Woordeboek van Afrikaans Vandag

Bygewerk op 5 Februarie 2025

Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings

Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui in watter bron jy wil soek, of in albei. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!

Getal trefwoorde vandag: 3 318 (woordeboek) | 222 (rubrieke)

Soek in:

Spellingkeuses is vorm van taaldemokrasie

Danksy ’n verskeidenheid keusemoontlikhede in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (die AWS) laat die Taalkommissie heelwat vryheid in die spelling en skryfwyse van Afrikaans. Die gee van die keusemoontlikhede is nie toevallig nie; daar is deurgaans goeie redes voor.

Een van die belangrike oorwegings in die bereëling van spelling en skryfwyse is dat soortgelyke woorde op ’n soortgelyke manier behandel moet word. In hierdie verband het die Taalkommissie probeer om inkonsekwenthede wat in die ou AWS bestaan het, reg te stel.

Volgens die ou AWS moes ’n mens byvoorbeeld geskryf het inderdaad en inderhaas maar in der minne en in der waarheid.

Taalkundig bestaan daar geen regverdiging vir hierdie ongelyke behandeling van gelyksoortige items nie. Dat hulle op dieselfde manier bereël moet word, is vanselfsprekend. Maar watter een van die twee skryfwyses is die aangewese een – een woord of drie woorde?

Uit ’n taalkundige oogpunt is daar geen dwingende redes of geen voorkeure vir óf die een óf die ander nie. Gevolglik sê die Taalkommissie dat albei skryfwyses deurgaans toelaatbaar is. Die groepie “in der ...”-vorme in Afrikaans kan dus óf as een óf as drie woorde geskryf word. Deur hierdie keuse te gee, probeer die Taalkommissie vasstel aan watter vorm die Afrikaansskrywende publiek voorkeur gee. Indien dit in die jare wat voorlê duidelik raak dat een van die skryfwyses gebruikliker is as die ander een, kan dié vorm in ’n volgende uitgawe van die AWS as die enigste erken word.

Hier word ’n stukkie taalgebruiksdemokrasie in die AWS ingebou.
In voorbeelde soos die bogenoemde help die Taalkommissie die gebruiker deur te sê dit wat vroeër reg was, is nog altyd reg, maar daar is ’n bykomende manier waarop jy ook nog reg kan skryf.

Maar in baie gevalle bied die AWS geen keusemoontlikheid nie en word ’n reël gegee wat net mooi die teenoorgestelde voorskryf van wat vroeër die korrekte vorm was. Dieselfde mense wat kla oor te veel keuses, kla ook omdat daar in sulke gevalle nié keuses is nie.

Een so ’n voorbeeld is die voorskrifte vir party van die gebruike van die akuut en die gravis. Volgens die ou reëls is die gravisteken gebruik by die vorme appèl, , , en ook by neweskikkers soos èn ... èn, nòg ... nòg, òf ... òf.

Die nuwe reël handhaaf die gravisteken se gebruik in die eersgenoemde groepie woorde, maar skryf die akuutteken voor by die laasgenoemde groepie, d.w.s ’n mens mag nou net skryf én ... én, nóg ... nóg, óf ... óf. Die vraag is of hier nie ook ’n keusemoontlikheid moes gewees het nie.

Waar daar nie ’n keusevryheid gelaat word nie is die vaste voorskrif gewoonlik juis op grond van taalkundige motiverings geformuleer. In voorbeelde soos appèl, , en word die gravis gebruik om die korrekte uitspraak te verseker van die vokaal waarop hy geplaas word. Tussen die vokaal met en dié sonder die gravisteken bestaan daar ’n uitspraakverskil, vergelyk maar appel teenoor appèl.

Hierdie uitspraakfunksie van die gravis word nie deur die akuut gedeel nie. Die tipiese gebruik van die akuut is om beklemtoning aan te dui, soos in Ek wil dié een hê en Gee my nog net één kans. Maar die gebruik van die akuut verander nie die uitspraak van die betrokke vokaal nie. Die neweskikkers én ... én, nóg ... nóg en óf ... óf word gebruik vir groter nadruk.

Nadruk is die belangrikste verskil tussen Hy is dom en lui en Hy is dom én lui. Die beklemtoning van die neweskikkers help om die nadruk te bewerk. Hierdie beklemtoning moet volgens die patroon van Afrikaans deur ’n akuutteken gemerk word en nie deur ’n gravisteken nie.

Die reël in die ou AWS het nie daarvoor voorsiening gemaak dat die teken wat in appèl gebruik word ’n ander funksie het as die teken wat in óf ... óf gebruik word nie. Hierdie onderskeid word wel in die nuwe AWS getref. En omdat dit ’n onderskeid is wat taalkundig gemotiveer word, kan daar nie vryheid gegee word om óf die gravis- óf die akuutteken te gebruik nie.

Soms vra die bereëling van spelling en skryfwyse vaste voorskrifte.

Johan Combrink, Taalskatkis, 29 November 1993 © Die Burger, Media24  

trefwoorde

Afrikaanse woordelys en spelreëls | akuut | beklemtoning | gravis | keusevryheid | klem | nadruk | neweskikker | taaldemokrasie | Taalkommissie | uitspraakverskil | voorkeurvorm | wisselvorm



Let wel
Kies in watter bron(ne) jy wil soek. As ’n soekwoord nie as trefwoord opgeneem is nie, word voorbeelde van die woord in ander artikels vertoon, indien dit voorkom. Soek dan met CTRL-F om sulke voorbeelde op jou rekenaarskerm uit te lig. Kyk hier onder hoe jy ook met behulp van spesiale karakters kan soek.

Please note
This dictionary mainly contains words, meanings and expressions that have not yet been included in other Afrikaans dictionaries, together with a collection of language columns, blogs, video inserts and podcasts. If a search word is not included as a headword, examples of the word in other entries (definitions, usage examples, usage notes, etc) are displayed, if they occur. Then search with CTRL-F to highlight such examples on your screen.


  Podsendkanaal

  Artikels, rubrieke en ander bydraes van 2025

Weet jy wat is die agtste ‘bot’ se betekenis? (Netwerk24)

Taalgoggas wat baie laat struikel (Netwerk24)

Jana se reis met woorde (Afrikaans100)

● Oor bottels, flesse, vate, kuipe, balies ... (RSG)

Welkom in die tyd van die Soetkoek-eters (Netwerk24)

So maak jy met ’n motor wat in die modder sit (Netwerk24)

● Oor kalbasse en kruike en ander holgoed (RSG)

Besigtig die volledige lys taalrubrieke, podsendings en nog ander blogs en artikels hier.


Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is aan geen ander woordeboekprojek verbonde nie en word deur niemand geldelik gesteun nie. Dit is ’n onafhanklike inisiatief van die redakteur in haar vrye tyd.

Kopiereg © 2020-2025 Jana Luther