Woordeboek van Afrikaans Vandag

Bygewerk op 5 Februarie 2025

Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings

Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui in watter bron jy wil soek, of in albei. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!

Getal trefwoorde vandag: 3 318 (woordeboek) | 222 (rubrieke)

Soek in:

generasie s.nw. | generasies |

Generasie Alfa
Ook Alfa-generasie

demografiese generasie ná Generasie Z, van mense gebore tussen die vroeë 2010’s en middel-2020’s: Vasbyt, millenniërs! Met die koms van die post-millenniërs en die Alfa-generasie het ons binnekort nuwe mense om oor te gesels (Mercy Kannemeyer, Skrop).
ENGELS: Generation Alpha


Generasie X [dikwels afgekort of verkort tot Gen(.) X] demografiese generasie van mense wat ruweg tussen 1965 en 1980 gebore is, ná die geboortegolf (“baby boom”) wat op die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog gevolg het en vóór Generasie Y: Aan watter generasiegroepering behoort jy – die Stil Generasie, die Baby Boomers, Generasie X, Generasie Y, die Millenniërs of die nuwe Generasie Z? (Esté Gross, Netwerk24, 16 Mei 2019). Daar is iets in die lug. ’n Golf van Gen X-vroue het die afgesaagde ou siening dat vroue in hulle middeljare onsigbaar is, begin omkeer (Anneliese Burgess, Vrye Weekblad, 14 Julie 2023).


Generasie Y [dikwels afgekort of verkort tot Gen(.) Y] demografiese generasie van mense wat van 1981 tot 1996 gebore is: Ons as Generasie Y word geroetineer en gereguleer om slegs te doen wat ons moet en wat van ons verwag word (Jané de Wet, NMU, Netwerk24, 28 Januarie 2019). Gesels jy met die 19-jarige, kom jy agter hy’s beslis deel van Generasie Y. Hy wil kitsbevrediging hê en hy sal tegnologie gebruik om dit te kry (Rapport, 11 April 2016).
SINONIEM(E): millenniërs
ENGELS: Generation Y


Generasie Z [dikwels afgekort of verkort tot Gen(.) Z] demografiese generasie wat op Generasie Y (die millenniërs) volg: Gen Z is die eerste digitale boorlinge van die mensdom. Die breinkartering, die manier van leer en die verwerkingsmetode is totaal anders. Dit is ’n heel ander denkwyse. En boonop het hierdie generasie die hoogste barometer vir maatskaplike geregtigheid (Dion Chang, Vrye Weekblad, 10 November 2023). Base maak ’n fout om Gen Z se aandrang op geestesgesondheid te ignoreer (Chundré Filippus, Vrye Weekblad, 26 Augustus 2022). Millenniërs was klaar ’n progressiewe geslag. Ek is ’n millenniër, maar die geslag ná ons, Generasie Z – mense wat ná 1996 gebore is – is die mees progressiewe geslag in die geskiedenis van die wêreld as jy na kwessies soos klimaatsverandering, LGBT-regte en rassisme kyk (Vrye Weekblad, 4 September 2020). Hierdie jong luisteraars val in die kategorie 20 tot 25 jaar, die groep waarna bemarkers as Generasie Z verwys. Hulle is in die tegnologie ingebore, maar wat nog belangriker is, is hoe verfynd hulle sin vir sosiale geregtigheid, gender-vloeibaarheid en volhoubaarheid is (Annelize Visser, Vrye Weekblad, 19 Junie 2020). Ons as Generasie Y word geroetineer en gereguleer om slegs te doen wat ons moet en wat van ons verwag word (Jané de Wet, NMU, Netwerk24, 28 Januarie 2019). Generasie Z is nie engeltjies nie. Kinders wat tussen 1995 en 2012 gebore is, trek dwars en kla en betwis en bevraagteken soos hul voorgangers nooit as te nimmer sou waag nie (Sonja Loots, Rapport, 10 Februarie 2019).
SINONIEM(E): post-milleniërs | Zoomers

ENGELS: Generation Z


KYK OOK: millenniër


Let wel
Kies in watter bron(ne) jy wil soek. As ’n soekwoord nie as trefwoord opgeneem is nie, word voorbeelde van die woord in ander artikels vertoon, indien dit voorkom. Soek dan met CTRL-F om sulke voorbeelde op jou rekenaarskerm uit te lig. Kyk hier onder hoe jy ook met behulp van spesiale karakters kan soek.

Please note
This dictionary mainly contains words, meanings and expressions that have not yet been included in other Afrikaans dictionaries, together with a collection of language columns, blogs, video inserts and podcasts. If a search word is not included as a headword, examples of the word in other entries (definitions, usage examples, usage notes, etc) are displayed, if they occur. Then search with CTRL-F to highlight such examples on your screen.


  Podsendkanaal

  Artikels, rubrieke en ander bydraes van 2025

Weet jy wat is die agtste ‘bot’ se betekenis? (Netwerk24)

Taalgoggas wat baie laat struikel (Netwerk24)

Jana se reis met woorde (Afrikaans100)

● Oor bottels, flesse, vate, kuipe, balies ... (RSG)

Welkom in die tyd van die Soetkoek-eters (Netwerk24)

So maak jy met ’n motor wat in die modder sit (Netwerk24)

● Oor kalbasse en kruike en ander holgoed (RSG)

Besigtig die volledige lys taalrubrieke, podsendings en nog ander blogs en artikels hier.


Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is aan geen ander woordeboekprojek verbonde nie en word deur niemand geldelik gesteun nie. Dit is ’n onafhanklike inisiatief van die redakteur in haar vrye tyd.

Kopiereg © 2020-2025 Jana Luther