Bygewerk op 30 Oktober 2024
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en gereeld in Pharos Aanlyn bygewerk. Van November 2023 af word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit in een van of in albei hierdie bronne opgeneem is – ook Engelse woorde. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Getal trefwoorde vandag: 3 502
hand s.nw. | hande | handjie | ◌ ENGELS: hand
UITDRUKKING(S):
♦ hand om die blaas wees/loop/staan/sit/gesels/ens. of hand om die blad … (soms as skimp dat iets geheims of onderduims bepraat word) soos groot/ou/dik vriende/pelle/tjommies wees/loop/staan/sit/gesels/ens.: › Heel ironies juis hulle wat voor die verkiesing hand om die blaas gestaan het met ANC-hoës en ons president laat teug het aan uitsoek-Pinotage (Hennie van Coller, Netwerk24, 14 Junie 2019). › Dit wil klink asof sommige polisielede hand om die blaas met die bendes is (Annelie Botes, Netwerk24, 1 Februarie 2019). › Nee, sê Trump, hy en Kim is nog hand om die blaas (Netwerk24, 30 Augustus 2018).
♦ gaan hande was of jou hande gaan was (eufemisties) toilet toe gaan: › Hy het kort-kort water gedrink, en moes in 'n stadium selfs vra dat die kommissie verdaag sodat hy sy “hande kon gaan was” (Erin Bates, Vrye Weekblad, 19 Julie 2019).
Woorde en uitdrukkings wat met hand verband hou
Dit is voor die hand liggend dat ons baie woorde en uitdrukkings sal hê wat met hand verband hou. Trouens ál die liggaamsdele van die mens het ’n ryk bron van seggingskrag geword oor die eeue. Dink maar aan twintig idiome wat jy dadelik kan opnoem i.v.m. kop, nek, voet, been, oog en lyf.
As daar ’n samevloei van mense op ’n fees of ’n begrafnis of ’n reünie is, dan sê ons: Die mense het van heinde en ver(re) gekom. Waar kom dié heinde vandaan? Etimologies beteken dit “by die hand”, d.w.s. “naby”.
Die -der- van byderhand is ’n gefossileerde naamval van die lidwoord. Byderhand beteken etimologies “by die hand”, en daaruit het die betekenis “aanwesig in die omgewing” ontwikkel.
Nog ’n woord wat van hand afgelei is, is behendig, wat etimologies beteken “by met die hand”. Behendig staan teenoor hand soos ô staan teenoor stand, en soos bevestig staan teenoor vas. Ons maak nie meer vandag in Afrikaans woorde met hierdie metode van voor- en agtervoeging en klinkerwisseling alles tesame nie.
Ook in die woord mondig sit ’n ou uitgestorwe Germaanse woord wat ook “hand”, en by uitbreiding “voogdyskap” beteken het. As ’n mens mondig is, is jy jou eie voog, jy is in jou eie hande. Is dit nie ironies dat ’n mens 21 moet word voordat jy voor die reg jouself kan bestuur, maar dat jy reeds op 18 deur ’n verkiesing aan ’n hele land se bestuur kan deelneem nie?
Die Latynse woord manus, wat “hand” beteken, sit in emansipasie. Afrikaans het die woord van Nederlands geërf, wat dit aan Frans ontleen het, wat dit van Latyn kry. Die oorspronklike Latynse werkwoord is emancipare. Die voorvoegsel e- kom uit Latyn ex- en beteken “uit”. Dit sit in ’n hele paar Afrikaanse woorde. Enorm beteken etimologies bv. “uit die norm”, “buiten-gewoon”, en emigrant “uit-trekker”. Die -sipasie van emansipasie kom oorspronklik van die Latynse werkwoord capere, “om te neem”. Om ’n slaaf te emansipeer was dan etimologies om hom of haar “uit die hand te neem”, d.w.s. die slaaf was nie meer die eiendom van die betrokke hand se eienaar nie.
Die Latynse woord manus, “hand” het ’n baie groot nageslag in Afrikaans. Redelik deursigtig is daar byvoorbeeld manuskrip, “hand-skrif” en manikuur “hand-sorg”.
Manipuleer, wat vandag “hanteer” beteken, kry ons via Nederlands uit Frans uit Latyn. Die Latynse selfstandige woord was manipulus, “handvol”. Om iets of iemand te manipuleer, is etimologies “om jou hande daarmee vol te hê”, of “om jou hande daarmee vol te maak”.
Ook maneuver (uitspraak: man-neu-wer of -fer) en die afgeleide werkwoord maneuvreer is ook geen anglismes nie. Hulle het langs dieselfde taalpaadjie as manipuleer in Afrikaans geland. Die Latynse bestanddele is manus, “met die hand”, en operari, “werk”, “besig wees”, “doen”.
Die woorde waarin die Latynse manus sit wat ons waarskynlik die meeste in Afrikaans gebruik, is manier, mandaat en manewales.
Manier beteken etimologies “hand-eer” (hanteer), mandaat “met die hand gegee” en manewales “hand-lik”.
Johan Combrink
Taalgereedskap: Die Burger, 13 Januarie 1994 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.
grysskoenbrigade
GSM
guavadella
guavadilla
gwarragoed
gwenza
gysel
gyselware
haairoeper
haaiwag
haak
haan
haarne
haarselwers
haas
haasgras
haatspraak
Haggada
hak
halaal
hallelujavoete
haloep
hamster
hand
handblitser
handdrukverbod
handeklapkerk
handelsmerkambassadeur
handjel
handlappie
handreiniger
handwasser
hanna-hanna
Hanuman
Hanyu Pinyin
hap
hapax
hapax legomenon
hapties
haraam
hare
hart
harts-
hartsmens
hasjisj
hayibo
HDPE