Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 5 Februarie 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui in watter bron jy wil soek, of in albei. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Getal trefwoorde vandag: 3 318 (woordeboek) | 222 (rubrieke)
amber s.nw. [geen meervoud]
◌ ENGELS: amber
Van amber tot elektrisiteit
Daar is amber, en daar is amber.
Uit die spysverteringskanaal van die potvisbul, of spermwalvis, die grootste tandwalvis, kom amber of grys amber; ook ambergrys genoem: ’n askleurige, harsagtige, wasagtige stof waarvan stukke op strande uitspoel en gevind word waar dit in die see dryf. Vars, ruik hierdie amber soos die see en, wel, soos ontlasting, maar mettertyd word die reuk soet, muskusagtig, wat dit as geurmiddel gesog maak vir parfuum. Vroeër, in die Middeleeue, was grys amber in die volksgeneeskunde ook ’n middel teen allerlei kwale, van maagaandoenings tot depressie.
Omdat dit so lyk, daaraan herinner, kry ambergrys sy naam van die oorspronklike amber. Die naam kom van ’n Arabiese woord, anbar, wat “gefossileerde gom” beteken: Versteende gom van naaldbome, of konifere, soos dennebome, wat sowat 500 miljoen jaar gelede aan veral die Baltiese kus, in die omgewing van die hedendaagse Pools-Russiese Oossee gegroei het. Buiten konifere was daar in dié woude ook ander plante, soos varings en mosse, waarvan stukkies afgebreek en in die hars vasgesit het. Nes die prehistoriese insekte wat steeds in deurskynende harsstukke gevange sit.
Amber word in uiteenlopende vorms gevind, in kleure wat wissel van liggeel en heuning tot donkerbruin en swart, van glashelder tot opaak. Dit word as ’n halfedelgesteente beskou. In die 17de en 18de eeu is siervoorwerpe, soos kissies en bekers, daarvan gemaak. Stukke amber is gepoleer, geslyp, saamgevoeg. Vandag word meestal kleiner sierade en mondstukke vir tabakpype en sigarette gemaak.
As naam vir ’n vrou beteken Amber “kosbare juweel”.
In Afrikaans word hierdie amber, soos in Nederlands, ook barnsteen genoem; barn- van ’n Middelnederlandse woord, bern, of barn, waaruit die Nederlandse woord branden, Afrikaans se brand en Engels se burn deur metatesis (omruiling van letters) gevorm is.
Barnsteen, brandsteen, omdat gefossileerde boomhars brandbaar is. As jy ’n stuk barnsteen in olie verhit, kan jy die vorm daarvan verander.
In die Laat Steentyd word daar reeds mooigoed van gemaak. Barnsteen, en voorwerpe van barnsteen, soos skyf- en buisvormige krale, is van die eerste handelsware wat oor land na verafgeleë gebiede vervoer word. By die ou Grieke en Romeine is dit dus lank reeds bekend.
Die Grieke noem barnsteen elektron, afgelei van elektor, “stralende son”. Hulle weet ook dat dit ná wrywing aantrekkingskrag vertoon, soos wanneer ’n mens ’n stukkie elektron met ’n stukkie wol vryf en dit dan ’n veer of ’n muggie kan optel.
Maar dis eers in die jaar 1600, toe die Engelse wetenskaplike William Gilbert oor kragopwekking skryf en natuurlike magnetisme onderskei van die statiese elektrisiteit wat opgewek word deur oor amber te vryf, dat uit Grieks se elektron – amber – ons woorde elektries en elektrisiteit geskep word.
Amber-amulette weer bose kragte af, is eens geglo. Dit was voor beurtkrag.
Jana Luther
Woordewisseling: Beeld, Die Burger, Netwerk24, 29 Julie 2022 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.
akkeltjie
aksentdiskriminasie
aksentisme
akwafaba
akwamasie
akwaponies
akwaponika
akwaties
akwifer
alfabetisme
Alfa-generasie
alfalfa
alfavariant
alhamdulillah
alie
alles
almal
Aloe vera
aloe=
amadoda
amagwinya
amant
amashoba
amber
amie
Amie
amigurumi
amperie
Amptenaraans
AMT
anderding
anderjanstorie
Anglikaans
Anglokaans
Angst
ankole
ant
antie
Antie Rona
antieksjiek
Antifa
antihistamien
antiinflammatories
antilokusie
antinatalis
antinatalisme
antivakser