Bygewerk op 30 Oktober 2024

Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings

Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en gereeld in Pharos Aanlyn bygewerk. Van November 2023 af word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit in een van of in albei hierdie bronne opgeneem is – ook Engelse woorde. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!

Getal trefwoorde vandag: 3 502

A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z

Hayi wena, moenie ’n schmuck wees nie, wees ’n meshuggeneh

Taalpuriteine doen veel om oorspronklike woorde en sêgoed te bewaar, maar in hulle ywer stuit baie van hulle ’n potensieel ryke kruisbestuiwing en woorduitruiling tussen tale.

Ek het in die meestal Sesotho-sprekende Vrystaat grootgeword. Ek onthou hoe ek as kind graag ha ke tsebe (as een woord) gesê het om te kommunikeer dat ek nie weet nie, of tsamaea om vir iemand te vertel om van my weg te gaan sonder om die f-woord te gebruik. Ons het alle ouer swart mans ntate (meneer, vader) en die swart dominees moruti genoem.

My kollega Anneliese Burgess het oor Xhosafringlish geskryf en Xhosa-woorde genoem wat Engels en Afrikaans gebruik word, soos gwala (lafaard) en tshotsho (ek het jou mos gesê).

Nie baie Afrikaanssprekendes weet dat hulle gereeld woorde uit die Ngunitaal gebruik nie; woorde soos babelas, impi, tollie, donga, of die baie Afrikaanse woord aikona, van haikona.

Afrikaans is ook deur die Maleise tale van die destydse slawe en imams verryk. Woorde soos blatjang, bobotie, borrie (“turmeric”), piesang en sosatie is vandag suiwer Afrikaans – soos die woord baie.

Ander Suid-Afrikaanse tale het weer van Afrikaans geleen, soos voesek/fusak van voertsek, terwyl fokol sy verbintenis met die Engelse fuckall verloor het en deesdae sommer parlementêre taal is.

Daar is natuurlik geen Suid-Afrikaanse taal wat van ’n “pick-up truck” praat nie. Dit is bakkie, of in Zoeloe, baki.

Maar geen ander taal in die geskiedenis het soveel geleen, geskuif, aangepas en gedeel soos Yiddish nie. En ná ’n duisend jaar is Yiddish steeds vir die mensdom ’n bron van unieke, ekspressiewe woorde en uitdrukkings, wat ek terloops glo heelwat meer in Afrikaans en ander plaaslike tale gebruik kan word.

Yiddish was die taal wat deur die Ashkenazim gepraat is, die Jode wat in Oos- en Sentraal-Europa gewoon het. Dit was breedweg op ou Duits, Hebreeus en Aramees gegrond, maar is sterk deur plaaslike tale soos Pools en Russies beïnvloed.

Die meeste Yiddish-sprekers is tydens die Holocaust vermoor en die taal het amper gesterf. Vandag word dit net as primêre taal deur klein gemeenskappe van Hasidiese en ultra-ortodokse Jode gebruik.

Dit is ’n ryk, kleurvolle en warm taal, vol humor, maar met ’n byt; ’n refleksie van die geskiedenis van die mense wat dit oor baie eeue heen gepraat het.

In die video hier onder word die skrywer Eric Jong só aangehaal: “Yiddish wasn’t just words, you see, it was an attitude. It was sweet and sour. It was a shrug and a kiss. It was humility and defiance in one.”

Heelwat Yiddishe woorde het in veral Amerikaanse Engels ingesluip, maar nie elke gebruiker daarvan besef eens dat dit Yiddish is nie:  woorde soos chutzpah, mensch, schlep, schmalz en spiel.

Hier is ’n kort lys van Yiddishe woorde wat ons maklik in vandag se gesprekke kan gebruik.

alterkaker  ’n Old fart.

boychik  Seun of jong man. ’n Boytjie.

bubkes of bupkes  Niks, zilch (kort vir kozebubkes, bokdrolle).

bubuleh  Liefling, skat, bokkie.

chutzpah  ’n Mengsel van durf, selfvertroue en arrogansie.

dreck  Drek.

futz  Om nonsens te maak, speletjies te speel. (Van die Yiddishe frase arumfartsn zikh, “to fart around”.)

ganef of gonif  ’n Swernoot, dief, boef.

glitch  ’n Klein foutjie of wanfunksie.

haimish of heimish  Soos by die huis; warm en vriendelik.

kanipshin  ’n Woede-aanval – ’n tantrum.

kibitzer  Iemand wat knaend ongewensde kommentaar of advies lewer.

klutz  ’n Lomp mens wat oor sy/haar voete struikel en goed laat val.

kvell  ’n Uitdrukking van trots in iemand anders of wat hulle bereik. (Ek kvell, my seun is vir die eerste span gekies.)

kvetch (selfstandige naamwoord of werkwoord)  Kerm en kla.

mamzer  ’n Baster (kwetsend, neerhalend, rassisties) (“bastard”).

maven  Aficionado, kenner.

mazal tov  Veels geluk!

megillah  ’n Lang, vervelige storie, voorlegging of produksie. (Van megile, ’n boekrol, met verwysing na die lees van so ’n rol by Joodse godsdienstige dae. Jy kan ook praat van “die hele megillah”.)

mensch  ’n Ordentlike, deernisvolle mens.

meshuggeneh  Om iemand te beskryf wat verspot, mallerig of ’n moeilikheidmaker is, maar met ’n stukkie deernis gesê.

mishpacha  Familie, of dit nou bloedfamilie of gekose familie is.

narrischkeit  verspottigheid, nonsens.

nebbish of nebbich  ’n Pateet, ’n nonentiteit, ’n stofpoeper.

noodge of nudzh (werkwoord of selfstandige naamwoord)  Om te kerm, te kla of lastig te val.

nosh  ’n Klein porsie kos, of om te peusel.

oy vey of oy gevalt  ’n Uitroep van verbasing of onthutsing as iets skeefloop, teleurstel of verras.

pisher  ’n Onervare, onbelangrike mens.

plotz  Om ineen te stort, ’n oorval te kry by die aanhoor of aansien van iets. (Ek het amper geplotz toe ek vir Siya Kolisi in die restaurant raakloop.)

potch of petch  ’n Snotklap.

putz  Gomgat, skepsel. Die letterlike betekenis is “penis”.

schlemiel  ’n Lomp, onbekwame mens, ’n droogmaker.

schlep  Om êrens heen te moet gaan of iets êrens heen te neem wat vir jou moeite is. (Ek moes al die pad na sy huis toe schlep.)

schlimazel  Iemand wat nooit goeie geluk het nie.

schlock  Goedkoop, minderwaardige item.

schlong  Penis. (Uit die Duits Schlange, slang.)

schlub  ’n Slonskous.

schmaltz  Oordadig sentimentele kuns of musiek. (Die letterlike betekenis is hoendervet, ’n gewilde bestanddeel in Joodse geregte.)

schmaltzy  Oordadiglik sentimenteel of emosioneel.

schmooze  Vriendelike geselsies maak.

schmuck  ’n Poephol, ’n vent, ’n misoes. (Van shmok, “penis”, uit die ou Pools smok, “grasslang”.)

schnook  ’n Saggeaarde mens, of ’n oulike kind.

schnorrer  ’n Bedelaar, iemand wat op ander teer. (Die komediant Jerry Seinfeld definieer schnorrer as “someone who picks the cashews out of the mixed nuts.”)

schnoz of schnozz of schnozzle  Neus, veral ’n grote.

schtup  Om seks te hê.

schvitz  Om te sweet.

shemozzle  ’n Onderonsie, ’n bakleiery.

shepping naches (of net shepping)  Om trots te voel op iemand of dit wat hulle bereik het.

shmendrik  ’n Swaap.

shpilkes  Rusteloosheid, ongeduld. (Ek het die shpilkes; kan ons nie nou maar huis toe gaan nie?)

shtick  Iets waarvoor iemand bekend is, wat hy/sy graag doen. (Hy bak altyd poetse by partytjies, dis sy shtick.)

shtum  Tjoepstil.

spiel  ’n Lang storie, toespraak of voorlegging.

tchotchke  Snuistery.

tuchus  Boude. (Hy het hom ’n klap op die tuchus gegee.)

verkakte of farkakteh of vakakte  Swak, vrot, sleg, kakkerig.

verklempt  Oorkom deur emosie.

yenta  ’n Skinderbek, ’n vrou wat baie praat.

yutz  ’n Dwaas.

zaftig  ’n Volronde vroueliggaam, maar bedoel as kompliment. (Van zaftik, “sappig”.)

Max du Preez in © Vrye Weekblad, 24 November 2023  

trefwoorde

Jiddisj | leenwoord | Maleis | Ngunitaal | Sotho | taalpurisme | vreemde woord | Xhosa | Zoeloe



 Jiddisj-Nederlandse woordeboek  



Let wel
As ’n soekwoord nie as trefwoord opgeneem is nie, word voorbeelde van die woord in ander artikels vertoon, indien dit voorkom. Soek dan met CTRL-F om sulke voorbeelde op jou rekenaarskerm uit te lig.

Please note
This dictionary mainly contains words, meanings and expressions that have not yet been included in other Afrikaans dictionaries, together with a collection of language columns, blogs, video inserts and podcasts. If a search word is not included as a headword, examples of the word in other entries (definitions, usage examples, usage notes, etc) are displayed, if they occur. Then search with CTRL-F to highlight such examples on your screen.


  Rubrieke en podsendings van 2024

Uitbundig uitgeput, maar hoera vir al die uitkykanties (Netwerk24)

Wat is 'n huis sonder sy lappies? (Netwerk24)

Lente se eerste komloertjie het geval (Netwerk24)

Taal ingespan vir diagnose van depressie (Netwerk24)

Afrikaners is plesierig dan baklei hulle so (Netwerk24)

In Afrikaans is dit 'n, nie ñ nie (Netwerk24)

As hartsmens identiteitsdief is wat gaslight (Netwerk24)

Dis Kersfees in Julie, gevul met sespuntkristalle (Netwerk24)

Jagluiperds se fluit fnuik tot die voëltjies (Netwerk24)

Kelkiewyn dra kosbare water in sy verevag (Netwerk24)

Vermy omgang met kêskuikens en melkbaarde (Netwerk24)

Kannie is dood. Lank lewe kannie! (Netwerk24)

Bruilof-wortels lê geanker in rituele (Netwerk24)

Word daar nog saans stories in jou huis vertel? (Netwerk24)

Dit is waar ’n babbeljoentjie vandaan kom (Netwerk24)

Dalk is dit nou tyd vir Red-’n-Woord-projek? (Netwerk24)

“Engels hou só Afrikaans se arms omhoog” (Netwerk24)

“Ek doen” (Netwerk24)

Afrikaans is ’n steentjie in die Afrikamosaïek (Netwerk24)

Luister mooi, stilbly is ook ’n antwoord (Netwerk24)

Die bouwerk wat ons help uitstyg (Netwerk24)

Dikdood of op ’n wilde perd die nuwe jaar in (Netwerk24)


Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is aan geen ander woordeboekprojek verbonde nie en word deur niemand geldelik gesteun nie. Dit is ’n onafhanklike inisiatief van die redakteur in haar vrye tyd.

Kopiereg © 2020-2024 Jana Luther