Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 5 Februarie 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui in watter bron jy wil soek, of in albei. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Getal trefwoorde vandag: 3 318 (woordeboek) | 222 (rubrieke)
Ryk see-erfenis in Afrikaanse idiome
Daar is ’n baie ryk see-erfenis in die Afrikaanse idiome en woordeskat. Ons Nederlandse voorouers was naamlik op hulle dag ’n seemoondheid van formaat. Die feit dat seemanswoorde soos kombuis (nie keuken nie) en klip (nie steen nie) histories in Afrikaans “gewen” het, bewys hoeveel seelui daar onder die vroeë Europese Kapenaars was.
Hier wil ek slegs praat oor ’n paar woorde, waarvan die etimologie vir ons hedendaagse Afrikaanse gemeenskap van landrotte duister geraak het.
Die takel van ’n seilskip is die seile, die toue en die maste. Wanneer ’n seilskip herstel moes word, of totaal uit die water gehaal is, is dié skip afgetakel. Wanneer ’n seilskip weer toegerus is vir seevaart, is dit opgetakel. Optakel het in Afrikaans mettertyd ’n geurtjie bygekry. Dit word veral gesê oor iemand of iets wat te veel versier is.
Die anker van ’n skip ken die meeste van ons goed. Maar dink aan die talle gevalle van anker-beeldspraak wat in Afrikaans lewe, byvoorbeeld dat mens selfs telegraafpale en tente deesdae kan anker, en dit op land. Anker het vandag dus ook die betekenis gekry van “stewig vasmaak sodat dit nie omwaai of wegwaai nie”. G’n wonder my vrou is die “anker in my lewe” nie.
Die ruimte onder die verhoogde dek van die voorskip is die bak genoem. Dit is waar die matrose “gewoon” het, en op koopvaarders was die bak dikwels ook die plek waar die kombuis ingerig is. (Gou by die bak, lui by die werk/vak.) Om iets agterbaks te doen, was oorspronklik om iets te doen waar die ander matrose jou nie kan sien nie, agter die bak.
Die -s van agterbaks is die -s wat in Afrikaans bywoorde en byvoeglike naamwoorde maak, soos in kerks, Joods, Bybels en speels.
’n Woord met dieselfde struktuur as agterbaks is ruimskoots. ’n Skoot is onder andere ’n tou waarmee die onderkant van ’n seil vasgemaak word aan die seilboom – die ronde hout dwarsoor ’n mas. Deur die seil ver van die seilboom af vas te maak, dit wil sê met ’n lang tou, met ’n ruim skoot, kon jy die seil so span dat dit baie wind vang, en jy dus vinniger seil.
Kink of kinkel is ’n seemanswoord vir ’n vals draai, ’n “slag” in ’n kabel of tou. Om af te skeep was “om van die skip af te laai”, dus om ook nie verder aandag daaraan te gee nie. Hierdie oorspronklike bybetekenis staan vandag sentraal.
Om op te skeep was weer “om op die skip te laai”. As mens van die land af wegseil, moet jy vir alles aan boord sorg. Party dinge of mense wat jy nie wil hê nie, sit jy dan mee opgeskeep.
Daar was verskeie tipes vlae op outydse seilskepe. ’n Oorlogskip kon ’n wimpel laat waai. Dit is ’n lang, gesplete doek met dieselfde kleure as die landsvlag. ’n Handelskip kon nie ’n wimpel laat waai nie; dit moes ’n katstert laat wapper. Waar die wimpel gesplete is, was die katstert ongesplete en langer. Maar as die wind nie waai nie, of swak waai, kon mens moeilik die verskil tussen ’n wimpel en ’n katstert raaksien deur ’n teleskoop. Kapteins van handelskepe wat wou voorkom dat hulle skepe as oorlogskepe aangesien word, het dan géén katstert óf wimpel vertoon nie. Van so ’n skip is gesê dit is onbewimpeld. Vandaar het ons die betekenis “reguit”, “sonder enigiets daarby” aan onbewimpeld begin heg.
Hoe vaer ons skeepvaartkennis word, hoe meer ontwikkel dié oorspronklike skeepvaartwoorde se betekenis weg van die oerbetekenisse. Tot ’n volgende keer: Vaarwel!
Johan Combrink, Taalskatkis, 1 Augustus 1994 © Die Burger, Media24
trefwoorde
etimologie | idioom | seemanstaal | uitdrukking
lankmoedig en verdraagsaam
Lexikos
loop en stap
meerkat
Mense laat hul voorsê
met iets deel
metonimie
Moenie ’n schmuck wees nie
Moge ’t treffe
nie
Nie net vir koppel nie
Nuwe taalreëls
Ontgroende word oorlams
Ontlening boei
Paps en Mams
plekhouers en stopwoorde
Probleme berispe
Raak naamgewing
Retro-taal, waarom nie?
riemspring en streepsuiker
Rododendron of viooltjie?
saam (met)
Sê en meen is twee
See-erfenis in idiome
sien
Sinne met so
Slegte ruil
snel groeiende
Spelkeuses is taaldemokrasie
Standaardtaal in die kollig
stappe doen of neem?
Taal is baas
taboewoord
testament tot
Turkye, Türkiye
Uitspraak van vreemde woorde
vals verkleinings
Variëteite wys taalverskeidenheid
vergeleke met
Verskynsels gee woorde
voornaamwoordelike bywoorde
Vraagteken uit Latyn
Waar hou woorde op?
Wanneer anglisisme?
Welkom vreemdelinge
Woord sê nie alles nie
Woordeboekdag