Indeks | A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z | 1 | 2 | 3 | 4 | 5


SA’ner s.nw. [verkorting van: Suid-Afrikaner] (informeel) | ENGELS: SAfrican

Sabela
s.nw. [geen meervoud] soort geheimtaal, gepraat deur bendes in Suid-Afrikaanse tronke. | SINONIEM(E): Tronkafrikaans | tronktaal | boeptaal | ENGELS: Sabela

ww. [met kleinletter] › sabela | het gesabela | die bendegeheimtaal Sabela praat.


SABMR afk. [Engels: South African Bone Marrow Registry] Suid-Afrikaanse Beenmurgregister.

Sabric akr. [Engels: South African Banking Risk Information Centre] Ook SABRIC Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum.

SAFPS afk. [Engels: Southern African Fraud Prevention Service] Suid-Afrikaanse Bedrogbeskermingsdiens.


Sahpra afk. [Engels: South African Health Products Regulatory Authority] [tevore: Medisynebeheerraad] Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad.

Saica afk. [Engels: South African Institute of Chartered Accountants] Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters.

SAID afk. Suid-Afrikaanse Inkomstediens | ENGELS: South African Revenue Service | SARS

Saids akr. [Engels: South African Institute for Drug-Free Sport] Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport.

sak s.nw. | sakke | sakkie |
UITDRUKKING(S):
jou hart in jou sak druk jou ware gevoelens onderdruk/wegsteek: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


sakeredding s.nw. | sakereddings | (ekonomie, handel) ondernemingsredding: Die vakbond ... het ’n hofaansoek gebring dat [die lugdiens] ingevolge die Maatskappywet in sakeredding geplaas word (Vrye Weekblad, 6 Desember 2019). Volgens die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) is meer as 3 200 Suid-Afrikaanse maatskappye in sakeredding geplaas sedert 2011 toe die proses ingevolge die Maatskappywet tot stand gekom het (Vrye Weekblad, 6 Desember 2019). Sakeredding is ’n manier om die rehabilitasie van ’n maatskappy wat onder finansiële druk is te bewerkstellig deur tydelike toesig oor die maatskappy te verskaf en ’n tydelike moratorium te plaas op die regte van eisers teen die maatskappy (Nellie Brand-Jonker, Netwerk24, 31 Oktober 2019). Die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC) hou nie daarvan dat die klem met sakereddings geplaas word op ’n beter opbrengs vir aandeelhouers pleks van poste en die maatskappy sélf wat gered moet word nie (Nellie Brand-Jonker, Netwerk24, 15 April 2015). | ENGELS: business rescue
samestellings:
sakeredder: S.S., sakeredder … wat aangestel is om die sakeredding van [die onderneming] te behartig, het Maandag bevestig dat die nuutste plan op Vrydag 31 Mei aan krediteure voorgelê is (Elvira Wood, Netwerk24, 4 Junie 2019).


sakoproep s.nw. | sakoproepe | (informeel) telefoon-/selfoonnommer wat per ongeluk geskakel word wanneer iemand per ongeluk stamp of raak aan die bel- of stuurknoppies van ’n selfoon in sy/haar sak/ens., waarvan die skerm nie gesluit is nie. | SINONIEM(E): broeksakoproep | ENGELS: pocket call | butt call

salaah (Islam)
s.nw. [gewoonlik enkelvoud] aanbidding; gebed(e): Voordat ’n Moesliem sy bede (salaah) gaan doen, is dit ’n voorvereiste om sekere liggaamsdele met lopende water te reinig. (Moosa Patel, Islam vir bekeerlinge, belangstellendes, vreemdelinge en nuwelinge).
salaah maak bid.

ww. | het gesalaah | bid: Wanneer die moesallie in gemeente salaah, dan word die Iemaam (leier) gevolg, en alle uiteringe word stilletjies voorgedra (Moosa Patel, Islam vir bekeerlinge, belangstellendes, vreemdelinge en nuwelinge).

samestellings:
salaahplek


SAMNR afk. Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad | ENGELS: South African Medical Research Council | SAMRC

SAMRK afk. Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. | ENGELS: South African Human Rights Commission | SAHRC

Sanbi akroniem [Engels: South African National Biodiversity Institute] Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit.

SANBS afk. [Engels: South African National Blood Service] Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens.

Sancu akroniem [Engelse afkorting: The South African National Consumer Union] Suid-Afrikaanse Verbruikersunie.

Sanral akroniem [Engels: South African National Roads Agency] Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap.

Sapoa akroniem [Engels: South African Property Owners Association] Vereniging van Eiendomseienaars van Suid-Afrika; Suid-Afrikaanse Vereniging van Eiendomseienaars.

SAPV afk. [afkorting van: Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging] | ENGELS: South African Poultry Association | Sapa

Sarao afk. Suid-Afrikaanse Radioastronomie-observatorium.

SARB afk. Suid-Afrikaanse Reserwebank. | ENGELS: South African Reserve Bank

sardyntrein s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (informeel, skertsend) oorvol minibustaxi.

Sareo akroniem [Engels: South African Rugby Employers’ Organisation] Suid-Afrikaanse Rugbywerkgewersorganisasie.

SARS akr. (patologie, geneeskunde) EARS

SARS-CoV-2 s.nw. (Engels, patologie) EARS-CoV-2

Sassa afk. [Engelse afkorting: South African Social Security Agency] Ook SASSA Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid: Dink aan daai arme kinders wat in armoede moet grootword! Wie gaan hulle onderhou? Seker Sassa (Son, 26 Julie 2019).
samestellings:
Sassa-geld | Sassa-kaart | Sassa-toelaag


Sawamba akr. Suid-Afrikaanse wol-en-bokhaarkopersvereniging. | ENGELS: South African Wool & Mohair Buyers’ Association | Sawamba

SAWD afk. [afkorting van: Suid-Afrikaanse Weerdiens] | ENGELS: South African Weather Service | SAWS

sawwelyf s.nw. [geen meervoud] (informeel) koffie: Die eerste koppie sawwelyf (Rapport, 25 September 2016). Miljoene mense wêreldwyd maak staat op die fles met sy kenmerkende groen kleur en smal skroefdeksel vir ’n koppie sawwelyf op die langpad (Nick Dall, Weg, 8 September 2016). Die fles word vol warm water gemaak vir daardie beker sawwelyf en beskuit by die Stofdam-watergat (Liryn de Jager, Rapport, 31 Januarie 2016). | ENGELS: coffee
OORSPRONG:
sagte + lyf


schnarf (dwelmsleng)
ww. | het geschnarf | (’n dwelmmiddel) snuif: ’n Mens kan dit schnarf (snuif) deur byvoorbeeld ’n R10-noot op te rol en die gebreekte kapsule E-poeier daarin te druk (Marguerite van Wyk, Beeld, 4 Oktober 1996).

s.nw. [geen meervoud] dwelmmiddel wat gesnuif kan word: Slapogie se majifieke skop van gister het hulle na sy bed gelok. Die skop en die schnarf (Kerneels Breytenbach, Hond se gedagte, 2019). | ENGELS: schnarf


scoby s.nw. | scobies | [afkorting van: symbiotic colony of bacteria and yeast] (Engels) simbiose van mikro-organismes (bakterieë en gis) wat in versoete tee geplaas word om kombucha te maak: Ek het my scoby maande gelede by my dieetkundige gekry, en die gismatjie leef sonder moeite of veel onderhoud voort in ’n fles vol soet tee. Dit hoef net gereeld met vars water aangevul te word (Bibi Slippers, Vrye Weekblad, 30 November 2019). Scoby staan vir “symbiotic colony of bacteria and yeast”. Dit lyk soos ’n stuk jellie en is die lewende tuiste van die bakterieë en gis wat die tee laat fermenteer en verander in die gewilde soet-suur vonkeldrankie (Johané Neilson, Tuis, 19 Augustus 2019). | SINONIEM(E): gisplantjie | gismatjie | gislagie
KYK OOK: kombucha


seksueel b.nw. | seksuele |
seksuele gereedmaking opsetlike optrede van ’n volwassene om ’n vertrouensverhouding met ’n minderjarige te vorm met die oog op ’n seksuele verhouding later: News24 het Vrydag ’n berig gepubliseer waarvolgens nog ses jong mans B. van seksuele gereedmaking, teistering en aanranding beskuldig (Netwerk24, 19 November 2019). Hy het skuld beken op aanklagte van seksuele gereedmaking, verkragting en twee aanklagte van molestering (Volksblad, 2 November 2011). | ENGELS: (sexual) grooming


sekuriteitslandgoed s.nw. | sekuriteitslandgoedere | (gewoonlik luukse) residensiële ontwikkeling met tegnologies gevorderde sekerheidstelsels om misdaad te voorkom: Met ’n muur van 3,5 m rondom is die sekuriteitslandgoed ontwerp om aan sy inwoners algehele gemoedsrus te bied (Beeld, 17 Oktober 2003). A, dís die woord. Sekuriteitslandgoedere. […] Die moderne ekwivalent van die ossewalaer (Etienne van Heerden, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, 2019). | ENGELS: security estate

selfbesering s.nw. | selfbeserings | [gewoonlik enkelvoud] (psigiatrie en psigoanalise, medies) die handeling van jouself doelbewus seer te maak, soos deur met jou naels diep in jou vel te krap of jouself met ’n mes te sny: Selfbesering of selfskending kom wel in Suid-Afrika voor, maar word hier bestempel as deel van die sogenoemde obsessief-kompulsiewe stoornisse (Anastasia de Vries, Die Burger, 3 Augustus 2002). | SINONIEM(E): selfskending | ENGELS: self-harm | self-injury

selfdegeslag= woorddeel vir/tussen mense van dieselfde geslag of met dieselfde genderidentiteit: selfdegeslaghuwelik selfdegeslagpaartjie. | ENGELS: same-sex

selfdegeslagverhouding s.nw. | selfdegeslagverhoudings | (liefdes)verhouding tussen mense van dieselfde geslag of met dieselfde genderidentiteit: As jy klaar twee vroue in die hoofrolle het, hoekom kan hulle nie ’n verliefde paartjie in ’n selfdegeslagverhouding wees nie? (Christiaan Boonzaier, Die Burger, 21 Augustus 2019). Geen godsdienstige instelling in Suid-Afrika behoort die reg te hê om self te besluit dat hulle selfdegeslagverhoudings wil erken of nie (Jean Oosthuizen, Rapport, 4 Junie 2018). Ons het bloot selfdegeslagverhoudings die ruimte gegee om die Godshandeling van liefde binne verhouding vrylik uit te lééf (Louis van der Riet, LitNet, 23 Oktober 2015). | ENGELS: same-sex relationship

self-isolasie s.nw. [gewoonlik enkelvoud] self-isolering

self-isolering s.nw. [gewoonlik enkelvoud] Ook self-isolasie vorm van (vrywillige of verpligte) isolasie waartydens iemand wat ’n infeksiesiekte het tydelik (dikwels waar hy/sy woon) in afsondering bly: Die infeksie van die laer middel- en die werkersklas gaan nou begin toeneem, waarsku viroloë, en onder dié groep is selfisolering en fisieke afstandskepping baie meer kompleks (Max du Preez, Vrye Weekblad, 20 Maart 2020). Vir die meeste Suid-Afrikaners is self-isolasie basies onmoontlik omdat hulle saam met baie ander mense in klein ruimtes bly (Anneliese Burgess, Vrye Weekblad, 20 Maart 2020). | SINONIEM(E): tuisisolasie | ENGELS: self-isolation
KYK OOK: selfkwarantyn


selfkwarantyn s.nw. [geen meervoud] vorm van (vrywillige of verpligte) kwarantyn waartydens iemand, weens kommer dat hy/sy ’n infeksiesiekte kan opdoen, tydelik (dikwels waar hy/sy woon) in afsondering bly: Selfkwarantyn kan help om die verspreiding van oordraagbare siektes te beperk. | SINONIEM(E): tuiskwarantyn | ENGELS: self-quarantine
KYK OOK: self-isolering


selfmoord s.nw. | selfmoorde |
1
selfdoding   | selfdood  

2
(figuurlik) ondergang van ’n individu of groep deur eie toedoen: Dis dalk politieke selfmoord om in die openbaar so te sê, maar weg van die kameras sê senior regeringsamptenare die hervormings wat in die wetsontwerp vervat word, is só ambisieus dat dit waarskynlik dekades sal neem om dit in te stel (Tamar Kahn, Vrye Weekblad, 16 Augustus 2019). | ENGELS: suicide


selfskending s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (psigiatrie en psigoanalise, medies) die handeling van jouself doelbewus seer te maak, soos deur met jou naels diep in jou vel te krap of jouself met ’n mes te sny: Selfskending is daarop gemik om die liggaam te beseer om psigologiese spanning te verlig. Dit behels tieners wat hulself sny, brand, hul vel krap, chemiese middels drink of hul vingers in deure vasslaan (A. Rademeyer, Beeld, 11 Augustus 2006). Selfbesering of selfskending kom wel in Suid-Afrika voor, maar word hier bestempel as deel van die sogenoemde obsessief-kompulsiewe stoornisse (Anastasia de Vries, Die Burger, 3 Augustus 2002). | SINONIEM(E): selfbesering | ENGELS: self-harm | self-injury

selfvliegtaxi s.nw. | selfvliegtaxi’s | lugtaxi wat outomaties beheer word en opstyg en land om passasiers op- en af te laai sonder ’n vlieënier aan boord: Porsche en Boeing het pas ’n verklaring uitgereik waarin hulle hul planne uiteensit om ’n selfvliegtaxi te bou (Netwerk24, 17 Oktober 2019). Teen 2025 gaan ’n rits wêreldstede van dié selfvlieg-taxi’s gebruik maak om in ’n kits passasiers van hul huise na die kantoor te blits (Knormoer, Netwerk24, 23 Mei 2019).
KYK OOK: lugtaxi


sementbek s.nw. | sementbekke | (figuurlik, informeel) iemand wat niks sê nie: Hoe kan jy verwag ek moet nie die ongelykheid teenoor my taal aanspreek nie? Ek is nie ’n sementbek nie! Ek is Afrikaans en ek sal vir my flippen taal baklei of jy nou daarvan hou of nie! (Willy William Sezoe, Facebook, 4 Februarie 2020).

sensitiwiteitslees s.nw. [geen meervoud] (die) lees van manuskripte, gewoonlik in opdrag van 'n uitgewer en voor publikasie, om te verseker dat daar geen wanvoorstellings, vooroordeel, rassisme, seksisme, onbedoelde stereotiperings en dergelike in voorkom nie: Ek was aangenaam verras om te sien dat sensitiwiteitslees deesdae ’n bloeiende besigheid is in die uitgewerswêreld (Etienne van Heerden, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, 2019). | ENGELS: sensitivity reading

sensitiwiteitsleser s.nw. | sensitiwiteitslesers | leser wat, gewoonlik in opdrag van 'n uitgewer en voor publikasie, manuskripte vir wanvoorstellings, vooroordeel, rassisme, seksisme, onbedoelde stereotiperings en dergelike fynkam: Sy stel Thuli aan as sensitiwiteitsleser van 'n manuskrip. Ek sien in die bedanking daar was ook twee sensitiwiteitslesers vir hierdie manuskrip (Deborah Steinmair, Vrye Weekblad, 30 November 2019 ). | ENGELS: sensitivity reader

senuweeoordrag s.nw. [geen meervoud] (chirurgie) Ook senuoordrag ’n werkende senuwee in ’n boonste ledemaat, bokant ’n besering, aan ’n beseerde, niewerkende senu onder die besering koppel met die doel om dit die funksie van die beseerde senu te laat oorneem en die werking van die verlamde spier te herstel: Al die pasiënte, wat sorgvuldig vir die studie gekies is, het in een of albei arms so ’n operasie ondergaan en een of meer senuwee-oordrag gekry. Senuwee-oordrag is al gebruik vir ander soorte beserings, maar dit is nou die eerste keer dat dit só gebruik word vir rugmurgbeserings, saam met die oordrag van senings (Elsabé Brits, Vrye Weekblad, 12 Julie 2019). | ENGELS: nerve transfer
samestellings:
senuweeoordragsnykunde | senuoordragsnykunde


seramied s.nw. | seramiede | vetmolekuul, een van die lipiedmolekule, wat in hoë konsentrasies in selmembrane voorkom: Die aanwending van ’n [skoonheids]produk wat seramied bevat, kan help om die vel se hidrasie ’n hupstoot te gee en sy beskermende werking te herstel (Huisgenoot, 23 Mei 2019). | ENGELS: ceramide

sesvoet ww. | het gesesvoet | (informeel) begrawe: Hoe’s daai virre toppie wat vyftag jaa geliede gesesvoet was? (Jeremy Vearey, N.P. van Wyk Louw-gedenklesing, 18 Junie 2020).

Seva s.nw. [geen meervoud, ook met kleinletter] (uit Sanskrit, Pandjabi, Sikhisme) onselfsugtige diens: As deel van hul Seva moes elke kursusganger aan ’n hawelose ’n koppie tee bedien (Annelize Visser, Vrye Weekblad, 19 Julie 2019). | ENGELS: Seva

Shawal s.nw. (Islam) Sjawal

shiitake s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (kookkuns) Ook shiitakesampioen | shiitakesampioene | sjiitake

shinga s.nw. [enkelvoud] (Zoeloe) afvallige; ontroue: As die ubukunzi reg ingespan word – sodat dit in harmonie saam met die res van die gemeenskap kan werk, kan daardie individu die status van iqawe (militêre leier) of inDuna (stamhoof) kry. Indien nie, word hy ’n shinga – ’n afvallige en moontlik ’n vernielende element. Maar dis ook dikwels die shinga wat die beste vegters, kunstenaars, digters en dansers maak … (Chris du Plessis, Vrye Weekblad, 19 Julie 2019). | ENGELS: renegade
KYK OOK: ubukunzi


shisa nyama woordgroep, s.nw. [soms ook met ’n koppelteken] (Zoeloe)
1
| shisa nyamas | braai(plek) waar mense saamkom en daar die vleis kies en koop wat (vir hulle) oor ’n oop vuur gebraai word: Die ystervrou staan elke oggend 05:00 op om haar drie kleinkinders vir skool reg te kry en sommer ook aandete voor te berei. Sy bestuur ook haar shisa nyama (Jolene van der Merwe, Weslander, 29 Januarie 2018).

2
[geen meervoud] vleis wat gekoop en (op/by dieselfde plek) gebraai word: Suid-Afrikaners is baie lief vir vleis en het ’n trotse geskiedenis om kos in die buitelug op vure gaar te maak – of ons nou braai, ’n potjie of shisa nyama maak. Hierdie kultuur om vleis om ’n vuur te deel is in ons DNS, maak nie saak wat ons kultuur of agtergrond is nie en dit is ’n noodsaaklike simboliese deel van sosiale byeenkomste en vierings (Murray Slater aan Anél Potgieter, Rapport, 19 November 2017). Oral word goed gratis weggegee. Van snikhete Musina tot besige Butterworth is daar gratis shisa nyama en drank (Mondi Makhanya, Netwerk24, 21 Desember 2014 ). Geniet die Moederstad se lekkerste shisa nyama (braaivleis) in die hartjie van Guguletu. Jy kan jou eie bykosse en drinkgoed saamneem. Kom vier die Guguletu-leefstyl saam met die inwoners en ander toeriste, en maak seker jy bespreek vroegtydig (Huisgenoot, 31 Oktober 2013). | ENGELS: shisa nyama

OORSPRONG:
Zoeloe-sleng: koop en braai

samestellings:
shisa nyama-stalletjie: ’n Lukrake navigasie deur Philippi, Crossroads en Browns Farm, waar mense rondom shisa-nyama-stalletjies saamgedrom het, het weer beklemtoon hoe onmoontlik dit is om inperkingsmaatreëls in 'n township te probeer instel (Jacques Marais, Vrye Weekblad, 15 Mei 2020). ’n Mondwater-braaivleisgeur begroet my toe ek op die plaza se parkeerterrein intrek. Dit kom van ’n shisa-nyama-stalletjie waar mense om ’n groot rooster saamkoek – elk met ’n homp vleis of ’n stuk wors in die hand (Nolan Venter, Netwerk24, 27 November 2018). | shisa nyama-restaurant


shukran tussenwerpsel (Arabies) sjoekran

shweshwe s.nw. [geen meervoud] gekleurde katoen bedruk met Afrikamotiewe, wyd gebruik gebruik vir die maak van eg Suid-Afrikaanse klere, veral rompe, rokke, voorskote en kopdoeke: Die vroue gebruik materiaal van ou reklameborde vir die binnekant van artikels soos skool-, skootrekenaar- en drasakke. Die buitekant is meestal van shweshwe (Riana de Lange, Rapport, 28 April 2019). | ENGELS: shweshwe
OORSPRONG:
Genoem na Moshoeshoe I, in Afrikaans voorheen ook Mosjesj gespel, opperhoof en vader van die Basotho wat in die 19de eeu soortgelyke materiaal as geskenk van Franse sendelinge ontvang het.

samestellings:
shweshwe-kopdoek | shweshwe-lap | shweshwe-materiaal | shweshwe-produk | shweshwe-romp


siel s.nw. | siele | sieltjie, sieletjie |
UITDRUKKING(S):
aan iemand se siel knaag/vreet aanhoudend, dikwels in steeds toenemende mate, by iemand onaangename/pynlike gewaarwordings en gedagtes veroorsaak: Dit was duidelik dat al die stories en gerugte wat die laaste paar dae in die media ... verskyn het, sy tol geëis het. Dit was duidelik dat dit aan sy siel knaag, want hy het met ’n strak en afgeremde gesig sy verklaring van ’n notaboek af gelees. Dit het gelyk of hy reg was om kort-kort in trane uit te bars (Die Burger, 2 Augustus 1992). | ENGELS: gnaw at someone
KYK OOK: sielkanker, sielvreter

jou siel sleep jy is bedruk/terneergedruk: Jou siel sleep. En in jou kom lê 'n diep lus vir outydse pienk ghoemahare. Pienk suikervertroosting wat om en om 'n stokkie gedraai is (Anastasia de Vries, Die Burger, 9 November 2001). | ENGELS: be at a low | be depressed


sielkanker s.nw. | sielkankers | [gewoonlik enkelvoud] iets wat 'n mens aanhoudend of herhaaldelik, oor ’n lang tyd, ten diepste skok, ontstel en/of bekommer: Jou land is ’n sielvreter, ’n sielkanker (Anastasia de Vries, Vrye Weekblad, 13 Maart 2020). | SINONIEM(E): sielvreter | ENGELS: soul cancer

sielvreter s.nw. | sielkankers | [gewoonlik enkelvoud] iets wat 'n mens aanhoudend of herhaaldelik, oor ’n lang tyd, ten diepste skok, ontstel en/of bekommer: Jou land is ’n sielvreter, ’n sielkanker (Anastasia de Vries, Vrye Weekblad, 13 Maart 2020). | SINONIEM(E): sielkanker | ENGELS: soul cancer

sientyd s.nw. | sientye | (informeel) direkte kontak/interaksie wat van aangesig tot aangesig plaasvind | SINONIEM(E): aangesigtyd | ENGELS: face time | face-to-face-time

sirkelserp | sirkelserpe | sirkelserpie |
1
serp waarvan die punte aan mekaar vasgewerk is om ’n sirkel te vorm: Hekel ’n sirkelserp (Vrouekeur, 31 Januarie 2020). | ENGELS: circle scarf

2
| ENGELS: (handelsnaam) Buff buisserp


sitokien s.nw. | sitokiene | Enigeen van verskillende hormoonagtige peptiede wat deur verskillende soorte liggaamselle afgeskei word en in die immuunverdediging en aktivering van sekere immuunreseptore ’n rol speel: | ENGELS: cytokine

sitokienstorm s.nw. | sitokienstorms | (patologie, geneeskunde, informeel): Wat kenners nie weet nie, is hoekom sommige mense so ernstig siek word en ander nie. Dit kan te doen hê met die sitokienstorm wat sekere mense ervaar – ’n oordrewe reaksie van die immuunstelsel (Elsabé Brits, Vrye Weekblad, 8 Mei 2020). | ENGELS: cytokine storm sitokienvrystellingsindroom

sitokienvrystellingsindroom s.nw. [geen meervoud] (patologie, geneeskunde) sindroom gekenmerk deur ’n sistemiese inflammatoriese reaksie wat deur ’n verskeidenheid faktore, soos infeksies of die gebruik van sekere medisyne, veroorsaak kan word, en lei tot die aktivering van ’n groot aantal witbloedselle wat inflammatoriese sitokiene vrystel, wat nog meer witbloedselle aktiveer | SINONIEM(E): (informeel) sitokienstorm | ENGELS: cytokine release syndrome

sjasjlik s.nw. [gewoonlik enkelvoud, versamelnaam] (Russies, kookkuns) groot blokke skaap- of ander vleis wat (soms saam met groente) aan groot metaalpenne geryg en oor ’n oop vuur of kole gebraai word: Op die mooi dae staan die Russe tou by die stalletjies vir sjasjlik (’n tipe kebab) (Ilse Zietsman, Netwerk24, 19 Mei 2016). Bedruip die sjasjlik gereeld met die marinade terwyl dit braai (Huisgenoot). | ENGELS: shashlik
samestellings:
sjasjlikstalletjie

KYK OOK: kebab


Sjawal s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (Islam) tiende maand van die Moesliemkalender wat begin wanneer Ramadaan eindig.

sjiitake s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (Japannees, swamkunde, kookkuns) Ook sjiitakesampioen | sjiitakesampioene |, shiitake, shiitakesampioen | shiitakesampioene | soort eetbare sampioen (Lentinula edodes), inheems in China en Japan: Vergeet van vervelige knopiesampioene en begin eksperimenteer met interessante variëteite soos sjiitake- en oestersampioene (Karla Janse van Vuuren, Netwerk24, 13 Januarie 2018). Die maatskappy het halaal “varkvleis”, gemik op verbruikers in Asië, ontwikkel uit koring, shiitake-sampioene en mungboontjies (Landbouweekblad, 2 Augustus 2019). Die gaste kon by die sushistasie aan salm, inkvis, shiitake-sampioene, tamago (verskeie dun lae Japanse omelet), nigiri met wasabi, pekelgemmer en miso-sop smul (Netwerk24, 18 Oktober 2019). | ENGELS: shiitake
OORSPRONG:
sjii pasaniaboom + take paddastoel, omdat die swam op dié boom groei.

 PRENTE  



sjimeji s.nw. [versamelnaam] (Japannees, swamkunde, kookkuns) Ook sjimeji(-)sampioen | sjimeji(-)sampioene |, shimeji, shimeji(-)sampioen | shimeji(-)sampioene | groep eetbare sampioene inheems in Oos-Asië: 150 g sjimeji-sampioene ’n Hoogtepunt vir my was die sjimeji-sampioene in ’n tempoera-degie met miso-sout en ’n gerookte knoffeldoopsous (Karla Janse van Vuuren, Netwerk24, 4 Mei 2019). | ENGELS: shimeji

 PRENTE  



sjisj-kebab woordgroep (Turks, kookkuns) Ook shish-kebab kebab

sjoekran tussenwerpsel (Arabies) Ook (nie-erkende spelling) shukran dankie: Taal is […] ’n belangrike baken van kultuur. Hier in Kaapstad word die Arabiese woord “shukran” in plaas van “terima kasih” (Maleis vir “dankie”) gebruik. Toe Patricia de Lille byvoorbeeld die mense van Kaapstad vir haar verkiesingsoorwinning bedank het, het sy spesifiek die Arabiese woord “shukran” in plaas van “terima kasih” gebruik (Ismail Lagardien, Vrye Weekblad, 15 Mei 2020 ). | ENGELS: thank you

sjoesj
s.nw. [geen meervoud] 'n suisende geluid: Die trein se elektroniese deure skuif oop met 'n sagte sjoesj. (Volksblad, 28 Februarie 2004).

ww. | het gesjoesj |
1
’n suisende/ruisende geluid maak: Die deure sjoesj oop.

2
› iemand sjoesj iemand maan/vra om stil te bly: Agter my sit ’n mannetjie wat ek vermoed brand om liewer buite in die fonteintjie te plas. “Wanneer begin dit nou?” vra hy. Sy ma sjoesj hom (Michèle Meyer, Vrye Weekblad, 22 November 2019).

tussenwerpsel bly stil.


SKA afk. [Engels: Square Kilometre Array] [geen meervoud] netwerk van meer as 3 000 radioteleskope wat na verwagting in Suid-Afrika en Australië opgerig gaan word: Die SKA sal sowat 100 keer meer sensitief wees as die beste radioteleskope van vandag en sal 10 000 keer vinniger opnames van die heelal kan maak (Huisgenoot).
KYK OOK: MeerKAT


skadelike sagteware s.nw. [versamelnaam] (rekenaar) indringerware

skaduwerk s.nw. [geen meervoud] die deurbring van tyd saam met iemand wat ’n bepaalde beroep beoefen of ’n bepaalde werk verrig om meer van die beroep of werk te wete te kom en sodoende vas te stel of jy genoeg daarin belangstel om self daarin opgelei te wil word: Die gemeenskap en werkgewers moet saamwerk om leerlinge te oriënteer vir sukses in beroepe en in die sakewêreld. Wees mentors, neem hulle saam na jou fabriek en kantoor. Laat hulle daar skaduwerk doen (Hein van der Walt, Cofesa, Netwerk24, 3 Desember 2018). Mev. Christien Snygans wil graag die Clanwilliam-brandweer bedank dat hulle toegelaat het dat die leerders vir skaduwerk kon kom (MyCederberg.com, 13 April 2018). | ENGELS: job shadowing | work shadowing
samestellings:
skaduwerkprogram


skaloeloe s.nw. (straat- en speelgrondspeletjie) Ook skeloeloe balspeletjie met vasgestelde reëls: Twee groepe spelers, een groep boul en doen veldwerk, amper soos in krieket, maar met ’n groter speelbal. Die “bouler” rol of “boul” die bal na iemand in die ander groep wat die bal so ver moontlik probeer skop en so laag op die grond moontlik. Die skopper hardloop dan soveel moontlik kere heen en weer tussen sy span se “bof” en dié van die ander groep. As die skopper in die ander span se bof is, roep sy/hy “skaloeloe!” om veilig te wees en te sorg dat hy/sy nie “uitgegooi” word nie. As jy hoog skop, kan iemand jou dalk uitvang en jy kan in die hardloop uitgegooi word. As die bal na jou toe geboul word, maar iemand anders se naam is deur die “bouler” uitgeroep, is jy uit die spel […] op die Vlakte seg ons “ska-”, en in Hoorn “ske-”, weet ek ook nou (Anastasia de Vries, Facebook, 31 Maart 2020). Dis soos Red Rover. […] Weet jy hoe Red Rover werk? Ons op die platteland (Oudtshoorn) ken dit as skeloeloe. Jy staan aan die een kant. Anderkant is daar ’n persoon wat die bal vir jou gooi, jy skop hom doer ver, dan hol jy na die ander kant. Daar is mense langs die kant wat die bal vang en jou probeer raak gooi / uitgooi voordat jy by die ander kant uitkom (Haidee Muller, Facebook, 31 Maart 2020). Tot nou was sy altyd te moeg geswoeg vir ’n ma se pangakyk om ’n kind op die regte spoor te hou. Vir die speletjies wat haar as kind speel-speel gesond gehou het terwyl sy só die reëls van die lewe kon leer: skaloeloe; drie blikkies; bok, bok, staan styf; kennetjie; Abdol maak pootjies skoon (Anastasia de Vries, Vrye Weekblad, 27 Maart 2020). in my hart en siel is ek nog net ’n kind wat brandboud gehardloop het voor die balle wat gereën het op my in die stofstrate van Loeriesfontein […] brandpyn, maar skeloeloe wou ons speel (Berend Mouton, Facebook, 31 Maart 2020 ). | SINONIEM(E): niekies | nikkies | ENGELS: Red Rover

skarebefondsing s.nw. [geen meervoud] skarefinansiering

skarefinansiering s.nw. [geen meervoud] die vind van geld vir ’n bepaalde projek deur van mense wat moontlik in die uitkoms mag belangstel of daarby kan baat, elk ’n klein finansiële bydrae te vra om jou die doel te help bereik: Een manier om na ander uit te reik as jy bystand benodig of om ander te probeer help, is met behulp van skarefinansiering. Met hierdie vorm van finansiering kan jy jou tot die aanlyn gemeenskap wend om potensiële weldoeners te bereik – hetsy dit is omdat jy self bystand benodig of omdat jy geld wil insamel om ander te help (Letitia Watson, Huisgenoot, 7 Mei 2020). [Die party] gebruik nou skarefinansiering om geld in die hande te kry vir sy verkiesingsveldtog (Netwerk24, 29 Maart 2019). In Desember 2016 het ek … ’n veldtog vir skarefinansiering op Facebook begin en R88 000 ingesamel (Marguerite van Wyk, Sarie, 19 Desember 2018). | SINONIEM(E): skarebefondsing | ENGELS: crowdfunding

skarrel ww. | het geskarrel |
1
haastig, vinnig beweeg  

2
(van diere) skarrelend beweeg, veral op soek na kos  

3
oorleef met watter bestaansmiddele jy ook al kan vind: Op 12, 13 was hy skaars mensbekwaam toe hy sy nood oppak en die strate invlug om te skarrel vir ’n lewe (Anastasia de Vries, Vrye Weekblad, 3 Januarie, 2020). Hier slaap een van die haweloses, wat langs die [hoërskool se] heining bly. Vroegoggend pak die mense wat hier bly al hulle slaapgoed op en vat die pad om te gaan skarrel (Magriet Theron, TygerBurger, 2 April 2014). Die onbekende bergie het glo gereeld in die strate naby [die skool] vir kos geskarrel (Son, 11 Februarie 2016). | ENGELS: rummage


skarreleier s.nw. | skarreleiers | [gewoonlik meervoud] (uit Nederlands) eier van 'n vrylopende hoender of ander mak plaasvoël. | SINONIEM(E): plaaseier | werfeier | ENGELS: free-range egg
KYK OOK: skarrelhoender


skarrelhoender s.nw. | skarrelhoenders | (uit Nederlands) hoender wat nie pal in 'n lêbattery of hok aangehou word totdat dit geslag word nie, maar (minstens 'n gedeelte van die dag) vry rondloop | SINONIEM(E): skrophoender | vrylopende hoender | werfhoender | ENGELS: free-range chicken

skarrelpluimvee s.nw. [versamelnaam] pluimvee wat nie pal in 'n lêbattery of hok aangehou word nie, maar (minstens 'n gedeelte van die dag) vry rondloop | SINONIEM(E): vrylopende pluimvee | ENGELS: free-range poultry

skattejag s.nw. | skattejagte | soektog na ’n versteekte skat of rykdom, veral as speletjie: Mense het opgewonde op haar plasings gereageer en gretig aan die “skattejag” deelgeneem (Trish Goosen, Weslander, 17 Junie 2019). ’n Skattejag bly groot pret. Steek gekleurde koeldrank- of melkbotteldoppies oral in die tuin weg. Soek eers al die bloues, dan die rooies, dan die groenes, en dan die geles (Shanda Luyt, Baba en Kleuter, 22 Julie 2019 ). | ENGELS: treasure hunt
KYK OOK: geoskattejag


Skelmbos s.nw. (informeel, skertsend) bynaam vir Stellenbosch: Hierdie is Skelmbos. Hier is die wyn altyd koud, die nooiens immer warm en die beurs in 'n bulfase (Etienne van Heerden, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, 2019).

skeloeloe s.nw. (straat- en speelgrondspeletjie) skaloeloe

skemer= woorddeel (figuurlik) van twyfelagtige aard; duister; obskuur: Daar is ’n horde ander skemertransaksies waarby [X] betrokke was (Jacques Pauw, Vrye Weekblad, 17 Mei 2019). | ENGELS: twilight

skemernarkose s.nw. [geen meervoud] (medies) vorm van pynverdowing/narkose gedurende ’n operasie/ens. waartydens die pasiënt by sy/haar bewussyn is, vrae kan verstaan en daarop kan reageer, maar later min daarvan onthou: Jy kry skemernarkose vir dié prosedure (Sarie, Januarie 2015). Dit word gewoonlik met skemernarkose (bewuste sedasie) gedoen. Jy is ontspanne, slaperig en glad nie bewus van die prosedure nie. Jy voel verfris as jy wakker word, sonder die newe-effekte van narkose (Sarie, 14 Maart 2013). | ENGELS: twilight anesthesia | conscious sedation

skermbeskermer s.nw. | skermbeskermers | deursigtige lagie poli-uretaan of glas op die skerm van ’n slimfoon/tablet/ens. geplak om dit te beskerm: Volgens Brownlee is dit standaardpraktyk vir hom om die skermbeskermer van ’n nuwe foon af te haal sodra hy ’n toetsmodel ontvang (Petrus Malherbe, Netwerk24, 23 April 2019). | ENGELS: screen protector

skermmoegheid s.nw. [geen meervoud] moegheid as gevolg van werk en/of ander aktiwiteite waarvoor ’n mens jou oë lank op die skerm van ’n rekenaar, selfoon of tablet moet vestig: Die meeste sakeleiers en -spanne is nog in Zoom-vergaderings en Google Docs verdiep waar hulle teen skermmoegheid en dowwe oë stry terwyl hulle by die vreemde “nuwe normaliteit” probeer aanpas (finweek, 15 Mei 2020 ). | ENGELS: screen fatigue

skiem1 s.nw. | skiems | (uit Engels, lekties) behuisingskema; woonontwikkeling: Hy vertel hy wil net ’n beter lewe vir hom en sy familie hê en sal graag sy ma uit die skiem wil kry (Salette Cloete, TygerBurger, 17 Januarie 2018). Vrydagaan, ek ennie Butcher Boys het in ôsse karre innie skiem rondgeskarrel (Chase Rhys, Kinnes, 2018). Die skiem issie meer dieselle nie. Die jongens rop die mense nou (Chase Rhys, Kinnes. 2018). Pa se storie oor die skiem vir weggooimense (Jeremy Vearey, 11 Junie 2018). | ENGELS: housing scheme | housing project | housing development
OORSPRONG:
Engels scheme

samestellings:
skiemhuis


skiem2 ww. | het geskiem | (informeel) reken: Ek skiem toe: nee, ek moer terug Sydenham toe, ek wil gaan optjek op my tjom, ek meen, ek sê, vat hulle aan Short, vat hulle aan my (George Weideman, Die donker melk van daeraad, 1994). Ek skiem dat al is jy nie so vinnig soos Robbie Wessels met ’n moonwalk in die middel nie en kan jy nie jou heupe swaai sonder om te sukkel nie, kan jy maar ’n slag jou mondhoeke trek (Petro Hansen, Netwerk24, 23 September 2014 ). Ek het geskiem ek sou hom kon oorreed om oor te kom vir n paar biere hier in die kroeg (klierkop, Facebook, 29 April 2017). | ENGELS: think | figure

skopskeloelie s.nw. [geen meervoud] (informeel) speletjie waarby die deelnemers ’n bal na mekaar skop, maar mik na gapings tussen spelers in die groep: Ons het wegkruipertjie en skopskeloelie in die straat gespeel (Earl Swartz (Early B), Huisgenoot, 26 April 2019).

skrie ww. | het geskrie | (lekties) skree(u): My ma het saam met my brasse gestaan en skrie (Chase Rhys, Kinnes, 2018). | ENGELS: shout

skrophoender s.nw. | skrophoenders | hoender wat nie pal in 'n lêbattery of hok aangehou word totdat dit geslag word nie, maar (minstens 'n gedeelte van die dag) vry rondloop: 1 groot skrophoender, skoongemaak en oortollige vet verwyder (Landbou.com, 24 Mei 2019). Alles hier is vars en organies: óf dis tuisgebak of self ingelê, of dit kom van die omliggende Karoo-plase of uit die kruie- en groentetuin in die agterplaas, of onder ’n skrophoender uit ... (Sophia van Taak, Weg!, 24 Oktober 2016). | SINONIEM(E): skarrelhoender | vrylopende hoender | werfhoender | ENGELS: free-range chicken

skuif ww. | het geskuif | (dwelmsleng) gebruik: Dit is erg, en daar is studente wat groot hoeveelhede skuif ... Wanneer ’n mens 5 tot 10 gram dagga per dag skuif, dan is dit nie meer gesond nie (Virginia Keppler, Vrye Weekblad, 21 Junie 2019). | ENGELS: use

skuldverklikker s.nw. | skuldverklikkers | iets wat bewys dat iemand vir iets soos ’n oortreding of misdaad verantwoordelik was: (Marius Visser, 11 Mei 2020 ). | ENGELS: smoking gun

Slaapstad s.nw. [geen meervoud] (informeel, skertsend) › (die) Slaapstad Kaapstad: Die voertuie het ’n week nodig om van Snorstad na Slaapstad te ry. Hoe prakties kan dit nou wees? (Netwerk24, 10 Oktober 2019). Waarom kan Kaapstad/Slaapstad nie die “brûe na nêrens” voltooi en die verkeer en frustrasies van motoriste verlig, soos wat KwaZulu-Natal gedoen het nie? (TygerBurger, 23 Augustus, 2017). | ENGELS: Cape Town | “Sleep City”

slamat tussenwerpsel (Moesliemafrikaans) woord om jou vreugde/blydskap teenoor iemand te betuig oor iets goeds wat hom/haar te beurt geval het, of om hom/haar voorspoed/geluk toe te wens: Aan ons seun Juniad, slamat op jou sestiende verjaardag; mag Allah altyd saam met jou wees.   | ENGELS: congratulations

slang s.nw. | slange | reptiel  
UITDRUKKING(S):
slange hang tyd mors/verspil: Nou toe, moenie slange hang nie en bespreek sommer nou! (Jaloersbokkies). Moenie slange hang nie, los jou merk en doen daai ding (Jerome Rex, April 2014). Soe moetie slange hang’ie, krap diep vi daai kroon en koep die boek (Jeremy Vearey, thedialecticalcop.blogspot, Junie 2017).


slapogie s.nw. | slapogies | [verkleinwoord] (Namakwalands, informeel) (kleinerige) penis: Hulle noem so 'n klein sampioentjie ’n “slapogie” in Namakwaland (Herman Lategan, Facebook, 19 Maart 2020). “Slapogie” is die streeknaam vir ’n penis in die Van­wyksvlei-kontrei, waar hy vandaan kom (Kerneels Breytenbach, Huisgenoot, 27 September 2019).

slentertrap s.nw. [geen meervoud] tussen twee plekke waarvan die tweede ’n redelike afstand van die eerste verwyder is ’n fietstog aflê met padkos, ligte oornag- en kampeerbagasie aan die raam van die fiets vasgemaak: Slentertrap is soos voetslaan, maar op twee wiele. Probeer dit gerus – dis minder intimiderend as wat jy dink (Jon Minster, Weg!, 18 Maart 2019). | ENGELS: bikepacking
samestellings:
slentertraproete | slentertrapuitstappie

afleiding(s):
slentertrapper: Ons het met drie ywerige slentertrappers gesels oor hoekom hulle op fietsryuitstappies gaan (Jon Minster, Weg!, 18 Maart 2019).


slentertrapper s.nw. | slentertrappers | | ENGELS: bikepacker slentertrap

sleutelklaar b.nw. [attr. en pred.] gereed om in te trek: Die maatskappy waarvoor Andronikos werk, koop ook verwaarloosde woonstelle in opkomende woonbuurte, knap hulle op en verkoop hulle sleutelklaar (Annelize Visser, Vrye Weekblad, 17 Mei 2019). | ENGELS: key-ready

slimluidspreker s.nw. | slimluidsprekers | draadlose toestel met ’n ingeboude virtuele assistent wat stemopdragte kan uitvoer, soos om vrae te beantwoord, inligting te verskaf of ander toestelle te beheer, wanneer dit met ’n kodewoord geaktiveer word: Ná jare van haar dom hou oor tegnologie het M. danksy Alexa, ’n slimluidspreker wat soos ’n kolwyntjie lyk, besef dis tyd om by te kom (Vrye Weekblad, 15 November 2019). [Meer en meer mense luister na podsendings] tuis oor ’n slimluidspreker, by die werk op ’n persoonlike rekenaar, of iewers tussenin oor ’n selfoon (Finweek, 29 Junie 2018). | ENGELS: smart speaker

slimomgewing s.nw. | slimomgewings | omgewing waarin toestelle met mikroskyfies toegerus en aan 'n netwerk en die internet verbind is sodat hulle van ’n afstand beheer kan word en ook selfstandig kan werk en kommunikeer. | ENGELS: smart environment
KYK OOK: Internet van Dinge


slimstad s.nw. | slimstede | stad wat vir verskillende aspekte van beheer en bestuur inligtingstegnologie en die internet van dinge gebruik: Slimstede gebruik inligtingstegnologie om groter doeltreffendheid te skep, volhoubaarheid te verbeter, ekonomiese ontwikkeling te stimuleer en die lewensgehalte van inwoners en mense wat daar werk te verbeter (Petrus Malherbe, Netwerk24, 14 Februarie 2020). | ENGELS: smart city

slofie [uitspraak: “slow-fie”] s.nw. | slofies | [sametrekking van: slow motion + selfie] (Engels) Selfie (= foto wat jy met jou selfoon van jouself neem) in die vorm van ’n video waarin jy in stadige aksie te sien is: Al drie hierdie toestelle bevat gevorderde kamerategnologie – glo die beste nóg in ’n slimfoon. Dit sluit in die vermoë om sogenaamde slofies te neem, oftewel selfies wat as ’n video vertoon wat in stadige aksie geneem word (Petrus Malherbe, Die Burger, 16 September 2019).

smaak ww. | het gesmaak |
UITDRUKKING(S):
iemand/iets stukkend smaak (sleng) (besonder) baie van iemand/iets hou: Ek smaak daai lemon meringue-skommel stukkend (Johan Jack Smith).


smêsh (uit Engels, informeel) Ook smêsj
s.nw. [geen meervoud]
1
(kookkuns) kapokaartappel(s): Die lys is lank: frikkadelle met ertjies en smêsh (wie sê ooit kapokaartappels?) (Nettie Pikeur, Vrye Weekblad, 28 Junie 2019). | Engels: (s)mashed potatoes

2
ongeluk: Hy sê die vraag is nou net wie van dié twee op hierdie oomblik die petrolpedaal en wie die brieke sit en trap, want ’n groot smêsh lyk vir hom net om die volgende draai (Blouwillemaandag, Beeld, 8 Januarie 2018). As daar iewers ’n smêsj was, wil ek dadelik weet hoe het dit gebeur en waarom (Marnus Hattingh, Netwerk24, 10 Julie 2013). | Engels: smash

3
(figuurlik) moeilikheid; bakleiery: Verlede Saterdagmiddag was daar amper ’n smêsh (Ben van Bruggen, LitNet-blog, 20 April 2013). Wat kan ons sê oor die verkiesing behalwe dat dit genadiglik sonder ’n groot smêsh verby is? (Blouwillem Theron, Netwerk24, 8 Mei 2014). | Engels: trouble

ww. | het gesmêsh/gesmêsj | (stukkend) stamp; verwoes: Maar dit was met gerekte oë dat hy die nuus aangehoor het van die Jaguar F-Type wat die naweek in Knysna teen die kranse gesmêsj is (Knormoer, Netwerk24, 21 Mei 2014).

OORSPRONG:
Uit Engels smash.

afleiding(s):
opsmêsh, opsmêsj: En dan kom die duiwel se agente en kom smêsh jou kar nog verder op. (Lourensrivier.co.za, 14 Junie 2018).


smêsj s.nw. [geen meervoud] (uit Engels, informeel, skertsend) smêsh

smishing s.nw. [geen meervoud] (Engels) SMS-uitvissing

smoelkappie s.nw. | smoelkappies | (waarskynlik via Nederlands, informeel, skertsend) gesigmasker: Die enkele voetgangers dra dikwels smoelkappies. Jy sien die stilte in hulle lywe, hoe hulle maak asof hulle mekaar nie raaksien nie (Breyten Breytenbach, Voertaal.nu, 24 April 2020). | SINONIEM(E): (Nederlands) mondkappie | ENGELS: face mask

smoors bw. (informeel) in die oggend: Ek trap smoors fyn oor doudruppelspriete, want dis kleinvolk se drinkwater wat daar blink (Michèle Meyer, Vrye Weekblad, 14 Februarie 2020). | SINONIEM(E): smôrens | smorens | ENGELS: in the morning

SMS-uitvissing s.nw. [geen meervoud] (rekenaar) die stuur van SMS-/teksboodskappe deur bedrieërs wat niksvermoedende slagoffers probeer oorhaal om met vertroulike inligting, soos aanmeldbesonderhede of ’n PIN-nommer, ens., te antwoord, of te klik op ’n skakel wat dan indringerware op die gebruiker se selfoon aflaai. | Engels: smishing | SMS-phishing
KYK OOK: uitvissingsboodskap, vishing


sneeuvlokkie s.nw. | sneeuvlokkies | (figuurlik, informeel, neerhalend) persoon, veral ’n millenniër, wat (na die mening van die spreker) oorsensitief is: Sneeuvlokkies. Lui, voel die lewe skuld hulle, wil beloon word net om op te daag, vol angs, vol klagtes, selfbehep, voorkomsbehep, tegnologie-behep, lei Instagram-lewens (Adri Kotzé, Vrye Weekblad, 3 Januarie 2020). | ENGELS: snowflake
samestellings:
sneeuvlokkiegenerasie: Millenniërs [staan] steeds bekend as die sneeuvlokkiegenerasie: Die sagte, weerlose jeug met te veel opinies en te dun velle. (Arleen Stone, Netwerk24, 29 Maart 2019).

KYK OOK: millenniër


SNO afk., s.nw. | SNO’s | sosialenetwerkomgewing: Die oorhoofse doel van die studie was om die moontlikhede en studente se ervaring van leer in ’n leeromgewing wat deur SNO’s ondersteun word, te ondersoek (Du Plessis, Linda e.a., Leerbestuurstelsels teenoor sosialenetwerk-omgewings: die ontwikkeling van ’n geïntegreerde tegnologiese onderrig-leer-model: geesteswetenskappe, LitNet Akademies, 1 Maart 2013). | ENGELS: social networking environment | SNE

snoek s.nw. | snoek, snoeke | snoekie | seevis  
UITDRUKKING(S):
pap snoek iemand wat swak/lamsakkig is; lamsak; swakkeling: Geen wonder die man lyk deesdae soos ’n pap snoek nie (Beeld, 18 Januarie 1997). | Engels: weakling | wimp

soos (dié van) ’n pap snoek … power; swak; geheel en al onindrukwekkend: Boris Johnson is die Britse premier omdat die ander kandidate vir die leierskap van die Konserwatiewe Party gesamentlik die charisma van ’n pap snoek gehad het (Adri Kotzé, Vrye Weekblad, 2 Augustus 2019).

slaan/slaat/slat my met ’n pap snoek uitroep van verbasing: Wel, slaan my met ’n pap snoek. Kan jy nou meer. Dis nou voorwaar goeie nuus! (Lorette Grové, Beeld, 20 Augustus 2014). | Engels: strike me dead | (Amerikaans) gag me with a spoon

iemand soos ’n pap snoek in die gesig tref vir iemand ’n (onverwagse) skok wees; uit die bloute kom/gebeur: Die boete en dagvaarding het hom soos ’n pap snoek in die gesig getref (Charles Smith, Beeld, 15 September 2005). | Engels: come as a nasty/rude shock


snol ww. | het gesnol | (informeel) hardloop: Aan’t snol in ’n Parkrun op ’n Saterdagoggend (Louise Viljoen, Facebook, 10 Februarie 2020). Moenie gras onder julle voete laat groei nie, snol Woensdag winkel toe en gaan koop die boek (Aletta Pretorius, Facebook, 15 April 2019). Ek dink fok, Hannes, nou moet jy snol, want jy sal sekerlik vandag by die 800 metermerk sneuwel (Hannes van Oudtshoorn, Facebook, 16 Oktober 2016). | SINONIEM(E): hol | ENGELS: run | sprint
KYK OOK: afsnol, opsnol


Snorstad s.nw. [geen meervoud] (informeel, skertsend) › (die) Snorstad Pretoria: Die voertuie het ’n week nodig om van Snorstad na Slaapstad te ry. Hoe prakties kan dit nou wees? (Netwerk24, 10 Oktober 2019). Op hierdie voorplat is die woordmeester, tóé in Snorstad met die opteken van misdaad belas, se kop weggedraai (Jean Meiring, Netwerk24, 29 April 2019). Honderde mans- en vroueliggaamsbouers van oor die wêreld heen het die naweek hul blinkgesmeerde spiere gebult vir die eerste internasionale kompetisie in sy soort in die hartjie van die Snorstad (Seugnet van Zyl, Netwerk24, 8 November 2015). Is dit plagiaat om na Pretoria as “Snorstad” te verwys sonder om die oorspronklike bron te noem? (Was dit Bernoldus Niemand?) (Die Burger, 28 Oktober 2004). | ENGELS: Pretoria | “Moustache City”

snuffelsagteware s.nw. [versamelnaam] sagteware gelaai op ’n rekenaar/slimfoon/tablet om inligting oor die gebruiker daarvan op te spoor. | ENGELS: sniffer software

sny ww. | het gesny | (informeel) vertel: Boeta Ivan sny die storie só (Jeremy Vearey, Jeremy vannie Elsies, 2018). | ENGELS: tell
UITDRUKKING(S):
’n stuk sny (informeel) ’n storie vertel: [M]oet jou nog ’n sappige stuk sny (@DELITEmusic, Twitter, 20 November 2012). Laat ek gou vir jou dié stuk sny! *skinnertyd* (Marisa Calvert, Twitter, 25 Junie 2012). En ons voel te arig om hom die ghrim stuk te sny … (George Weideman, Die donker melk van daeraad, 1994). Ek like soms so agteroor [te] sit en na my suster [te] luister wanneer sy ’n stuk sny (’n storie vertel) ... Sy’s tog so dramaties en over-the-top! (Siyabonga Sesant, Twitter, 23 Maart 2019). | ENGELS: tell a story | spin a yarn


=snyer woorddeel (informeel) =verteller: Boeta Ivan was ook ’n baasstoriesnyer (Jeremy Vearey, Jeremy vannie Elsies, 2018 ).

so-by-so woordgroep Ook so by so tot so 'n mate: (Namakwalands) Die eerwaarde dominee van die dag ... het sy mes vir die gemeente ingehad en alles het luid te doen gehad met swawel, vuur en bekering. Só by só lat hy glo by geleentheid tydens die afgee van sy boodskap vir die gemeente geskreevra het lat hullese almal wat meen dat hulle die ewige poorte sou ingaan, sou opstaan.
KYK OOK: sowieso


soe bw., tussenwerpsel (lekties) so: Soe moetie slange hang’ie, krap diep vi daai kroon en koep die boek. (Jeremy Vearey, thedialecticalcop.blogspot, Junie 2017). | ENGELS: so

Soeboegh salaah woordgroep [dikwels verkort tot: soeboeg] [ook met kleinletter] (Islam) Ook Soeboeg salaah fadjer

soema bw. (lekties) Ook somma sommer: Ai jinne, lat ’n man soema huil (Vannie Kaap, 14 April 2018). Ek kan soema voel hie kom ’n ding (Chase Rhys, Kinnes, 2018). Ek vererg my soema op die spot vir my suster (Oom Sonnie, Son, 13 Oktober 2015). Hulle het soema die kitaar oek gevat (Zavey Goliath, “hulle het ko vat” ). Innie aane het hy soema sy kombêse en sy kussings gan hal, dan lê hy oppie koue vloe reg voorie TV en wag vi my om hys toe te kô. (Chase Rhys, Kinnes, 2018). | ENGELS: straight off | for no particular reason

Soenat s.nw. [ook met kleinletter, gewoonlik enkelvoud] (Islam) opsionele, ses dae lange vas wat begin wanneer Ramadaan met die koms van die nuwe maan eindig

Sokraties b.nw. | Sokratiese | (soos) van of in navolging van die wysgeer Sokrates: Sokratiese onsekerheid.
Sokratiese vraagstelling/leergesprek/onderrigmetode dialoog gegrond op vrae en antwoorde wat kritiese denke stimuleer en idees en onderliggende voorveronderstellings stelselmatig ontgin: Vir my was Degenaar dus ’n bevryder, wat die rol speel om deur Sokratiese vraagstelling verborge waarhede tot aansyn te roep met sy appèl op eie denke, of om soos ’n vroedvrou die geboorte van nuwe insigte te fasiliteer (G. Boonstra, Netwerk24, 30 Augustus 2015). | ENGELS: Socratic questioning


solopreneur s.nw. | solopreneurs | [sametrekking van: solo-entrepreneur] entrepreneur wat op sy/haar eie werk, dit wil sê sonder vennote: ’n Solopreneur is die alleenskepper van ’n onderneming, besit die besigheid, bestuur dit en bly die belangrikste (aan)drywer daarvan.

som bw. (lekties) sommige: En as ek som aane my biesagheid gan doenit dan het ek gewiet Anwaar is safe byrie hys (Chase Rhys, Kinnes, 2018). | ENGELS: some

somermaand s.nw. | somermaande |
UITDRUKKING(S):
vir die somermaande brei goeie werk doen, maar op/in/vir die verkeerde tyd: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


somma bw. (lekties) soema

son s.nw. | sonne | sonnetjie |
UITDRUKKING(S):
as die son tieng (sê) (informeel, lekties) wanneer die son op sy warmste skyn; teen die middaguur: Die tyd vir etes is ook belangrik: liewers laatmiddag of in die aand as in die middel van die dag, wanneer die son 'tieng' sê (Die Burger, 16 Oktober 2015). Daar’s niks beter as ’n lekker los, ligte somerrok as die son tieng daar buite sê nie (Son, Facebook, 5 November 2018). Toe begrawe ôs vi Mamba daa onne ’n portjacksonboempie innie djaart voorie son tieng, cause why djulle wiet mos lat ’n perd wat te lank lê, stink erge as ’n vark (Jeremy Vearey, Jeremy vannie Elsies, 2018).

oor die son staan en wonder wetenskaplike bewyse en/of konkrete, voor die hand liggende waarhede nie begryp of aanvaar nie: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


sonseil s.nw. | sonseile | sonseiltjie | (ruimtevaart) groot, dun stuk ligweerkaatsende materiaal wat deur stralingsdruk van die son voortgestu word: Solank as wat daar lig op val, sal ’n sonseil groter snelheid aan ’n klein voorwerp in die ruimte kan verleen. | SINONIEM(E): fotonseil | ligseil | ENGELS: solar sail | light sail | photon sail

soönose s.nw. | soönoses | (patologie, geneeskunde) enige siekte of infeksie wat op 'n natuurlike wyse van 'n gewerwelde dier na ’n mens oorgedra kan word: sentrum vir virale soönose Volgens die verslag [...] word die uitbreek van dieresiektes internasionaal as ’n bedreiging beskou, met soönose die grootste gevaar. Dit behels siektes wat van ’n dier na ’n mens en van ’n mens na ’n dier oorgedra kan word (Charl van Rooyen, Landbouweekblad, 29 Augustus 2018). | TEENOOR: antroponose | ENGELS: zoonosis
OORSPRONG:
Grieks zōion lewende wese, dier + nosos siekte.


soönoties b.nw. | soönotiese | (soos) van, met betrekking tot of wat verband hou met 'n soönose: Dit is belangrik om vee voortdurend te monitor vir die moontlike voorkoms van soönotiese patogene wat mens én dier se gesondheid in gevaar kan stel (Engela Duvenhage, Netwerk24, 27 Maart 2020).

sorghumbier s.nw. [geen meervoud] umqombothi

sosialemedia-beïnvloeder s.nw. | sosialemedia-beïnvloeders | persoon wat so gewild is, en deur so baie mense gevolg word, dat potensiële kopers of gebruikers, wanneer sy/hy in die sosiale media ’n produk of diens aanbeveel, bevorder of kritiseer, hulle daardeur laat beïnvloed en lei: Fox News berig skamel geklede modelle en sogenaamde “sosiale-media-beïnvloeders” – wat ’n bestaan maak uit geborgde uitstappies om hul hordes volgelinge só te beïnvloed – het die afgelope maand konsternasie veroorsaak. Verskeie mense meen hul selfies in die rampgebied [by Tsjernobil] buit die trauma van die ramp uit vir oppervlakkige vermaak. (Hendrik Hancke, Rapport, 16 Junie 2019). | SINONIEM(E): beïnvloeder | internetberoemde | ENGELS: social media influencer | influencer

sosialemedia-entrepreneur s.nw. | sosialemedia-entrepreneurs | iemand wat wins (wil) maak deur geleenthede te benut wat die sosiale media bied; persoon wat binne die struktuur van die sosiale media, ’n onderneming begin en bestuur, produkte en/of dienste bemark en/of deur die inhoud wat hy/sy produseer, geld verdien: Hulle is sosialemedia-entrepreneurs. Hoe meer volgelinge jy het, hoe groter raak jou invloed, en hoe meer geld kan jy maak deur produkte op Instagram te bemark – van tandepasta tot sjampanje (Anneliese Burgess, Vrye Weekblad, 17 Januarie 2019).

sosialemedia-keffertjie s.nw. | sosialemedia-keffertjies | Ook sosialemediakeffertjie iemand wat op sosialemediaplatforms en onderaan nuusberigte gedurig, veral negatiewe kommentaar en kritiek lewer, wat meestal geen indruk maak nie, maar ander irriteer: Wanneer sosialemedia-keffertjies begin kla dat die media ’n sekere onderwerp vermy, is die onderwerp self dikwels irrelevant (Chris Roper, Vrye Weekblad, 15 November 2019). | ENGELS: social media yapper

soum s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (Islam) poewasa

sowieso bw. (< Duits) Ook so by so, so-by-so, (weinig gebruiklik) sobyso
1
in elk geval; tog: Omgekeerd het Duits ook ’n invloed gehad op die Afrikaans van Namibiërs. ’n Mens hoor dikwels die woord sowieso (in elk geval) by Afrikaanssprekendes noord van die Oranjerivier (Daniel Hugo (red.), Halala Afrikaans, 2009). So-by-so, nadat ek my kalmword-oefeninge bedink het, sit ek ook in die ry op die metaalstoele voor toonbanke een tot vyf en wag (Hennie Fritz, LitNet, 15 Desember 2015). | Engels: anyway | anyhow

2
noodwendig; gevolglik; onvermydelik: Vir Italië, sê hy, het die skool ná al die jare self ’n lys met adresse van oornagmoontlikhede aangelê – hotels met groot kamers, ’n klooster met ’n slaapsaal. In Griekeland ontbreek die vaste kontakte egter en is die infrastruktuur sowieso beperkter (Antjie Krog, vertaling van Tom Lanoye, Kartondose, 1996). [S]edert die boorgat op die werf opgedroog het, is water te skaars om vir mooiheid te boer. Die water wat ons het, gebruik ons sowieso om die vrugteboord en groentetuin aan die gang te hou (Vita du Preez, Woestynroos, 2015). Ons beweeg so by so ál nader aan 'n soort gemengde tweetaligheid op feitlik alle gebiede waarin dit nie meer te veel saak maak of Engels of Afrikaans gepraat word nie (Beeld). Sy’t niks gesê nie. Om na jou hart te luister, is een ding. Om hom te breek, ’n ander. En so by so is hy vroeg in Februarie vort (Esta Steyn, Meeulanders, 1997). | ENGELS: inevitable | as a result


=speak woorddeel taal

speellys s.nw. | speellyste | versameling (gunsteling)liedjies/musieksnitte, uitgesoek en saamgevoeg deur byvoorbeeld ’n radiostasie, stromingsdiens, of enige privaat gebruiker van so ’n diens: Die platform skitter met die skep van unieke speellyste vir elke denkbare geleentheid, gegrond op jou musieksmaak (Petrus Malherbe, Netwerk 24, 13 Maart 2018). | ENGELS: playlist

spoedfooi s.nw. | spoedfooie | ekstra of bybetaling by die gewone bedrag wat vir die lewering van ’n spesifieke diens of uitvoering van ’n spesifieke taak aangebied, betaal of verlang word, indien die werk vinniger as gewoonlik afgehandel moet word, of die ooreengekome spertyd vervroeg word: Die uitreiking van ’n noodpaspoort is onderhewig aan die betaling van ’n spoedfooi. | SINONIEM(E): spoedtarief | (informeel) aanjaagfooi | ENGELS: rush fee

spoedtarief s.nw. | spoedtariewe | ekstra of bybetaling by die gewone bedrag wat vir die lewering van ’n spesifieke diens of uitvoering van ’n spesifieke taak aangebied, betaal of verlang word, indien die werk vinniger as gewoonlik afgehandel moet word, of die ooreengekome spertyd vervroeg word: Vir tolke en vertalers is ’n spoedtarief gebruiklik vir dringende opdragte. | SINONIEM(E): spoedfooi | (informeel) aanjaagtarief | ENGELS: rush tariff

spoegbel s.nw. | spoegbelle | spoegbelletjie |
UITDRUKKING(S):
spoegbelle blaas onkundig en/of onvolwasse, soos ’n kind redeneer: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


spookasem s.nw. [geen meervoud]
1
suiker met pastelkleursel daarby ingemeng wat gespin is tot ’n bol lekkergoed wat aan watte herinner, gewoonlik op 'n stokkie of in 'n deursigtige, luggevulde plastieksakkie aangebied | SINONIEM(E): suikerdons | ghoemahare

2
(figuurlik) iets van weinig betekenis; iets met min om die lyf; (pure) wind: Dit is vir my so ’n mooi beskrywing as iemand sê iets is soos pienk spookasem. […] Spookasem is ’n oomblik soet op die tong en dan verdwyn die smaak in die niet (Hannes Noëth, Netwerk24, 30 Januarie 2019). Daar is soveel vermaaklike spookasem wat op Facebook gedeel word (Deborah Steinmair, Vrye Weekblad, 7 Junie 2019). Iets wat nie net spookasem is nie, wanneer jy die boek neersit, moet jy darem kan sê, wow, dit het my stof tot nadenke gegee (Rika du Plessis, romanza.co.za). Moet dus nie eens daaraan dink om van jou bates te verkoop sodat jy spookasem kan najaag nie (Huisgenoot). Haar debuutalbum is glad nie sleg nie. Noem dit spookasem met 'n bietjie lyf. (Ilza Roggeband, Huisgenoot). | ENGELS: something that lacks substance | mere gas/wind, | ENGELS: candyfloss

samestellings:
spookasemfliek | spookasemvermaak


spookkombuis s.nw. | spookkombuise | restaurantkombuis (sonder restaurant), waar bestellings via die internet of telefonies ontvang word en geregte uitsluitlik vir aflewering elders, aan mense by hulle huise of kantore, berei word: Spookkombuise, donker kombuise of wolkkombuise – ook bekend as virtuele restaurante – is kommersiële geriewe wat doelgerig ingerig word om restaurantkombuise op ’n grondslag van “aflewering alleenlik” te bedryf (Jana Jacobs, Finweek, 20 Junie 2020). | SINONIEM(E): donkerkombuis | wolkkombuis
KYK OOK: donkerkombuis


spooknugter b.nw. [attr. en pred.] (informeel, skertsend) geensins dronk nie; doodnugter: Ook maar goed ons is huis toe in ’n bus met ’n spooknugter bestuurder (Madeleine Barnard, Vrye Weekblad, 17 Mei 2019 ). | ENGELS: cold sober

spookpiepie s.nw. [geen meervoud] (informeel) penetreerolie wat tussen styfpassende onderdele gebruik word: Watter Namakwalandse boer het nog nie in die winter gesukkel om daardie dieselvragmotor aan die gang te kry die dag wanneer hy vroegdag moet skaap ry nie? Die antwoord is gou gevind. Hulle gebruik spookpiepie. Dít vind ’n mens in so ’n spuitkannetjie. Jy spuit so ’n tjirtsie daarvan by ’n sekere deel van die steeks dieselenjin in, draai die sleutel en die enjin vat. Wat die Engelse naam ook al is, dis vir die Namakwalanders vreemd en in party gevalle seker ook onuitspreekbaar, maar spookpiepie ken hulle goed, want dis hul eie naam vir die goed in daardie kannetjie (Die Burger, 27 Junie 1998). | SINONIEM(E): spookpis | ENGELS: multipurpose lubricant

spookwedstryd s.nw. | spookwedstryde | wedstryd wat gespeel word in ’n stadion waarbinne en waarbuite geen toeskouers toegelaat word nie, soos in die tyd van die koronapandemie: Die toeskouerlose [sokker]kragmetings is “spookwedstryde” in die Duitse media gedoop (Netwerk24, 15 Mei 2020).

Springbroekie s.nw. | Springbroekies | [verkleinwoord] (skertsend) swembroek(ie) met die kleure van die Suid-Afrikaanse vlag, soos die een in 2019 deur die Springbokskrumskakel Faf de Klerk gedra ná afloop van die eindstryd waarin die Springbokke die Rugbywêreldbeker gewen het: Wat baie mense nie weet nie, is hoe Faf aan sy Springbroekie gekom het (Marteli Brewis, Kuier, 3 Februarie 2020).

staatskaping s.nw. | staatskapings | pogings van ’n aantal individue om uit die werking van ’n regering voordeel te trek deur middel van amptenare wat met beloftes, gunste en gawes omgekoop kan word om sulke pogings te help slaag: Dit was nie net die regering en die uitvoerende hoofde van staatsondernemings wat die tesourie op sy knieë gehad het nie, die wetgewers het korrupsie en staatskaping moontlik en maklik gemaak deur eenvoudig te weier om die uitvoerende gesag verantwoordelik te hou vir wanbestuur (Piet Croucamp, Vrye Weekblad, 21 Junie 2019). Die openlike plundering van die land se bates en bronne en staatskaping het die politieke regime na ’n rowerstaat laat lyk (Pieter Labuschagne, Netwerk24, 20 Junie 2019). | ENGELS: state capture

stadsjiek b.nw. [attr. en pred.] in ooreenstemming met en in navolging van die (nuutste) mode in ’n (groot) stad of stede: Silhoeëtte van geboue is die inspirasie vir dié grys en swart trend. Kies daarby donker kleure soos grys en vlootblou vir jou naels vir ’n stadsjiek voorkoms (Amaria Carstens & Charis van den Heever, Sarie, Mei 2015). | ENGELS: urban chic

stadskruiping s.nw. [soms verkort tot: stadskruip] [geen meervoud] onbeperkte/onbeheerde uitbreiding van woongebiede, kommersiële ontwikkelings en paaie wat op die verlies uitloop van landbou- en ander onbeboude gebiede rondom stede: Normaalweg gebruik stadsbeplanners […] harde, natuurlike en reguit grense wanneer die stedelike soom verander word om te verseker dat stadskruiping nie plaasvind nie (Jorisna Bonthuys, Vrye Weekblad, 24 Oktober 2019). | ENGELS: urban sprawl

stampe-en-stote s.nw. [geen meervoud] (kookkuns) bredie met mielies en droëbone.

stapklip s.nw. | stapklippe | stapklippie | trapklip

Stargardt se siekte woordgroep [geen meervoud] (medies) Ook stargardtsiekte, stargardts oogsiekte wat veral by mense jonger as 20 voorkom en degenerasie van die makula veroorsaak. | ENGELS: Stargardt disease

stargardts woordgroep [geen meervoud] (medies) Stargardt se siekte

stargardtsiekte woordgroep [geen meervoud] (medies) Stargardt se siekte

stemafdruk s.nw. | stemafdrukke | opname van iemand se stem, waarvan die unieke eienskappe by stembiometrie gebruik word om die persoon te identifiseer: Wanneer die kliënt dan met die organisasie in aanraking kom, verifieer die stembiometriese tegnologie die kliënt onmiddellik. Dit word gedoen deur die kliënt se stem te vergelyk met die stemafdruk in die databasis, en as dit presies ooreenkom, gee die stelsel toegang tot die rekening (Craig West, Finweek, 26 Februarie 2015).

stembiometrie s.nw. [geen meervoud] Ook stembiometrika tegnologie wat die unieke kenmerke van ’n mens se stem gebruik om jou te identifiseer: Beskou stembiometrie as ’n vokale vingerafdruk […] Die sterk punt van stembiometrie is dat jy nie my stem kan steel nie (Craig West, Finweek, 26 Februarie 2015). | ENGELS: voice biometrics
samestellings:
stembiometriestelsel: ’n Stembiometriestelsel neem die unieke eienskappe van ’n kliënt se stem op en maak ’n stemafdruk. (Craig West, Finweek, 26 Februarie 2015).

afleiding(s):
stembiometries: Wanneer die kliënt dan met die organisasie in aanraking kom, verifieer die stembiometriese tegnologie die kliënt onmiddellik. Dit word gedoen deur die kliënt se stem te vergelyk met die stemafdruk in die databasis, en as dit presies ooreenkom, gee die stelsel toegang tot die rekening (Craig West, Finweek, 26 Februarie 2015).


stembiometries b.nw. | stembiometriese | stembiometrie

stemnota s.nw. | stemnotas | kort boodskap of herinnering om iets te doen wat jy vir jouself of iemand anders laat deur in ’n elektroniese toestel, soos ’n selfoon, te praat en jou stem op te neem: Danksy tegnologie kan Alkoholiste Anoniem (AA) se lede steeds in die inperktyd vergaderings “bywoon” [...] ’n AA-takvoorsitter neem sy of haar lesing vooraf as ’n stemnota op en deel dit op WhatsApp (Jana Smit, Rapport, 3 Mei 2020). Dit was nogal ’n aanpassing om al die skoolwerk aanlyn te doen omdat ’n mens nie dadelik iets vir die onderwyser kon vra nie. Die voordeel was weer dat ’n mens kon teruggaan en na stemnotas kon luister (Miché Fransman, Netwerk24, 11 Junie 2020). | ENGELS: voice note

stent s.nw. | stente |
1
(medies) spalk wat in ’n bloedvat of kanaal ingevoeg word om ’n obstruksie te verlig of genesing aan te help: ’n Stent is in haar linkerhartkamer ingesit om haar op haar eie te help asemhaal (Kim Abrahams, Huisgenoot, 4 Oktober 2019). Drie jaar nadat ’n oud-Bloemfonteiner ’n stent in die hoofaar in sy hart gekry en ’n jaar nadat hy erg beseer is toe hy met sy fiets geval het, vertrek hy binne ’n week na […] Switserland om ná jare weer aan die driekamp-wêreldkampioenskap deel te neem (Marietjie Gericke, Netwerk24, 21 Augustus 2019).

2
(tandheelkunde) plastiese stof vir die maak van afdrukke van tande in die bo- en onderkaak. | ENGELS: stent

OORSPRONG:
Na ’n Engelse tandarts, Charles Stent (1807-1885).


steroïed s.nw. | steroïede | chemiese stof in die liggaam   | ENGELS: steroid
UITDRUKKING(S):
… op steroïede (uit Engels, informeel, figuurlik) groter/sterker/kragtiger/vinniger/ens. as die gewone of normaalweg: Baie beskryf dit as terapie op steroïede; soos jare se terapie in een aand (Leonie Joubert, Vrye Weekblad, 17 Mei 2019 ). Sedert … loop die organisasie se kommunikasiestrategie as ’t ware op steroïede (Finweek, 28 April 206). Iemand het vir my gesê dit is ’n koffietafelboek op steroïede. Is dit nie kostelik nie? (Marguerite van Wyk, Sarie, Februarie 2017). Dis ’n kerkbasaar op steroïede met allerlei stalletjies, gaskunstenaars en, natuurlik, wildsvleis (WegRy, Augustus 2016). En dit doen geen skade aan die omgewing nie. Behalwe vir die opmerklike wit klonte wat soms aan my kopvel vassit. Soos skilfers op steroïede (Madeleine Barnard, Vrye Weekblad, 28 Junie 2019). | ENGELS: on steroids


sterwensbegeleier s.nw. | sterwensbegeleiers | persoon wat ’n sterwende voor en tydens die dood bystaan, asook aan die naasbestaande(s) van die sterwende hulp verleen: Die ervarings van ’n sterwensbegeleier [...] open nuwe perspektiewe op die dood (Elna van der Merwe, Huisgenoot, 17 Mei 2019). In die slotdeel [van die boek] verander die rolle as [die karakter] sy sterwende moeder versorg en [haar] as sterwensbegeleier vergesel op ’n afskeidsreis (Neil Cochrane, Rapport, 30 Julie 2017). | SINONIEM(E): dooddoula | ENGELS: death companion

stik ww. | het gestik | verstik.
in jou … stik/verstik of iemand in sy/haar … laat stik/verstik
1
jou/iemand hewig ontstel: Die legendariese Nama-kaptein, die geniale strateeg wat groot leërmagte in hul stewels laat sidder het en die Duitse keiser in sy bier laat stik het (Deborah Steinmair, Vrye Weekblad, 7 Junie 2019). Maar hoewel dit dalk help vir die vetrolletjies en lewenslus kan die totaal op jou strokie by die kasregister jou dalk net aan jou laevet-sjokoladekoekie laat stik (Pieter van Zyl, Huisgenoot).

2
(iemand laat) uitbars van die lag: Stik jy elke oggend in jou ontbytpap as jy Garfield se eskapades verslind? (Leon van Nierop, Huisgenoot, 23 September 2004). | ENGELS: choke on | make one choke on


stockholmsindroom s.nw. [soms verkort tot: stockholm] [geen meervoud, ook met hoofletter] (psigiatrie en psigoanalise) sindroom waarby iemand wat deur ’n persoon of groep persone aangehou word, empatie met sy/haar gevangenemers ontwikkel: Ly ons aan 'n soort Stockholm-sindroom waar ons ’n irrasionele simpatie ontwikkel het vir ons ontvoerders? (Anneliese Burgess, Vrye Weekblad, 6 Desember 2019). Hierdie skanddade het aangehou, omdat ek soos iemand met stockholmsindroom emosioneel gemanipuleer is (Beeld, 13 Februarie 2016). | ENGELS: Stockholm syndrome
OORSPRONG:
Genoem na gebeure tydens en ná 'n gyselsituasie van 23 tot 28 Augustus 1973 in ’n bank in Stockholm, Swede.


stoeka s.nw. | stoekas | (bendetaal) teken/wapen wat ’n bendelid van ander bendes onderskei, dikwels in die vorm van 'n tatoeëermerk: Ai, Kind, weeklaag ek toe sy haar soveelste tatoe kom wys, as jy só aanhou, lyk jy later seker nes Adam Small se Map Jacobs, kompleet met trane wat in groenblou sirkels oor jou wange loop [...] Mamma, jy praat van tjappies, stoekas, wys sy my tereg (Anastasia de Vries, Vrye Weekblad, 11 Oktober 2019). ’n Belangrike kenmerk van bendelede is hul “stoeka” of “chappie”, tatoeëermerke wat oral aan hul liggaam – hetsy die nek, enkel, been of borskas – aangebring is. Hierdeur word hulle van ander bendes onderskei (Die Burger, 15 Mei 2019). Die nuwe neiging onder Kaapse bendes is om jeugdiges met vuurwapens te dwing om by bendes aan te sluit en om die “nuwe lede” te tatoeëer. In bendekringe beteken dit jy dra die bendewapen, “stoeka” en jy is vir die res van jou lewe ’n lid van die betrokke bende (Vincent Cruywagen, Philda Nicholas, Die Burger, 21 Januarie 1999). Toe het hy sy linkerhand opgehou, ’n vuis gemaak sodat ek die vyf getatoeëerde kolletjies in die sagte vleis bokant sy duim kon sien. Nou sien, soe lyk ’n stoeka, het hy beduie. Hy dra die stoeka van die 26’s, het hy gespog (Anastasia de Vries, Vrye Weekblad, 11 Oktober 2019). | SINONIEM(E): tjappie
KYK OOK: tjappie


stoepsit ww. | het gestoepsit | op 'n stoep sit – dikwels met die bygedagte van geselligheid of ledigheid: Dis tyd vir stoepsit. Afkoel. Brood breek (Wicus Pretorius, Tuis, 14 Oktober 2019). Later ’n glas wyn terwyl daar gestoepsit word, met ’n uitkyk oor Loopstraat se dinge (Michèle Meyer, Vrye Weekblad, 1 November 2019).

stoffies ww. | het gestoffies | liggies reën: Dit het begin stoffies. Die wêreld ruik na grond, geil en skoon. (Anastasia de Vries, Vrye Weekblad, 10 Mei 2019). | ENGELS: drizzle

stoma s.nw. | stomas | (medies) kunsmatige opening in die derm wat deur ’n operasie (kolostomie of ileostomie) in die buikwand aangebring is: Wanneer ’n pasiënt ’n kolostomie- of ileostomie-operasie kry, word die punt van die derm deur ’n opening in die abdomen gebring. Dit word ’n stoma genoem (Rowena Hendricks, Kuier, 7 Oktober 2015). | ENGELS: stoma

stomasakkie s.nw. | stomasakkies | [verkleinwoord] (medies) sakkie geheg aan ’n kunsmatige opening (= stoma) in die derm wat deur ’n operasie (kolostomie of ileostomie) in die buikwand aangebring is: Wanneer ’n pasiënt ’n kolostomie- of ileostomie-operasie kry, word die punt van die derm deur ’n opening in die abdomen gebring. Dit word ’n stoma genoem. ’n Stoma of dermsakkie dien as ’n uitlaatklep vir faeces uit die liggaam deur die opening in die abdomen, wat die rektum omlei en in ’n sakkie gedreineer word (Rowena Hendricks, Kuier, 7 Oktober 2015). | SINONIEM(E): kolostomiesakkie | dermsakkie | ENGELS: stoma bag

stompkopkewer s.nw. | stompkopkewers | stompkopkewertjie | (entomologie) klein uitheemse, polifae kewer (Euwallacea nr. fornicatus), wat tot plaag in Suid-Afrika verklaar is, wat tonnels in bome boor, eiers daarin lê en ’n swam in die tonnels vrystel waarop die kleintjies voed wanneer hulle uitbroei: Die Kaapse metro het spanne aangewys om inspeksies van bome vir die stompkopkewer in Somerset-Wes uit te voer (Netwerk24, 27 Februarie 2020). Die Wes-Kaapse regering eis dringende stappe van die nasionale regering om die stompkopkewer te bestry (Landbouweekblad, 26 Julie 2019). [K]enners van die instituut vir bosbou- en landboubiotegnologie (FABI) aan die Universiteit van Pretoria [het] onlangs bevestig dat boomvrektes in George en Knysna veroorsaak is deur die stompkopkewer (Euwallacea nr. fornicates) en sy simbiotiese swam (Fusarium euwallaceae) (Landbouweekblad, 27 Julie 2017). | ENGELS: polyphagous shot hole borer | PSHB
KYK OOK: polifaag


storm s.nw. | storms | stormpie |
’n perfekte storm (figuurlik) iets uiters sleg en ongewoons wat gebeur weens ander toestande en gebeure op dieselfde tyd: Dit lyk asof Suid-Afrika deur ’n perfekte storm getref word. Ons sosiale kohesie, ons stabiliteit en die effektiwiteit van die staat gaan tot die uiterste beproef word (Max du Preez, Vrye Weekblad, 20 Maart 2020). ’n Mens is bekommerd oor ’n perfekte storm ten opsigte van die ekonomie, die ineenstorting van die aandelebeurs, ’n gebrek aan gesondheidsorg en die stand van die staat (Flip Buys, Netwerk24, 18 Maart 2020). | ENGELS: a perfect storm


stormkopies s.nw. (informeel) (oor)haastige inkopies/aankope deur groot getalle mense, tipies gekenmerk deur ’n stormloop om produkte op te raap, soos by ’n uitverkoping, of uit vrees dat voorrade kan opraak: Ook grootmaatwinkels […] is gister deur stormkopies getref (Beeld, 17 Maart 2020). | ENGELS: stampede shopping
OORSPRONG:
Samesmelting van storm(loop) + inkopies.


storting s.nw. [geen meervoud]
1
rommel, vullis, ens.  

2
(handel) ’n produk teen minder as sy produksiekoste verkoop om sodoende markaandeel te behou of groter markaandeel te bekom: Die produsente se argument is dat invoerders, veral die “bose Brasiliane”, besig is om Suid-Afrika se hoenderbedryf nek om te draai met die storting van goedkoop hoenders (Yolandi Groenewald, Vrye Weekblad, 17 Mei 2019 ). Namate die storting van hoendervleis, hoofsaaklik uit Europese Unie-lande, deur die jare toegeneem het, het kleiner plaaslike verskaffers begin uitval (Leon Kok, Finweek, 17 September 2015). | ENGELS: dumping


stouf s.nw. (uit Engels, lekties) stoof: Die kinders wat met krullers in die hare in die son moes speel sodat dit kon droog word, omdat hul huise nie lektriek gehad het nie, het lustig gespeel met die kinders wat die luukse van ’n yskas en haardroër en ’n stouf geken het (Jo-Ann Floris, Netwerk24, 14 Februarie 2018). | ENGELS: stove

straat s.nw. | strate | straatjie |
UITDRUKKING(S):
strate beter (wees) as … (uit Engels) stukke beter (wees) as: Maar dit is ’n feit soos 'n koei dat die [party] strate beter as die [ander party] in plaaslike owerhede regeer (Max du Preez, Vrye Weekblad, 25 Oktober 2019). | ENGELS: be streets ahead of …


straight b.nw. [attr. en pred.] (uit Engels) heteroseksueel: Sy is straight. Sy is nie gay nie (Netwerk24, 10 Junie 2019). Ironies genoeg kan straight mans dikwels juis by gay mans leer hoe om meer in voeling met hul emosies te kom en taal daarvoor te vind (Laurie Gaum, Netwerk24, 12 Desember 2016). | ENGELS: straight

stratosferies b.nw. | stratosferiese |
1
(geografie) van of met betrekking tot die hoogste luglaag om die aarde: ’n stratosferiese lugballon

2
(figuurlik) hoog; uitstekend: Donizetti se musiek is meesterlik, hoewel soms voorspelbaar: lang skoon musikale lyne word afgewissel met koloratuur-vuurwerke en stratosferiese note (Wayne Muller, Netwerk24, 10 November 2015). Die “beleggingsmandaat” wat Rapport onder oë gehad het verduidelik nie hoe die stratosferiese opbrengste verdien word nie, maar beleggers sê hulle was onder die indruk dat J. die geld sou gebruik om hoërisiko­beleggings op die JSE te maak (Elaine Swanepoel, Netwerk24, 25 Februarie 2018). Dit is gevolg deur ’n liefdesverhouding met pinot noir wat vinnig die volgende in-ding geword het – mét stratosferiese pryse (Netwerk24, 11 Julie 2014). Hamilton se stratosferiese vertoonpyl het Vettel in 2018 vermorsel (Braam Peens, Netwerk24, 13 Junie 2019).


Streisandeffek s.nw. [geen meervoud, ook met kleinletter] die verskynsel dat pogings om enige vorm van nuus/inligting/ens. privaat te hou of dit van die internet te verwyder, die teenoorgestelde uitwerking het deurdat sulke pogings sodanige (sensitiewe) nuus/inligting dan juis onder die media/publiek se aandag bring: Samsung het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer oor waarom iFixit die storie moes verwyder nie, maar die vermoede bestaan hy wil negatiewe publisiteit tot ’n minimum beperk. Die gevolg is natuurlik dat die kwessie nou nog meer negatiewe publisiteit kry, ’n verskynsel bekend as die Streisand-effek (Petrus Malherbe, Netwerk24, 26 April 2019). | ENGELS: Streisand effect
OORSPRONG:
Genoem na die Amerikaanse sangeres-aktrise Barbra Streisand, wie se poging in 2003 om foto’s van haar huis in Malibu verban te kry, die onbedoelde gevolg gehad het om meer publisiteit daarvoor te genereer.


streskardiomiopatie s.nw. [geen meervoud] (medies) seldsame, potensieel dodelike hartaandoening waarby die hartspier se vermoë om saam te trek tydelik verminder word deur akute, langdurige emosionele of fisieke stres: Streskardiomiopatie, of “gebrokehartsindroom”, wat ernstige swakheid van die hartspiere kan veroorsaak, is vroeër by haar gediagnoseer (Beeld, 4 Julie 2017). Streskardiomiopatie [word] vanuit ʼn mediese oogpunt […] dikwels aan die gang gesit deur intense fisiese of emosionele stres as gevolg van verskeie stressors (Pieter van Wyk, welstand.solidariteit.co.za, 19 Oktober 2017). | SINONIEM(E): stresgeïnduseerde kardiomiopatie | takotsubo-kardiomiopatie | gebrokehartsindroom
KYK OOK: takotsubo-kardiomiopatie


stresprinses s.nw. | stresprinsesse | stresprinsessie | (informeel, skertsend) iemand wat gereeld op melodramatiese wyse op situasies reageer: Jy hoef nie meer te sê drama queens is jou pet hate nie. Jy kan sê stresprinsesse is jou troetelgrief (Huisgenoot, 2007). | ENGELS: drama queen

stromingsdiens s.nw. | stromingsdienste | (rekenaar) (internet)diens waarop gebruikers kan inteken om klank- en/of video-inhoud in opeenvolgende bondels/pakkies te ontvang sodat die inhoud voortdurend bly speel soos dit ontvang word, sonder om dit op die rekenaar of selfoon self hoef te bewaar: Een ding is egter seker: Elke stromingsdiens bied meer liedjies as waarna jy in ’n enkele leeftyd kan luister (Petrus Malherbe, Netwerk 24, 13 Maart 2018). Watter musiekstromingsdiens is die regte een vir jou? | SINONIEM(E): stroomdiens
samestellings:
musiekstromingsdiens

KYK OOK: stroom


strooiprater s.nw. | strooipraters | (informeel) iemand wat strooi/kaf/bog/onsin praat; iemand wat kafpraatjies verkoop: Die strooipraters is al weer bedrywig vandag: As jy ’n boodskap gekry het dat ek ’n klomp geld gewen het, moenie die slenter vir ’n oomblik glo nie (Errieda du Toit, Facebook, 19 Mei 2019). | ENGELS: fibber

stroom
ww. | het gestroom |
1
water | vloeistof | elektrisiteit  

2
(figuurlik) mense | dinge  

3
(rekenaar) (veral oor die internet) klank- en/of video-inhoud in opeenvolgende bondels/pakkies stuur of ontvang sodat die inhoud voortdurend speel, soos dit ontvang word, sonder dat dit op ’n harde- of ander skyf bewaar hoef te word: jou gunstelingmusiek stroom Binne ’n enkele dag is die video duisende kere gestroom. | Engels: stream

s.nw. | strome | stroompie |
1
water | vloeistof | elektrisiteit  

2
(figuurlik) mense | dinge  

3
[gewoonlik enkelvoud] (rekenaar) bestendige vloei van klank- en/of video-inhoud via die internet sodat ’n gebruiker daarna kan luister en/of kyk sonder om die inhoud op sy/haar rekenaar/tablet/slimfoon hoef te bewaar. | ENGELS: stream

samestellings:
stromingsdiens: … het ’n nuwe promosie van stapel gestuur waardeur sy stromingsdiens […] geen data verbruik op dié netwerk nie (Petrus Malherbe, Netwerk24, 7 Mei 2018). | Engels: streaming service

afleiding(s):
stroming | Engels: streaming


stroomdiens s.nw. | stroomdienste | (rekenaar) (internet)diens waarop gebruikers kan inteken om klank- en/of video-inhoud in opeenvolgende bondels/pakkies te ontvang sodat die inhoud voortdurend bly speel soos dit ontvang word, sonder om dit op die rekenaar of selfoon self hoef te bewaar: Stroomdienste was 41% gewilder in Maart teenoor Februarie (Annelize Visser, Vrye Weekblad, 19 Junie 2020). Wat’s die stroomdiens vir jou? […] Met stroomdienste stel jy self jou kykgenot saam (Huisgenoot, 7 September 2018). | SINONIEM(E): stromingsdiens
samestellings:
musiekstroomdiens

KYK OOK: stroom


stuk s.nw. | stukke | stukkie | | ENGELS: piece
UITDRUKKING(S):
’n stuk sny (informeel) ’n storie vertel: [M]oet jou nog ’n sappige stuk sny (@DELITEmusic, Twitter, 20 November 2012). Laat ek gou vir jou dié stuk sny! *skinnertyd* (Marisa Calvert, Twitter, 25 Junie 2012). Ek like soms so agteroor [te] sit en na my suster [te] luister wanneer sy ’n stuk sny (’n storie vertel) ... Sy’s tog so dramaties en over-the-top! (Siyabonga Sesant, Twitter, 23 Maart 2019). | ENGELS: tell a story | spin a yarn


suffelste b.nw., bw., telw. (informeel) soveelste: Dis ’n Donderdagaand in Pretoria en dis haar tweede boekpraatjie vir die dag, die suffelste een die afgelope nege dae (Bibi Slippers, Vrye Weekblad, 22 November 2019). | ENGELS: umpteenth | hundredth

suigeling s.nw. | suigelinge | suigelingetjie | Ook suigling | suigelinge | suigelingetjie |
UITDRUKKING(S):
uit die mond van die suigeling sal jy die waarheid hoor ’n Kind wat nog klein is, sê ’n ding soos dit is.


suigling s.nw. | suiglinge | suiglingetjie | suigeling

suikerlagie s.nw. | suikerlagies | [verkleinwoord] lagie suiker  
UITDRUKKING(S):
… met ’n suikerlagie bedek of … ’n suikerlagie gee, strooi oor, ens. ’n onaangename/problematiese saak/situasie gunstiger voorstel as wat dit is: Nie dat ons al ons probleme onder ’n verbale suikerlagie moet toegooi nie (Barbara Fölscher, Vrye Weekblad, 5 Julie 2019). Tot so ver my poging om ’n suikerlagie oor die aankondiging te strooi. Ek het steeds talle bekommernisse (Netwerk24, 3 Augustus 2018). Nee, ons strooi nie ’n suikerlagie daaroor nie. | ENGELS: sugarcoating


sumak s.nw. | sumake | (botanie)
1
Ook sumakboom | sumakbome |, sumakstruik | sumakstruike | kleinerige boom of struik (genus Rhus) wat steenvrugte dra.

2
(a) Ook sumakvrug | sumakvrugte | vrug van ’n sumakboom of -struik. (b) (kookkuns) vleis van sumakvrugte, gedroog en fyngemaal tot ’n poeier wat as spesery gebruik word om aan geregte ’n vars, suurderige smaak te gee: Slyp jou mes en kap so fyn as jy kan: soetrissie, ui, knoffel, tamatie, pietersielie en vars ment. Roer daarby in: sout en peper, suurlemoensap, droë rissiepitte, sumak en granaatstroop (Frederik de Jager, Vrye Weekblad, 3 Januarie 2020). Sumak is ’n suur spesery wat dikwels gebruik word in Midde-Oosterse kookkuns – as jy nie sumak kan kry nie, vervang dit met ’n teelepel suurlemoensap (Rapport, 8 Junie 2014). | SINONIEM(E): suurkruid (c) (veral histories) sap van sumakvrugte, soos by lakwerk gebruik. | ENGELS: sumac | sumak


superverspreider s.nw. | superverspreiders |
1
mens of dier wat met 'n virus besmet is en dit aan ’n klomp ander mense of diere oordra: Kinders se virale lading is laer as dié van volwassenes [...] Dit is dus minder waarskynlik dat kinders superverspreiders sou wees (Elsabé Brits, Vrye Weekblad, 5 Junie 2020 ). Die virus versprei buitengewoon vinnig. Party draers word selfs beskou as “superverspreiders” (A. le Roux, Volksblad, 27 Maart 2020).

2
plek waar ’n klomp mense gevaar loop om met ’n virus besmet te word: Die regering se hoofraadgewer oor Covid-19 het [...] gewaarsku twee supermarkte in Kaapstad het vinnig groot brandpunte meegebring en in “superverspreiders” ontaard (Dawie Boonzaaier, Rapport, 31 Mei 2020). Die gebedsaamtrek [...] het een van die onwaarskynlike eerste geleenthede in Suid-Afrika geword wat ’n superverspreider van die virus was (Adri Kotzé, Vrye Weekblad, 29 Mei 2020). | ENGELS: superspreader

samestellings:
superverspreiding: 'n Epidemioloog [...] verduidelik dat [...] geleenthede vir superverspreiding plaasvind omdat baie mense wat geïnfekteer is, asimptomaties is en ook omdat baie mense nie ’n bevestigde diagnose het nie
(Adri Kotzé, Vrye Weekblad, 29 Mei 2020).
| ENGELS: superspreading


suspension of disbelief woordgroep (Engels, letterkunde) uitgangspunt by die konvensionele roman, ens., dat die leser alles “glo”, dat die leser deur alles in die teks meegevoer word; vrywillige opheffing van ongeloof; opskorting van wantroue; tydelike opskorting van agterdog.

SUT afk. Sentrale Universiteit vir Tegnologie. | ENGELS: SUT

suurkruid s.nw. [geen meervoud] sumak

SVA afk. Staatsveiligheidsagentskap. | ENGELS: State Security Agency | SSA

swaan s.nw. | swane | swaantjie |
swart swaan groot, ernstige, onvoorsienbare krisis wat iemand/iets tref, ’n gebeurtenis wat die persoon, mense of instansie wat daardeur geraak word, nie kon voorspel nie, en waarop hulle hulle nie kon voorberei nie: Covid-19 is ’n “swart swaan" (’n onverwagse ingryp) wat die wêreld en nasionale ekonomieë rampspoedig beïnvloed (Anthoni van Nieuwkerk, Vrye Weekblad, 20 Maart 2020). | ENGELS: black swan


swart b.nw.
swart swaan groot, ernstige, onvoorsienbare krisis wat iemand/iets tref, ’n gebeurtenis wat die persoon, mense of instansie wat daardeur geraak word, nie kon voorspel nie, en waarop hulle hulle nie kon voorberei nie: Vir my is die koronavirus ’n swart swaan (Antoni Van Nieuwkerk, Netwerk24, 12 Maart 2020 ). | ENGELS: black swan

Swart Vrydag in Amerika die Vrydag waarop die Kersinkopieseisoen tradisioneel begin, ná Dankseggingsdag, wat tradisioneel op die laaste Donderdag van November gevier word; vandag in talle lande, ook in Suid-Afrika, die Vrydag waarop groot winkels groot uitverkopings hou en op van hulle ware afslag aanbied wat duisende klante lok: Swart Vrydag, Kubermaandag en die komende Kerstyd is verbruikers én diewe se droom (Riana de Lange, Rapport, 1 Desember 2019). Terwyl die verkeer in winkels ’n belangrike aanduider bly, vind baie van die verkope tydens Dankseggingsdag en Swart Vrydag nou aanlyn plaas (Netwerk24, 29 November 2019). Toe die horlosie middernag slaan, het Swart Vrydag met ’n knal by van die land se groot kettingwinkels begin (Beeld, 24 November 2018). Teen 08:30 is R87 miljoen se verkope by die aanlyn winkel aangeteken en daarmee is die totaal al oorskry wat verlede jaar op Swart Vrydag aangeteken (Beeld, 24 November 2018). | ENGELS: Black Friday

KYK OOK: Kubermaandag

OORSPRONG:
Na die wins wat winkeleienaars op dié dag maak sodat hulle daarna nie langer “in die rooi” (in die skuld) is nie, maar “in die swart” (uit die skuld).

samestellings:
Swart Vrydag-koors | Swart Vrydag-inkopies | Swart Vrydag-stormloop | Swart Vrydag-uitverkoping


swem ww. | het geswem |
UITDRUKKING(S):
soos swem in modder wees ondeursigtig wees; nie maklik wees om te begryp nie; onverstaanbaar wees: Kom ons erken dit nou maar: Om Brexit te verstaan is soos om in modder te swem (Vrye Weekblad, FB, 20 April 2019).

in modder swem iets nie verstaan nie; sukkel om iets te verstaan.


swembadnoedel s.nw. | swembadnoedels | silindervormige stuk poliëtileen wat in ’n swembad as speelding of as swemhulpmiddel gebruik word: Swembadnoedels word landwyd versprei om behoeftige kinders in minderbevoorregte gebiede te leer swem (Eugene Gunning, Netwerk24, 24 Desember 2017). Lê op jou maag met jou voete agtertoe as jy iets uit die swembad wil haal. Hark dit nader met ’n swemnoedel (Baba & Kleuter). | ENGELS: pool noodle | swimming noodle | water noodle

swerwing s.nw. [geen meervoud] (selfoonkommunikasie) proses waarby een netwerk, waar sy infrastruktuur ontoereikend is, die infrastruktuur van ’n ander netwerk gebruik om sy gebruikers in staat te stel om in die betrokke gebied oproepe te kan maak en/of ontvang, en/of die internet te kan gebruik: Die ongewone en gelyktydige dubbele onderbreking in die kabels het daartoe gelei dat kliënte wat aan O. se globale diens gekoppel is, ’n verlaging in spoed ondervind met die verbinding aan internasionale webblaaie. Internasionale stemoproepe en mobiele swerwing word ook geraak (Petrus Malherbe, Die Burger, 17 Januarie 2020). Selfoonoproepe word van volgende maand af op sekere vlugte toegelaat. […] ’n Britse maatskappy wat die tegnologie vir [die lugdiens] vervaardig, het gesê dat enige selfoon op die stelsel sal werk, mits die passasier se kontrak internasionale swerwing toelaat (Beeld, 23 Januarie 2007). | ENGELS: roaming

sypaadjiefilosoof s.nw. | sypaadjiefilosowe | persoon met ’n filosofiese ingesteldheid en wat in die omgang graag diepsinnige gesprekke voer: Die gees van die straatprediker in Adam Small se digkuns vloei immers deur sy are; en ook die spitsvondigheid van die sypaadjiefilosowe van die Kaapse Vlakte waar hy opgegroei het (Heindrich Wyngaard, Vrye Weekblad, 5 Desember 2019). | ENGELS: pavement philosopher