Indeks | A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z | 1 | 2 | 3 | 4 | 5


padlangs bw.
UITDRUKKING(S):
padlangs loop na nêrens reguit en openhartig praat, maar geen ooreenkoms/oplossing bereik nie: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


palmleser s.nw. | palmlesers |
1
toekomsvoorspeller  

2
ingeboude sensor wat die afdruk van ’n handpalm, geplaas op ’n skakelaar of dergelike, as herkenningsmiddel gebruik om 'n apparaat te ontsluit, 'n deur te laat oopgaan, en so meer: Jou gesig sal jou kaartjie wees. Of jou handpalm. Jy veeg hom net oor ’n palmleser en daar gaan jy! (Etienne van Heerden, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, 2019). | ENGELS: palm reader
KYK OOK: gesigherkenningstegnologie, vingerafdruktegnologie, biometrie


paniekinkope s.nw. | paniekinkopies | [versamelnaam] (oor)haastige inkopies/aankope deur groot getalle mense, tipies gekenmerk deur ’n stormloop om produkte op te raap, uit vrees dat voorrade kan opraak: Ook grootmaatwinkels […] is gister deur paniekinkope getref. CNN berig dat rakke in van Australië se supermarkte leeg is weens paniekinkope as gevolg van die koronavirus (Netwerk24, 16 Maart 2020). | ENGELS: panic buying

paniekinkopies s.nw. [versamelnaam] paniekinkope

pantoniem s.nw. | pantonieme | (taalkunde) woord wat ’n mens gebruik om ’n persoon of ding aan te dui waarvan jy die naam nie ken, kan onthou of op ’n spesifieke tydstip in ’n spesifieke situasie wil gebruik nie: Dingemalêrie, dinges, giefte-megafter, hoesenaam, katoeter, megafter en megoudie is voorbeelde van pantonieme. | ENGELS: pantonyme

pap s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (kookkuns) mieliemeelgereg   | ENGELS: porridge | pap
UITDRUKKING(S):
in jou pap stik iets sien of hoor wat jou ontstel: Ek kon nie help om te wonder nie of van die miljoene mense wat in plakkerskampe regoor die land woon, dalk na die staatsrede geluister het en in hulle pap gestik het (Max du Preez, Vrye Weekblad, 21 Junie 2019).


papegaaislaai s.nw. [geen meervoud] (informeel, skertsend) dagga: Die papegaaislaai hier is nie goedkoop nie, maar die gehalte is glo topklas (Jessica Pitchford, Vrye Weekblad, 10 Mei 2019). dagga


papmasjien s.nw. | papmasjiene | herwonne skeepshouer toegerus met ’n kitsbanktipe-funksionaliteit waaruit ’n ontvanger van ’n elektroniese selfoonkoepon, deur ’n PIN-nommer in te tik, 'n afgemete porsie vitamienverrykte, gaar mieliemeel, gewoonlik met melkpoeier en suiker daarby ingemeng, kan bekom: ’n Groep meganiese ingenieurs van die Noordwes-Universiteit glo hul nuwe “kitsbank” vir pap kan Suid-Afrikaners se honger teen lae koste stil, ’n gekonkel in die verspreiding van kospakkies uitskakel en boonop die oordrag van die koronavirus tot die minimum beperk. Hulle het die patent vir hulle papmasjien Woensdag geregistreer (Antoinette Slabbert, Rapport, 3 Mei 2020). | ENGELS: porridge machine

pareidolie s.nw. [geen meervoud] soort illusie waarby iemand iets waarneem, en dan skielik, in dit wat waargeneem word, ’n ander voorwerp, patroon of betekenis sien of hoor, soos wanneer ’n mens na ’n wolk of ’n rotsformasie kyk en die vorm daarvan jou aan ’n gesig of ’n ander voorwerp laat dink, of wanneer ’n mens iets hoor en die geluid jou aan ’n ander geluid herinner: Dis heeltemal moontlik om boodskappe te hoor waar daar nie is nie. Die verskynsel het ’n fênsie naam: pareidolie, wat Wikipedia definieer as “ ’n sielkundige fenomeen waarin die brein op ’n stimulus reageer, gewoonlik ’n beeld of klank, deur ’n bekende patroon waar te neem waar daar nie een is nie. Op dieselfde manier sien ons gesigte in wolke, rotse of op Mars. En dis presies waar die man in die maan vandaan kom (André le Roux, Rapport, 4 November 2018). In die skildery met ’n kopbeen ontdek die spreker ’n andersoortige lig. Vir haar is dit ’n “studie in verbleiking”, en “in die gewelwe van die skedelslaap” herken sy die kunstenaar se selfportret. Sy wil van hom weet of dit opsetlik was, of per ongeluk, of slegs haar pareidolie – die verskynsel waar ’n bekende beeld of patroon in ’n lewelose objek waargeneem word (Zandra Bezuidenhout, Rapport, 14 Januarie 2018). | ENGELS: pareidolia
OORSPRONG:
Van Grieks para saam, by, naby + eidolon beeld.


partner s.nw. (Engels) enigeen van twee mense wat getroud is of wat al ’n lang ruk saam is/woon: Dit is my partner, C. Partner? Hulle gaan weer hieroor stry. Vennoot klink soos ’n besigheidsvennoot. Meisie klink te laf. Dit kan nie vrou wees nie, want hulle is nie getroud nie. Hoewel dit seker die maklikste sal wees, want dit laat geen dubbelsinnigheid toe nie. Lewensmaat klink of dit uit ’n ensiklopedie kom. “Partner” werk die beste vir Petra (Reney Warrington, Smit Motors, 2019). | ENGELS: partner

pasiënt s.nw. | pasiënte | pasiëntjie |
pasiënt zero Ook Pasiënt Zero persoon wat by ’n ernstige uitbraak van verwante gevalle, as die eerste draer van ’n aansteeklike siekte geïdentifiseer word: Wie is ‘pasiënt zero’ wat die virus wêreldwyd versprei het? (Netwerk24, 14 Februarie 2020). Die plek waar Pasiënt Zero se vrou werk, is tot Maandag gesluit. (Netwerk24). | ENGELS: patient zero

pasiënt een Ook Pasiënt Een persoon wat by ’n ernstige uitbraak van verwante gevalle, geïdentifiseer word as die eerste pasiënt wat plaaslik die siekte opgedoen het weens kontak met iemand wat van elders na sy/haar gebied gekom het: Dit was Italië se eerste plaaslike besmetting, en hy is Pasiënt Een gedoop. | ENGELS: patient one


PBT afk. persoonlike beskermende toerusting; persoonlikebeskermingstoerusting: Ons het sedert die inperking bestellings vir meer as 47 miljoen eenhede persoonlike beskermingstoerusting en 200 ventilators geplaas, terwyl ’n span van 30 000 gemeenskapsgesondheidswerkers ontplooi is (Vrye Weekblad, 8 Mei 2020). Vakbondorganisasies het […] buite die Chris Hani-Baraghwanath-hospitaal saamgetrek om teen die gebrek aan persoonlike beskermende toerusting (PBT) vir gesondheidswerkers op die frontlinie van die Covid-19-pandemie te betoog (Netwerk24, 1 Mei 2020). Die hospitaaladministrasie [is] op sosiale media gekritiseer omdat daar glo ’n tekort aan persoonlike beskermende toerusting in die hospitaal is (Netwerk24, 5 Mei 2020). | ENGELS: personal protective equipment | PPE

pedi [verkorting van: pedikuur] (informeel)
s.nw. | pedi’s | versorging van (die) toonnaels en voete: Op ’n lêstoel onder ’n sambreel het my eerste Bintang (die plaaslike bier teen R17) sy verskyning gemaak met ’n spul verkopers op sleeptou. Mani’s, pedi’s, koeldrank, sarongs en kraaljuwele was alles in aanbod (Beeld, 13 Augustus 2012). “Hoe bederf jy jouself?” “Met ’n mani en ’n pedi elke maand.” (Beeld, 3 Oktober 2009). | ENGELS: pedi

ww. | het gepedi | jou (of iemand anders se) toonnaels en voete versorg.

KYK OOK: mani, mani-pedi, gemani


perioperatief b.nw. | perioperatiewe | (medies) (met betrekking tot aktiwiteite en prosedures) wat tydens of rondom die tyd van ’n operasie plaasvind of uitgevoer word: die Universiteit van Kaapstad se departement van narkose en perioperatiewe medisyne. | ENGELS: perioperative

pesketariër s.nw. | pesketariërs | semi-vegetariër wat vis en ander seekos eet, maar geen rooivleis of vleis van voëls (hoender en so meer) nie: Zoey is ’n pesketariër (dit beteken sy eet geen wit- of rooivleis nie, maar wel vis), maar vir sjokolade kan sy nie nee dankie sê nie (Huisgenoot, 1 Maart 2017 ). Ek het dus vleis uitgesny – selfs hoender – en het meer van ’n pesketariër geword (Goeie Huishouding, 1 Maart 2017). | ENGELS: pescetarian | pescatarian

pesketarisme s.nw. | [geen meervoud] leefwyse, beginsel of praktyk waarby mense vis en ander seekos eet, maar geen rooivleis of vleis van voëls, soos hoender en so meer, nie: Pesketarisme laat vis en alle seekos, asook suiwelprodukte, eiers en heuning | ENGELS: pescetarism | pescatarism

pestemal s.nw. | pestemals | (Persies) tradisionele Turkse (bad)handdoek van sagte, bedrukte katoen of linne | ENGELS: peshtemal

phishing s.nw. [geen meervoud] uitvissingsboodskap

phola ww. | het gephola | (Zoeloe) ’n blaaskans vat/geniet: Phola! | SINONIEM(E): ontspan | herstel | ENGELS: chill | relax | heal

pieksel s.nw. | pieksels | piekseltjie | (rekenaar) | ENGELS: pixel
UITDRUKKING(S):
(net) ’n pieksel in ’n rekenaarspel wees
1
in ’n plek/posisie wees waar jy ander se opdragte uitvoer sonder om self besluite te mag neem.

2
deur ander gemanipuleer word.


pieng
s.nw., tussenwerpsel [gewoonlik enkelvoud] geluid van 'n elektroniese klokkie of alarm: En ... as níks meer help nie, plak ek ’n stuk kaas op ’n sny winkelbrood, kaas só kommin geel dit vlek jou tande, sit dit in die mikrogolfoond, wag vir die pieng, trek die tamatiesous nader ... dit help vir alles (Herman Lensing, Rapport, 22 Desember 2019). | ENGELS: ping

ww. | het gepieng | ’n geluid soos dié van ’n elektroniese klokkie of alarm maak: Helen frons, maar dan pieng haar foon en haar aandag is ’n oomblik lank by die skerm (Charlea Sieberhagen-Grey, Huisgenoot, 14 November 2019). | ENGELS: ping

KYK OOK: pienggereg


pienggereg s.nw. | pieng-geregte |
1
klaargaar gereg wat slegs opgewarm hoef te word: (Taalbank.nl, 16 Januarie 2020).

2
gereg wat in ’n mikrogolfoond gaargemaak word. | SINONIEM(E): mikrogolfgereg

OORSPRONG:
Na die geluid van die klokkie van ’n mikrogolfoond wanneer die gestelde opwarmings- of gaarmaaktyd verstreke is.


pienk (figuurlik, informeel)
s.nw. kleur geassosieer met die LGBTQIA-gemeenskap.

b.nw. [attr. en pred.] van of wat verband hou met mense wat tot die LGBTQIA-gemeenskap behoort: Dit is gay-wêreld dié en dié voorstad se pienk geld hou baie restaurante en besighede aan die gang. Selfs die gay pride word jaarliks hier aangebied en dan word die pienk note in al wat ’n restaurant en kuierplek ingedruk (Yolanda Barnard, Centurion Rekord, 16 Mei 2015). “Soos daardie keer toe drie ‘straights’ kom moles maak het. Toe kry hulle te doen met pienk vuiste en die plathand van ’n lesbiër,” gie-gie hy (Yolanda Barnard, Centurion Rekord, 16 Mei 2015). | ENGELS: pink
pienk ekonomie ondernemings en dienste vir, van of ondersteun deur gay persone.

KYK OOK: LGBTQIA


pienke s.nw. | pienkes | (informeel, soms kwetsend) gay persoon: sewe dae ’n week – selfs op die heilige Sondag – kom die pienkes by ETC bymekaar (Yolanda Barnard, Centurion Rekord, 16 Mei 2015). | ENGELS: pink
KYK OOK: pienk


pienkoog s.nw. [geen meervoud] (medies, informeel) irritasie of ontsteking van die bindvlies wat die wit deel van die oog bedek: Konjunktivitis, beter bekend as pienkoog, is een van die algemeenste oogkwale onder kinders (Netwerk24, 5 Oktober 2018). | SINONIEM(E): konjunktivitis | ENGELS: pinkeye

piepie ww. | het gepiepie | | ENGELS: pee
UITDRUKKING(S):
op iemand se battery piepie battery


pikosatelliet s.nw. | pikosatelliete | [soms verkort tot: pikosat] miniatuursatelliet met ’n massa van kleiner as 1 kg. | ENGELS: picosatellite | picosat
KYK OOK: miniatuursatelliet


Pinyinsisteem s.nw. [geen meervoud] Hanyu Pinyin

pirocumulonimbus s.nw. | pirocumulonimbusse | (meteorologie) Ook pirokumulonimbus | pirokumulonimbusse | Vuurwolk groter as ’n pirocumulus: Pirocumulonimbus is een van die hoofoorsake van brande wat onverwags tot 40 km vanaf ’n brand met intense temperature ontstaan (Jan Horn, Vrye Weekblad, 10 Januarie 2020). | ENGELS: pyrocumulonibus pirocumulus
samestellings:
pirocumulonimbus(-)vuurstorm | pirocumulonimbus(-)wolk: Die warm lug wat opstyg, skep ook sy eie weerpatroon en lei tot die vorming van pirocumulonimbus-wolke. In effek is dit droë donderstorms wat tot intense weerligstrale lei. (Jan Horn, Vrye Weekblad, 10 Januarie 2020).


pirocumulus s.nw. | piromcumuli | (meteorologie) Ook pirokumulus | pirokumulusse, pirokumuli | Cumuluswolk gevorm deur die stygende hitte van ’n vuur, of versterk deur skoorsteenuitlaatgasse van nywerheidsverbrandingsprosesse. | SINONIEM(E): vuurwolk | ENGELS: pyrocumulus

pirokonveksie s.nw. [geen meervoud] (meteorologie) opwaartse beweging/stroming van lug in die atmosfeer wat deur ’n brand veroorsaak of versterk word: Die brande in Australië is só wild en warm dat dit op plekke hul eie weer skep. Dit staan bekend as pirokonveksie. Omdat die brand soveel hitte, wind en momentum opbou, ontstaan ’n vuurstorm (Elsabé Brits, Netwerk24, 13 Januarie 2020).

pis s.nw., ww. | het gepis | (plat)
UITDRUKKING(S):
’n man wat twee strale pis ’n man wat tot leuens geneig is en maklik sy storie verander: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


pissie s.nw. | pissies | (sleng, neerhalend, skertsend) iemand wat (maklik en/of gereeld) bang word of skrik: Hy is ’n regte pissie! (Corlietha Swart, Leesprogram, 18 Mei 2020). | SINONIEM(E): bangbroek | sissie | ENGELS: chicken | mouse | sissy
UITDRUKKING(S):
’n pissie wees vir bang wees vir: Ek is ’n pissie vir pyn (Wegkruipertjie, mywegkruipplek.wordpress.com, 25 Augustus 2017).


pitaja s.nw. | pitajas | pitajatjie | draakvrug

PK
afk.
1
politieke korrektheid.

2
polities korrek.

s.nw. [meervoud] (informeel) polities korrekte persoon: Deur die sogenaamde regte woorde en benamings te gebruik, glo die PK’s dat dit van hulle beter en meer “woke” mense maak (Mercy Kannemeyer, Vrye Weekblad, 14 Junie 2019). | ENGELS: PC


plafon s.nw. | plafonne | plafonnetjie | | ENGELS: ceiling
UITDRUKKING(S):
deur die plafon skiet (uit Engels) hemelhoog styg: Wag-wag, voor jul ouerlike bloeddruk deur die plafon skiet, moet ons net eers ’n tree terug gee (Jonathan Jansen, Vrye Weekblad, 17 Mei 2019 ). Die kwaaddoener sit en giggel in sy mou terwyl onskuldige ouers se stresvlakke deur die plafon skiet (Anena Burger, Kalahari Bulletin, 2 Junie 2016 ). | ENGELS: go through the roof


plastiekeiland s.nw. | plastiekeilande | plastiekafval wat in die see ophoop sodat dit die voorkoms van ’n drywende eiland aanneem, wat dikwels kilometers ver strek, onder meer in die Stille Oseaan-gebied: Die plastiekeiland in die Stille Oseaan, lees ek nou die dag, is al drie keer die grootte van Frankryk (Madeleine Barnard, Vrye Weekblad, 28 Junie 2019). Die plastiekeiland in die see groei by die dag, en steeds hou ons aan om nog ’n plastieksak by ’n winkel met ’n glimlag te aanvaar saam met ons inkopies, en om nie herbruikbare sakke saam te neem na kruidenierswinkels nie (Ingrid Steyn, Volksblad, 8 Junie 2019). | ENGELS: plastic island

plastieksop [geen meervoud] (figuurlik, informeel) groot hoeveelhede plastiekafval in die see wat deur seestrome byeengespoel word: Hulpbronne raak uitgeput, rommelhope groei omheen, die see raak ’n plastieksop (Erik Holm, Netwerk24, 26 Junie 2018). | ENGELS: plastic soup

platinum s.nw., b.nw.
platinum vos Ook platinumvos (figuurlik, informeel, skertsend) (aantreklike) middeljarige (of ouer) man met silwergrys hare: Kyk, ’n man met mooi kuite klits my hormone tot roereiers, en met die fietsresies het guite kuite per vierkante meter eksponensieel oornag gestyg. Meisies, […] moenie die Platinum Vosse (gryskoppe bo ’n gerieflike ouderdom) afskryf nie: hier sluip ’n paar […] rond (Elize Parker, Facebook, 8 Maart 2020). | ENGELS: platinum fox


pliebaadjie s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (informeel)
UITDRUKKING(S):
pliebaadjie aantrek pleit; soebat: Trek jy pliebaadjie aan en soebat vir nog ’n kans? (Anastasia de Vries, Vrye Weekblad, 11 Oktober 2019).

OORSPRONG:
Engels plea (bargain)


pliggie s.nw. | pliggies | [verkleinwoord] (informeel, skertsend, studentetaal) iemand met ’n sterk pligsgevoel, wat altyd by die reëls hou en doen wat van hom/haar verwag word: Kobus is so ’n pliggie dat hy nooit op ’n weeksaand saam ons ’n bier sal drink nie (Kobus Kotze in die groep “Taaltameletjies”, Facebook, 9 Mei 2019). Vir die verskoningskeppendes is daar darem die pliggies by wie jy dalk kan notas kry in ruil vir ’n bottel wyn of blik koffie of “eksamenpilletjies” (Colette Combrink, Wapad, 20 Oktober 2017). | ENGELS: goody-goody | goody two-shoes

plofwoord s.nw. | plofwoorde | plofwoordjie | woord waarvan die gebruik (kan) skok; woord waarvan die gebruik aanstoot (kan) gee: My smoel het nie brieke nie en hy is nie bang om die ou plofwoordjie van Antjie Krog in te span om sy misnoeë te kenne te gee nie (Deon Visser, Vrye Weekblad, 9 Augustus 2019). | SINONIEM(E): kragwoord | vloekwoord | ENGELS: expletive

plustens bw. (lekties) en daarby (ook nog): Ôs wiet ammel issie op social media nie, soe ek het beslyt om te gan waarie anne mense is. Mense koep klere, soe ôs het winkels oepgemaak [...] soema drie innie Kaap. Mense lies koerant, soe ôs het ’n aanlyn nuusplatform begin. Plustens, mense lies boeke oek, soe ôs het ’n boek gepublish (Bernie Fabing, LitNet, 28 Mei 2020).

podsending s.nw. | podsendings | opname soortgelyk aan ’n radiouitsending wat op die internet beluister of afgelaai kan word: Lê die toekoms dus in podsendings (oftel “potgooi”, die Afrikaanse woord vir “podcast” wat veral deur RSG gewildheid verkry het, maar wat hier vermy gaan word om dieselfde rede hoekom mens eerder nie die woord “toep” oor jou lippe laat kom nie)? (Annelize Visser, Vrye Weekblad, 19 Junie 2020). | SINONIEM(E): potgooi

poefsakkie s.nw. | poefsakkies | [verkleinwoord] (informeel) Ook poepsakkie
1
papier- of plastieksakkie vir ontlasting, gewoonlik dié van ’n hond of baba, saamgedra deur iemand wat in ’n openbare plek met ’n hond of baba gaan stap: Toe ek eendag met my hond, poefsakkie en al, gaan stap … (Die Burger, 13 Junie 2005). Gesosialiseerde honde (met poefsakkies) is welkom (Die Burger, 19 Mei 2015).

2
kolostomiesakkie: Gister kon ’n mens die poefsakkie sien wat met plastiekbuise aan sy lyf vasgemaak is (Christa Prinsloo, Die Burger, 3 Maart 2010).

3
(neerhalend, figuurlik) minagtende benaming vir iemand van wie die spreker ’n lae dunk het: In kort, poepsakkies wat álles in daai kar doen (meestal onwettig) wat hul aandag van hul driving aftrek (Albert Bakkes, Die Burger, 23 September 2011). | ENGELS: poo bag | poop bag


poenang b.nw., bw. poenankies

poenankies b.nw., bw. [verbuig nie] (informeel) Ook poenang mooi; oulik; fraai: Hulle het té poenankies gelyk. (Twitter). Te poenankies. Sy’s haar ma se poplap. (Twitter). te poenankies vir woorde (Twitter). ’n tamaai kind ma tog so poenankies (Twitter). Belhar sing tog te poenankies. (Twitter). Jy lyk te poenang! (Twitter). | SINONIEM(E): noenoes | ENGELS: cute
samestellings:
prentjie(-)poenankies prentjiemooi


poeplorrie s.nw. | poeplorries | (informeel, skertsend) riooltenkvoertuig waarmee menslike uitwerpsels verwyder word, byvoorbeeld uit dele van ’n dorp waar ’n ou rioolputstelsel nog nie deur ’n moderne rioleringstelsel vervang is nie: As daar ’n groot toeristegebeurtenis op Windpomp plaasvind, werk die arme manne wat die dorp se poeplorrie bestuur soms oor naweke ook (Madeleine Barnard, Vrye Weekblad, 3 Mei 2019). | ENGELS: night cart | night-soil lorry

poepsakkie s.nw. | poepsakkies | [verkleinwoord] (informeel) poefsakkie

poer-poer ww. | het gepoer-poer |
1
sonder veel moeite of sukses voortgaan: Moenie poer-poer nie. Maak klaar! Dit is jammer dat die spanninglose draaiboek grotendeels poer-poer en daarom in die hek duik (Christiaan Boonzaier, Netwerk24, 27 Desember 2019).

2
stadig en/of sukkelend ry: Die motortjie poer-poer oor die berg.

UITDRUKKING(S):
poer-poer agter die vragmotors op 'n oop stuk pad uit onkunde of luiheid nie veel moeite doen om vooruitgang te maak nie: Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020


poespas s.nw. [versamelnaam] mengelmoes: ’n Poespas van patriotte en dwarstrekkers – dis ons (Ismail Lagardien, Vrye Weekblad, 31 Mei 2019). | ENGELS: hodgepodge | mishmash

poetoepap s.nw. [dikwels verkort tot: poetoe] [geen meervoud] (SA, kookkuns) krummelrige mieliepap | SINONIEM(E): krummelpap | ENGELS: putu (pap) | phuthu | phutu | puto | uphuthu
OORSPRONG:
Van Zulu uphuthu dik pap met ekstra meel bygevoeg om dit krummelrig te maak, waarskynlik verwant aan die ideofoon putu om te verbrokkel, in stukkies te breek + Afrikaans pap.


poewasa s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (Islam) vastyd: Vir die Moslems is die vas tydens die maand Ramadan of poewasa een van die vyf pilare van hulle geloof Tydens poewasa is daar elke aand gebedebyeenkomste in die moskee. | SINONIEM(E): soum | ENGELS: (time of) fasting

POF afk. Padongelukkefonds. | ENGELS: Road Accident Fund | RAF

poliamoreus b.nw. | poliamoreuse | (soos) van ’n poliamoris; met betrekking tot of wat poliamorie betref; wat op ’n gegewe tydstip ’n intieme liefdesverhouding het met meer as een persoon, of wat so ’n leefwyse voorstaan: ’n poliamoreuse leefstyl Volhoubaarheid van poliamoreuse verhoudings word beperk deur die samelewingskonteks wat dit prakties moeilik maak, of mense wat met verkeerde verwagtinge by so ’n verhouding betrokke raak (Lynné Schoeman, Vrye Weekblad, 15 Mei 2020). | ENGELS: polyamorous
KYK OOK: poliamorie, poliamoris


poliamorie s.nw. [geen meervoud] leefstyl waarvan iemand wat dit aanhang, terselfdertyd en openlik gewikkel is in intieme liefdesverhoudings met verskillende mense wat kennis dra van mekaar, wat met die verskynsel of praktyk gemaklik is, wat ’n soortgelyke leefstyl volg of voorstaan, en wat vrywillig daartoe ingestem het: Daar is ’n stigma dat dit ’n klomp mense is wat in ’n harem saambly en net heeltyd seks het. Volgens V.D. gaan poliamorie egter oor liefde en “om meer as een persoon eties lief te hê” (Lynné Schoeman, Vrye Weekblad, 15 Mei 2020). Poliamorie is wanneer ’n mens met meer as een persoon op alle vlakke van liefde en intimiteit ’n verhouding en ’n lewe bou. C. beklemtoon dat dit nié poligamie (een man met meer as een vrou) is nie en ook verskil van bloot ’n “oop” verhouding (Lynné Schoeman, Vrye Weekblad, 15 Mei 2020). | ENGELS: polyamory
KYK OOK: poliamoris, poliamoreus

OORSPRONG:
Uit Grieks poli- meer, veel, baie + amor liefde.


poliamoris s.nw. | poliamoriste | iemand wat op ’n gegewe tydstip, openlik, intieme liefdesverhoudings het met verskillende mense wat almal van mekaar bewus is en ’n soortgelyke, eerlike poligam(ist)iese leefstyl aanhang of voorstaan. | ENGELS: polyamorist
KYK OOK: poliamorie, poliamoreus


polifaag b.nw. | polifae | (biologie) wat op verskillende voedselsoorte teer.
polifae boorkewer [afkorting: PBK] klein uitheemse kewer wat in Suid-Afrika tot plaag verklaar is, (Euwallacea nr. fornicatus), wat tonnels in bome boor, eiers daarin lê en ’n swam in die tonnels vrystel waarop die kleintjies voed wanneer hulle uitbroei. | SINONIEM(E): stompkopkewer | ENGELS: polyphagous shot hole borer | PSHB

KYK OOK: stompkopkewer


poli-gemeenskap s.nw. (informeel) gemeenskap van mense wat ’n poliamoreuse leefstyl aanhang/verkies: In Suid-Afrika is kenners dit eens dat dit byna onmoontlik is om die omvang van die poli-gemeenskap te bepaal, juis omdat mense verkies om nie met hul lewenstyl te koop te loop nie (Lynné Schoeman, Vrye Weekblad, 15 Mei 2020). | ENGELS: polyamorous society
KYK OOK: poliamoreus, poliamorie, poliamoris


pollo-pesketariër s.nw. | pollo-pesketariërs | persoon wat witvleis (hoender, eend, ensovoorts) en vis en ander seekos eet, maar geen rooivleis nie. | ENGELS: pollo-pescetarian | pollo-pescatarian
KYK OOK: pesketariër, pollotariër


pollo-pesketarisme s.nw. [geen meervoud] leefwyse, beginsel of praktyk waarby mense witvleis (soos hoender en eend), asook vis en ander seekos eet, maar geen rooivleis nie. | ENGELS: pollo-pescetarianism | pollo-pescatarism
KYK OOK: pesketariër, pollotariër


pollotariër s.nw. | pollotariërs | semi-vegetariër wat witvleis eet (soos hoender en eend), maar geen rooivleis nie. | ENGELS: pollotarian

pollotarisme s.nw. [geen meervoud] leefwyse, beginsel of praktyk waarby mense witvleis, soos hoender en eend eet, maar geen rooivleis nie | ENGELS: pollotarianism

pols ww. | het gepols | (uit Engels, kookkuns) met kort tussenposes in ’n voedselverwerker meng/klop/versap: Plaas die mieliepitte en heuning in ’n voedselverwerker en pols ’n paar keer tot goed gemeng (Errieda du Toit, Facebook, Julie 2019). Voeg die sjokolade-en-roommengsel by die avokadomengsel saam met die kakao en pols weer tot glad (Arina du Plessis, Landbouweekblad, 5 Julie 2019). Pols die aarbeie, grenadella, swartpeper en suurlemoensap tot ’n pulp en geur dit na smaak met sout en peper (Aletta Lintvelt, Weg, 31 Mei 2019). | SINONIEM(E): pulseer | ENGELS: pulse

pols-oksimeter s.nw. | polsoksimeters | (geneeskunde): Die Sondag neem my broer Stefaans vir haar ’n pols-oksimeter, ’n klein, goedkoop apparaatjie wat jy oor jou vinger klik wat die suurstofvlakke in jou rooibloedselle meet. (Party mense met die virus het ontstellend lae suurstofvlakke – tog is hul asemhaling steeds relatief normaal en hulle weet nie hulle is in lewensgevaar nie.) (Willemien Brümmer, Netwerk24, 12 Junie 2020). oksimeter

pols-oksimetrie s.nw. [geen meervoud] (geneeskunde) metode vir die meting van suurstofversadiging, dit is hoeveel suurstof daar in die bloed van ’n pasiënt is | ENGELS: pulse oximetry

popstront s.nw. [geen meervoud] (plat) iets van minderwaardige gehalte, wat maklik breek of beskadig word: ’n Ligte “doef” en die skade is sigbaar aan die linkerkant op die kar, gemaak van popstront (Elsabé Brits, Facebook, 4 Maart 2020).

pot s.nw. [geen meervoud] (uit Engels, informeel) dagga

PPE akr. [Engelse afkorting: personal protective equipment] PBT

Prasa s.nw. [afkorting van: Passenger Rail Agency of South Africa] [geen meervoud] Passasierspooragentskap van Suid-Afrika.

predikant s.nw. | predikante | predikantjie |
UITDRUKKING(S):
Hy wil predikant wees, maar die duiwel betaal sy salaris Hy hou hom vroom, maar agteraf is hy boos: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


presisieboerdery s.nw. [geen meervoud] geoutomatiseerde landbou waarby tegnologie en inligtingstegnologie (GPS; grond- en lugsensors in die vorm van hommeltuie en satelliete; rekenaars as deel landbouvoertuie en -masjiene, en so meer) op verskillende maniere suksesvol aangewend word om doeltreffendheid te verhoog: “[P]resisieboerdery” is dalk een van die nuutste gonswoorde in die landbou, maar dit is glad nie ’n nuwe konsep nie. […] Toe die jagter-versamelaars ongeveer 12 000 jaar terug besluit het om die landbou te vestig, het hul daadwerklik reeds die proses van presies boer aan die gang gesit in hul strewe tot die inkorporering van die nuutste tegnologie van die dag om hul voortbestaan te verseker (Edrean Ernst, Landbouweekblad, 22 Maart 2019). Kort daarna het presisieboerdery ’n groot sprong geneem met toerusting wat boere in staat stel om inligting oor ’n oes met satelliettegnologie vanaf ’n werktuig te bekom sodat hulle uit die vorige oes se ervaring kan leer en daarop verbeter (Charl van Rooyen, Landbouweekblad, 5 April 2019). | ENGELS: precision agriculture | PA | satellite farming | site specific crop management | SSCM

pret s.nw. [geen meervoud]
vet pret groot pret: Uys Krige het dekades gelede gesê: “Die lewe is alleen draaglik as ’n mens ’n bietjie dronk is.” Ek dink dieselfde geld karaoke. Maar dit is dan meer as draaglik, dit is sommer vet pret (Erns Grundling, Vrye Weekblad, 11 Oktober 2019). | Engels: great fun


Pretoors s.nw. [geen meervoud] (informeel, skertsend) Pretoria: Vryheidsfront Plus in Pretoors (Vrye Weekblad, 3 Mei 2019).

pretpedagogie s.nw. [geen meervoud] leer waarvolgens die onderwys wat aan skoolgaande kinders gebied word, eenvoudig, toeganklik en bowenal pret moet wees.

priemkebab s.nw. | priemkebabs | (kookkuns) sjasjlik

prikwater s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (Nederlands) (mineraal)water waarby koolsuurgas onder druk gevoeg is: Die twee glase prikwater met ys en suurlemoenskyfies rinkel (Etienne van Heerden, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, 2019). | ENGELS: sparkling water

promessie s.nw. [gewoonlik enkelvoud] proses waarby die oorskot van ’n mens of dier gevriesdroog en tot stof verwerk word: Die meer makabere postmoderne hantering van ontslapenes is vir my egter in promessie – ’n nuwe ekologies bewuste droogvriesproses wat in 1999 in Swede gepatenteer is. Met dié ysingwekkende metode word die liggaam in vloeibare stikstof gedompel waarna dit so bros is dat dit met vibrasies tot fyn poeier geskud word, uitgedroog word en in ’n bio-afbreekbare kissie begrawe word (Rhynie Greeff, Beeld, 21 April 2008). | SINONIEM(E): kiromasie

psigolinguistiek s.nw. [geen meervoud] (taalkunde) vertakking van die linguistiek wat fokus op hoe taal in mense se koppe (psige/verstand) verwerk word (byvoorbeeld aangeleer word). | ENGELS: psycholinguistics

psilosibiensampioen s.nw. | psilosibiensampioene | Ook (uit Engels, informeel) magiese sampioen, towersampioen versamelnaam vir verskillende paddastoelsoorte wat die kristallyne alkaloïed psilosibien bevat wat ’n psigedeliese uitwerking het op gebruikers wat dit in klein hoeveelhede inneem: Die aktiewe bestanddeel wat magiese sampioene so magies maak – die psigedeliese dwelm psilosibien – is een stap nader aan ’n wettige behandeling vir moeilike gevalle van depressie (af.worldnewsnetwork.uk, 25 Oktober 2018). Psilosibien wat in sogenaamde magic mushrooms voorkom, kan heel moontlik suksesvol ingespan word in die behandeling van depressie en verslawing (Leonie Joubert, 17 Mei 2019). | ENGELS: psilocybin mushroom | psychedelic mushroom | magic mushroom

punt-in-die-wind- woorddeel [attributief] (informeel, skertsend) Ook punt in die wind [predikatief] met ’n punt of punte wat regop staan of (skeef) uitsteek: Daar is die narsistiese polkadotkoek met die grandiosity complex en sjokolade-ganache en punt-in-die-wind-sjokoladeskerwe (Henk Serfontein, Vrye Weekblad, 17 Mei 2019). En moenie jou langsteelblomme te vinnig korter knip nie; ’n steel wat punt in die wind staan, is net die ding vir ’n informeler rangskikking (Hermien Coetzee, Tuis, September 2015).

p-woord s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (eufemisties vir die woord poes, indien die gebruiker dié woord as beledigend/kwetsend beskou en dit daarom probeer vermy) : Teen 07:00 wanneer ek myself oorgee aan road rage en die p-woordjie, het ek al lankal vergeet van my poging om ’n goeie mens te wees (Deon Visser, Vrye Weekblad, 9 Augustus 2019 ).