Indeks | A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z | 1 | 2 | 3 | 4 | 5


nabyheidsleer s.nw. [geen meervoud] studie van hoe mense die ruimte om hulle ervaar en gebruik, hoe die afstand tussen mense hulle gedrag, kommunikasie en sosiale interaksie beïnvloed: Daar is ’n groot kulturele komponent verbonde aan hoe gemaklik jy daarmee voel om naby ander mense te wees. Die antropoloog Edward T. Hall het ’n studie gedoen van wat hy die nabyheidsleer (proksemika) noem. Daarmee het hy die verwagtinge van persoonlike ruimte oor die wêreld heen probeer bepaal (Netwerk24, 20 Julie). | SINONIEM(E): proksemika | ENGELS: proxemics

NAD afk. [afkorting van: nikotinamied-adenien-dinukleotied] (biochemie) koënsiem wat as elektrondraer in selle funksioneer. | ENGELS: nicotinamide adenine dinucleotide | NAD

namibifiseer ww. | het namibifiseer | [soms met hoofletter] maak/word soos in Namibië; Namibies maak/word; na Namibiese voorbeeld verander (word).
samestellings:
namibifisering: ’n poging om voorheen benadeelde Namibiërs deur die Namibifisering van mariene hulpbronne te bemagtig deur plaaslike eienaarskap en deelname (John Grobler, Vrye Weekblad, 14 Februarie 2020).


nanosatelliet s.nw. | nanosatelliete | [soms verkort tot: nanosat] miniatuursatelliet met ’n massa van tussen 1 kg en 10 kg: Die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) spog nou met twee nanosatelliete wat om die aarde wentel (Ischke de Jager, Netwerk24, 28 Desember 2018). Die ZACube-2-nanosatelliet is 10 cm x 10 cm x 30 cm groot en weeg 3,5 kg. Dit sal met sy kamera onder meer opnames van die mariene lewe langs die kus doen en proaktief bos- en veldbrande help opspoor (Ischke de Jager, Netwerk24, 28 Desember 2018). | ENGELS: nanosatellite
KYK OOK: miniatuursatelliet


narrie sametrekking ie

nawete s.nw. [gewoonlik enkelvoud] besef waartoe gekom word by nabetragting: Waarvoor 2020 onthou sal word, is voorspelbaar. Wanneer dit eendag deel van die geskiedenis is, sal nawete se wysheid wys wat die groot ontwrigter was – Covid-19 of grendeltyd se skade (Gert Coetzee, Netwerk24, 14 Mei 2020). Jy weet, met die wysheid van nawete dink ek ek moes gevra het [...] (Netwerk24, 18 April 2020). Vandag, met die wysheid van nawete, kan ons egter insien hoe swak die regering se hand eintlik was (Johann Kriegler, Rapport, 3 Maart 2019). | ENGELS: afterknowledge

NDOV afk. nasionale direkteur van openbare vervolging. | ENGELS: national director of public prosecution | NDPP

Necsa akroniem [Engels: Nuclear Energy Corporation of South Africa] Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika.

Nedlac akr. [Engels: National Economic Development and Labour Council] Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad.

neksus s.nw. | neksusse | aansluiting/verbinding/konneksie of ’n netwerk van aansluitings/verbindings/konneksies tussen ’n aantal mense, dinge of idees: Sel-sel-kommunikasie word moontlik gemaak deur neksushegtingkomplekse. Neksusse of die gapingshegtingstipe laat vinnige kommunikasie vir gekoördineerde reaksies toe (histoweb.co.za). Ingevolge die water-energie-voedsel-neksus word daar in die konteks van waterbestuur aandag gegee aan veranderings wat plaasvind wanneer water, energie en voedsel in ’n geïntegreerde konteks bestuur word (Johann Tempelhoff, Netwerk24, 13 Maart 2018). Volgens die verslag is dit die neksus van seksisme en ouderdomsdiskriminasie wat ouer vroue uit die werkmag verdryf, onder meer omdat voorkoms vir vroue belangriker geag word as vir mans (Annelize Visser, Vrye Weekblad, 7 Junie 2019). | ENGELS: nexus

nemma bw. (lekties) nou-nou; nou-nou-maar; nou-nou-maartjies: Ma’ wag, ek kannie lang bly nie, nemma rys my koesiesters wee’ tot vas tienie dak. Ek sien jou nemma wee’ (Zulfah Otto Sallies, Diekie vannie Bo-Kaap, 1997). Nurah skel nemma wee (Facebook). | ENGELS: at any moment

Nersa akroniem [Engels: National Energy Regulator of South Africa] nasionale energiereguleerder.

net s.nw. | nette |
donker net Ook donkernet
1
netwerk wat geënkripteerde data van anonieme gebruikers via verskeie bedieners stuur, waarby elke bediener ’n “laag” van die kode ontsyfer totdat die eindbestemming bereik word: [’n Groot gedeelte] van die donker web bestaan uit sogenaamde donkernette wat wissel van klein netwerke wat onderling tussen individue bedryf word, tot by groter netwerke […] Verreweg die gewildste hiervan is die Tor-netwerk, wat ook as onionland bekendstaan omdat dit anonimiteit moontlik maak deur ’n tegniek bekend as onioning oftewel onion routing (Willem Kempen, Vrye Weekblad, 17 Julie 2020). | ENGELS: darknet

2
donker web web


neurogiditeit s.nw. [geen meervoud] Ook neurologiese rigiditeit onvermoë van die brein om nuwe neurologiese paaie in die harsings te vorm: Te veel ouer mense sit met neurogiditeit waar (die denkprosesse) pal dieselfde paadjies volg, amper soos met ’n ou langspeelplaat waar die naald vasgehaak het (Arien van der Merwe, Huisgenoot, 13 Desember 2018). | TEENOOR: neuroplastisiteit | ENGELS: neurological rigidity | neuro-rigidity
KYK OOK: neuroplastisiteit

OORSPRONG:
Uit neurologies + rigiditeit.


neurolinguistiek s.nw. [geen meervoud] (taalkunde) vertakking van die linguistiek wat fokus op die fisiologiese prosesse van taalverwerking in die brein. | Engels: neurolinguistics

neuroplastisiteit s.nw. [geen meervoud] deurlopende vorming van neurologiese paaie in die brein as gevolg van ontwikkeling, leer en nuwe ervarings: Ongelukkig kan stres, veral langdurig en intens, die neuroplastisiteit van die brein vertraag en die brein laat krimp (Pieter van Zyl, Huisgenoot, 7 September 2018). | ENGELS: neuroplasticity
KYK OOK: neurogiditeit


neusopslag s.nw. sintuiglike waarneming met/deur die neus.
met/by die eerste neusopslag Ook met/in een/’n neusopslag onmiddellik nadat of terwyl die genoemde of geïmpliseerde geruik is: My eerste neusopslag [van die parfuum] het my herinner aan ’n klam wynkelder – daardie soet-muf reuk van grond en kurk (Dave Pepler, davepepler.com, 31 Augustus 2020). | ENGELS: at the first smell


NFHS afk. [afkorting van: Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente] | ENGELS: National Student Financial Aid Scheme | NSFAS

NGLD afk. Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens: Die NGLD het die toetse, wat al verlede week deur die departement beloof is, gedoen. Die NGLD voer namens verskeie instellings toetse uit vir siektes. Intussen is inwoners steeds onseker wat die oorsaak van die diarree-uitbreking is wat reeds vyf kinders se lewens geëis het (Marisa Fockema, Netwerk24, 2013). | ENGELS: National Health Laboratory Service | NHLS

NGV afk. Nasionale Gesondheidsversekering. | ENGELS: National Health Insurance | NHI

NHLS afk. [Engelse afkorting: National Health Laboratory Service] Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens; NGLD

nie bw. ie

niekies s.nw. (straat- en speelgrondspeletjie) skaloeloe

nikkies s.nw. (straat- en speelgrondspeletjie) skaloeloe

Nios akr. [afkorting van: Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes] | ENGELS: NICD | National Institute for Communicable Diseases

NK afk. (informeel, skertsend) ná korona: Ons kan ons nie indink hoe die wêreld NK gaan lyk nie. NK het dinge […] aansienlik verander. Alles word nou aanlyn of van die huis af gedoen. Skoolklasse, werksessies en vergaderings geskied via videokonferensiegeriewe soos Zoom, Skype en Microsoft Teams (Erla-Mari Diedericks, Netwerk24, 13 Mei 2020). | TEENOOR: VK | ENGELS: after corona | AC
KYK OOK: VK, AD


noem ww. | het genoem |
UITDRUKKING(S):
noem en verdoem in die openbaar, in die media, ens., sê dat iemand iets verkeerds/onwettigs gedoen het: Ons sal ’n “noem en verdoem”-veldtog begin om verbruikers aan te moedig om te betaal (Netwerk24, 24 Maart 2019). Ek oorweeg dit ernstig om hierdie wynprodusente sowel as hul skakelmaatskappye voortaan … te noem en verdoem en hul produkte en dienste te boikot (Bacchus, planetwine.co.za, 16 November 2011). | ENGELS: name and shame


noenoes1 b.nw., bw. [verbuig nie] (informeel) mooi; oulik; fraai: Kyk net hoe noenoes. (Twitter). Dan vra mense hoekom ek so mal is oor pandas! Noenoes! (Twitter). | SINONIEM(E): poenankies | ENGELS: cute

noenoes2 s.nw. [enkelvoud en meervoud] (eufemisties, kindertaal) om aanstoot te vermy, gebruik om na die agterstewe of geslagsdele te verwys: Sjoe, kannie meer die koue vat nie. Vries my noenoes af (Twitter). | SINONIEM(E): alie | ENGELS: backside | bum

noir (Frans, rolprentkunde, letterkunde)
b.nw. [predikatief] gekenmerk deur ’n donker, spannende, onheilspellende, siniese verteltrant: Boonop word die teks in ooreenstemming gebring met ’n verstelstyl wat as noir beskryf kan word; ’n skaduryke narratief vol sinisme, fatalisme en teenstrydige moraliteit (Louis Esterhuizen, Rapport, 23 Julie 2019).
[ook selfstandig, met koppelteken gebruik vir so ’n donker styl] noir-: Die speurverhaal fokus hoofsaaklik op die speurder; die noir-verhaal op die antagonis of die misdadiger (Jonathon Amid, Vrye Weekblad, 2 Augustus 2019). Qubeka se noir-riller Of Good Report is in 2013 deur die regering op die fees verban “weens suggestiewe inhoud” en die verbod is later opgehef (Laetitia Pople, Die Burger, 23 Julie 2019). Noir-verhale ondermyn ook die tradisionele verwagting van ontspanningsfiksie dat lesers hulle geredelik met karakters sal identifiseer (Willem de Vries, Die Burger, 9 Maart 2016).
chic noir subgenre van die chick lit-ontspanningsverhaal waarin intieme verhoudings tussen karakters as donker en spannend uitgebeeld word.

film noir donker rolprent; film wat op die donker sy van die menslike natuur fokus.

huishoudelike noir donker (gruwel)verhale wat teen die agtergrond van alledaagse, huishoudelike situasies afspeel: Ek lees graag krimi’s en huishoudelike noir waar die intriges haarnaalddraaie gooi en die storielyn knetter en vonk soos ’n lewende elektriese kabel (Deborah Steinmair, Vrye Weekblad, 1 November 2019). As liefhebber van huishoudelike noir, waar die rillings hoofsaaklik sielkundig van aard en die moordenaar dikwels ’n versteurde loervink-huisvrou is, voel dit soms of skrywers in die harde misdaadgenre gaan sit en dink: Presies hoe kan ek die vroulike liggaam optimaal verfomfaai? (Deborah Steinmair, Rapport, 1 September 2019). Huishoudelike noir is vir my ’n welkome verandering van suiwer misdaadfiksie waar die protagoniste, meestal polisielede, grootliks stereotipes is (Deborah Steinmair, Rapport, 19 Maart 2017 ).

OORSPRONG:
Frans noir swart.

s.nw. [enkelvoud en meervoud] donker, spannende, onheilspellende verhaal/verhale: Die noir, die aksiebelaaide skop-skiet-en-dinges, die Victoriaanse whodunnit, die sielkundige riller, deesdae selfs die meer tradisionele spioenasieriller, kan alles as krimi’s beskou word (Bettina Wyngaard, Vrye Weekblad, 13 Desember 2019 ). Ek lees graag krimi’s en huishoudelike noir waar die intriges haarnaalddraaie gooi en die storielyn knetter en vonk soos ’n lewende elektriese kabel (Deborah Steinmair, Vrye Weekblad, 1 November 2019).


NOK afk. Nywerheidsontwikkelingskorporasie. | ENGELS: Industrial Development Corporation | IDC

noölogie s.nw. [geen meervoud] wetenskap van intellektuele fenomene. | ENGELS: noology
KYK OOK: noösfeer


noösfeer s.nw. [geen meervoud] sfeer van menslike bewussyn en verstandelike aktiwiteit, die domein van idees en die invloed daarvan op die biosfeer: Die term noösfeer is die eerste keer genoem deur Teilhard de Chardin, maar het sy eintlike oorsprong in die Griekse term nous, wat vertaal kan word as ‘gees’ en/of ‘intelligensie’ van ’n spesiale aard […] heeltemal verskillend van die baie intelligensies wat met die loop van tyd gegenereer is: intelligensie koëffisiënt [IK], emosionele intelligensie, kunsmatige intelligensie, ens.. Dít is egter ware menslike intelligensie in die volle sin van die woord. Saam met ‘gees’ verwys die woordjie ‘nous’ na die sfeer van gees en geestelikheid, die sfeer van denke en gedagtevolheid, vryheid van die gees, verbeelding, fantasma, dromery, komposisionele of omvattende denke, idees en inventiwiteit […] Die idee van die noösfeer is op ’n heel besondere wyse getematiseer en ontwikkel deur Edgar Morin (1991) in sy fassinerende boek oor idees waarin die terme noösfeer en noölogie die oorheersende terme is. (Carel S. (Fanie) de Beer, “Om digitaal te wees: ’n Waarborg of ’n bedreiging vir die toekoms?”, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 35 (1), a1397, 2016). | ENGELS: noosphere

NSFAS afk. [Engels: National Student Financial Aid Scheme] Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente; NFHS

NSTF afk. [Engels: National Science and Technology Forum] Nasionale Forum vir Wetenskap en Tegnologie.

nuata b.nw., s.nw. nwata

nugter s.nw. [geen meervoud]
UITDRUKKING(S):
nugter en die blesmerrie (sal) weet geen mens weet dit nie; g’n mens sal dit weet nie; dit is heeltemal onseker.


nuus s.nw. [geen meervoud]
brekende nuus nuutste inligting oor gebeure/handelinge wat aan die gang is: Die kanaal maak ruim gebruik van ’n span “digitale joernaliste” wat die sosiale media fynkam vir brekende nuus (Petrus Malherbe, Netwerk24, 2 November 2018). Hier kry ek nie net vars, brekende nuus oor wat in Suid-Afrika en die wêreld gebeur nie, maar ek het ek ook toegang tot 11 tydskrifte (Kuier, 28 September 2018). "Dit raak te veel. Die Inligting. Sosiale media en brekende nuus en die breë kerk van TV-advertensies – al die produkte waarsonder ek nie ten volle méns kan wees nie ... (Schalk Lourens van Empangeni, Rapport, 1 Oktober 2017). | ENGELS: breaking news


nuwetegnologie-mineraal s.nw. | nuwetegnologie-minerale | enigeen van verskillende minerale wat belangrik is in die vervaardiging van slimtoestelle, e-voertuie en hernubare kragstelsels: In [die Noord-Kaap], dalk meer as in enige ander provinsie in Suid-Afrika, is daar die potensiaal vir ’n mynbou-oplewing in nuwetegnologie-minerale: sink, nikkel, lood, koper en kobalt (Lisa Steyn, Vrye Weekblad, 5 Julie 2019).

NVG afk. Nasionale Vervolgingsgesag (van Suid-Afrika). | ENGELS: National Prosecuting Authority (of South Africa) | NPA

nwata (lekties, sleng, neerhalend) Ook nuata
b.nw., bw. [attr. en pred.]
1
(a) nikswerd; dom; onnosel; sot(lik) (b) (figuurlik) vuil: Basta met jou nwata gedagtes. (@Grondwerk, Twitter, 14 April 2017). En as jou nwata bek vol sand raak, djy kan maa op jou eie vestik (@_vanniekaap, Twitter, 2 Mei 2019). | Engels: stupid | foolish | dirty

s.nw.
1
[geen meervoud] nonsens; onsin; snert; twak: Dink ek praat nou net nwata! (@ThabisoKhambule, Twitter, 21 April 2015). Al kom djy moet nuatagedagtes sal hy djou soe bang slaan … (Jeremy Vearey, Jeremy vannie Elsies, 2018). | Engels: nonsense

2
| ~s | nikswerd; sot; onnosel; idioot; (stuk) kak; etter; bliksem; vuilgoed: Die fokken nwata! (@AmbienQueen, Twitter, 27 Augustus 2012). Julle fokken nwatas!!! (@Ixmeez_, Twitter, 6 Maart 2013). | Engels: rubbish


nyaope s.nw. [geen meervoud] (dwelmsleng) mengsel van heroïen, dagga en ander (na bewering soms ook antiretrovirale) middels wat gerook word: (H)uise moet gebou word en lewens moet verbeter word sodat ons mense kan verstaan dat jong seuns en meisies nie deel moet word van die bendekultuur nie, dat hulle teen sonsondergang by die huis moet wees in plaas daarvan om op straat te wees en nyaope te rook (Philda Essop, Netwerk24, 27 Augustus 2019). Die polisie het ook op ’n onbekende hoeveelheid heroïen, dagga, kokaïne, mandrax, nyaope en kokaïenkristalle beslag gelê (Netwerk24, 27 Augustus 2019). W. sê nyaope is uiters verslawend en dikwels gebruik handelaars middels soos rotgif, swembadsuur of babapoeier om by te meng sodat hulle meer voorraad het om te smous (Isabel Venter, Netwerk24, 22 Junie 2018). | SINONIEM(E): whoonga | wunga

nywerheidsomwenteling s.nw. | nywerheidsomwentelings of nywerheidsomwentelinge | nywerheidsrevolusie

nywerheidsrevolusie s.nw. | nywerheidsrevolusies | Ook nywerheidsrewolusie, industriële revolusie/rewolusie, nywerheidsomwenteling
vierde nywerheidsrevolusie [afkorting: 4NR] Ook Vierde Nywerheidsrevolusie, Vierde Nywerheidsomwenteling die ontwikkelende omgewing van vandag waarin nuwe, sg. ontwrigtende tegnologieë – die Internet van Dinge, robotika, kunsmatige intelligensie en virtuele werklikheid/realiteit – die manier waarop mense lewe en werk, ingrypend verander: Die vierde nywerheidsrewolusie (4NR) word deesdae geassosieer met eindelose Zoom-vergaderings en WhatsApp-kuiers met vriende en familie (SAAWK, Mei 2020). Dr. Klaus Schwab, stigter van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF), het die term “vierde nywerheidsrevolusie” in 2016 geskep. Dit verwys breedweg na die grense tussen die fisieke, digitale en biologiese wêreld wat stelselmatig verdwyn (Elvira Wood, Netwerk24, 16 Oktober 2019). Sommige mense sê dis eintlik maar net ’n voortsetting van die derde een, maar ja, die vierde nywerheidsrevolusie is met ons. Dit staan ook bekend as Nywerheid 4.0 na aanleiding van ’n groep Duitsers wat in 2011 onder dié naam byeengekom het op soek na ’n manier om Duitse mededingendheid in die vervaardigingsektor te verhoog (Willem Kempen, Vrye Weekblad, 30 November 2019). Die vierde nywerheidsrevolusie is ontwrigtend, want take wat gewoonlik deur mense verrig is, word geoutomatiseer. Maar dit is nie noodwendig ’n negatiewe ding nie (Werner Beukes, Netwerk24, 17 September 2019). Die sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie [hou in] ’n wêreld waar alles en almal in oombliklike digitale verbinding met die res is. Die grense tussen ons biologiese, fisieke en digitale omgewings vervaag. Die grense tussen menslike kennis en vermoëns en dié van masjiene vervaag (Willem Kempen, Vrye Weekblad, 15 November 2019). Die vierde nywerheidsrevolusie bied enorme geleenthede vir wie ook al ’n goeie skolastiese ervaring en toegang tot goeie gesondheid het (Piet Croucamp, Vrye Weekblad, 25 Oktober 2019). Die etiese vrae van die Vierde Nywerheidsomwenteling is egter op ons. Wat gemaak wanneer outomatisering mense se werk en waardigheid van hulle begin ontneem? (Woordfeesgids, 2020). | ENGELS: fourth industrial revolution | 4IR