Indeks | A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z | 1 | 2 | 3 | 4 | 5


zama-zama (Zoeloe, informeel)
s.nw. | zama-zamas | informele of onwettige mynwerker: Die bedryf sukkel al jare met onwettige myners, of zama-zamas, wat hulself met omkoopgeld of deur manipulasie in die myne kry, waar hulle dan stukke goudriwwe uitkap, koperkabels steel en in skietgevegte met mekaar en veiligheidswagte betrokke raak (Allan Seccombe, Vrye Weekblad, 1 November 2019). Daar is omtrent 30,000 zama-zamas in Suid-Afrika, en dis ’n mengsel van Suid-Afrikaners en burgers van buurlande van waar ons myne tradisioneel arbeid inkry, soos Lesotho, Mosambiek en Zimbabwe (Allan Seccombe, Vrye Weekblad, 1 November 2019 ). Dis nou die zama-zamas […] die ouens wat skelmpies snags die myne se drade knip en sakke vol gruis maak om later by die huis te sif (Willie Hanekom aan Hein Eksteen, Vrye Weekblad, 3 Januarie 2020). | ENGELS: zama-zama

ww. | het gezama-zama | informeel of onwettig myn: Ja, hulle zama-zama hier ook. Nou die dag grou hulle iewers onder die teerpad in en daar val die spul op hulle. (Willie Hanekom aan Hein Eksteen, Vrye Weekblad, 3 Januarie 2020).


zef b.nw. [attr. en pred.] ongesofistikeerd; onbeskaaf(d); platvloers: As daar een ding is waarvan die reeks jou oortuig, is dat Vlaminge net so zef kan wees soos sommige wit Afrikaners (Albertus van Wyk, Vrye Weekblad, 7 Junie 2019).

zero s.nw. | zero’s | zero’tjie |
pasiënt zero pasiënt


zika s.nw. [geen meervoud]
1
zikavirus

2
zikakoors


zikakoors s.nw. [soms verkort tot: zika] [geen meervoud, ook met hoofletter] (patologie, geneeskunde) koorssiekte veroorsaak deur die zikavirus, oorgedra deur steekmuggies en muskiete, wat veral gevaar inhou vir die fetus by swanger vroue | ENGELS: Zika fever | Zika virus disease

zikavirus s.nw. [afkorting: ZIKV] [gewoonlik enkelvoud, ook met hoofletter] (patologie, geneeskunde)
1
soort flavivirus wat zikakoors veroorsaak: Benewens dat hulle baie besig gaan wees, besoek hulle ook Tonga en Fidji, en die twee lande hou ’n matige risiko vir die zikavirus in, wat gevaarlik is vir swanger vroue en tot misvormde babas kan lei (Huisgenoot, 19 Oktober 2018). Volgens die Sentrum vir Siektebeheer en Voorkoming (CDC) het Peru ’n lae risiko vir die Zika-virus. Die CDC meld dat muskiete wat gewoonlik die Zika-virus versprei, in tropiese gebiede onder 2 000 meter bo seespieël voorkom. Die kans dat muskiete dit op hoër seevlakke oordra, is skraal (Gerda Engelbrecht, Weg!, 15 Januarie 2019). | ENGELS: Zika virus | ZIKV

2
zikakoors: Muskiete is draers van dodelike siektes soos malaria, knokkelkoors, die zikavirus, limfatiese filariase en Wes-Nyl-koors. (Andrea Küsel, Netwerk24, 4 September 2017). zikakoors


ZIKV afk. zikavirus

zoedel s.nw. | zoedels | [veral mv.] (uit Engels, kookkuns, informeel) noedel gemaak van jong murgpampoentjie of vingerskorsie: Sny die murgpampoentjies met ’n spiraalsnyer in lang, krullerige linte óf koop ’n pak klaar gesnyde zoedels by die supermark (Johané Neilson, Tuis, 14 Oktober 2019). | ENGELS: zoodle
OORSPRONG:
Engels zucchini + noedel.


zoei ww. | het gezoei | ’n hoë, klaende geluid maak. | ENGELS: buzz | hum
KYK OOK: gezoei


zolkoekie s.nw. | zolkoekies | (informeel) koekie met dagga as bestanddeel: Ek bak ouma Anna se koekies volgens haar oorspronklike resep. As daar blaartjies van een of ander aard bygevoeg word om hiervan zolkoekies te maak, geskied dit op eie risiko (Henk Serfontein, Vrye Weekblad, 28 Februarie 2020). | SINONIEM(E): daggakoekie | ENGELS: cannabis biscuit | dagga cookie

Zoom (handelsnaam)
s.nw.
1
[verkorting van: Zoom Video Communications, Inc. ] [geen meervoud] Amerikaanse kommunikasietegnologieonderneming wat via ’n wolkgebaseerde sagtewareplatform aan mense ’n videotelefoniediens bied wat (veral tydens die koronapandemie) wyd gebruik word vir vergaderings en konferensies, afstandsonderrig en algemene sosiale kommunikasie: Nuwe prokureurs en advokate moet ingehuldig word, maar hoe gemaak as ’n mens tydens die COVID-19-pandemie sosiale afstand moet handhaaf en tydens die inperking moet tuis bly? Die antwoord is die video-oproepdiens Zoom (Jacques Myburgh, Huisgenoot, 15 Mei 2020). Volgens Katie sou Archie se nefies en niggie, prins George (6), prinses Charlotte (5) en die tweejarige prins Louis, hom waarskynlik oor Zoom gelukgewens het (Nici de Wet, Huisgenoot, 15 Mei 2020).

2
| Zooms, zooms | [ook met kleinletter] ’n Video-oproep of ander aanlyn kommunikasiesessie op die Zoom-platform: Ons volgende Zoom is Vrydag twaalfuur.

ww. › zoom | het gezoom | [met kleinletter] ’n video-oproep op die Zoom-platform maak: Ons kan nie kantoor toe gaan nie, maar ons zoom kort-kort. Ek zoom jou vanaand. Het julle vandag al gezoom? | ENGELS: Zoom

samestellings:
Zoom(-)gesprek: ’n Zoomgesprek met die familie | Zoom(-)geselsies: Zoom-geselsies met jou niggies en nefies in Engeland | Zoom(-)vergadering: Die meeste sakeleiers en -spanne is nog in Zoom-vergaderings en Google Docs verdiep waar hulle teen skermmoegheid en dowwe oë stry terwyl hulle by die vreemde “nuwe normaliteit” probeer aanpas (finweek, 15 Mei 2020).


Zoombom s.nw. | Zoombomme | [ook met koppelteken] ontwrigting van ’n Zoomvergadering of -gesprek deur ’n stelselindringer wat ongenooid toegang tot die aanlyn sessie verkry en terwyl dit aan die gang is aan die deelnemers ontoepaslike en/of ontstellende inhoud vertoon: Vasgevang in tydelike tuiskantore is die daaglikse stres van lang pendeltye en padwoede vervang deur die euwels van aanlyn trolle en Zoom-bomme (finweek, 15 Mei 2020). Zoombom: Dis wanneer iemand ’n Zoom-vergadering ongenooid crash – dikwels met pornografiese inhoud soos wat nou die dag met ons parlementslede gebeur het toe hul Zoom-sessie meteens stout geraak het (Erla-Mari Diedericks, Netwerk24, 13 Mei 2020 ). | ENGELS: Zoom bomb
’n Zoombom los deelnemers aan ’n Zoomgesprek onder ’n Zoombom laat deurloop. | ENGELS: Zoombomb | Zoom raid

die los van Zoombomme | ENGELS: Zoombombing | Zoom raiding

KYK OOK: Zoom


Zumaïet s.nw. | Zumaïete | (SA, politiek) ondersteuner van oudpresident Jacob Zuma (van 2009 tot 2018 president van Suid-Afrika): Die EFF heul met die Zumaïete omdat hulle deeglik besef hoe gewild Cyril Ramaphosa is (Max du Preez, Vrye Weekblad, 3 Mei 2019).

zumba
s.nw. [geen meervoud] › Zumba [ook met kleinletter] (handelsnaam) fiksheidsprogram wat gebaseer is op die uitvoer van danspassies op die maat van Latyns-Amerikaanse musiek

ww. | het gezumba | [met kleinletter] aan Zumba deelneem; Zumba beoefen: Ek is 84 en stuit vir niks. Twee keer per week zumba ek, waar ek my lyf in allerlei bogte wring om saam te dans met die jong vroue (Margaretha Toxopeus, Netwerk24, 23 April 2020). My sitvlak is so groot soos ’n volgestopte matriekboeksak en ek het sommer gezumba met die skarumba en my biskit goed geskud (RSG-nuusbrief, 8 Junie 2011). | ENGELS: Zumba

samestellings:
Zumbaklas | Zumbasessie | Zumba-instrukteur


zump ww. | het gezump | (uit Engels) ’n (romantiese) verhouding tydens ’n Zoomsessie beëindig: Hy het my gezump oor my virusvetjies (Netwerk24, 13 Mei 2020).
OORSPRONG:
Van Engels zoom + dump