Woordeboek van Afrikaans Vandag

Bygewerk op 20 Junie 2025

Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings

Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!

Soek in:

aantal / talle x getal x hoeveelheid

Talle volwasse Afrikaanssprekendes gebruik aantal en getal taamlik om ’n ewe. Hieraan is geen salf te smeer nie. Wanneer jy nie as kind – as skoolkind – geleer het om hieroor fyner te onderskei nie, leer jy dit ook nie sommer as grootmens nie. Altans, dit is my ervaring as  grootmens-opvoeder.

Dan is daar nog die geografiese verskeidenheid. Mense uit die omgewing van Montagu sê byvoorbeeld maklik: Ons kry nie ons getal water nie. Dit beteken hulle kry nie die gemete rantsoen of porsie wat hulle toekom nie. In dergelike omstandighede praat mense van Piketberg van jou getal wyn (op ’n dag) kry en jou getal suiker (in ’n week) kry.

Nogtans, desnieteenstaande, ongeag, veral dan vir grootmense wat kinders moet kan inlei in die fynhede van Afrikaans, hier is die fyner onderskeidings wat algemeen is, in die sin dat hulle dwarsoor die hele land voorkom. Buitendien is hulle nuttig.

Getal word vir mense, diere en dinge gebruik, as dié som bekend is, m.a.w. getal word gebruik vir ’n vasgestelde, ’n reeds bepaalde veelheid.

Om vasgestel of bepaal te kán word, moet so ’n veelheid uiteraard telbaar wees. Sekere woorde se betekenisse is nie telbaar nie selfs al is die dinge waarna hulle verwys telbaar. Neem byvoorbeeld die woord geld. Mens kan geld nie tel met een, twee, drie of een van die ander hooftelwoorde nie. Dit in teenstelling tot die díng “geld”, wat mens wel kan tel.

Omdat die wóórd geld nie telbaar is nie, is getal ook nie bruikbaar as bepaling by geld nie. Getal is ’n telwoord.

Om te vervat: (1) As mens ’n bepaalde saak-woord kan tel, (2) én jy het dit wel getel, kan mens getal gebruik: My getal kinders is ses. ’n Groot getal skape het gevrek (bv. veertig), ’n getal punte (bv. vier).

Ook as mens so ’n saak se naamwoord kan tel, maar jy hét die saak nie getel nie – jy weet dus nie presies hoeveel daar is nie – kan mens in Afrikaans getal gebruik. Kyk maar: Ons verwag maar ’n klein getal  besoekers. Groot getalle wildsbokke het van die honger omgekom.

In hierdie laasgenoemde omstandighede kan mens ook aantal gebruik: Ons verwag maar ’n klein aantal besoekers. ’n Groot aantal wildsbokke het van die honger omgekom.

Aantal verwys naamlik na mense, diere of dinge wat wel getel kán word, maar in die bepaalde omstandighede juis nie getel is nie. Anders gestel: Aantal verwys net na ’n telbare maar ongetelde som – ’n som van mense, diere of dinge.

Ook talle verwys na wesens of dinge wat wel getel kán word, maar in die bepaalde omstandighede juis nie getel is nie. Maar – en dit is die verskil – talle verwys na báie, waar aantal na ’n betreklike klein hoeveelheid verwys. Vergelyk: ’n Aantal van my boeke is beskadig deur die reën. En: Talle van my boeke is beskadig deur die reën.

In fyn Afrikaans gebruik mens hoeveelheid nie vir lewende wesens of dinge wat jy (kan) tel nie, net vir sake wat jy (kan) méét. Dié meting geskied volgens maat, inhoud, lengte, tyd, krag, massa, arbeid, ensovoorts.

Dink maar oor ’n sin soos “My vrou het ’n groot hoeveelheid rooi koordferweel gekoop”. Sy kan nie ’n “aantal” of ’n “getal” of “talle koordferweel” koop nie.

Johan Combrink
Taalgereedskap: Die Burger, 16 September 1996 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.  



Let wel
As ’n soekwoord nie as trefwoord opgeneem is nie, word dit in ander artikels vertoon, indien dit voorkom. Soek dan met CTRL-F om sulke voorbeelde op jou rekenaarskerm uit te lig. Jy kan ook met spesiale karakters soek. Kyk hier onder.

Please note
This dictionary mainly contains words, meanings and expressions that have not yet been included in other Afrikaans dictionaries, together with a collection of language columns, blogs, video inserts and podcasts. If a search word is not included as a headword, examples of the word in other entries (definitions, usage examples, usage notes, etc) are displayed, if they occur. Then search with CTRL-F to highlight such examples on your screen.


  Artikels, rubrieke en ander bydraes van 2025

Bolmakiesie van woke (LitNet)

Apeneutjies en katjiebotter vir die slimjanne (Netwerk24)

Gril jy jou ook dood vir ’n klamhandjie? (Netwerk24)

Sal jy die toets kan slaag om te wys jy is mens? (Netwerk24)

Alle konings is kêrels, maar nie alle kêrels konings nie (Netwerk24)

Dalk is die pyn in jou hande whatsappitis (Netwerk24)

As jy meer van jou hond hou as van mense (Netwerk24)

Verwaand is nou verwant aan waansin (Netwerk24)

Japie my skapie moet dalk liefs ’n kraak maak (Netwerk24)

Weet jy wat is die agtste ‘bot’ se betekenis? (Netwerk24)

Taalgoggas wat baie laat struikel (Netwerk24)

Jana se reis met woorde (Afrikaans100)

● Oor bottels, flesse, vate, kuipe, balies ... (RSG)

Welkom in die tyd van die Soetkoek-eters (Netwerk24)

So maak jy met ’n motor wat in die modder sit (Netwerk24)

● Oor kalbasse en kruike en ander holgoed (RSG)

Besigtig die volledige lys taalrubrieke, podsendings en nog ander blogs en artikels hier.


Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is aan geen ander woordeboekprojek verbonde nie en word deur niemand geldelik gesteun nie. Dit is ’n onafhanklike inisiatief van die redakteur in haar vrye tyd.

Kopiereg © 2020-2025 Jana Luther