Bygewerk op 30 Oktober 2024
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en gereeld in Pharos Aanlyn bygewerk. Van November 2023 af word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit in een van of in albei hierdie bronne opgeneem is – ook Engelse woorde. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Getal trefwoorde vandag: 3 502
caput s.nw. (Latyn)
As daar nou een Latynse woord is wat vir Afrikaans ’n ryke erfenis gegee het, dan is dit caput, die Latynse “hoof” of “kop”. Ek dink hier aan nasate van caput soos kapiteel, kapitaal, kapitaliseer, capita selecta, per capita, kaptein, kaap en sjef.
Begin maar by kapitaal, met die betekenis “geld”. Dié betekenis kry kapitaal uit die ouer betekenis “rykdom”, “vermoë”. Mens se rykdom of vermoë is vroeër eeue gemeet aan jou grootvee, jou “cattle”. Net soos by die plattelandse Afrikaan van vandag, só ook by die Romein en die geromaniseerde Germaan van Christus se tyd: sy rykdom is sy beeste. Dié beeste is per kop getel, vandaar kapitaal, via Frans uit Latyn, letterlik “hoofdelik”.
Maar daar is ’n bygedagte: die ou Romeine het die antwoord van ’n optelsom nie onderaan die som geskryf, soos ons maak nie, hulle het dit boaan geskryf. Vandaar: hoofsom.
Om te kapitaliseer, is om artikels en eiendom om te sit in rykdom, vermoë.
Kapiteel beteken vandag ’n bostuk van 'n pilaar. Dié woord kom uit ’n verkleinwoord van Latyn se caput, naamlik capitellum, letterlik “boonstetjie”. Die Romeine het net soos ons in Afrikaans die boonste deel van iets die “kop” genoem. Dink maar aan die kop van ’n spyker en ’n koerantberig.
Die Latynse uitdrukking per capita gebruik ons vandag nog net so in Afrikaans. Etimologies beteken dit “per hoof”. En daar is ’n bygedagte: die deel staan vir die geheel. As die onkoste per capita R4 is, dan is die onkoste R4 vir die hele mens. Per capita sluit die gedagte van individualiteit in. Daarom is dit verkeerd om byvoorbeeld te sê: Die bevolking verdien per capita *individueel soveel en soveel per jaar.
Capita selecta is “uitgesoekte hoofstukke”, eintlik “uitgesoekte hoofde”. Daarom is dit pleonasties as ’n instrukteur byvoorbeeld aan die klas sê: Ek het vir julle capita selecta *uitgesoek.
Van die eteriese na die gewone. Die woord kaptein het ons uit Nederlands van die 17de eeu geërf. Nederlands kry dié woord by Frans, en Frans stam natuurlik van Latyn af. Kaptein is etimologies “hoofman”.
Van die gewone na die doodgewone kaap wat ’n landhoof is. Hierdie woord kry Afrikaans via Nederlands via Frans cap via Italiaans capo uit die Latynse caput. En terwyl ek nou in die Kaap is, dink ek aan kos – goeie, heerlike kos, voorberei deur ’n sjef. En mirabele dictu, sjef kom uit Frans chef, en ook dit stam van die Latynse caput af, net soos die Engelse chief.
KYK OOK: kapittel
Johan Combrink
Taalgereedskap: Die Burger, 29 November 1993 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.
buisdrukker
buiskopdoek
buisserp
buiteboud-aan-buiteboud
bullebakkie
bullestrontitis
bulletjierugby
Burokratees
burrito
bus 1
bus 2
Bybelboelie
byebed
byeterapie
bystanddood
bystandselfdood
bystandsterfte
bysteekkoek
calavera
calzone
Camissa
cannoli
captcha
caput
Cas9
CBD
CBDC
CCS
ceviche
CFD
chakchouka
chappie
chaps
char
charcuterie
charcutier
charlatan
chartreuse
ChatGPT
chiasaad
chick lit
chill
chimichurri
Chinees
chizkop
chlorokien
choke