Indeks | A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z | 1 | 2 | 3 | 4 | 5


OBK afk. [afkorting van: Openbare Beleggingskorporasie] | ENGELS: Public Investment Corporation | PIC

ODF afk. [Engels: Organ Donor Foundation of South Africa] Orgaanskenkerstigting van Suid-Afrika.

oek bw. (lekties) ook: Hulle het soema die kitaar oek gevat (Zavey Goliath, “hulle het ko vat” ). Dan gan sy wee kom en vra wat is slavery, dan moet ek dai oek vedydelik (Nathan Trantraal, Rapport, 26 Mei 2019). | ENGELS: also | as well | too

oemf s.nw. [geen meervoud] (informeel) invloed; impak; trefkrag; uitwerking: Kort voor lank het dagga nie meer genoeg oemf nie en word daar met opiate en ander dwelmmiddels geëksperimenteer (Heinz Mödler, Rapport, 23 September 2018). | ENGELS: oomph

oepsie s.nw. | oepsies | [verkleinwoord] (kookkuns) glanskersies, dadels, pikante rissies of kersietamaties toegedraai in strepiespek en op ’n stokkie geryg en gebraai: Dan braai jy die oepsies oor die kole ... Heerlike voorgereg so van die kole af! (Peter van Noord, Facebook, 23 Junie 2020). Hier is ook ’n verskeidenheid varkvleisprodukte en dis veral lekkernye soos die oepsies en die gevlegte varkspeksosaties wat as braaivoorgereg jou buurman gaan jaloers maak (Toast Coetzer, Weg!, 20 September 2019). ’n Maklike manier om te sorg dat elkeen sy porsie kry, is om die repe spek met glanskersies, dadels, pikantrissies gevul met roomkaas, of kersietamaties op stokkies te ryg en dan te braai of bak. Dié verleidelike oepsies lyk nie net pragtig nie, dit help ook met porsiebeheer (Johané Neilson, Tuis, 17 September 2018).

Oeso afk. Ook OESO Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling | ENGELS: Organisation for Economic Co-operation and Development | OECD

oggendmens s.nw. | oggendmense | persoon wat die wakkerste en aktiefste is in die loop van die oggend en later in die dag traer, soms lomerig voel : Jy hoef nie ’n supervrou of selfs ’n fantastiese oggendmens te wees nie, maar ma wees hoef ook nie ’n verskoning te wees om nie ’n onderneming te begin nie (Grethe Roets, Baba en Kleuter, 22 Julie 2019 ). Ek is nie ’n oggendmens nie, ek ontwaak eers in die motor (Haidee Muller, Netwerk24, 6 April 2019). | ENGELS: morning person

Okosa akr. Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika. | ENGELS: Independent Communications Authority of South Africa | ICASA

oksimeter s.nw. | oksimeters | (geneeskunde) mediese instrument waarmee daar, deur die apparaat aan ’n vinger of oorlel vas te knyp, gemeet word hoeveel suurstof daar in ’n pasiënt se bloed is: Die suurstofversadiging in ’n mens se bloed moet minstens 95% wees. ’n Oksimeter, wat byna soos ’n groot wasgoedpennetjie lyk wat aan ’n mens se wysvinger vasgeklem word, meet dié vlakke indirek. Die direkte meting word gedoen deur ’n bloedmonster te neem (Elsabé Brits, Vrye Weekblad, 8 Mei 2020). | SINONIEM(E): pols-oksimeter | ENGELS: oximeter

olielap s.nw. | olielappe |
UITDRUKKING(S):
met ’n olielap vure slaan vrede probeer bewerkstellig, maar sake net vererger en/of self in die spervuur beland: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


olifant s.nw. | olifante | olifantjie | baie groot dier  
UITDRUKKING(S):
die olifant in die vertrek (uit Engels) die ooglopende/duidelike/klaarblyklike probleem, waaroor niemand wil praat nie, wat deur almal geïgnoreer word: Wêreldleiers wat die olifant in die vertrek ignoreer in die naam van mag, gewildheid en profyt (Madeleine Barnard, Vrye Weekblad, 28 Junie 2019). Wantroue bly egter die olifant in die vertrek: die boere vertrou nie die staat nie, die staat vertrou nie die privaat sektor nie (Piet Croucamp, Vrye Weekblad, 2 Augustus 2019). In dieselfde uitgawe skryf Tim du Plessis oor die olifant in die vertrek – hoe wit mense steeds met die verlede omgaan sonder ’n opregte besef van onreg. As dit waar is, hoe kry ons die olifant uit die vertrek? (Wilhelm Jordaan, Netwerk24, 3 Februarie 2016). | ENGELS: the elephant in the room


OLV afk. onbemande lugvaartuig | ENGELS: unmanned aerial vehicle | UAV
KYK OOK: dreuntuig


OMB- afk., woorddeel omgewings-, maatskaplike en bestuurs-: Sy sê dit gaan egter oor veel meer as net finansiële verslagdoening, maar ook oor omgewings-, maatskaplike en bestuurs- (OMB-) kwessies (Elvira Wood, Netwerk24, 27 Mei 2019). Ook in Suid-Afrika, begin beleggers daarop aandring dat fondsbestuurders beleggingskeuses uitoefen wat voldoen aan die sogenaamde omgewings-, maatskaplike en goeie bestuursvereistes (OMB-verantwoordelikhede). OMB-beleggingsbeginsels beteken dat geld belê word in fondse waarvan die onderliggende maatskappye omgewingsvriendelik is deurdat hulle geen of ’n lae koolstofdioksied-spoor het, of selfs fondse wat mense- en diereregte eerbiedig (Rapport, 7 Julie 2019). | ENGELS: environmental, social and governance | ESG

omgewingsaktivis s.nw. | omgewingsaktiviste | Iemand wat met ywer deelneem aan of self sosiale of politieke veldtogte voer wat ten doel het om (verdere) skade aan die omgewing en die aarde te verhinder: Die Hollywood-akteur Leonardo Di­Caprio, wat ook ’n omgewingsaktivis is, bestempel die reusebrande in die Amasone-reënwoud as “ongelooflik tragies” (Die Burger, 28 Augustus 2018). Omgewingsaktiviste kritiseer die spesiale teel van wild met kleurvariasies of vir groot horings, en sommige jagters meen daar word op onnatuurlike wyse in die genepoel ingemeng (Riana de Lange, Rapport, 13 Maart 2017). | SINONIEM(E): ekoaktivis | ekostryder | (informeel) boomomhelser | ENGELS: environmental activist | eco-activist

omgewingsangs s.nw. [geen meervoud] angs oor die onomkeerbare skade wat die mens die natuur en die aarde deur sy leefwyse berokken: Omgewingsangs is deesdae ’n ding. As ʼn mens deur sosiale media blaai, word jy konstant gekonfronteer met wat mense besig is om aan die planeet te doen (Madeleine Barnard, Vrye Weekblad, 28 Junie 2019). lees ek nou die dag ’n artikel oor die toename in omgewingsangs, of eko-angs, by mense. Dit is ’n wesentlike en verstaanbare psigologiese toestand vanweë vrese oor wat die impak van klimaatsverandering op die ekologie en uiteindelik die mens se oorlewingsvermoë gaan wees (Ronelle Rademeyer, Republikein, 18 Januarie 2019). | SINONIEM(E): ekovrees | ENGELS: environmental angst

omgewingstres s.nw. [geen meervoud] (psigiatrie en psigoanalise)
1
stres wat by iemand ontstaan as gevolg van bepaalde situasies, toestande, gevare in sy/haar omgewing: [Die] wêreldbekende professor in psigiatrie […] sê dit is inderdaad so dat die nagevolge van omgewingstres – soos byvoorbeeld vrees vir aanranding of verkragting – ’n blywende impak op mense se denke, gedrag en geestesgesondheid kan hê (Rozanne Els, Vrye Weekblad, 15 November 2019).

2
benadeelde werking van ’n gebruiksartikel of voorwerp as gevolg van ’n situasie, veranderlike of omstandigheid in die omgewing waar dit gebruik word, voor bestem is of normaalweg funksioneer: Die Amerikaanse militêre standaard (MIL-STD-810) is ingestel om ’n reeks toetse te bied wat simuleer hoe materiale omgewingstres deurstaan gedurende hul bedryfsleeftyd. Uiteraard is toetse op ’n baadjie nie dieselfde as die toetse waaraan ’n telefoon onderwerp word nie, maar daar is agt MIL-STD-810-toetse wat gebruik word om te bepaal of ’n selfoon regtig duursaam is (Landbouweekblad, 4 Oktober 2019). | ENGELS: environmental stress


omkyktwak s.nw. [geen meervoud] (informeel, skertsend) dagga


ondernemingsredding s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (ekonomie, handel) verrigtinge om die rehabilitasie van ’n maatskappy wat in finansiële nood is, te fasiliteer deur voorsiening te maak vir:
(i) tydelike toesig oor die maatskappy en bestuur van sy sake, bedrywighede en eiendom;
(ii) ’n tydelike moratorium op die regte van eisers teen die maatskappy of ten opsigte van eiendom in sy besit; en
(iii) die ontwikkeling en implementering ... van ’n plan om die maatskappy te red deur sy sake, bedrywighede, eiendom, skuld en ander laste, en ekwiteit sodanig te herstruktureer dat die waarskynlikheid dat die maatskappy op ’n solvente grondslag sal voortbestaan gemaksimaliseer word of, indien dit vir die maatskappy onmoontlik is om voort te bestaan, sal lei tot ’n beter opbrengs vir die maatskappy se skuldeisers of aandeelhouers as wat uit die onmiddellike likwidasie van die maatskappy sou voortspruit
: (artikel 128(1)(b) van die Maatskappywet 71 van 2008, wat op 1 Mei 2011 in werking getree het). Die graanverhandelaar en produksiefinansier wat einde verlede jaar in ondernemingsredding geplaas is, is gelikwideer ná die Land Bank sy steun onttrek het (Marleen Smith, Landbouweekblad, 21 April 2016 ). | SINONIEM(E): sakeredding | ENGELS: business rescue

samestellings:
ondernemingsredder


ongeleide missiel woordgroep | ongeleide missiele | missiel


ongeleide projektiel woordgroep | ongeleide projektiele | missiel

onomatopee s.nw. [geen meervoud] | SINONIEM(E): klanknabootsing | ENGELS: onomatopoeia

 LUISTER
KYK OOK: klanksimboliek, klankskildering

Jana Luther  



onthaasting s.nw. [geen meervoud] (neologisme) handeling of proses van iets doelbewus stadiger, met minder haas te doen: Ek het onlangs na ’n radio-onderhoud geluister waarin daar van “onthaasting” gepraat is – dit beteken dat ’n mens stadiger moet leef (Melodie van Wyngaardt Veldhuizen, in die groep Taaltameletjies, FB, 16 Oktober 2019).

ontie s.nw. [verkleinwoord] (informeel) onderbroek(ie): Ontmoet die man agter Faf se ontie (Kuier, 3 Februarie 2020). Ek het na die boonste deel van my hut gegaan, en daar in my ontie gesit en my hamburger geëet (Piet Matipa, Netwerk24, 25 November 2017). | ENGELS: (pair of) underpants

ontlaer ww. | het ontlaer | (figuurlik) wegbreek uit ’n laer (= groep mense wat aan mense laat dink wat in 'n historiese kamp, soos dié van trekkers met ossewaens byeen is); ’n laer opbreek/ontbind: As die Afrikaanse letterkunde nie ontlaer nie, kan sy nie – nee, durf sy nie – voortlewe nie, seg die beriggewer (Anastasia de Vries, Vrye Weekblad, 31 Januarie 2020).
afleiding(s):
ontlaering: Elders berig iemand oor ’n konferensie waar die ontlaering van Afrikaans deurdink is (Anastasia de Vries, Vrye Weekblad, 31 Januarie 2020).


ontrommel ww. | het ontrommel | van rommel ontslae raak: Ontrommel elke ses maande (Beatrice Moore-Nöthnagel, Tuis, 13 Januarie 2020). Marie Kondo ontrommel graag. In haar nuwe TV-program help sy ander om orde te skep (Shanaaz Prince, Huisgenoot, 31 Januarie 2019). | ENGELS: declutter

ontsmettingstonnel s.nw. | ontsmettingstonnels | struktuur soos ’n tonnel of gang, toegerus met spuit- of stuifkoppe wat oor mense wat daar deurstap, ’n ontsmettingsmiddel laat neersif as poging om die verspreiding van ’n virussiekte te bekamp: Die Russiese premier het ’n ontsmettingstonnel by sy woning laat aanbring (RSG, 17 Junie 2020). ’n Ontsmettingstonnel, maskers, gesigskerms en handreinigers kos baie geld en is nou deel van die maatskappy se uitgawes (Alet van der Walt, Netwerk24, 14 Mei 2020). Kenners meen tegnologie soos ontsmettingstonnels is op die lange duur nie doeltreffend om die koronavirus dood te maak nie (Isabel Venter, Netwerk24, 13 Mei 2020). ’n Ontsmettingstonnel is by die ingang van die taxistaanplek geplaas. Pendelaars wat deur die tonnel loop, word met ’n miswolk van ontsmettingsmiddels bespuit (Isabel Venter, Netwerk24, 12 Mei 2020). | ENGELS: disinfection tunnel

ontsnapspel s.nw. | ontsnapspelle | ontsnapspeletjie | rekenaarspeletjie, of spel in die werklikheid, waarin deelnemer(s) (in die werklikheid binne ’n vooraf bepaalde tyd) ’n manier moet vind om uit ’n geslote vertrek of ander ruimte te ontsnap. | ENGELS: escape game

ontwerpershond s.nw. | ontwerpershonde | ontwerpershondjie | buitengewone hondsoort wat geteel word deur verskillende rasse te kruis: Die “corman shepherd” is ’n kruis tussen ’n Duitse herdershond en ’n Walliese corgi. Dié honde word die afgelope 15 jaar as ontwerpershonde geteel (Huisgenoot, 18 Oktober 2019). Dierebeskermingsverenigings, moedig mense aan om honde aan te neem pleks daarvan om sogenaamde ontwerpershonde te koop. | ENGELS: designer dog

ontwikkelingstaat s.nw. | ontwikkelingstate | staat met ’n onafhanklike leierskorps wat deur die aanstelling van neutrale amptenare en tegnokrate makro-ekonomiese ontwikkeling voorop stel en bevorder deur beleidsbesluite suksesvol te implementeer: die hernuwing en opbou van ’n bekwame en opregte ontwikkelingstaat en ’n maatskaplike kontrak (Sarel van der Walt, Netwerk24, 4 Junie 2019). Privatisering is vervang deur die regering se verbintenis tot die sogenaamde ontwikkelingstaat, waarin staatsondernemings ’n kernrol moet speel om transformasie aan te dryf (Francois Williams, Netwerk24, 21 September 2016). | ENGELS: developmental state | hard state

opgetrek b.nw.
UITDRUKKING(S):
opgetrek met iets wees (informeel) in jou skik met iets wees: Sy was so opgetrek met haar vetplant, dat sy dit […] in ’n mooi nuwe potjie wou oorplant. En dis toe dat sy uitvind dat die plant waarna sy al ’n volle twee jaar so liefdevol omgesien het, glad nie ’n regte plant is nie (Meghan Lawrence, Netwerk24, 4 Maart). | ENGELS: be pleased with something


opgie ww. gie op | het opgegie | (lekties) opgee: Moenie somma worry en opgie nie (Jeremy Vearey, Vrye Weekblad, 5 April 2019). Jy weet sy het opgegie as sy die phone optel met “Sorry” (But Kaantie, Facebook, 20 Februarie 2018).

Opod akr. Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat. | ENGELS: Independent Police Investigative | Ipid

oppervlakweb s.nw. [geen meervoud] (rekenaar, internet) die internet: Daar is ’n magdom inligting oor die donker web op die oppervlakweb te vind, waarby ’n mens liefs moet volstaan. Jy wil nie in daardie donker vreesaanjaende hole navigeer nie (Fanie Viljoen, Netwerk24, 17 Junie 2020). Die oppervlakweb is basies die internet soos die meeste van ons dit ken en gebruik. Enigiets wat opduik in ’n soektog deur Google of Bing of ’n ander soekenjin is deel van die oppervlakweb. Die betrokke inligting word normaalweg iewers op ’n databasis geberg, en ’n gewone swerfprogram soos Chrome, Edge of Firefox kan gebruik word om daarby uit te kom sonder dat spesiale magtiging of wagwoorde nodig is (Willem Kempen, Vrye Weekblad, 17 Julie 2020). | TEENOOR: diep web | donker web | ENGELS: surface web
KYK OOK: web


oppie sametrekking ie

oppotskaamte s.nw. [geen meervoud] gevoel van iemand wat in ’n krisissituasie redelik baie voorraad aankoop om later, in geval van moontlike skaarste, genoeg te hê, en dan skaam kry wanneer ander dié opgaardrang veroordeel.
KYK OOK: hamster


opsmêsh ww. smêsh op | het opgesmêsh | (uit Engels, informeel, skertsend) smêsh

opsmêsj ww. smêsh op | het opgesmêsh | (uit Engels, informeel, skertsend) smêsh

opsnol ww. snol op | het opgesnol | (informeel) ophardloop: Ek het teen die trap opgesnol en aan Chris Roos se deur gehamer (Tinus Horn, Droster, 1997). | ENGELS: run up
KYK OOK: snol


oranje b.nw.
UITDRUKKING(S):
in oranje oorpakke wees in die tronk wees: Die wiel van geregtigheid draai stadig, veral in Suid-Afrika, maar daar is ’n kans dat [die twee] dan al óf in die beskuldigdebank óf in oranje oorpakke sal wees (Max du Preez, Vrye Weekblad, 19 Junie 2020).


organoïed s.nw. | organoïede | Ook organoïde | organoïdes |
kunsmatig gekweekte sel- of weefselstruktuur wat soos ’n orgaan lyk en/of die werking van ’n orgaan naboots
: ’n Eenvoudige nier is in die laboratorium uit stamselle gekweek. Dié nier staan bekend as ’n organoïed, omdat dit nie ’n volgroeide orgaan is nie, maar soos ’n embrioniese nier wat nog ten volle moet ontwikkel (Elsabé Brits, Netwerk24, 8 Oktober 2015). | SINONIEM(E): mini-orgaan | ENGELS: organoid


ôs vnw. (lekties) ons: Hulle vat somma ôsse amandelboeme en bou 'n muur om ôs van hulle te skei (Jeremy Vearey, Vrye Weekblad, 5 April 2019 ). | ENGELS: our
KYK OOK: ôsse


oshana s.nw. | oshanas | (Namibië) leë, vlak, droë pan of rivierloop wat wanneer dit reën periodiek vol water loop: Hoewel die Etoshapan reeds water gekry het en sommige oshanas in die Noorde water bevat, is dit nog te vroeg om te sê of ’n efundja vanjaar sal afkom (Elvira Hattingh, Republikein, 31 Januarie 2020). As jy die naam “Ondonga” hoor, moet jy weet jy is by die einde van die Oshanastreek in die noorde van Ovamboland. As jy “Ondangwa” sê, sê jy eintlik: “Hier eindig die oshanas.” Vorentoe is daar nie meer oshanas nie – vlak panne waarin reënwater in die reënseisoen opdam (Maretha Maartens, Bethel se berg, 2020). | ENGELS: oshana
OORSPRONG:
Oshiwambo: pan; komvormige holte in die grond.


OSMR akr. [afkorting van: outo-sensoriese meridiaanrespons] sensasie gekenmerk deur ’n aangename, strelende sensoriese meridiaanrespons, dit is ’n tintelende gevoel wat agter op die kop begin en langs die nek en rug afloop, wat by sommige mense veroorsaak kan word deur sekere visuele, gehoor- of tasbare stimulusse, soos ’n sagte fluistering, ’n gekraak, of die geluid, gevoel of waarneming van ’n bepaalde handeling of aktiwiteit: Nie almal is ewe sensitief vir ASMR nie en dit kan nie beheer word nie. Party mense ervaar die tinteling minder sterk as ander, of glad nie. | SINONIEM(E): (informeel) breinorgasme | ENGELS: autonomous sensory meridian response | auto sensory meridian response | ASMR

ôsse besitlike voornaamwoord (lekties) ons; onse: Anwaar en sy tjommies het heeldag en nag byte ôsse hek gestaan. (Chase Rhys, Kinnes, 2018). Vrydagaan, ek ennie Butcher Boys het in ôsse karre innie skiem rondgeskarrel (Chase Rhys, Kinnes, 2018). | ENGELS: our
KYK OOK: ôs


ouboeja s.nw. | ouboejas | (Maleis) grootvader; oupa. | ENGELS: grandfather

ouderdomsdiskriminasie s.nw. [geen meervoud] diskriminasie teen iemand op grond van sy/haar (gewoonlik gevorderde) ouderdom: Ouderdomsdiskriminasie skep ’n drogbeeld wat daartoe lei dat die meeste mense nie voorbereid is op hierdie fase nie, dat dit nie oordink word nie, en dat mense nie regtig met die idee van oud word wil omgaan nie (Rayne Stroebel, Vrye Weekblad, 17 Mei 2019). “Ek veg nou teen ouderdomsdiskriminasie; ek word gestraf omdat ek 60 is” (Madonna, aangehaal deur Nici de Wet, Huisgenoot, 23 Mei 2019). Al bestaan wetgewing teen ouderdomsdiskriminasie in die meeste beskaafde lande, Suid-Afrika ingesluit, word dit feitlik nêrens toegepas nie, waarskynlik omdat diskriminasie teenoor ouer mense meestal as sosiaal aanvaarbaar gereken word (Annelize Visser, Vrye Weekblad, 7 Junie 2019). | ENGELS: ageism | agism

oudiobiblioteek s.nw. | oudiobiblioteke | oudioteek

oudioteek s.nw. | oudioteke | [verkorting van: oudiobiblioteek] versameling luisterboeke en/of ander klankopnames vir algemene of besondere gebruik: Van Suid-Afrika se beste stemkunstenaars wat romans en teaterstukke in Afrikaans voorlees met opnames in ander inheemse tale wat ook in die vooruitsig gestel word. Dit belowe die skeppers van BiB, die eerste oudioteek eksklusief vir Afrika-inhoud (Netwerk24, 1 September 2020). | ENGELS: audio library

Outa akroniem [Engels: Organisation Undoing Tax Abuse] Organisasie teen Belastingmisbruik.

outjie s.nw. | outjies | [verkleinwoord] | ENGELS: chap | fellow | boy
UITDRUKKING(S):
elke outjie maak ’n foutjie almal begaan soms foute: En ja, ek weet – elke outjie maak ’n foutjie. Maar vir agt jaar aaneen? Dit klink vir my na ’n keuse (Mercy Kannemeyer, Vrye Weekblad, 17 Mei 2019).


outo-sensories b.nw. | outo-sensoriese |
outo-sensoriese meridiaanrespons OSMR


ovo-lakto-vegetariër s.nw. | ovo-lakto-vegetariërs | vegetariër wat nie rooivleis eet nie, nie hoender of enige ander voël nie, ook nie vis of enige ander seedier nie, maar wel melkprodukte (lakto-) en eiers (ovo-) by sy/haar dieet insluit. | ENGELS: ovo-lacto vegetarian

OWO afk. openbare weldaadsorganisasie: Indien jou maatskappy goedkeuring wil ontvang as 'n openbare weldaadsorganisasie moet jy aansoek doen by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) (www.gov.za). | ENGELS: public benefit organisation | PBO