Bygewerk op 30 Oktober 2024
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en gereeld in Pharos Aanlyn bygewerk. Van November 2023 af word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit in een van of in albei hierdie bronne opgeneem is – ook Engelse woorde. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Getal trefwoorde vandag: 3 502
kappies, mantels en cappuccino’s
In Laat Latyn is daar die woord cappa, van onbekende herkoms. Dit beteken “hoofbedekking” en “mantel”. Om die verband tussen die twee betekenisse te sien, is maklik: ’n Mantel het in Europa van vroeër meestal ’n vaste hoofbedekking ingesluit. Maar mettertyd het die twee betekenisse uitmekaar ontwikkel.
Afrikaans se erfenis uit cappa is baie ryk.
Ten eerste is daar ons kappie, wat so eg, eg Afrikaans klink. En daar is die kapstok – die woord lyk so inheems, nè? – waaraan mens jou hoofbedekking of mantel of jas of baadjie hang. Ten tweede is daar die Afrikaanse woord kep of keps wat onlangs aan Engels ontleen is, wat dit op sy beurt uit die Latynse cappa kry.
Boshoff en Nienaber reken in hulle Afrikaanse Etimologieë dat die uitdrukking ’n kap maak (’n dop steek) miskien verband hou met die Engelse night-cap, die laaste drankie voor slapenstyd. As dit so is, sit ons in die uitdrukking met nog ’n stukkie indirekte Latyn in Afrikaans.
Ten derde is daar kapel. Die woord kapel (“kerkie”, “gebedshuisie”) kry Afrikaans via Nederlands direk uit Latyn. Die Laat Latynse verkleinwoord cappella beteken niks anders as “manteltjie” nie. Die cappella is in Laat Latyn so genoem nie op grond van vorm-ooreenkoms nie, maar omdat ’n godsdienstige reliek, nl. die mantel van sint Maarten, deur verskeie Franse in so ’n gebedshuisie bewaar is. Die naam van die deel (manteltjie) het vervolgens oorgegaan op die geheel (geboutjie).
Engels kry sy verwante woord chapel nie direk uit Latyn nie, maar via Ou Frans chapele. Uit dié Ou Franse chapele kom ook die gewone Franse woord vir ’n hoed: chapeau (sja-POO uitgespreek).
’n Kapelaan is etimologies ’n manteloppasser of ’n mantelkerkpriester. (Let op die één l van kapelaan.)
Die bol-hol-vorm, d.w.s. die bakvorm, van ’n cappa of ’n cappella het ook mettertyd invloed uitgeoefen op woordvorming in Europese tale. So het ons in Afrikaans byvoorbeeld ook ’n slang wat ’n kapel of ’n kapelslang of ’n koperkapel genoem word. Koperkapel is ’n vervorming van die Portugese naam cobra de capello, “kobra met die bakkie”. En die slang se ander naam in Afrikaans is dan nie verniet bakkop(slang) nie.
In die Middeleeue het die monnike ’n gepunte kap gedra. Dié kap heet in Italiaans cappuccio. Die verkleinwoord is cappuccino. Daaruit het die Franse capucin gemaak, en hieruit het die Nederlanders kapusyn gemaak. Dié kapusyn is toegepas nie net op die “kappie” nie, maar ook op die draer van die kappie.
In 1525 is die Kapusynerorde gestig as ’n tak van die Fransiskane. ’n Kapusyn of ’n Kapusynermonnik is ’n monnik wat baie armoedig leef, sandale dra en ’n bruin py met ’n aangehegte puntkap (cappuccino).
En ten slotte het die kleur van die Kapusynermonnik se py oorgegaan op ’n drankie: cappuccino, wat ’n moderne Italiaanse leenwoord in Afrikaans is.
Johan Combrink
Taalgereedskap: Die Burger, 31 Januarie 1994 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.
kalender
kalipso
kalm
kalonji
kamer
kamp
kampstoel
kanarie
kanga
kankerstokkie
kannabidiol
kannabinoïed
kannabis
kannibaliseer
kannie
kanonvoet
kans
kanselleer
kanselleerkultuur
kantie
kapana
kapittel
kaplet
kappie
kappiebaadjie
kappietop
karamonk
Karen
Karoleaans
Karoo-oester
kat
katalogusbruid
katalogushuwelik
katel
katemba
kathak
kathakkie
katisfaksie
katjie
katjiebotter
katjieng
katkop
katoeter
katot
katsnorbaard
katvis
katvissing