Woordeboek van Afrikaans Vandag

Bygewerk op 5 Februarie 2025

Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings

Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui in watter bron jy wil soek, of in albei. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!

Getal trefwoorde vandag: 3 318 (woordeboek) | 222 (rubrieke)

Soek in:

aanspreek ww. spreek aan | het aangespreek |
ENGELS: address

’n Probleem

Dit is in navolging van swak Amerikaanse Engels ’n Afrikaanse mode om ’n probleem “aan te spreek” of selfs te “adresseer”. My Woordeboek van die Afrikaanse Taal sê mens kan net ’n posstuk of bagasie adresseer, dit wil sê van ’n adres voorsien. Om ’n “probleem te adresseer” is ’n ongewenste anglisisme.

’n Anglisisme is enige ontlening aan Engels. ’n Ongewenste anglisisme is een wat geen bydrae maak tot die groter of fyner uitdrukkingsvermoë van Afrikaans nie.

My WAT sê aanspreek het in die algemene taal vyf betekenisse.

Ten eerste beteken aanspreek “toespreek”. Mens kan byvoorbeeld iemand as “Oom” aanspreek. Kan mens dit met ’n probleem doen? Nee.

Ten tweede beteken aanspreek “berispe”. Mens kan byvoorbeeld iemand aanspreek oor sy slegte maniere. Kan mens dit met ’n probleem doen? Ek glo nie.

Ten derde beteken aanspreek “aandring op aksie”. Jy kan iemand byvoorbeeld aanspreek oor sy agterstallige paaiement. Kan mens dit met ’n probleem doen? Ek dink nie so nie.

Ten vierde beteken aanspreek “iemand voor die gereg daag en ’n eis teen hom of haar stel”. Jy kan iemand byvoorbeeld vir laste aanspreek. Kan mens dit met ’n probleem doen? Ek meen van nee.

Ten laaste beteken aanspreek volgens die WAT in die algemene taal “begin gebruik”. Mens kan byvoorbeeld jou drank- of kosvoorraad of kapitaal aanspreek. Kan mens dit met ’n probleem doen? Nogmaals nee, mens wil nie ’n probleem begin gebruik nie.

Slotsom: Mens kan in goeie Afrikaans nie ’n probleem aanspreek nie.

Daar is ’n hele paar redes waarom mense aanspreek vir probleme gebruik:
1) Die Engelse doen dit dan.
2) Dit klink so amptelik.
3) Dit is so veilig vaag.

Geeneen van hierdie redes is goed genoeg om “probleme aanspreek” in Afrikaans te verwelkom as wins nie.

Net omdat Engels iets doen, is buitendien geen rede waarom mens dit in Afrikaans letterlik moet verklank nie.

Daar is telkens Afrikaanse woorde en segswyses wat presies die ander twee waardes van die anglisistiese aanspreek het. Kyk net wat kan mens alles met ’n probleem in Afrikaans doen:

Mens kan net so vaag belowe jy (of iemand namens jou) sal aan die probleem aandag gee. Jy kan onderneem dat jy (of iemand namens jou) die probleem sal aanroer, aansny, pak, aanpak, behandel of hanteer. Om ’n probleem te hanteer of te behandel, is ook net so amptelik as om dit “aan” te “spreek”.

As mens nog aan die begin van so ’n hantering is, kan jy ’n probleem bespreek, blootlê, uiteensit, uitlê, beskryf, definieer, spesifiseer, oopvlek of uitpak.

As jy verder gevorder het, kan mens ’n probleem ondersoek, die hoof bied, daarop ingaan of daarby stilstaan.

Op die ou end kan mens ’n probleem oplos of oorbrug of uit die weg ruim of daarvan afstap.

Johan Combrink
Taalgereedskap: Die Burger, 7 Februarie 1994 © Netwerk 24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.  

Aanspreek deug nie

Omdat ’n mens in Engels ’n probleem kan “address”, dwing Afrikaanssprekendes gedurig om vraagstukke en dies meer aan te spreek. Daar is ook mense vir wie “aanspreek” nie deftig genoeg klink nie en wat ’n vraagstuk “adresseer”.

Aanspreek deug nie werklik in hierdie sin nie. Dit beteken in die eerste plek om die woord tot iemand te rig of iemand voor stok te kry of te berispe. Die betekenis wat aanspreek bygekry het, maak van ons dus eintlik ’n berispende gemeenskap.

Aanspreek kan ook in ’n ander sin gebruik word. Iemand wat geld dringend nodig kry, kan byvoorbeeld sy spaargeld aanspreek. Of ’n mens kan iemand oor sê nou maar skuld aanspreek.

In plaas van ’n vraagstuk aan te spreek, kan dit doodgewoon bespreek word, aangeroer, behandel, aangepak of gehanteer word. Daar kan ook op so ’n saak ingegaan word. Dit is alles wat in Afrikaans gedoen kan word met iets wat in Engels “address” word.

Daar word ook nie “met” ’n saak “gehandel” nie (Engels: deal with a matter). In Afrikaans sê ’n mens dat ’n saak behandel of afgehandel word of ook dat daarop ingegaan word.

J.J.J. Scholtz
Taalgereedskap, Die Burger, 30 September 1991 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.  



Let wel
Kies in watter bron(ne) jy wil soek. As ’n soekwoord nie as trefwoord opgeneem is nie, word voorbeelde van die woord in ander artikels vertoon, indien dit voorkom. Soek dan met CTRL-F om sulke voorbeelde op jou rekenaarskerm uit te lig. Kyk hier onder hoe jy ook met behulp van spesiale karakters kan soek.

Please note
This dictionary mainly contains words, meanings and expressions that have not yet been included in other Afrikaans dictionaries, together with a collection of language columns, blogs, video inserts and podcasts. If a search word is not included as a headword, examples of the word in other entries (definitions, usage examples, usage notes, etc) are displayed, if they occur. Then search with CTRL-F to highlight such examples on your screen.


  Podsendkanaal

  Artikels, rubrieke en ander bydraes van 2025

Weet jy wat is die agtste ‘bot’ se betekenis? (Netwerk24)

Taalgoggas wat baie laat struikel (Netwerk24)

Jana se reis met woorde (Afrikaans100)

● Oor bottels, flesse, vate, kuipe, balies ... (RSG)

Welkom in die tyd van die Soetkoek-eters (Netwerk24)

So maak jy met ’n motor wat in die modder sit (Netwerk24)

● Oor kalbasse en kruike en ander holgoed (RSG)

Besigtig die volledige lys taalrubrieke, podsendings en nog ander blogs en artikels hier.


Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is aan geen ander woordeboekprojek verbonde nie en word deur niemand geldelik gesteun nie. Dit is ’n onafhanklike inisiatief van die redakteur in haar vrye tyd.

Kopiereg © 2020-2025 Jana Luther