te gooi nie, en spits gerus jou ore: ’n Taal met byderwetse ritmes en hier en daar ’n retro-klank is jonk en funky.
Jana Luther, 23 Maart 2018
trefwoorde
argaïsme | Latyn
kaplaks
kerfstok
kiri slam en iesegrimmig
Komma as desimale skeier
kort name
lankmoedig en verdraagsaam
Lexikos
loop en stap
meerkat
Mense laat hul voorsê
met iets deel
metonimie
Moenie ’n schmuck wees nie
Moge ’t treffe
nie
Nie net vir koppel nie
Nuwe taalreëls
Ontgroende word oorlams
Ontlening boei
Paps en Mams
plekhouers en stopwoorde
Probleme berispe
Raak naamgewing
Retro-taal, waarom nie?
riemspring en streepsuiker
Rododendron of viooltjie?
saam (met)
Sê en meen is twee
See-erfenis in idiome
sien
Sinne met so
Slegte ruil
snel groeiende
Spelkeuses is taaldemokrasie
Standaardtaal in die kollig
stappe doen of neem?
Taal is baas
taboewoord
testament tot
Turkye, Türkiye
Uitspraak van vreemde woorde
vals verkleinings
Variëteite wys taalverskeidenheid
vergeleke met
Verskynsels gee woorde
voornaamwoordelike bywoorde
Vraagteken uit Latyn