Indeks | A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z | 1 | 2 | 3 | 4 | 5


haan s.nw. | hane | haantjie |
UITDRUKKING(S):
Die haan wat dink hy word gevoer om te kraai, lê Sondag in die oond en braai wie dink hy/sy is onvervangbaar, maak ’n fout: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


haasgras s.nw. [geen meervoud] (informeel, skertsend) dagga

Haggada s.nw. [gewoonlik enkelvoud] Ook Haggadah › die Haggada(h) die boek wat Joodse gesinne en families by die tradisionele huisgodsdiens op die eerste twee aande van die Paasfees gebruik. | ENGELS: Haggadah

hak s.nw. | hakke | hakkie |
UITDRUKKING(S):
haar hakke is te hoog (informeel, skertsend) gesê van ’n vrou wat nie hulp aanbied waar ander werk nie.


hal ww. | het gehal | (lekties) haal: Innie aane het hy soema sy kombêse en sy kussings gan hal, dan lê hy oppie koue vloe (Chase Rhys, Kinnes, 2018).

halaal [uitspraak: galaal] b.nw. [attr. en pred.] (Islam) geoorloof; wat deur God toegelaat word: Die woord “halaal” word nie tot voedselinname beperk nie, maar wel vir enige aksie wat God se goedkeuring wegdra, bv. wanneer ’n man en vrou wettiglik getroud is, dan is seksuele omgang tussen hulle “halaal”, terwyl omgang tussen ongehudes, “haraam” (belet) is. (Moosa Patel, Islam vir bekeerlinge, belangstellendes, vreemdelinge en nuwelinge). | TEENOOR: haraam

haloep ww. | gehaloep | (lekties) hardloop
afleiding(s):
inhaloep | uithaloep: Ek is nog portside biesag ommie snoeke oppie waentjie te line, toe kô Dennie met ’n tynskêr se blade vol gazi uitgehaloep (Jeremy Vearey, Jeremy vannie Elsies, 2018).


hamster
ww. | het gehamster | (uit Nederlands) op groot skaal inkopies doen en voorrade oppot uit vrees vir toekomstige skaarste.

s.nw. | hamsters | hamstertjie |
UITDRUKKING(S):
soos ’n hamster op ’n trapmeul(e) wees niks uitrig nie; vergeefse moeite doen: Die prentjie wat jy in jou kop moet sien van die Suid-Afrikaanse ekonomie is dié van ’n hamster op ’n trapmeul – hy trap laat dit klap, maar gaan nêrens heen nie (Mike Schüssler, Netwerk 24, 13 Julie 2017). | ENGELS: like a hamster on a treadmill





hand s.nw. | hande | handjie | hand   | ENGELS: hand
UITDRUKKING(S):
hand om die blaas wees/loop/staan/sit/gesels/ens. of hand om die blad … (soms as skimp dat iets geheims of onderduims bepraat word) soos groot/ou/dik vriende/pelle/tjommies wees/loop/staan/sit/gesels/ens.: Heel ironies juis hulle wat voor die verkiesing hand om die blaas gestaan het met ANC-hoës en ons president laat teug het aan uitsoek-Pinotage (Hennie van Coller, Netwerk24, 14 Junie 2019). Dit wil klink asof sommige polisielede hand om die blaas met die bendes is (Annelie Botes, Netwerk24, 1 Februarie 2019). Nee, sê Trump, hy en Kim is nog hand om die blaas (Netwerk24, 30 Augustus 2018).

gaan hande was of jou hande gaan was (eufemisties) toilet toe gaan: Hy het kort-kort water gedrink, en moes in 'n stadium selfs vra dat die kommissie verdaag sodat hy sy “hande kon gaan was” (Erin Bates, Vrye Weekblad, 19 Julie 2019).


handblitser s.nw. | handblitsers | handblitsertjie | [dikwels verkort tot: blitser] (kookkuns) elektriese handtoestel waarmee voedsel gemeng/gekap/fyngemaak word: Blits alles (met vet en vel) met ’n handblitser of in ’n  voedselverwerker tot baie fyn (Anél Potgieter, Netwerk24, 28 Junie 2015). Ek onthou nog hoe my ma dan die vloeistof deur ’n sif gooi en die boontjies met ’n houtlepel deurdruk om dit heeltemal fyn te maak (dis nou in die dae voor blitsers) (Liezel de Lange, Netwerk24, 20 Julie 2014). | ENGELS: hand blitzer
KYK OOK: blits


handdrukverbod s.nw. | handdrukverbiedings, handdrukverbiedinge | verbod op die gee van ’n handdruk as groet, as maatreël om die verspreiding van siektekieme te voorkom. | ENGELS: hand-shake ban

handeklapkerk s.nw. | handeklapkerke | handeklapkerkie | (informeel, soms neerhalend) pinksterkerk; charismatiese kerk: Ons in die gehoor sing en juig soos ’n onbeskaamde Amerikaanse handeklapkerk: “Halleluja! Halleluja!” (Nico Luwes, Netwerk24, 16 Julie 2014). Sy pa, lekeprediker in ’n handeklapkerkie, het sy ma geslaan en geld was skaars (Deborah Steinmair, Vrye Weekblad, 5 Julie 2019). | ENGELS: happy-clappy church

handjel s.nw. [geen meervoud] soort jel, veral met alkohol as basis, waarmee ’n mens jou hande kan skoonmaak/ontsmet wanneer seep en water nie beskikbaar is nie. | SINONIEM(E): handreiniger | ENGELS: hand gel

handlappie s.nw. | handlappies | [verkleinwoord] klein weggooilappie/-doekie wat met 'n reinigingsmiddel behandel en derhalwe klam is, wat gewoonlik in ’n pakkie of houer gekoop word en vir persoonlike higiëne gebruik word: Baie van die antibakteriële handreinigers en handlappies (“wipes”) wat in die winkels te koop is, bevat nie genoeg alkohol om doeltreffend te wees teen die coronavirus nie (Anneliese Burgess, Vrye Weekblad, 13 Maart 2020 ). | ENGELS: (wet) wipe

handreiniger s.nw. [geen meervoud] (gewoonlik vloeibare) skoonmaakmiddel, veral met alkohol as basis, waarmee ’n mens jou hande kan reinig/ontsmet wanneer seep en water nie beskikbaar is nie: Ons het alles wat ons nodig het in die winkels, behalwe gesigmaskers en handreiniger (Huisgenoot, 20 Maart 2020). | SINONIEM(E): handjel | ENGELS: hand gel

hanna-hanna ww. | het gehanna-hanna | tyd op ’n ledige, lui, verveelde of doellose manier verwyl; tyd deurbring met doellose geklets: Hier sit ek en my brasse en hanna-hanna in Kaaps-Afrikaans, en skielik moet ek nou my mooiste Engels gooi (Rohan Magerman, LitNet, 25 November 2014). | ENGELS: idle (about/around/away)

Hanyu Pinyin s.nw. [dikwels verkort tot: Pinyin] [geen meervoud] Romeinse skryfstelsel vir die weergee van Chinees, deur die Chinese regering self ontwerp vir gebruik deur die Westerse wêreld.

Die transliterasie van plekname uit die Ooste is ’n probleem hoofsaaklik wanneer die betrokke land ’n skryfsisteem (bv. Chinees, Hindi, Arabies, Koreaans, Japannees) gebruik waarvoor daar nie ’n outogtone, amptelike spelling bestaan nie.

Deur die aktiwiteite van Unesco se Komitee vir Romanisering het daar mettertyd pleknaamlyste ontstaan, waarvan die meeste gebaseer is op ’n benaderde Engelse interpretasie van die uitspraak van letters (maar ook nie altyd uitspreekbaar deur Engelstongiges nie). Daarbenewens het daar by ’n groot aantal tale (veral Germaanse en Romaanse tale) getranslitereerde vorme van die mees prominente plekname in Oosterse lande ontstaan wat gestandaardiseer is en nog steeds in algemene gebruik is.

Vir die erkenning van sulke spelvorme moet daar, gewoon as gevolg van universele standaardisering, waarskynlik ook in Afrikaans plek gemaak word. Dit geld ’n aantal prominente plekke op die aardbol, soos Rome, Moskou, Parys, Londen, Berlyn, Tokio, Boekarest, ens., waarby Afrikaans in die meerderheid gevalle die voorbeeld van Nederlands gevolg het. Dit sou dus ’n nuttige vuisreël wees om in twyfelgevalle te kyk na wat Nederlands daarmee gemaak het, en ’n mens sou m.i. dan op redelike veilige grond wees.

Anders as in die geval van tale soos Russies en Japannees, is daar egter nie in Afrikaans die moontlikheid om Chinees (watter een van die Chinese tale ook al) te translitereer nie. Die Chinese regering het daarvoor 'n stokkie gesteek deur self 'n Romeinse skryfstelsel (Hanyu Pinyin) vir gebruik deur die Westerse wêreld te ontwerp. Dit vergemaklik natuurlik die taak van buitelanders enigermate wat die skrifvorm betref, maar lei buitelanders op 'n dwaalspoor wat die werklike uitspraak van die betrokke woord betref, omdat dieselfde letter dikwels verskillend uitgespreek word deur sprekers van verskillende (Westerse) tale. Daarby is die uitspraak ook gebaseer op Mandaryns (Han), en verskil heeltemal van die uitspraak van dieselfde woorde in bv. Kantonees, hoewel die Chinese karakters presies dieselfde is.

Hoewel uitspraakreëls saam met die spelling voorsien word (bv. dat “d” as [t] en “o” as [u] uitgespreek word, soos in Mao Zedong, wat in Mandaryns “Mao tse Toeng” klink, en “b” as [p], sodat Beijing  in die mond van die Mandaryne na Petsjieng klink (nie veel verskillend van Peking nie), lyk dit asof elke taal maar sy eie uitspraak van die spelvorm gaan vorm, en dat die uitspraakreëls vir die res van die wêreld te veel moeite gaan wees.

Prof. Ernst Kotzé  



haraam [uitspraak: garaam] b.nw. [attr. en pred.] (Islam) ongeoorloof; wat deur God verbied/belet word: Die woord “halaal” word nie tot voedselinname beperk nie, maar wel vir enige aksie wat God se goedkeuring wegdra, bv. wanneer ’n man en vrou wettiglik getroud is, dan is seksuele omgang tussen hulle “halaal”, terwyl omgang tussen ongehudes, “haraam” (belet) is. (Moosa Patel, Islam vir bekeerlinge, belangstellendes, vreemdelinge en nuwelinge). | TEENOOR: halaal

hare s.nw. [meervoud] | ENGELS: hair
UITDRUKKING(S):
jou hare skuins kam jou nie bekommer nie: “Jy kam jou hare skuins”, dis wanneer jy nie vir jou kan bekommer oor iets nie (Shannilee Jacobs, Kuier, 15 Mei 2019).


hart s.nw. | harte | hartjie |
UITDRUKKING(S):
jou hart in jou sak druk jou ware gevoelens onderdruk/wegsteek: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


hasjisj s.nw. [geen meervoud] (Indies)
OORSPRONG:
Uit Arabies.

KYK OOK: dagga


heem s.nw. [geen meervoud] (chemie, voedseltegnologie) heemverbinding

heemverbinding s.nw. | heemverbindings | [soms verkort tot: heem] (chemie, voedseltegnologie) komplekse verbinding met ’n ysterioon as kern en ’n porfirienmolekule as ligand: Heem is ’n ysterverbinding wat in alle lewende wesens voorkom; maar pleks van dit by koeie oes, het wetenskaplikes die DNS van sojawortels in geneties-aangepaste gis geplaas waar dit fermenteer en soja-heem vervaardig (Huisgenoot, 7 Februarie 2020). Dis pienk, sappig en sis in die pan – presies wat ’n mens van ’n goeie beesvleispattie soek. Maar dié pattie […] bevat geen diereprodukte nie – dis gemaak van soja en aartappelproteïen met ’n skeut heem, ’n spesiale bestanddeel wat moet verseker dit proe eg (Huisgenoot, 7 Februarie 2020). | ENGELS: heem | haem

heen-en-weerdery s.nw. [geen meervoud] (figuurlik) › ’n heen-en-weerdery situasie waarin eers so gedoen/gesê word, en dan weer anders: Ek reken die gewone heen-en-weerdery, wat so ’n belangrike wig en teenwig vir demokratiese regerings is, was ter sprake (Douglas Gibson, Netwerk24, 28 Januarie 2018). Ná ’n lang heen-en-weerdery is joernaliste uiteindelik vir die laaste uur toegelaat (Judith February, Netwerk24, 23 Junie 2015). Die [party] het ’n paar onstuimige maande agter die rug waarin hy onder hewige kritiek deurgeloop het vir sy heen-en-weerdery (Maryna Lamprecht, Netwerk24, 23 Februarie 2014). | SINONIEM(E): gewoer-woer | ENGELS: to-and-froing

Heilige Nag s.nw. [geen meervoud] (Islam) 27ste nag van die maand Ramadaan, waartydens Moesliems glo gelowiges vergifnis van sonde ontvang.

hek s.nw. | hekke | hekkie |
UITDRUKKING(S):
in die hek duik (informeel) teëspoed kry; misluk: As R. die stang vasbyt en sy teenstanders vierkant in die oë kyk, gaan hy ’n rebellie in sy eie party ontketen. As hy dit nie doen nie, gaan die vertroue wat die private sektor en die beleggingsgemeenskap in die ekonomie het, ernstig in die hek duik (Max du Preez, Vrye Weekblad, 20 Desember 2019). Dit is egter jammer dat die spanningslose draaiboek grotendeels poer-poer en daarom in die hek duik (Christiaan Boonzaier, Netwerk24, 27 Desember 2019). | ENGELS: fail | fall flat


helikopterma s.nw. | helikopterma’s | (figuurlik, informeel) Ma wat gedurig, soos ’n helikopter, beskermend oor en om sy/haar opgroeiende kind(ers) draai: Grietjie was in die middel van rekordeksamen, dus: Helikopterma willig in om dit gou-gou te gaan doen (Clari Niemand, Vrye Weekblad, 30 November 2019). | ENGELS: helicopter mom
KYK OOK: grassnyerouer


helikopterouer s.nw. | helikopterouers | (figuurlik, informeel) ouer wat gedurig, soos ’n helikopter, beskermend oor en om sy/haar opgroeiende kind(ers) draai: Helikopterouers doen álles vir hul kind en ontneem hom die geleentheid om verantwoordelikheid te leer (Alet Wichmann, Rapport, 27 Januarie 2018). | ENGELS: helicopter parent
KYK OOK: grassnyerouer


herbruikbaar b.nw. | herbruikbare | Wat meer as een keer gebruik kan word: Die bottels is herbruikbaar. Koop buitelewetoerusting wat van herwonne of herbruikbare materiaal gemaak word (Arthur Jones, Weg!, 17 Desember 2019). [Die winkel] wil verbruikers aanmoedig om hul vars produkte eerder in herbruikbare papiersakkies te koop (Grethe Kemp, Rapport, 4 Augustus 2019). | ENGELS: reusable

herlewingsboerdery s.nw. [geen meervoud] herlewingslandbou

herlewingslandbou s.nw. [geen meervoud] Ook herlewingsboerdery weipraktyke en verbouing van gewasse op maniere wat verseker dat organiese materiaal in die grond opbou en verskeidenheid in die grond herstel word: Herlewingslandbou word beskou as ’n manier om fotosintese in te span om koolstof vas te lê en as organiese materiaal in die grond op te berg sodat dit nie as koolsuurgas in die atmosfeer ontsnap nie (Amelia Genis, Landbouweekblad, 1 Februarie 2019). Deur volhoubare landbou voor te staan, sê jy eintlik jy is tevrede met die huidige stand van swak weiding en uitgeputte grond. As jy egter herlewingslandbou aanhang, beteken dit jy streef na “herlewing” in die grond en die verbetering van die weiding (Gerrit van Zyl, Landbouweekblad, 31 Maart 2017). | ENGELS: regenerative agriculture
samestellings:
herlewingslandboustelsel | herlewingsboerderystelsel: In herlewingsboerderystelsels word grondvrugbaarheid biologies verhoog deur dekgewasse, wisselbou, kompos en mis wat belangrike voedingstowwe in die grond vrymaak, oordra en sirkuleer (Amelia Genis, Landbouweekblad, 1 Februarie 2019).


herstelknoppie s.nw. | herstelknoppies | (rekenaar) Knoppie wat gedruk word om vorige opdragte en veranderinge ongedaan te maak sodat alles weer is soos dit oorspronklik was.
(ook figuurlik): Staan elke 20 minute op om jou bene te rek. Jou liggaam vind heelwat baat daarby om kort-kort die spiere te rek. Dink daaraan as ’n herstelknoppie vir jou liggaam waarmee jy die negatiewe uitwerking van die lang sittery teenwerk (Vida Booysen, Netwerk24, 29 November 2015). | ENGELS: reset button

UITDRUKKING(S):
die herstelknoppie druk iets ongedaan maak, vernietig of nietig verklaar, of 'n bestaande toestand omkeer met die doel om opnuut/vars te begin: Reg van die begin van die pandemie al verklaar [die president] gereeld dat die herstelknoppie gedruk moet word; dat ons nou 'n ideale geleentheid het om 'n heel nuwe, getransformeerde ekonomie op die as van Covid 19 te bou (Max du Preez, Vrye Weekblad, 16 Junie 2020). Stel ’n doenlys vir môre op of maak ’n foonoproep wat jy uitgestel het. Die verandering van pas sal die herstelknoppie in jou trae, oorlaaide brein druk (Huisgenoot, 31 Oktober 2019).


hertwiet (sosiale media)
ww. | het hertwiet | ’n teksbrokkie/foto/ens. wat deur iemand anders op die sosiale medium Twitter geplaas is, verder versprei deur dit aan te stuur sodat mense wat jou volg, dit ook kan sien: [Die hartroerende verhaal] het ’n wegholtreffer aanlyn geword wat rekords laat spat het toe dit 2 700 kommentare ontlok, 70 000 keer hertwiet is en binne ’n paar dae 300 000 “likes” gekry het (Kirsten Buick, Huisgenoot, 18 April 2019). | ENGELS: retweet

s.nw. | hertwiets | duplisering/herplasing van ’n teksbrokkie/ens. op die sosiale medium Twitter: Met meer as 1 700 likes en 500 hertwiets het dit omtrent ’n reaksie onder Suid-Afrikaners op Twitter ontlok (Ross Michaels, Huisgenoot, 11 April 2019). | ENGELS: retweet


hetero-normatief b.nw. | hetero-normatiewe | wat dui op of verband hou met ’n wêreldbeeld wat heteroseksualiteit as die normale of gewenste seksuele oriëntasie bevorder of aanmoedig: So ’n uitspraak berus op ’n hetero-normatiewe verstaan van die Bybel. En waar “hetero” die norm is, sal “homo” die afwyking wees! (Die Burger, 24 Oktober 2013). Met ’n eerste gay deelnemer aan ’n reeks wat tot nou toe blatant hetero-normatief en patriargaal was, kan ’n mens ook verstaan dat […] veilig wil speel en eerder sal mik na die butch kant van die gay glyskaal as die slap-polse-drama-queen-uithoek van die spektrum (Hannelie Booyens, Vrye Weekblad, 31 Mei 2019). […] se twiet gee kykers egter ’n uiterse beperkte blik op queer-identifiserende individue in Suid-Afrika, spesifiek onder die Afrikaner-gemeenskap. Met een woord, “manlik”, word daar laer getrek oor die “regte” manier van gay-wees. Dit kan heel onskuldig dui op jou geslag, maar rondom die term “manlik” is daar soveel waardes en merkers wat dit as ’t ware ’n semantiese mynveld maak. Dit normaliseer “manlike” gay mans wat hetero-normatiewe genderrolle bevorder en idealiseer ’n gay-identiteit waar hipermanlikheid en die tradisionele opvattings oor manlikheid gevier word. So word ’n hele spektrum mans met ander queer-identiteite uitgesluit (Adriaan Roets, Netwerk24, 20 Mei 2019). | ENGELS: heteronormative

hidroksichlorokien s.nw. [geen meervoud] (farmakologie, geneeskunde) middel wat vir die voorkoming en bestryding van malaria gebruik word: Die jongste aankondiging van Indië is dat hy die uitvoer van die malariamiddel hidroksichlorokien staak. Dit is nadat dit as ’n potensiële middel teen Covid-19 beskou is, maar dit is nog nie bewys nie (Netwerk24, 31 Maart 2020). Op ’n bisarre wyse wil dit voorkom asof een en elke lid van die Trump-administrasie bereid sal wees om in ’n irrasionele waan hidroksichlorokien te sluk om Covid-19 te besweer (Vrye Weekblad, 22 Mei 2020). | ENGELS: hydroxychloroquine

hierjy- woorddeel minderwaardige: Gegewe hiérdie stukkies statistiek kan Sikhisme ooglopend nie met ’n hierjy-gelofie, soos die Church of the Flying Spaghetti Monster, vergelyk word nie (Fanie van der Merwe, “Fanie Os Oppie Jas”, Facebook, 5 Julie 2019).

hipermedia s.nw. [versamelnaam] digitale, nieliniêre weergawe van inligting in die vorm van teks, beeld en geluid met skakels na ander inligting: Deur hipermedia kies die gebruiker self, op ’n interaktiewe manier, sy of haar pad. Hipermedia bied aan die gebruiker ’n interaktiewe werk- en leeromgewing wat parallel aan mense se denkpatrone verloop en waar die gebruiker toegelaat word om assosiasies en keuses te maak en só die proses onder beheer te hou (Unisa). | ENGELS: hypermedia

hipster s.nw. | hipsters | (uit Engels)
1
(soms neerhalend) jong, modieuse (veral manlike) persoon, gewoonlik welaf, wat behoort tot ’n subkultuur wat teruggryp na ’n soortgelyke stroming in die jare dertig en veertig van die vorige eeu, onder meer gekenmerk deur die dra van ’n retro- of sonbril, tatoes, klere met ’n ouderwetse voorkoms, die luister na alternatiewe musiek, gereelde besoeke aan koffiedrinkplekke en kieskeurige eet- en drinkgewoontes. Manlike hipsters het dikwels ’n baard of snor: Die hipster – ’n stedeling met ’n effe aangeplakte groen houding, musiek-, koffie-, kos- en biersnobisme en boheemse pretensies – is nie ’n nuwe verskynsel nie (Danie Marais, Beeld, 18 Februarie 2014). In die 21ste eeu is vintage-klere weer gewild (veral onder hipsters), langspeelplate is die jongste gier, foto’s word op Instagram gedokter om oud te lyk, en kontemporêre musiek neig na die verlede in ’n wêreldwye oplewing in folk- en countrymusiek (Beeld, 10 November 2014). Ons het hom leer ken in die treffer-reeks Die boekklub, waar hy as die koffie-obsessed semi-hipster Tom in kykers se harte geklim het (Hanlie Retief, Rapport, 3 Maart 2019 ).

2
langbroek wat nie tot by die middel reik nie, maar laag en styf om die heupe pas.

samestellings:
hipsterjeans


historiese linguistiek woordgroep [geen meervoud] (taalkunde) vertakking van die linguistiek wat fokus op hoe ’n taal ontwikkel. ’n Spesifieke onderdeel is die etimologie, wat die ontwikkeling van woorde en hulle betekenisse bestudeer. | ENGELS: historical linguistics

HKGK afk. (plat) Hier kom groot kak; (eufemisties) Hier kom groot (’n) groot krisis.

hoeka s.nw. [geen meervoud] die verlede. | ENGELS: remote antiquity | the dim past
hoeka se toeka die verre verlede; die verlede wat hoeka (= in die verlede) al toeka (= verlede) was: Elke keer as sy en my ma iets probeer onthou het, het sy haar skouers opgetrek en gesê: Hoeka se toeka, wat maak dit eintlik saak (Gielie Hoffmann, Vrye Weekblad, 28 Junie 2019).


hoender s.nw. | hoenders | hoendertjie |
vrylopende hoender hoender wat nie pal in 'n lêbattery of vir slag in 'n hok aangehou word nie, maar (minstens 'n gedeelte van die dag) vry rondloop: Eiers van vrylopende hoenders kom van ’n kleinboer net buite die dorp (Ilse Zietsman, Netwerk24, 29 Oktober 2019). skarrelhoender | ENGELS: free-range chicken

UITDRUKKING(S):
loop gee die hoenders kos (informeel, skertsend) gesê aan ’n kind om grootmense se geselskap te verlaat.


hoendervoet s.nw. [geen meervoud] (informeel, skertsend) dagga

hoëoktaan- woorddeel
1
met ’n hoë oktaangradering: hoëoktaanbrandstof

2
(figuurlik) intens; sterk; kragtig; dinamies: hoëoktaan-Bach ’n intense drama met ’n span hoëoktaan-akteurs (Pieter van der Lugt, Netwerk24, 3 Oktober 2013). Kort ná ons terugkoms het ek ’n hoëoktaan-immigrasieprokureur in Los Angeles gekontak (Jaco Kirsten, Rapport, 7 Julie 2019). | ENGELS: high-octane


Hoerikwaggo s.nw. [geen meervoud] (Khoi, histories) oorspronklike naam van Tafelberg: Daar was 'n tyd voor 1652 toe ons mense se beeste vrylik aan die voet van Hoerikwaggo kon wei (Jeremy Vearey, Vrye Weekblad, 5 April 2019).

hoerpyp s.nw. | hoerpype | (informeel, lekties, plat, afkeurend) man wat (volgens die mening van die spreker) losbandig, seksueel onverantwoordelik/onaanvaarbaar, optree; man wat hom skuldig maak aan owerspel/egbreuk: Op die Cape Flats is ’n man ’n hoerpyp. Die woord “jintoe” word ook vir ’n man gebruik, waarby ons “jintoeliena” vir die vrou gebruik om haar meer bedônirt te maak (Mavis Vannie Lavis, in die groep Vloek, FB, 15 Oktober 2019).
KYK OOK: jintoe


hoe-se-naam s.nw. | hoe-se-naams | hoe-se-naampie | (informeel) woord in informele geselstaal soms gebruik om te verwys na iets wat nog nie ’n naam het nie, waarvan die spreker die naam nie ken nie, of waarvan hy/sy die naam vergeet het. | ENGELS: whatchamacallit
KYK OOK: megafter


hoesskaamte s.nw. [geen meervoud] gevoel van iemand wat hoes in die aanwesigheid van ander, wat hulle ten tyde van siekte oor die gevaar van druppelbesmetting bekommer.

hokslaantyd s.nw. (informeel, skertsend) grendeltyd

holografie s.nw. [geen meervoud] (studie van) maniere om met behulp van ingegraveerde strukture, fotografiese films of sensors driedimensionele beelde/afbeeldings van voorwerpe te skep: Holografie maak dit moontlik om ’n afbeelding tegelyk uit verskillende hoeke waar te neem op ’n manier wat die indruk van ’n ruimtelik driedimensionele beeld skep. Holografie is glad nie ’n normale projeksie op ’n gewone skerm nie, maar ’n ligveld wat ’n driedimensionele beeld skep met ’n spesiale projektor wat uit die grond laserstrale uit verskillende rigtings teen mekaar laat bots (Glen van Loggenberg, Rapport, 13 November 2016). | ENGELS: holography
afleiding(s):
holografies: holografiese afdruk holografiese beeld holografiese vertoning | ENGELS: holographic

KYK OOK: hologram


hologram s.nw. | hologramme | hologrammetjie | fisieke struktuur wat gesien word wanneer lig in ’n verligte holografiese afdruk afbuig of wanneer ’n laser daardeur skyn en die beeld op so ’n wyse geprojekteer word dat die brein dit as ’n driedimensionele voorwerp waarneem: Olifante, perde en selfs goudvisse is van die groot sterre in dié Duitse sirkus – en hulle is almal hologramme (Sandy Cook, Huisgenoot, 28 Junie 2019). Voor op die verhoog staan pres. Cyril Ramaphosa. Dit lyk of dit regtig hy is, nie die flonkerende hologram van hom wat Vrydag voor ’n gehoor in Rustenburg geprojekteer is nie (Waldimar Pelser, Rapport, 7 Julie 2019). ’n Driedimensionele hologram benodig bykans vier keer soveel datakapasiteit as ’n gewone ultrahoëdefinisievideo.
KYK OOK: holografie

samestellings:
hologrambril | hologramtegnologie | hologramvertoning





Holoseen s.nw. [geen meervoud] (geologie) › die Holoseen(tydperk) geologiese tydperk wat op die Pleistoseen volg en strek van sowat 11 700 jaar gelede tot die tyd waarin ons nou leef: Ek is in die Holoseen gebore – die benaming van die 12 000 jaar lange tydperk van stabiele klimaat wat dit vir die mens moontlik gemaak het om hom te vestig, te boer en beskawings te skep . . . die Holoseen is verby (Tony Weaver, Netwerk24, 29 Januarie 2019 ). | ENGELS: Holocene

hommeltuig s.nw. | hommeltuie | hommeltuigie | (klein) onbemande (vlieg)tuig. | ENGELS: drone
samestellings:
hommeltuigaanval | hommeltuigkamera: ongelooflike vistas vasgevang met ’n hommeltuigkamera (Die Burger, 17 November 2016). | hommeltuigkenner | hommeltuiglanding | hommeltuigoorlog: 'n Volskaalse hommeltuigoorlog woed die afgelope paar weke, met regeringsmagte wat H. se vestings bombardeer (Erika Gibson, Vrye Weekblad, 9 Augustus 2019). | hommeltuigsport | hommeltuigtegnologie | hommeltuigvlieg


hond s.nw. | honde | hondjie | | ENGELS: dog
UITDRUKKING(S):
die swart hond (informeel) depressie: Toe hy sy werk verloor, het die swart hond aan hom begin knaag (Franco Havenga, Huisgenoot, 18 April 2019). Omdat ek bipolêr is en ek sedert 1989 medikasie neem wat aan my ’n volhoubare lewe gee en my kan laat werk en die donker swart hond van my deur af laat wegbly, moet ek elke jaar my bloed laat toets (Amanda Strydom, Netwerk24, 8 Mei 2019). Sy het derduisende mense met défaitisme en terneergedruktheid gehelp, maar het ten spyte van haar troebel kinderjare self nooit die swart hond se asem teen haar nek voel blaas nie (Herman Lategan, Rapport, 28 April 2019).

die hond hardloop weg met die vadoek (informeel) gesê wanneer ’n broek tussen die boude intrek: (Bianca Farao, Kuier, 15 Mei 2019).


hondjies s.nw. [meervoud] (tronktaal, figuurlik) vuurhoutjies: (Johann van der Westhuizen, Netwerk24, 16 September 2017). | ENGELS: matches

hongi s.nw. | hongi’s | tradisionele Maorigroet waarby twee mense hulle neuse teen mekaar vryf, en soms, terselfdertyd, hul voorkoppe aan mekaar laat raak: In Nieu-Seeland word voorgestel Maori’s moet vir eers nie groet deur neuse teen mekaar te vryf nie (’n “hongi”), maar mekaar eerder met ’n “waiata”, ’n Maori-lied, groet (Netwerk24, 4 Maart 2020). | ENGELS: hongi

hoog b.nw. | hoë | (informeel)
1
(intens) gelukkig; eufories.

2
[verkorting van: hoog in die takke] (dwelmsleng) onder die invloed van ’n bedwelmende middel: Hy was so hoog hy het dit nie eens agtergekom nie. | ENGELS: high on …
hoog op … (uit Engels): Ek is seker hulle was hoog op een of ander dwelm. Hulle oë was so groot en wit. (Herman du Plessis, Netwerk24, 26 September 2017).
| Engels: high


Hoorn s.nw. [geen meervoud] (informeel) › die Hoorn Oudtshoorn.


hospitaal s.nw. | hospitale | hospitaaltjie |
UITDRUKKING(S):
Daar is al ’n hospitaal na hom/haar genoem gesê van iemand wat gedurig almal van sy/haar siektes vertel: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


houdingsrassisme s.nw. [geen meervoud] rassisme

huidiglik bw. | ENGELS: at present | presently | currently | at this stage

 LUISTER



huisrobot s.nw. | huisrobotte, huisrobots | robot wat, as huishulp, werk in verband met ’n huishouding verrig: ’n Huisrobot kan jou help met dinge soos om te weet wat in jou huis aangaan, om ander toestelle te beheer, of selfs met jou troeteldiere speel. S. het groot planne vir persoonlike huisrobotte […] Die idee is dat dit nie net ’n masjien is nie, maar ’n elektroniese metgesel wat in elke oomblik van jou dag deel (Willem Kempen, Vrye Weekblad, 17 Januarie 2020). ’n Huisrobot begeer om onafhanklik en menslik te wees (Beeld, 24 Maart 2012). | ENGELS: domestic robot

huts s.nw. | hutse | (informeel) hutsmerk


hutsetiket s.nw. | hutsetikette | (sosiale media) Ook hutswoord | hutswoorde | (sleutel)woord voorafgegaan deur ’n hutsmerk, op sosialemediaplatforms, veral die sosiale netwerk Twitter, geplaas by teksbrokkies/boodskappe/inligting/kommentaar oor dieselfde onderwerp om verskillende plasings oor die onderwerp maklik te kan vind: Die idee is om iets dappers te doen, om daarna ander uit te daag om iets soortgelyks te doen, jou uitdaging in beeld vas te lê en dit aanlyn te plaas met die hutsetiket #joost #braaiday #bebrave (Karin Burger, Netwerk24, 19 September 2014). | ENGELS: hashtag

hutsmerk s.nw. | hutsmerke | [soms verkort tot: huts] (sosiale media) Ook hutsteken die skryfteken #, in die sosiale media gebruik voor sleutelwoorde wat met ’n bepaalde onderwerp verband hou om met behulp van dié hutsetiket ander plasings oor dieselfde onderwerp maklik te kan vind: Onder die hutsmerk #HolaMatamela het Ramaphosa Maandagaand ’n regstreekse gesprek op Twitter gehad waarin hy vrae van gewone mense beantwoord het (Philda Essop, Netwerk24, 16 April 2019). In ’n uitspraak wat hy … gelewer het oor ’n klag deur ’n verbruiker, sê die ARB nou dat bekendes hutsmerke móét gebruik om aan te dui of hulle betaal word om [’n produk of diens] te bemark (Elvira Wood, Netwerk24, 5 Julie 2019). Die maklikste manier om Twitter te navigeer is om hutsmerke soos padtekens te gebruik. As jy op ’n hutsmerk soos byvoorbeeld #skommel klik, verskyn ’n string tweets van mense wat in Afrikaans met die manlike geslagsdeel spog (André-Pierre du Plessis, Vrye Weekblad, 22 Mei 2020). | ENGELS: hash | hash symbol

hutsteken s.nw. | hutstekens | hutsmerk

hutswoord s.nw. | hutswoorde | (sosiale media) Ook hutsetiket | hutsetikette | (sleutel)woord voorafgegaan deur ’n hutsmerk, op sosialemediaplatforms, veral die sosiale netwerk Twitter, geplaas by teksbrokkies/boodskappe/inligting/kommentaar oor dieselfde onderwerp om verskillende plasings oor die onderwerp maklik te kan vind: Die hutswoord #GlobalSussexBabyshower word op sosialemediaplatforms ingespan om donasies vir organisasies waarby Meghan betrokke is, te werf (Arlene Prinsloo, Netwerk24, 1 April 2019). | ENGELS: hash (word)

hys s.nw. | hyse | hysie | (lekties) huis: Ek gan aaire by Lameez se hys slaap venaan (Chase Rhys, Kinnes, 2018). | ENGELS: house | home