Indeks | A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z | 1 | 2 | 3 | 4 | 5


ubukunzi s.nw. [enkelvoud] (Zoeloe) bulskap; bulgees: Dis ’n onstuitbare, onafhanklike en selfs hardkoppige innerlike krag wat elke man moet ontdek en moet leer om te beheer. As die ubukunzi reg ingespan word – sodat dit in harmonie saam met die res van die gemeenskap kan werk, kan daardie individu die status van iqawe (militêre leier) of inDuna (stamhoof) kry (Chris du Plessis, Vrye Weekblad, 19 Julie 2019). Daar is verskeie oorgangseremonies voordat ’n Zoeloeseun ’n volwaardige impi genoem kan word. Die eerste een is Iphape, wat verwys na die wors wat van ’n bees se long gemaak word. Dit word op ’n stokkie geryg en op warm klippe verhit, en is ’n delikatesse en beloning vir seuns so jonk as vyf jaar oud wat die kuns van stokgevegte leer in hul poging om hul ubukunzi (“bulgees”) te vind (Chris du Plessis, Vrye Weekblad, 19 Julie 2019). | ENGELS: bullness | bull spirit
KYK OOK: shinga


ugli s.nw. | ugli’s | [ook met hoofletter] (handelsnaam, botanie) Ook uglivrug soort sitrusvrug, ’n kruising tussen ’n (geel) nartjie (= mandaryn) en ’n pomelo, oorspronklik in Jamaika gekweek; Jamaikaanse pomelonartjie; Jamaikaanse tangelo. | ENGELS: ugli | uglifruit | Jamaican tangelo

uit bw., voorsetsel
UITDRUKKING(S):
so uit soos koekies in 'n weeshuis onbekend; totaal vreemd; volstrek ontoelaatbaar: Om in jou hande te nies is nou so uit soos koekies in 'n weeshuis.


uitfigure ww. figure uit | het uitgefigure | (uit Engels, informeel) uitwerk; uitpluis: Sit en redigeer ’n stuk kopie en probeer uitfigure wanneer uitfigure in die HAT gaan wees (Ilza Roggeband, Facebook, 4 Mei 2020). In daardie stadium het ons nog nie eers geweet hoe om te toets nie. Ons het rondgehardloop en laboratoriums gebel, en vorms afgelaai en probeer uitfigure hoe doen jy dit – nou is dit maklik (Netwerk24, 17 April 2020). Ek stel my voor hoe sy by haarself dink: Wê, ek het tog eerste uitgefigure wat fout is met ons twee! (Sarie, 25 Februarie 2020 ). Ons kon nie uitfigure wie saam met wie slaap nie, so julle moet dit maar self uitbaklei (Marita van der Vyver, Wegkomkans, 1999). Toe my ma-hulle my vra wat ek wil doen, toe probeer ek uitfigure wat hulle die meeste sal uitfreak (Tinus Horn, Droster, 1997). | ENGELS: figure out

uitgefees b.nw. [predikatief] moeg/tam/flou ná bywoning van ’n fees; moeg/tam/flou van te veel feesbywoning: Hierdie feesflerrie is nou vir eers uitgefees (Marita van der Vyver, Vrye Weekblad, 9 Augustus 2019). KKNK het vroeër vanjaar swaarder getrek as gewoonlik weens laer bywoningsyfers. Dit kan die knypende ekonomie wees of bloot dat ons volk uitgefees is (Beeld, 19 Junie 2011). | SINONIEM(E): feesvoos | ENGELS: festival-fatigued

uitmis ww. mis uit | het uitgemis | (onidiomaties, direk uit Engels vertaal)
(op iets) uitmis iets nie kry/sien/meemaak/ens. nie; iets misloop: Moenie dat jou kinders uitmis op hierdie reeks nie. As julle nog nie vir Melusi en sy Everyday Zulu ken nie, mis julle uit (Erla Rabe, Facebook, 31 Augustus 2018). Deesdae probeer sy soveel as moontlik tyd saam met haar en haar regisseur-man […] se eenjarige dogtertjie spandeer. “Sy is op so ’n oulike stadium dat ek nie wil uitmis nie,” het sy aan SARIE gesê (Monica Pienaar, Sarie, 15 Februarie 2018). Paxton gaan ook uitmis op haar matriekafskeid, maar sê dis nooit iets wat sy wou bywoon nie (Emarine Anthony, Kuier, 5 Januarie 2018). Antonio Alkana het op ’n plek in die eindronde van die 110 m-hekkies uitgemis nadat hy in die uitdunne net ’n sesde plek kon vermag (Wim Pretorius, Netwerk24, 18 Augustus 2018). | ENGELS: miss out (on something)


uitsluitkultuur s.nw. [geen meervoud] kultuur, veral in die sosiale media, waarin dit algemene praktyk geword het om (bekende) persone of organisasies wat politiek of kultureel iets verkeerd gedoen of gesê het, of deur ander, veral gesaghebbende meningsvormers, as ideologies anders beskou word, sosiaal uit te sluit en/of te boikot    | SINONIEM(E): afskafkultuur | kanselleerkultuur | ENGELS: cancel culture

uitsteek ww. steek uit | het uitgesteek | (informeel) Ook (lekties) uitstiek, ytstiek
1
jou/haar/sy opwagting/verskyning maak: En toe steek die gospelsanger [...] weer duidelik uit ... Aanhangers kan nou uitsien na sy nuutste single (Son, 10 September 2020). Lotto-wenner stiek uit – Die wenner van die grootste PowerBall-jackpot in Suid-Afrika het uiteindelik na vore gekom (Son, 26 Februarie 2019). Die opbrengste gaan gedonate word aan die Salberau-ouetehuis in Elsiesrivier. Komaan, stiek yt! (Son, 29 Augustus 2018).

2
besoek (aflê); (kom) kuier; (iets) bywoon: Ek stel voor Lesufi kom kuier bietjie hier tussen ons mense […] So steek uit in Eersterust, my ou! (Virginia Keppler, Vrye Weekblad, 19 April 2019). | ENGELS: come | show up
KYK OOK: ytstiek


uitstiek ww. stiek uit | het uitgestiek | (informeel, lekties) uitsteek

uitvissing s.nw. [geen meervoud] (rekenaar) situasie waarin ’n bedrieër, tydens ’n foonoproep/ens., hom/haar as ’n amptenaar van bank of ander diensverskaffer voordoen met die doel om van niksvermoedende slagoffers vertroulike inligting, soos aanmeldbesonderhede/PIN-nommers/ens., te probeer bekom; stemuitvissing. | ENGELS: vishing
KYK OOK: uitvissingsboodskap

samestellings:
uitvissing-e-pos: Volgens die plaaslike sekerheidsmaatskappy wat e-posstelsels probeer beveilig, het die aantal uitvissing-e-posse tussen Januarie en Maart met meer as 600% toegeneem (Petrus Malherbe, Netwerk24, 2 September 2020). | uitvissingsaanval: G. sê wanneer mense van die huis af werk, is hulle selfs meer kwesbaar vir uitvissingsaanvalle en wanware (finweek, 24 Mei 2020).


uitvissingsboodskap s.nw. | uitvissingsboodskappe | (rekenaar) e-pos- of teksboodskap wat lyk asof dit van ’n regmatige instansie soos ’n bank/ens. kom, waarin die ontvanger – om sy haar aanmeldbesonderhede en/of sensitiewe inligting te verkry – gevra word om op ’n skakel te klik wat na ’n vervalste webtuiste nes die oorspronklike lei. | ENGELS: phishing
KYK OOK: uitvissing


ukuthwasa s.nw. (Zoeloe) opleiding in tradisionele medisyne; opleiding as tradisionele geneser: Danksy die aanmoediging van sy oupa ondergaan hy die ukuthwasa (sangoma-opleiding) en kwalifiseer as ’n tradisionele geneser (Jan Horn, Vrye Weekblad, 27 Maart 2020).

umhupe s.nw. | umhupes | (Zoeloe, musiek) tradisionele Zoeloe-musiekboog waarby die mond vir resonansie gebruik word: “Jy weet,” sê Johnny terwyl hy by ’n systraat indraai en sy hand op die paneelbord slaan om te keer dat die umhupe wat hy die middag vinnig van tou en stokkies vir die aand se uitvoering aanmekaargeslaan het, by die oop venster uitgly (Chris du Plessis, Vrye Weekblad, 19 Julie 2019). | SINONIEM(E): mondboog | ENGELS: mouth bow | mouthbow





umngqusho s.nw. [versamelnaam] (Xhosa, kookkuns) (gereg van) stampmielies en bone: Umngqusho (stampmielies en boontjies) is ’n tradisionele Xhosa-dis wat by baie feesvieringe voorgesit word – van troues tot suksesvolle oes-vieringe. Dit kan verdun word en as ’n sop geniet word deur aftreksel by te voeg of net so dik as ’n bykos vir bredies of potjiekos. Jy kan ook aartappels, mieliepitte, vleis, kaiings of grondboontjies byvoeg (Cass Abrahams, Son, 30 November 2016). Umngqusho, daardie lieflike, eenvoudige stampmieliegereg, is by die volgende geleentheid met raap voorgesit (Annelize Visser, Vrye Weekblad, 10 Mei 2019). | ENGELS: samp and beans

umqombothi s.nw. [geen meervoud] (Zoeloe, Xhosa) tradisionele bier gebrou van mielies/sorghum, gis en water: Die gisgeur van emmers vol umqombothi meng met ander prominente aromas: vuurrook, sweet, bees- en bokmis, en modder (Chris du Plessis, Vrye Weekblad, 19 Julie 2019). Synde van meet af die praktiese kortpad na sosiale, alkoholiese drinkgoed, word dié ``nasionale'' drankies gemaak van watter plant voor die hand op die land staan: Mexiko se tequila van die algave-garingboom, Rusland en Pole se wodka van graan of aartappels, Brasilië se cachaça van suikerriet en selfs ons eie umqombothi van mielies (Die Burger, 29 Januarie 2000). Hy gaan die blik umqombothi – tradisionele bier – omstuur, en ons moet kyk of ons kan klaarmaak (Die Burger, 5 Desember 2006). T. is skuldig bevind nadat hy te veel bottie gevat en toe agter die stuurwiel ingeklim het. Dit was nadat hy beweer het hy het eintlik maar net ’n paar slukkies umqombothi, oftewel tradisionele Afrikabier, gevat (Die Burger, 20 April 2017 ). | SINONIEM(E): mieliebier | sorghumbier | ENGELS: umqomboti
samestellings:
umqombothikalbas | umqombothipot


Umshini wami woordgroep (Nguni) struggle-lied (vroeër) van lede van umKhonto weSizwe, voormalige gewapende vleuel van die ANC (1961–1990)
OORSPRONG:
Nguni: Bring my masjien(geweer).


UPS afk., s.nw. | UPS’e | [Engels: Uninterruptible Power Supply] bron/toestel wat nieonderbreekbare krag voorsien: As jy ’n lessenaarrekenaar gebruik, het jy gewoonlik nie ’n battery wat kan oorneem nie. Dan gaan jy iets soos hierdie nodig hê: ’n UPS, oftewel ’n ononderbroke kragbron. Jy prop dit by die muurpunt in en prop jou rekenaar daarby in. Sy battery laai terwyl elektrisiteit wel beskikbaar is, en die battery neem outomaties oor sodra die krag afgaan (Willem Kempen, Vrye Weekblad, 31 Januarie 2020). ’ n UPS het die bykomende voordeel dat dit die gekoppelde apparate beskerm teen skielike opstuwings in die aantal volts wat deur die netwerk gelewer word (Willem Kempen, Vrye Weekblad, 31 Januarie 2020).
KYK OOK: kragbank