Bygewerk op 21 Februarie 2021
Redakteur: Jana Luther

Van Oktober 2019 af word hedendaagse taalgebruik – nuwe woorde, nuwe betekenisse, nuwe uitdrukkings, asook oues wat dalk elders in die slag gebly het – hier bewerk. Met uitsondering van beeld, klank en addisionele teks word die artikels ook in Pharos Aanlyn opgeneem. Onthou dat dit ’n lewende woordeboek is wat heeltyd groei en verander. Sluit aan by ons leesprogram en help ons.

Klik hier vir die lewende woordeboek, wat deurlopend aangevul word:


Indeks | A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z | 1 | 2 | 3 | 4 | 5

QCTO afk. [Engels: Quality Council For Trades and Occupations] Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe,

queer b.nw. [attr. en pred.]
1
(saambreelterm deur enigiemand uit die LGBTQIA+-spektrum gebruik om na hom-/haarself te verwys) behorende tot ’n groep wat die teenoorgestelde van ’n hoofstroom- hetero-normatiewe gemeenskap is: Die owerhede het beslis sy familie en vriende mag nie ’n begrafnis vir hom hou nie, omdat queer mense onsigbaar gemaak moet word (Herman Lategan, Rapport, 2 Junie 2019). Muholi belig in haar werk die lewe van swart lesbiërs, gay, biseksuele, trans-, queer en interseksmense – sonder om hulle as slagoffers of as afwykend uit te beeld (Netwerk24, 20 Mei 2019).

2
(neerhalend, saambreelterm deur lede van ’n hoofstroom- hetero-normatiewe gemeenskap gebruik om na mense uit die LGBTQIA+-spektrum te verwys.) behorende tot ’n groep wat die teenoorgestelde van ’n hoofstroom- hetero-normatiewe gemeenskap is

KYK OOK: LGBTQIA, hetero-normatief


quesadilla s.nw. | quesadillas | (Mexikaans, kookkuns) twee tortillas opmekaar met ’n vulsel tussenin | ENGELS: quesadilla

quinoa [uitspraak: kie-noe-wa; kien-wa] s.nw. [geen meervoud] (uit Quechua, botanie, kookkuns) Ook (weinig gebruiklik) kinoa, kinua geharde eenjarige blomplant (Chenopodium quinoa) van die familie Amaranthaceae, die amarantfamilie, wat inheems in Suid-Amerika is en vir sy eetbare, vesel- en proteïenryke saadjies verbou word: Stel jou voor jy eet ’n porsie laevetproteïen op ’n bed van quinoa of borriegegeurde jasmyn- of basmatirys, tesame met jou geliefkoosde krakerige groen groente en ’n vars slaai met neute en kaas (Vrye Weekblad, 17 Januarie 2020). Suid-Amerikaanse boere kan nie voorbly met die verbouing van quinoa om in die groeiende internasionale vraag te voorsien nie (Marleen Smith, Landbouweekblad, 17 Desember 2018). Quinoa, ’n saadgewas uit Suid-Amerika, is algemeen in ons supermarkte beskikbaar (Son, 28 Augustus 2016, 12 ). Staan opsy koeskoes, quinoa neem nou oor. Quinoa kom oorspronklik van Suid-Amerika en dit is glutenvry (Die Burger: Naweek, 12 September 2015, 7). | SINONIEM(E): “goue graan” van die Andes | ENGELS: quinoa
samestellings:
quinoa-slaai