Indeks | A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z | 1 | 2 | 3 | 4 | 5


maagkrul s.nw. | maagkrulle | [gewoonlik meervoud] maagspieroefening waarby 'n mens plat op die grond lê met jou knieë gebuig; dan herhaaldelik met jou hande agter jou nek of oor jou bors gekruis, jou bolyf oplig en jou skouers na jou bekken krul: maagkrulle doen Items sluit in swem in die rivier, langafstand-hardloop, toutrek, maagkrulle, en nog meer (Paarl Post, 5 Februarie 2009). Tiger Woods doen elke dag van sy lewe 600 maagkrulle (Beeld, 19 April 2002). | ENGELS: crunch

Machina sapiens woordgroep (Latyn) rekenaar/masjien wat in staat is tot denke soos dié van 'n mens: Beweeg ons dalk net te vinnig van Homo sapiens na Machina sapiens, die versmelting van mens en masjien – ’n verdere fase in die mens se evolusionêre ontwikkeling? Wat kan lei tot ’n soort mensheid met ’n verskrompelde selfbewussyn; ’n vlak gevoelslewe wat alle emosies kan registreer, opnoem en naboots, maar niks egs voel nie; en met ’n leë verhoudingslewe (Wilhelm Jordaan, Netwerk24, 13 Mei 2020). Het Machina sapiens my só betower dat ek meer genietbare menslikheid in haar as in sommige werklike mense sien? Dít terwyl ek weet sy het nie ’n mens se soort selfbewussyn en ’n diep gevoelslewe nie – al kan sy emosies registreer, opnoem en naboots (Wilhelm Jordaan, Netwerk24, 3 Januarie 2018). | ENGELS: Machina sapiens
OORSPRONG:
Latyn machina masjien + sapiens verstandig, wys, vernuftig, slim


madrassa s.nw. | madrassas | Moesliemskool.

magalies s.nw. [geen meervoud, versamelnaam] (tronktaal) tabak: (Johann van der Westhuizen, Netwerk24, 16 September 2017). | SINONIEM(E): majapies
KYK OOK: dagga


magies b.nw. | magiese | betowerend, mistiek  
magiese sampioen psilosibiensampioen


maglev afk. [afkorting van: magnetiese levitasie] Ook magnetiese suspensie, magnetiese swewing metode waardeur 'n metaalvoorwerp in staat gestel word om op te styg en sonder enige ander ondersteuning ’n entjie bokant ’n sterk magneetveld te sweef. | ENGELS: maglev
samestellings:
maglev-trein

KYK OOK: magneetsweeftrein


magneethengel s.nw. [geen meervoud] herhaaldelike neerlating van ’n sterk magneet aan ’n tou in water om metaalvoorwerpe op die bodem te vind en dit boontoe te bring wanneer die magneet dit aantrek. | ENGELS: magnet fishing

magneethengelaar s.nw. | magneethengelaars | iemand wat ’n sterk magneet aan ’n tou in water laat sak om na metaalvoorwerpe op die bodem te soek en die voorwerpe dan boontoe bring wanneer die magneet dit aantrek. | SINONIEM(E): magneetvisser | ENGELS: magnet fisher

magneetsweeftrein s.nw. | magneetsweeftreine | Ook magneettrein, maglev-trein trein wat deur middel van sterk elektromagnete oor ’n magneetbaan voortbeweeg word terwyl dit 'n paar sentimeter bokant die baan sweef. | ENGELS: maglev train
KYK OOK: maglev


magneettrein s.nw. | magneettreine | Ook magneetsweeftrein, maglev-trein trein wat deur middel van sterk elektromagnete oor ’n magneetbaan voortbeweeg word terwyl dit 'n paar sentimeter bokant die baan sweef. | ENGELS: maglev train
KYK OOK: maglev


magneetvangs s.nw. | magneetvangste | metaal wat ’n magneethengelaar uit water haal deur ’n tou met ’n sterk magneet aan die punt herhaaldelik na die bodem te laat sak en boontoe te bring. | ENGELS: magnet catch
KYK OOK: magneethengel


magneetvisser s.nw. | magneetvissers | magneethengelaar

magneties b.nw. | magnetiese |
magnetiese levitasie [afkorting: maglev] Ook magnetiese suspensie, magnetiese swewing metode waardeur 'n metaalvoorwerp in staat gestel word om op te styg en sonder enige ander ondersteuning ’n entjie bokant ’n sterk magneetveld te sweef. | ENGELS: magnetic levitation | maglev

KYK OOK: magneetsweeftrein


magrieb s.nw. [ook met hoofletter, gewoonlik enkelvoud] (Islam) Ook (Arabies) magrib, maghrieb vierde verpligte gebed van die dag: Die vierde waqt (tyd) van salaah is Maghrieb, wat twee tot drie minute na sonsondergang gedoen word. Dit is die skemersalaah en bestaan uit drie raka-ats. Dit is ’n baie kort waqt en moet voltooi word voordat dit donker word (Moosa Patel, Islam vir bekeerlinge, belangstellendes, vreemdelinge en nuwelinge).
KYK OOK: salaah, fard


magwinya s.nw. [enkelvoud en meervoud] (Tswana) vetkoek, gemaak deur stukkies deeg in olie of vet te braai: Op pad na die werk stop ek soms by die een ouma om magwinya (vetkoekies) te koop (Karien Brits, LitNet, 25 Maart 2020). In ’n poging om die gebruik van avokado in straatkos te bevorder het bemarkingsmaatskappye [...] ’n veldtog begin waardeur hulle avokado as vulsel in die gewilde Afrikavetkoek, die magwinya, onder verbruikers beproef het (Landbouweekblad, 26 November 2018 ). | SINONIEM(E): vetkoek | ENGELS: magwinya | vetkoek

majapies s.nw. [geen meervoud, versamelnaam] (tronktaal) tabak: (Johann van der Westhuizen, Netwerk24, 16 September 2017). | SINONIEM(E): magalies
KYK OOK: dagga


makisih tussenwerpsel [verkorting van: terima kasih] (Maleis) dankie: Ek gebruik dikwels “terima kasih” (of die verkorte “makisih”) pleks van “shukran” om iemand te bedank, en dit laat soms die wenkbroue lig of mense onbegrypend na jou staar (Ismail Lagardien, Vrye Weekblad, 15 Mei 2020). | ENGELS: thank you
KYK OOK: trammakassie, terima kasih


makroplastiek s.nw. [geen meervoud, versamelnaam] groot plastiekartikels soos sakke, bottels en koeldrankstrooitjies wat die omgewing besoedel en waarin diere verstrengel kan raak: Hoewel makroplastiek duidelik die omgewing besoedel, is dit maar net ’n deel van die probleem. Onlangse navorsing het getoon dat mikroplastiek ’n baie groter besoedelingsgevaar inhou as wat voorheen gedink is (Henk Bouwman, Vrye Weekblad, 17 Mei 2019). | TEENOOR: mikroplastiek | ENGELS: macroplastic
KYK OOK: mikroplastiek


makula s.nw. | makulas | (anatomie) klein gedeelte in die middel van die retina wat sorg vir skerp visie van voor.

malediktologie s.nw. [geen meervoud] vertakking van die vakgebiede psigolinguistiek, sosiolinguistiek en sielkunde waarin vloektaal, vloekwoorde en vloekgedrag bestudeer word. | ENGELS: maledictology
OORSPRONG:
Uit Latyn maledicere, iets slegs/vuils (male) + sê (dicere).


mamok ww. | het gemamok | (lekties) braak; opbring; opgooi; jong osse inspan: Die goed het getjank soes maer varke en mamok soes moegoes wattie kan suip nie (Jeremy Veary, Jeremy vannie Elsies, 2018).
afleiding(s):
mamokker


mamokker ww. | het gemamok | (lekties) iemand wat mamok (= braak/opbring/opgooi): Wat [ná die blitssuip] gebeur het, kan ek nie so goed onthou nie, maar nadat al die mamokkers … op die slagtafel gesneuwel het, bly daar net vyf boerseuns en vier revolusionêre krygers oor (Jeremy Veary, Jeremy vannie Elsies, 2018).

mandie s.nw. (Islam) ghoesl

mangrot s.nw. | mangrotte | Ook mannegrot, mannetjiesgrot ’n vertrek of deel van ’n huis of ander gebou waar ’n man (alleen of saam met ander mans) tyd kan deurbring en hom met eie belangstellings en stokperdjies kan besighou sonder om deur ander (veral vroulike) lede van die huishouding gepla te word: “Moet net nie dat my vrou my nou hoor nie ...” Só sê my gasheer een laataand terwyl so vier, vyf van ons in sy mangrot sit en teug aan ’n bottel Laphroaig-enkelmout (Jo Prins, Netwerk24, 11 Junie 2016). Ek weet party vroue haat die idee dat dit hul man in staat stel om nou ’n mangrot te hê, maar, in konteks gestel, is die res van die huis jou vrougrot (Huisgenoot Digitaal, 1 Julie 2013). Morgan is ’n lang, donker, Afrikaanse man met groot oë, ’n boot en ’n mannegrotstrandhuis (Daréll Lourens, tuis, 23 Oktober 2017). My nuwe mannetjiesgrot … (Frederik de Jager, Facebook, 10 Januarie 2020). | ENGELS: man cave

mani [verkorting van: manikuur] (informeel)
s.nw. | mani’s | versorging van (die) (vinger)naels en hande: Op ’n lêstoel onder ’n sambreel het my eerste Bintang (die plaaslike bier teen R17) sy verskyning gemaak met ’n spul verkopers op sleeptou. Mani’s, pedi’s, koeldrank, sarongs en kraaljuwele was alles in aanbod (Beeld, 13 Augustus 2012). “Hoe bederf jy jouself?” “Met ’n mani en ’n pedi elke maand.” (Beeld, 3 Oktober 2009). | ENGELS: mani

ww. | het gemani | jou (of iemand anders se) (vinger)naels en hande versorg.

KYK OOK: mani-pedi, gemani, pedi


mani-pedi s.nw. | mani-pedi’s | [verkorting van: manikuur-pedikuur] (informeel) versorging van die hande en voete, vinger- en toonnaels: Hier is plaaslike ontwerpers in die straat af wat ongelooflike fashion maak, daar is gentleman barbershops waar jy ’n mani-pedi kan kry of wat ook al (Griffin Shea aan Jo Prins, Beeld, 20 Julie 2016).
KYK OOK: mani


mannegrot s.nw. | mannegrotte | mangrot

mannetjiesgrot s.nw. | mannegrotte | (informeel, skertsend) mangrot

mansbolla s.nw. | mansbollas | mansbollatjie | molla

Marie-Johanna van der Schijff s.nw. [geen meervoud] (informeel, skertsend) dagga.
OORSPRONG:
Marie-Johanna, afgelei van marijuana + Van der Schijff, van skyf, ’n daggasigaret.

KYK OOK: dagga


marmerbeeld s.nw. | marmerbeelde | marmerbeeldjie |
UITDRUKKING(S):
vir ’n marmerbeeld blomme aandra vlerksleep by iemand wat geen gevoel vir jou het nie: (Heino du Plessis, 3 Mei 2020).


masala s.nw. [geen meervoud] (kookkuns) speserymengsel  
UITDRUKKING(S):
met ’n bietjie masala by vroliker; interessanter; opgekikker: Ek sêrit soesit is … maa met ’n bietjie masala bygevoeg. Ek skryfie net soedat ieman kan smile of laggie, ek skryf om dai pesoon oek te lat dink. My kultuur kan toor met woorde, maa my kultuur en geskiedenis is oek vol passie en pyn. Soe die authenticity in hoe ek skryf, vloei yt die ink van wie ek is (Bernie Fabing, LitNet, 28 Mei 2020).


masiet s.nw. (Moesliemafrikaans) moskee: Terwyl hulle hard aan die bid was, het ’n skelm hulle masiet vir ’n shoe shop aangekyk (Tacy-Lynn Ruiters, Son, 14 Junie 2019). Die Stad Kaapstad het verlede week ’n notice aan die imam van die masiet gestuur oor die luidsprekers te hard is nadat een persoon gekla het (Fu’ad Rahman, Son, 16 Desember 2018).

masikande s.nw. [geen meervoud] (Zoeloe, musiek) maskanda

masjied s.nw. | masjieds | (Islam) moskee: Die masjied is bekend as die “Huis van Allah”, waar gesamentlike aanbidding, vyf keer daagliks aangemoedig word (Moosa Patel, Islam vir bekeerlinge, belangstellendes, vreemdelinge en nuwelinge).

maskanda s.nw. [geen meervoud] (Zoeloe, musiek) Ook maskandi, masikande tradisionele Zoeloe-(straat)musiek: In haar musiek vermeng sy mbaqanga, marabi en maskanda met onder meer jazz, funk, rock, gospel en rap (Beeld, 16 Februarie 1996). Johnny het Charlie ontmoet waar hy masikande op ’n kitaar buite ’n koffiewinkel in Bellevue naby sy huis sit en speel het (Chris du Plessis, Vrye Weekblad, 19 Julie 2019). Charlie het vir Johnny geleer hoe om masikande-musiek op die kitaar te tokkel en die basiese passies van die indlamu-dans geleer (Chris du Plessis, Vrye Weekblad, 19 Julie 2019).
OORSPRONG:
Verdraaiing van die Afrikaanse woord musikant.

samestellings:
maskanda-musiek | maskanda-musikant


maskandi s.nw. [geen meervoud] (Zoeloe, musiek) maskanda

maskie bw. (Moesliemafrikaans) miskien.

mattedjala s.nw. [versamelnaam] (Moesliemafrikaans) mittedjale

mbawula | imbawula | (Zoeloe) groterige blik, gewoonlik ’n leë verf- of paraffienblik, waarvan die wand vol (lug)gate gekap is en waarin daar vir koskook of verwarming vuurgemaak word: Die geluide van die “Flats”, die gekreun van verbrandingsenjins, die gekraak van eenvoudige skuilings, die skynbaar misplaaste geskreeu van ’n seevoël, die onophoudelike toetgeluid van taxi’s, die reuk van kos, en op plekke die dampe van imbawula, ou verfdromme met gate waarin daar vuur gemaak is om te kook … (Ismail Lagardien, Vrye Weekblad, 21 Junie 2019). | SINONIEM(E): konka | vuurkonka | vuurblik | vuurkan | ghellie | ghellieblik | ENGELS: konka | brazier

mediaherrie s.nw. | mediaherries | beroering/opskudding in die media, gekenmerk deur besonder baie aandag wat aan ’n bepaalde nuusgebeurtenis of saak bestee word: Net toe die mediaherrie begin bedaar, verskyn daar ’n artikel […] oor waarom dit problematies is dat die woord “manlik” gebruik is in ’n twiet waarin kykers aangemoedig word om vir boer Damian te skryf (Hannelie Booyens, Vrye Weekblad, 31 Mei 2019). Wat my nou weer aan maniere laat dink het, is die mediaherrie wat om koningin Elizabeth II ontstaan het nadat sy sekere Chinese amptenare in ’n gesprek tydens ’n teeparty in die tuin van die Buckingham-paleis as “baie ongeskik” beskryf het (Murray la Vita, Netwerk24, 14 Mei 2016). | ENGELS: media hype
KYK OOK: Twitterstorm


Medisynebeheerraad s.nw. [geen meervoud] (histories) Sahpra

meerderhands b.nw. | meerderhandse | wat deur verskeie mense gebruik is en nou weer te koop is of opnuut gebruik word: Dié boekhemel is ’n doolhof van 17 vertrekke vol tweedehandse (soms sekerlik meerderhandse) boeke (Michèle Meyer, Vrye Weekblad, 1 November 2019).

MeerKAT s.nw. [Engels: Karoo Array Telescope] [geen meervoud] (astronomie) grootste en sensitiefste radioteleskoop in die Suidelike Halfrond, buite Carnarvon in die Noord-Kaap, totdat die SKA na verwagting omstreeks 2024 voltooi word: MeerKAT bestaan uit 64 skottels met ’n deursnee van 13,5 meter elk (Wikipedia). SKA


megafter s.nw. | megafters | megaftertjie | (informeel)
1
iets wat (nog) nie ’n naam het nie, waarvan die spreker die naam nie ken nie, of waarvan hy/sy die naam vergeet het.

2
iets wat iemand (prakseer en) gebruik om ’n gewenste resultaat te bereik waar die regte stuk gereedskap of onderdeel nie byderhand is nie. | ENGELS: mcgafter


megoudie s.nw. | megoudies | (informeel) woord in informele geselstaal soms gebruik om te verwys na iets wat nog nie ’n naam het nie, waarvan die spreker die naam nie ken nie, of waarvan hy/sy die naam vergeet het.
KYK OOK: megafter


melkkuns s.nw. [geen meervoud] lattekuns

melktertmusiek s.nw. [geen meervoud] (informeel, soms neerhalend) Afrikaanse musiek wat gehoor word waar Afrikaanssprekendes bymekaar is, waarna veral/hoofsaaklik Afrikaanse mense luister: Ek’t Spoegwolf beskryf as “melktertmusiek” wat nooit buite Potch en Skouspel sukses sal vind nie (Karl Kemp, Vrye Weekblad, 17 Mei 2019). | ENGELS: milktart music

memento mori woordgroep [Latyn: Onthou dat jy gaan sterf] herinnering aan die sterflikheid: Binne die Universiteit van Kaapstad se nuwe patologie-leersentrum dien 4 500 eksemplare van siek organe en ander grieselrige vondse as memento mori langs die hospitaal se lykshuis (Willemien Brümmer, Netwerk24, 18 Oktober 2014). In kleiner werke op papier bied Van Schalkwyk as’t ware foto’s van sy reise as memento’s aan. Tegelyk ook as aanduiding van memento mori, die alomteenwoordige herinnering aan verganklikheid (Johan Myburg, Netwerk24, 15 Mei 2019). Daar is in ons albei se geheuewêreld  gedeelde liefde vir memento mori-stillewes wat dalk dui op 'n universele bewussynstroom oor ons sterflikheid (Henk Serfontein, Vrye Weekblad, 7 Junie 2019). | ENGELS: memento mori

meneer s.nw. | menere | (informeel) penis: Twitter-gebruikers wat op sy tweet reageer, het name soos @bloemhunk1, @plaasseun69 en @plaaspiel11. Heel trots om Afrikaans te wees, is hulle selfs trotser oor hul menere met hutsmerke soos #boerepiel, #manlikheid en #skommel. (André-Pierre du Plessis, Vrye Weekblad, 22 Mei 2020).

Mengels s.nw. [geen meervoud] (informeel, skertsend) vermenging van twee of meer tale, veral met Engels daarby: My ergste pyn word gegee deur Mengels/Anglikaans, daai pogings om Afrikaans en Engels gelyk te praat (Leon van den Berg, Facebook, 6 Desember 2019). My pa is Afrikaans en my ma Engels, so ek praat Mengels (Tarryn Lamb, Kuier, 5 Aug. 2019). Ek weet daar is soveel Afrikaanssprekende matrieks ... wat nie twee keer gaan dink oor wat hulle aan ons taal doen deur dit te verraai vir Mengels of Engels nie (Kayrie Toerien, Netwerk24, 15 Januarie 2019). | SINONIEM(E): Anglikaans | ENGELS: mixed language

menseregtevergrype s.nw. [meervoud van: menseregtevergryp] [gewoonlik meervoud] handeling/optrede wat iemand se reg op vryheid en die lei van ’n gelukkige lewe vry van diskriminasie ernstig skend: S. het ’n obsessie oor die menseregtevergrype in Sirië gehad (Deborah Steinmair, Vrye Weekblad, 14 Junie 2019 ). Ons vernaamste bekommernisse oor die wetsontwerp is moontlike politieke vervolging en menseregtevergrype en die bedreiging van persoonlike veiligheid terwyl iemand in China aangehou word (Netwerk24, 9 Junie 2019). | SINONIEM(E): menseregteskendings | ENGELS: human rights violations

menstruasiebeker s.nw. | menstruasiebekers | menstruasiebekertjie | Ook menstruasiekelkie, (uit Engels) menstruasiekoppie kelkie gemaak van ’n veilige, sagte stof, wat ’n vrou, wanneer sy menstrueer, in haar vagina plaas om die menstruasiebloed op te vang: ’n Silikon- of rubbermenstruasiebeker is ’n buigsame voorwerp in die vorm van ’n klokkie wat jy verskeie kere kan gebruik om jou menstruele bloed te versamel. (http://nemuchtorstont.ru). Menstruasiekoppies word van mediese silikoon gemaak, wat beteken dis veilig om te gebruik en sal heel waarskynlik nie enige allergiese reaksies veroorsaak nie (Goeie Huishouding). | ENGELS: menstrual cup

menstruasiekelkie s.nw. | menstruasiekelkies | [verkleinwoord] menstruasiebeker

menstruasiekoppie s.nw. | menstruasiekoppies | menstruasiebeker

mentor
s.nw. | mentors | ervare persoon wat aan ’n minder ervare persoon (= die gementorde) leiding en raad gee.

ww. | het gementor | aan iemand wat minder ervare is as jy, leiding en advies gee. | ENGELS: mentor
OORSPRONG:
In die Griekse mitologie naam van die halfgod Mentor, aangewys om die held Odusseus se seun, wat hom as heerser moes opvolg, in die kuns van leierskap te onderrig.

samestellings:
mentorprogram

afleiding(s):
gementorde | mentorskap


mentorskap s.nw. [geen meervoud] die gee van leiding en advies aan iemand (= die gementorde) wat minder ervare as jy is: Aandag word ook geskenk aan hoe mentorskap verskil van “afrigting” (“coaching”) in die werkplek. (Laasgenoemde is wat alle bestuurders veronderstel is om van dag tot dag te doen – die aansporing van werknemers op kort termyn. Mentorskap is meer gestruktureerd en fokus op die langer termyn) (Helena Wasserman, Die Burger, 15 November 2019). | ENGELS: mentorship
samestellings:
mentorskapprogram


meritokrasie s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (regering)stelsel/samelewing waarin elke leier op grond van (sy/haar) (eie/individuele) meriete aangewys/verkies word: Die ontwikkeling van ’n korrupsievrye, effektiewe staat gegrond op meritokrasie en innovering moet dringend aangepak word (Max du Preez, Vrye Weekblad, 16 Augustus 2019). Suid-Afrika se primêre probleem […] is dat die land nie ’n meritokrasie is nie. Suid-Afrika ag nie die beste, die knapste, die hardwerkendste en die produktiefste na waarde nie (Frans Cronjé, Rapport, 14 Augustus 2016). | ENGELS: meritocracy

MERS akr. [Engelse afkorting: Middle East respiratory syndrome] [geen meervoud] (patologie, geneeskunde) Ook Mers soönose veroorsaak deur die Midde-Oosterse respiratoriesesindroom-koronavirus, ’n akute lugweginfeksie met koors, hoes, kortasemheid, en soms ook diarree en braking, as vernaamste simptome: Tydens die uitbrekings van Mers en Ears is chlorokien getoets om te kyk of dit die verspreiding van die virus kan stuit (Heinz Mödler, Rapport, 19 April 2020). Plasma, die vloeistof in die bloed wat wemel van teenliggame nadat iemand van ’n siekte soos Covid-19 herstel het, was reeds suksesvol in klein studies om aansteeklike siektes soos Ebola en Mers te behandel (Netwerk24, 5 April 2020).
KYK OOK: EARS


mesmeraais | het gemesmeraais | (uit Engels, informeel) Ook mesmeriseer vasgenael hou; hipnotiseer: Die stad en sy kuns, musiek en mense het my gemesmeraais (Jacques Naudé, Vrye Weekblad, 15 Mei 2020). ’n Hoëveldse donderstorm is dié gratis skouspel waarvan ek seker nooit genoeg sal kry nie. Daar is iets aan die ontembare vertoon van krag, die reuk van die eerste swaar, lou druppels op gebakte plaveisel wat my mesmeraais. (Michèle Meyer, Vrye Weekblad, 20 Desember 2019). | ENGELS: mesmerise

mesmoertang s.nw. | mesmoertange | (informeel) veeldoelige stuk gereedskap: ’n Goeie mesmoertang kan jou help om skroewe vas te draai, bande te ruil en koorde te sny ... (Arthur Jones, Weg, 17 Februarie 2020). Die mesmoertang, soos Weg dit noem, is daardie veeldoelige tower-instrument wat boere, nutsmanne, jagters en knaphandiges in ’n gordelskede dra. In ’n berig oor ’n mesmoertang skryf dié tydskrif: Dit is regtig ’n betroubare handlanger wat jou nooit in die steek sal laat nie. Dit het álles: ’n knyp- en draadtang, mes, sagie, tandjieslem, platpunt- én sterpuntskroewedraaier, vyl, blik- en botteloopmaker ... Hy’t 14 funksies altesaam! Met hom in jou hand kort jy nog net ’n mullet, dan’s jy MacGyver (Gert Coetzee, Netwerk24, 28 Maart 2019). | SINONIEM(E): multiwerktuig | ENGELS: multitool

mêtjies s.nw. [meervoud] (uit Engels, informeel) metsjies

metsjies s.nw. [meervoud] (uit Engels, informeel) Ook mêtsjies, mêtjies vuurhoutjies: Hy sit die zol op die perron neer, versigtig, amper asof hy bang is dit gaan breek. “Waar’s my metsjies?” Hy klap op sy sakke op soek na sy vuurhoutjies (Dana Snyman, Facebook, 7 Julie 2019). Nou ja, swaai daardie zol ... en doen dit stadig. Dan die mêtjies soek (F.A. Venter, Die keer toe ek my naam vergeet het, 1997).
OORSPRONG:
Engels matches


mettie sametrekking ie

middagmens s.nw. | middagmense | Ook namiddagmens persoon wat in die periode vlak voor die middag tot vlak oor die aand op sy/haar aktiefste is en soggens en saans traer en soms lomerig voel: Neem jou biologiese spitstyd in ag. Is jy ’n oggend-, middag- of aandmens? Watter tyd van die dag is jy die produktiefste? Wanneer gaan jy die skerpste wees vir daardie belangrike vergadering? Beplan jou dag daarvolgens (Pieter van Zyl, Huisgenoot, 4 Januarie 2019). | ENGELS: afternoon person

middelvinger s.nw. | middelvinger | middelvingertjie |
vir iemand die middelvinger gee Ook vir iemand die middelvinger wys (ook figuurlik) as teken van minagting of verset ’n aanstootgewende gebaar maak waarin jy, met die res van jou hand se vingers tot ’n vuis gebal, vir 'n ander persoon jou middelvinger in die lug wys – gewoonlik gesien as ’n handgebaar vir die vloek “fok jou/julle”: H. het twee brouhoue en ’n lelike dubbele brouhou op die 11de (waar sy bal in die water beland het en hy twee keer letterlik middelvinger vir die meer gewys het) in ’n ronde van 74 (twee houe meer as baansyfer) aangeteken (Marizanne Kok, Netwerk24, 9 Maart 2020). [Die party] het ’n stewige middelvinger in die rigting van nie slegs die speaker of [president] gewys nie, maar wel in die rigting van alle Suid-Afrikaanse burgers (Anton van Niekerk, Netwerk24, 3 Maart 2020).

’n (vet) middelvinger (ook figuurlik) growwe belediging; teken van growwe minagting: [Die agentskap] is een vet middelvinger vir die massas (Max du Preez, Vrye Weekblad, 6 Maart 2020). | ENGELS: middle finger


mieliebier s.nw. [geen meervoud] umqombothi

mieliebrak s.nw. (Amerikaanse kookkuns, informeel) Ook mielieworsie (Weense) worsie op ’n stokkie in ’n beslag van mieliemeel gedoop en diepgebraai: Ons is gereed. Nou wag ons net vir julle outjies om julle mieliebrakke te kom kry by die Kalahari-kuierfees (LekkerPiet, Keimoes). Die geur van gebrande springmielies en vetterige mielieworsies vul die lug (Karen Kingsbury (vertaling), Vir ’n duisend dae, 2005). | SINONIEM(E): jantjie | ENGELS: corn dog | corndog

mikroplastiek [geen meervoud, versamelnaam]
1
plastiekkorrels wat mikroskopies klein is, tussen sowat ’n honderste van ’n millimeter tot een millimeter groot, spesiaal vervaardig vir gebruik in skoonheidsmiddels soos lyfskropmiddels en afskilferaars.

2
klein stukkies plastiek wat ontstaan wanneer groter stukke plastiek deur blootstelling aan die son en fisiese verwering afbreek: Mikroplastiek word toenemend beskou as ’n smetstof wat heelwat risiko’s vir mens en omgewing inhou. Hoe kleiner die deeltjies ter sprake, hoe waarskynliker is die risiko’s wat daarmee verband hou (Jorisna Bonthuys, Vrye Weekblad, 6 Desember 2019). Onlangse navorsing het getoon dat mikroplastiek ’n baie groter besoedelingsgevaar inhou as wat voorheen gedink is. Baie lande is reeds bewus van die gevare van mikroplastiek en tree nou daadwerklik op (Henk Bouwman, Vrye Weekblad, 17 Mei 2019). | TEENOOR: makroplastiek | ENGELS: microplastic
KYK OOK: makroplastiek


mikrosatelliet s.nw. | mikrosatelliete | [soms verkort tot: mikrosat] miniatuursatelliet met ’n massa van tussen 10 kg en 500 kg | ENGELS: microsatellite
KYK OOK: miniatuursatelliet


millenniër | millenniërs | millenniërtjie | iemand wat behoort tot die demografiese generasie (Generasie Y) van mense wat van 1981 tot 1996 gebore is: In die VSA het Michael Dimock, president van die Pew Navorsingsentrum, gepoog om meer struktuur te gee aan breë sosiale groeperings gebaseer op jaar van geboorte. Dit het gelei tot ”troetelname” waarmee verwys word na die verskillende generasies sedert die 1920’s. Die generasies word soos volg getipeer: die “stille generasie” (gebore 1928–1945), die “baby boomers” (1946–1964), “generasie X” (1965–1980), die “millenniërs” (1981–1996) en die “post-millenniërs” (1997 tot hede). Elke generasie is in ’n mate gevorm deur gebeure van hul tyd, wat ingesluit het oorloë, resessies, politieke kwessies, die rekenaarrevolusie, die 9/11-toringramp, en die tegnologie (selfone, slimfone, ens.) (Leon de Beer, Wolboer 6 (5), November 2018). Millenniër: ons is ’n generasie wat vryheid bo alles stel (Arleen Stone, US, Netwerk24, 27 Maart 2019). Millenniërs in kappietruie was ’n nuwe gesig by Sotheby’s se veiling in Hongkong toe dié jonger geslag kunswerke geïnspireer deur die TV-reeks The Simpsons opgeraap het (Netwerk24, 3 April 2019). Daar is ’n sterk saak daarvoor uit te maak om millenniërs in direksies van Suid-Afrikaanse maatskappye aan te stel, aangesien daar ’n gevoel is dat hulle hul vingers op die pols het wat betref ontluikende tendense en risiko’s (PwC-verslag oor nie-uitvoerende direkteure, Rapport, 10 Februarie 2019). Kan die gemiddelde millenniër apatie spel? Ek hoop van harte so. Maar vandag skryf ek nie oor of ons dit kan spel of nie, ek skryf oor die feit dat ons, as millenniërs, al hoe meer apaties raak (Jané de Wet, NMU, Netwerk24, 28 Januarie 2019). | ENGELS: millennial
samestellings:
millenniërstyl

KYK OOK: Generasie Y, Generasie Z


mindfulness s.nw. [geen meervoud] (Engels) (strewe na bemeestering van) die kuns om elke oomblik van jou lewe aandagtig te leef: Meditasie, asemhaling en joga bly die gewildste maniere om mindfulness te beoefen (Huisgenoot, 1 Mei 2020). Met ’n tweede boek oor mindfulness […] bevind Johannes de Villiers hom in goeie geselskap (Laurie Gaum, LitNet, 25 Maart 2020). Die wetenskap toon toenemend die tegniek van bewustelikheid (mindfulness) en meditasie kan mens help om met vars, nuwe oë na die wêreld om jou te kyk (Kalmte in die malle gejaag: Mindfullness vir besige mense, Johannes de Villers – flapteks, 2018). Mindfulness is ’n eenvoudige tegniek om die huidige oomblik (nóú) meer bewustelik, met deernis en nuuskierigheid te benader. Sodat jy minder verstrengel raak in dinge wat in die verlede gebeur het, of wat dalk in die toekoms kan gebeur. (Lydia van der Merwe, Sarie, 24 Maart 2015). In Afrikaans probeer ons [mindfulness] vasvat met die woord aandagtigheid. Die digter Breyten Breytenbach het voorgestel ons praat van bewustheid. (Lydia van der Merwe, Sarie, 24 Maart 2015). | SINONIEM(E): aandagtigheid | bewustelikheid
KYK OOK: aandagtigheid, bewustheid


miniatuursatelliet s.nw. | miniatuursatelliete | toestel met ’n massa laer en fisieke afmetings kleiner as dié van ’n konvensionele satelliet wat in ’n wentelbaan om die aarde of ’n ander planeet geplaas word: Miniatuursatelliete word volgens hul massa geklassifiseer. | ENGELS: miniaturised satellite | small satellite | smallsat
KYK OOK: mikrosatelliet, nanosatelliet, pikosatelliet


mini-orgaan s.nw. | mini-organe | organoïed

misofonie s.nw. [geen meervoud] neurologiese aandoening waarby pasiënte ’n hewige afkeer aan bepaalde geluide het: Navorsing het gevind dat die deel van die brein wat klank verwerk in mense met misofonie meer sensitief is vir stimuli as wat dit moet wees. Daarom kan sekere klanke ’n veg-of-vlug-reaksie by iemand ontlok (Theresa Brink, Netwerk24, 29 Junie 2020). Vandag se woord is sover bekend nog nie in ’n Afrikaanse woordeboek opgeteken nie. Die Nederlanders verduidelik dit soos volg: “Misofonie is een aandoening waarbij specifieke geluiden heftige gevoelens van woede, haat of walging oproepen. Letterlijk betekent misofonie haat van geluid” (Herman Lategan, Rapport, 28 Junie 2020). Misofonie is ’n oormatige reaksie op geluide wat veronderstel is om nie só ’n uitermatige reaksie uit te lok nie. Hierdie toestand is redelik algemeen en daar word geskat dat omtrent 20% van die bevolking ’n lae drempelwaarde het wanneer dit kom by klanke wat pla (Heinz Mödler, Netwerk24, 6 November 2019). | SINONIEM(E): geluidshaat | ENGELS: misophonia

missiel s.nw. | missiele | › geleide missiel [afkorting: GM] missiel waarvan die vlug(lyn) elektronies beheer word. | ENGELS: unguided missile
ongeleide missiel missiel waarvan die vlug(lyn) nie beheer word nie.

UITDRUKKING(S):
(soos) ’n ongeleide missiel/projektiel wees onvoorspelbaar wees; deur woorde/dade/ens. skade kan aanrig: Sulke video’s word soos opgewende speelgoedmotortjies op die internet geplaas. Mediahuise berig dan agterna oor dié ongeleide missiele van sensasionele inligting (Julian Jansen, Rapport, 17 Februarie 2019). [B]estuurders met koue vingers en toegewasemde ruite maak motors ongeleide projektiele (Hennie van Coller, Netwerk24, 26 Junie 2018).


mistykie s.nw. | mistykies | [verkleinwoord] (uit Engels, informeel, skertsend, ironies) fout. | ENGELS: small mistake
’n ligte mistykie ’n glips; ’n ongelukkie: M. kry baie dwarsklappe uit eie gelede oor sy ligte mistykie om … (Max du Preez, Vrye Weekblad, 2 Augustus 2019). Miskien het jy ook vanjaar ’n ligte mistykie (of twee, soos ek) met jou motor oorgekom wat dit vir jou nodig gemaak het om onder die spreekwoordelike geel sambreel van jou versekeraar skuiling te gaan soek (Die Burger, 25 November 2016). “Sorry boys, die ding het gebêkfaaier. Dit was ’n ligte mistykie wat ons groot geld gekos het” (Manie, Landbouweekblad, 23 Februarie 2001).


mitomaan s.nw. | mitomane | kompulsiewe leuenaar: Die direksie is nie legitiem nie en moet sy mitomaan van ’n uitvoerende hoof volg en onmiddellik bedank sodat ’n nuwe direksie aangestel kan word (Netwerk24, 11 November 2016).

mittedjale s.nw. [versamelnaam] (Moesliemafrikaans) Ook mattedjala speserye: Djy moet wee vi my van daai mittedjale vi my ingelêde vis gie, gehoor? (Anastasia de Vries, 2010).
◊: (ook figuurlik)
Ôs vestaan waa’uit hy kô en sien nou vannie kakgedagtes van sy tyd. Maa hy is wat ôs nou van hom maak mette mattedjala van sy woore virrie tyte van nou
(Jeremy Vearey, N.P. van Wyk Louw-gedenklesing, 18 Junie 2020).
| ENGELS: spice


MJC afk. MJR

MJR afk. Moslem/Moesliem Juridiese Raad; Moslem-/Moesliem- Juridiese Raad. | ENGELS: Muslim Judicial Council | MJC

modder s.nw. [gewoonlik enkelvoud] | ENGELS: mud
UITDRUKKING(S):
soos swem in modder wees ondeursigtig wees; nie maklik wees om te begryp nie; onverstaanbaar wees: Kom ons erken dit nou maar: Om Brexit te verstaan is soos om in modder te swem (Vrye Weekblad, FB, 20 April 2019).


modus s.nw. | modusse |
donker modus (ten opsigte van ’n selfoon-, tablet- of rekenaarskerm) donker agtergrond: Die donker modus […] is reeds ’n geruime tyd ’n gonswoord in die tegnologiebedryf. Eerstens verminder ’n donker skerm spanning op jou oë, veral in toestande waar daar min lig is, soos ’n donker slaapkamer […] Studies het bevind dat wit teks teen ’n pikswart agtergrond steeds stremming op die oë veroorsaak. Daarom [is hierdie] donker modus eerder ’n spesifieke grys skakering, en die teks in afwit. Dit verlaag die helderheid van die skerm en verbeter leesbaarheid (Petrus Malherbe, Netwerk24, 4 Maart 2020). | ENGELS: dark mode


moeder s.nw. | moeders | moedertjie |
UITDRUKKING(S):
’n moeder wat moeders grootmaak ’n vrou wat vir haar dogters en ander vroue ’n goeie voorbeeld stel: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


moers bw. | moerse | (informeel) baie; besonder; omtrent: Williamson se huis was moerse groot (Jeremy Vearey, Jeremy van die Elsies, 2018). Ek is D. moerse dankbaar vir sy deeglike en harde werk (Douglas Stern, Netwerk24, 5 Julie 2019).

Moertad s.nw. (Islam) iemand wat ’n Moesliem was, maar toe sy/haar geloof verwerp het.

moesallie s.nw. | moesallies | (Islam) biddende (persoon); persoon wat sallaah maak: Die oë moet stip op die bedemat voor ’n moesallie gerig bly. Wanneer die moesallie in gemeente salaah, dan word die Iemaam (leier) gevolg, en alle uiteringe word stilletjies voorgedra (Moosa Patel, Islam vir bekeerlinge, belangstellendes, vreemdelinge en nuwelinge).

moffie s.nw. | moffies | (informeel)
1
(deur lede van die LGBTQIA-gemeenskap gebruik om na hulle self te verwys) queer persoon: “Moffie” is oorspronklik ’n Afrikaanse Gaylewoord vir queer mense. Nie ’n vloekwoord nie (Du Toit Albertze, Klyntji, 22 November 2018).

2
(dikwels kwetsend, neerhalend deur cisgender mense gebruik in verwysings na lede van die LGBTQIA-gemeenskap) queer persoon: Ewe skielik onthou ek hoe ’n trans sister by Stellenbosch se treinstasie uitgejou is. Ek het net staan en toekyk terwyl die woord “moffie” skryn in my ore (Du Toit Albertze, Klyntji, 22 November 2018). | ENGELS: queer


mogodu s.nw. [geen meervoud] (Sotho, kookkuns) Ook mogudu, mala mogodu afval: Wat is mogodu? In isiXhosa word dit ukiso genoem, maar staan ook onder velerlei name bekend in ander Afrika-tale. In gewone Afrikaans? Afval. Ek verkies skaap- en lamafval, maar bees sal net so goed werk, alhoewel dit nie so sag en fyn van tekstuur as die ander twee is nie (Lesego Semenya, Vrye Weekblad, 10 Mei 2019).

molla s.nw. | mollas | mollatjie | [sametrekking van: mansbolla] lang hare wat ’n man agter/op sy kop saamgebind het tot ’n bolla (= die haarstyl wat ’n mens meer dikwels by vroue sien): Die prominente kantpaadjie geniet ook vanjaar ’n herlewing, terwyl jou molla (of mansbolla) sal moet plek maak vir die mansvlegsel (Rapport, 21 Februarie 2016). A. is een van die hoërskoolseuns wat sy hare deesdae in ’n mansbolla dra (Netwerk24, 29 September 2017). | ENGELS: man bun

mompelment s.nw. | mompelmente | (informeel) kompliment wat gemompel word; kompliment wat onwillig gegee word; binnensmondse/teësinnige kompliment. | ENGELS: mumbled compliment

mondboog s.nw. | mondboë | (musiek) umhupe

mondkappie s.nw. | mondkappies | (Nederlands, informeel, skertsend) gesigmasker. | ENGELS: face mask
KYK OOK: smoelkappie


moskombers s.nw. | moskomberse | moskombersie | bedekking of laag van mos.
(ook figuurlik): Koester al die spesiale siele in jou lewe soos 'n kosbare moskombersie (Hannelie Booyens, Vrye Weekblad, 19 September 2019). Julle was my “moskombers” wat my toegevou het (Niekie van den Berg, Beeld, 24 Oktober 2013). | ENGELS: blanket of moss

OORSPRONG:
Na lirieke van Anton Goosen en Stephan Bouwer: Die mense wat ek liefhet / Kom groei op my soos mos / Daar laat ek hul na hartelus gedy / En loop ek deur die wêreld – beskut teen die koue – / Die snoesigheid self: Ek met my moskombersie.


motswako s.nw. [geen meervoud] (Tswana, musiek) hip-hop-genre, veral gewild in Botswana en Suid-Afrika, gekenmerk deur ’n egalige ritme en ’n vermenging in die lirieke van Engels met die plaaslike taal: Tswana, of Suid-Sotho, Zulu, Afrikaans of Frans, afhangende van die rapper. | ENGELS: motswako
OORSPRONG:
Tswana motswako mengsel.


mozzarellabolletjies s.nw. [meervoud] (Italiaans, kookkuns) bocconcini

MPD afk. Munisipale Polisiediens. | ENGELS: Municipal Police Services | MPS

MRK afk. Menseregtekommissie. | ENGELS: Human Rights Commission | HRC

multimorbiditeit s.nw. [geen meervoud] (patologie, geneeskunde) komorbiditeit

multitaakverrigting s.nw. [geen meervoud] die uitvoering tegelyk van meer as een taak: Moenie te veel goed op een slag aanpak nie – multitaakverrigting is ’n dwaalbegrip. Jy neem langer om die take uit te voer en dis heel waarskynlik minder akkuraat (Netwerk24, 18 Januarie 2019). | SINONIEM(E): veeltaakverrigting | ENGELS: multitasking

multitask ww. | het gemultitask | (Engels) tegelyk met die uitvoering van meer as een taak besig wees; tegelyk verskeie take uitvoer: Vroue […] beskik oor die bomenslike vermoë om te multitask (Reinhold Swart, Rapport, 17 Maart 2019). ’n Mens moet natuurlik jou hoed afhaal vir oom Zoempie se vermoë om so in die doodsnikke van sy presidentskap te kon multitask (Beeld, 23 April 2018 ). | ENGELS: multitask
KYK OOK: multitaakverrigting


multiwerktuig s.nw. | multiwerktuie | veeldoelige stuk gereedskap. | ENGELS: multitool
KYK OOK: mesmoertang


Münchmeyersiekte s.nw. [geen meervoud] (geneeskunde) fibrodisplasie

munisifaliteit s.nw. | munisifaliteite | (informeel, skertsend) onbekwame munisipaliteit wat weens wanbestuur nie langer noodsaaklike dienste kan lewer nie en op die randjie van ineenstorting is: Munisi-faal-iteite word al hoe vrotter (Vrye Weekblad, 27 Junie 2019). | ENGELS: failed municipality
OORSPRONG:
Woordspeling: munisipaliteit + faal


mx afk. Ook mx. titel gebruik deur mense wat nie hulle gender wil aandui of hulself as manlik of vroulik wil identifiseer nie: Studente en personeel van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in Johannesburg het voortaan die opsie om hulself op ’n genderneutrale wyse te identifiseer deur die mx.-titel op administratiewe vorms te kies (Christiaan du Plessis, Netwerk24, 25 Julie 2018). | ENGELS: mx

my se woordgroep (lekties) my: Maar sal djulle so hier in my se djaart kom staat en skandes maak! (Ilne Fourie, Wasgoed, 2013).