Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 29 Maart 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Etlike verskynsels gee nuwe woorde
Wanneer die groei en ontwikkeling van ons woordeskat ter sprake kom, moet daar gelet word op ’n hele reeks verskynsels wat ’n bydrae kan lewer om nuwe woorde tot die woordeskat toe te voeg.
Een van die produktiewe maniere waarop die woordeskat van Afrikaans uitgebrei het en steeds uitbrei, is deur die opname van nuutskeppinge. Daar is verskillende nuutskeppinge wat steeds in Afrikaans op die voorgrond tree.
’n Woord soos boosbaas as vertaalekwivalent vir die Engelse warlord, of vogdoekie vir die klam papierdoekie waarmee ’n mens jou hande en gesig afvee, dra steeds by om Afrikaans lewenskragtig te hou. Ook woorde soos losklos en smartvraat help om die uitdrukkingskrag van Afrikaans te verhoog.
Talle nuwe Afrikaanse woorde is leenvertalings uit Engels.
Hoewel dit belangrik is dat ons nuutskeppinge moet hê wat sonder invloed van ’n ander taal gevorm is, is dit ewe belangrik dat Afrikaans woorde uit ander tale moet kan vertaal. In die verlede is leenvertalings dikwels as Anglisismes afgemaak en tot in die buitenste taalduisternis veroordeel. Vir leenvertalings wat gevestigde Afrikaanse vorme verdring, is daar nie plek in ons woordeskat nie, maar waar so ’n vertaling ’n funksionele optrede het wat help om ’n ding in Afrikaans gesê te kan kry, moet dit as nog ’n vorm van taalkreatiwiteit beskou, aanvaar en erken word.
Die leenvertaling perdeskoen is byvoorbeeld nie aanvaarbaar nie omdat ons in Afrikaans die mooi woord hoefyster het. Daarnaas is plettervat ’n beskrywende toevoeging tot ons woordeskat wat geen bestaande Afrikaanse vorm verdring nie.
In ons taalhandboeke word volksetimologie ook bespreek as ’n manier waarop die woordeskat kan uitbrei. Volksetimologie is die vervorming van leenwoorde, en ’n algemene siening hiervan is dat dit vroeër wel ’n bydrae tot ons woordeskat gelewer het, maar vandag nie meer ter sake is nie. Dit is veral op grond van die tipiese voorbeelde van volksetimologie in ons taalhandboeke wat hierdie gevolgtrekking gemaak word. Voorbeelde soos bromkatjies, Saalsak, Meelsak en Appeleenoog, Martjie Louw en eendjiebyter versterk hierdie siening. ’n Voorbeeld soos muisneste uit die Nederlands muizenissen, dit is “swaarmoedige gedagtes”, wys dat volksetimologie dikwels ’n humoristiese inslag het.
Die Afrikaanse woord kothuis is ’n nuwe toevoeging tot ons woordeskat wat volksetimologies gevorm is uit cottage. Dit toon tog aan dat volksetimologie vandag nog ’n rol te speel het en steeds kan help om Afrikaans ’n ryk en funksionele taal te maak.
Johan Combrink, Taalgereedskap, 16 Mei 1994 © Die Burger, Media24
trefwoorde
anglisisme | Engelse woord | leenvertaling | neologisme | nuutskepping | volkstetimologie
Probleme berispe
Raak naamgewing
Retro-taal, waarom nie?
riemspring en streepsuiker
Rododendron of viooltjie?
saam (met)
Sê en meen is twee
See-erfenis in idiome
sien
Sinne met so
Slegte ruil
snel groeiende
Spelkeuses is taaldemokrasie
Standaardtaal in die kollig
stappe doen of neem?
Taal is baas
taboewoord
testament tot
Turkye, Türkiye
Uitspraak van vreemde woorde
vals verkleinings
Variëteite wys taalverskeidenheid
vergeleke met
Verskynsels gee woorde
voornaamwoordelike bywoorde
Vraagteken uit Latyn
Waar hou woorde op?
Wanneer anglisisme?
Welkom vreemdelinge
Woord sê nie alles nie
Woordeboekdag