Woordeboek van Afrikaans Vandag

Bygewerk op 20 Junie 2025

Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings

Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!

Soek in:

hand s.nw. | hande | handjie |
ENGELS: hand


UITDRUKKING(S):
hand om die blaas wees/loop/staan/sit/gesels/ens. of hand om die blad … (soms as skimp dat iets geheims of onderduims bepraat word) soos groot/ou/dik vriende/pelle/tjommies wees/loop/staan/sit/gesels/ens.: Heel ironies juis hulle wat voor die verkiesing hand om die blaas gestaan het met ANC-hoës en ons president laat teug het aan uitsoek-Pinotage (Hennie van Coller, Netwerk24, 14 Junie 2019). Dit wil klink asof sommige polisielede hand om die blaas met die bendes is (Annelie Botes, Netwerk24, 1 Februarie 2019). Nee, sê Trump, hy en Kim is nog hand om die blaas (Netwerk24, 30 Augustus 2018).

gaan hande was of jou hande gaan was (eufemisties) toilet toe gaan: Hy het kort-kort water gedrink, en moes in 'n stadium selfs vra dat die kommissie verdaag sodat hy sy “hande kon gaan was” (Erin Bates, Vrye Weekblad, 19 Julie 2019).

Woorde en uitdrukkings wat met hand verband hou

Dit is voor die hand liggend dat ons baie woorde en uitdrukkings sal hê wat met hand verband hou. Trouens ál die liggaamsdele van die mens het ’n ryk bron van seggingskrag geword oor die eeue. Dink maar aan twintig idiome wat jy dadelik kan opnoem i.v.m. kop, nek, voet, been, oog en lyf.

As daar ’n samevloei van mense op ’n fees of ’n begrafnis of ’n reünie is, dan sê ons: Die mense het van heinde en ver(re) gekom. Waar kom dié heinde vandaan? Etimologies beteken dit “by die hand”, d.w.s. “naby”.

Die -der- van byderhand is ’n gefossileerde naamval van die lidwoord. Byderhand beteken etimologies “by die hand”, en daaruit het die betekenis “aanwesig in die omgewing” ontwikkel.

Nog ’n woord wat van hand afgelei is, is behendig, wat etimologies beteken “by met die hand”. Behendig staan teenoor hand soos ô staan teenoor stand, en soos bevestig staan teenoor vas. Ons maak nie meer vandag in Afrikaans woorde met hierdie metode van voor- en agtervoeging en klinkerwisseling alles tesame nie.

Ook in die woord mondig sit ’n ou uitgestorwe Germaanse woord wat ook “hand”, en by uitbreiding “voogdyskap” beteken het. As ’n mens mondig is, is jy jou eie voog, jy is in jou eie hande. Is dit nie ironies dat ’n mens 21 moet word voordat jy voor die reg jouself kan bestuur, maar dat jy reeds op 18 deur ’n verkiesing aan ’n hele land se bestuur kan deelneem nie?

Die Latynse woord manus, wat “hand” beteken, sit in emansipasie. Afrikaans het die woord van Nederlands geërf, wat dit aan Frans ontleen het, wat dit van Latyn kry. Die oorspronklike Latynse werkwoord is emancipare. Die voorvoegsel e- kom uit Latyn ex- en beteken “uit”. Dit sit in ’n hele paar Afrikaanse woorde. Enorm beteken etimologies bv. “uit die norm”, “buiten-gewoon”, en emigrant “uit-trekker”. Die -sipasie van emansipasie kom oorspronklik van die Latynse werkwoord capere, “om te neem”. Om ’n slaaf te emansipeer was dan etimologies om hom of haar “uit die hand te neem”, d.w.s. die slaaf was nie meer die eiendom van die betrokke hand se eienaar nie.

Die Latynse woord manus, “hand” het ’n baie groot nageslag in Afrikaans. Redelik deursigtig is daar byvoorbeeld manuskrip, “hand-skrif” en manikuur “hand-sorg”.

Manipuleer, wat vandag “hanteer” beteken, kry ons via Nederlands uit Frans uit Latyn. Die Latynse selfstandige woord was manipulus, “handvol”. Om iets of iemand te manipuleer, is etimologies “om jou hande daarmee vol te hê”, of “om jou hande daarmee vol te maak”.

Ook maneuver (uitspraak: man-neu-wer of -fer) en die afgeleide werkwoord maneuvreer is ook geen anglismes nie. Hulle het langs dieselfde taalpaadjie as manipuleer in Afrikaans geland. Die Latynse bestanddele is manus, “met die hand”, en operari, “werk”, “besig wees”, “doen”.

Die woorde waarin die Latynse manus sit wat ons waarskynlik die meeste in Afrikaans gebruik, is manier, mandaat en manewales.

Manier beteken etimologies “hand-eer” (hanteer), mandaat “met die hand gegee” en manewales “hand-lik”.

Johan Combrink
Taalgereedskap: Die Burger, 13 Januarie 1994 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.  



Let wel
As ’n soekwoord nie as trefwoord opgeneem is nie, word dit in ander artikels vertoon, indien dit voorkom. Soek dan met CTRL-F om sulke voorbeelde op jou rekenaarskerm uit te lig. Jy kan ook met spesiale karakters soek. Kyk hier onder.

Please note
This dictionary mainly contains words, meanings and expressions that have not yet been included in other Afrikaans dictionaries, together with a collection of language columns, blogs, video inserts and podcasts. If a search word is not included as a headword, examples of the word in other entries (definitions, usage examples, usage notes, etc) are displayed, if they occur. Then search with CTRL-F to highlight such examples on your screen.


  Artikels, rubrieke en ander bydraes van 2025

Bolmakiesie van woke (LitNet)

Apeneutjies en katjiebotter vir die slimjanne (Netwerk24)

Gril jy jou ook dood vir ’n klamhandjie? (Netwerk24)

Sal jy die toets kan slaag om te wys jy is mens? (Netwerk24)

Alle konings is kêrels, maar nie alle kêrels konings nie (Netwerk24)

Dalk is die pyn in jou hande whatsappitis (Netwerk24)

As jy meer van jou hond hou as van mense (Netwerk24)

Verwaand is nou verwant aan waansin (Netwerk24)

Japie my skapie moet dalk liefs ’n kraak maak (Netwerk24)

Weet jy wat is die agtste ‘bot’ se betekenis? (Netwerk24)

Taalgoggas wat baie laat struikel (Netwerk24)

Jana se reis met woorde (Afrikaans100)

● Oor bottels, flesse, vate, kuipe, balies ... (RSG)

Welkom in die tyd van die Soetkoek-eters (Netwerk24)

So maak jy met ’n motor wat in die modder sit (Netwerk24)

● Oor kalbasse en kruike en ander holgoed (RSG)

Besigtig die volledige lys taalrubrieke, podsendings en nog ander blogs en artikels hier.


Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is aan geen ander woordeboekprojek verbonde nie en word deur niemand geldelik gesteun nie. Dit is ’n onafhanklike inisiatief van die redakteur in haar vrye tyd.

Kopiereg © 2020-2025 Jana Luther