Indeks | A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z | 1 | 2 | 3 | 4 | 5


EARS s.nw. [afkorting van: ernstige akute respiratoriese sindroom] [geen meervoud] (patologie, geneeskunde) Ook Ears, ears virusinfeksie wat soms lewensbedreigende longontsteking tot gevolg het: Talle vorige epidemies het ook hul oorsprong in diere – Ebola in vlermuise en Ears in die Asiatiese palmsivetkat, byvoorbeeld (Tony Weaver, Netwerk24, 18 Februarie 2020). Die 20ste eeuse toename in die interkontinentale beweeglikheid van die mensdom het pandemies soos MIV/vigs, Ears (2003), H1N1, Zika en Ebola spoedig in ’n internasionale krisis laat ontaard (Jo-Ansie van Wyk, Netwerk24, 15 Februarie 2020). | ENGELS: severe acute respiratory syndrome | SARS
KYK OOK: COVID-19


EARS-CoV-2 s.nw. [afkorting van: ernstige akute respiratoriese sindroom-koronavirustipe 2] [geen meervoud] (patologie) Ook Ears-CoV-2 naam van die virus wat Covid-19 by mense veroorsaak: Die virus wat die wêreld tans aan die praat het, se naam is: ernstige akute respiratoriese sindroom-koronavirus-tipe 2 (Ears-CoV-2). Die siekte wat dit veroorsaak is: Covid-19. Dit is nie die “die Covid-19-virus” nie. Dus, wanneer jy siek word, het jy Covid-19 onder lede (Elsabé Brits, Netwerk24, 7 Maart 2020). Op 11 Februarie maak die Internasionale Komitee vir Virustaksonomie en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir beide die virus en die siekte ’n amptelike naam bekend: “EARS- (SARS-)CoV-2” vir die virus, om die verband met “EARS-CoV”, wat in 2003 ’n soortgelyke “ernstige akute respiratoriese sindroom” (“EARS”) veroorsaak het, te beklemtoon, en “Covid-19” (“coronavirus disease 2019”) vir die siekte. Die naam “EARS-CoV-2/Covid-19” is dus soortgelyk aan “MIV/vigs”: Die eerste deel verwys na die virus; die tweede na die toestand. As jy Covid-19 het, is jy siek (Jana Luther, Beeld, 28 Februarie 2020). | ENGELS: SARS-CoV-2
KYK OOK: COVID-19, koronavirus


EBieSA afk. [Engels: Emerging Black Importers and Exporters of South Africa] (Engels) organisasie vir opkomende swart in- en uitvoerders van Suid-Afrika.

edamame s.nw. [versamelnaam] (Japannees, kookkuns) Ook edamameboon | edamamebone |, edamameboontjie | edamameboontjies | [gewoonlik meervoud] groen sojabone in die peul, gewoonlik gekook of gestoom voorgesit: 1 koppie edamame-bone, geblansjeer | ENGELS: edamame

eenooggod s.nw. | eenooggode | (informeel, skertsend) televisie: Ek is van kindsbeen af bitter lief vir lees, maar so tussen Game of Thrones en Breaking Bad en The Mentalist en Bosch deur het ek die hopie halfgeleeste boeke langs my bed begin ignoreer en grootogig voor die eenooggod gesit (Madeleine Barnard, Vrye Weekblad, 21 Februarie 2020). | ENGELS: one-eyed god

eensaamheidsdood s.nw. [geen meervoud] dood van iemand wat lank eensaamheid ervaar het, as gevolg waarvan die persoon sy/haar lewenslus verloor en psigosomatiese probleme ontwikkel het wat uiteindelik tot sy/haar dood bygedra het: (via Taalbank.nl).

eet ww. | het geëet |
UITDRUKKING(S):
nie altyd by die huis eet nie (eufemisties, skertsend) van iemand gesê as bewering dat hy/sy ’n buite-egtelike of ongeoorloofde liefdesverhouding het: As jy weet ’n getroude vriend ‘eet nie altyd by die huis nie’, soos dit soms in die volksmond genoem word, maar jy ken ook die vriend se lewensmaat, plaas dit jou in ’n ongemaklike posisie (Marita van der Vyver, Vrye Weekblad, 1 November 2019).


e-fiets s.nw. | e-fietse | elektriese fiets; batteryaangedrewe fiets: Wanneer jy ’n e-fiets se pedale trap, skop jy ’n klein motortjie brand wat jou die nodige hupstoot gee om teen steiltes uit te ry (Peter van Kets, Vrye Weekblad, 10 Mei 2019). E-fietse bied batteryaangedrewe hulp wat die trappery makliker maak, en sommige het selfs ’n versneller (Peter van Kets, Vrye Weekblad, 10 Mei 2019). | ENGELS: e-bicycle

efundja s.nw. | efundjas | (Namibië) seisoenale vloed wat in die noordooste van Namibië groot sosio-ekonomiese ontwrigting veroorsaak: Sou ’n efundja vanjaar eindelik afkom, kan dit soortgelyk of selfs groter wees aan dié van 2011 (Elvira Hattingh, Republikein, 4 Maart 2020). (’n Kenner sê) dis te vroeg om te sê of ’n efundja (vloed) vanjaar sal afkom, maar dinge “kan interessant raak” met sommige oshanas (poele) by Omadhiya en Oponono wat reeds water hou (Republikein, 31 Januarie 2020). | ENGELS: efundja
OORSPRONG:
Oshiwambo: vloed


e-gesondheid s.nw. [geen meervoud] gebruik van inligtings- en kommunikasietegnologie vir die lewering van gesondheidsorgdienste: Veral gesondheidsorg begin baat vind by mobiele tegnologie in Afrika waar daar net 2,3 gesondheidswerkers vir elke 1 000 mense is teenoor 19 vir elke 1 000 in Europa en 25 vir elke 1 000 in die Amerikas. Gesondheidswerkers begin mobiele toepassings gebruik om medisynevoorraad te bestuur, [maar M.] glo Afrika is maar nog aan die heel begin van e-gesondheid, en het nog nie regtig na werklike digitale diagnostiese dienste beweeg nie (Francois Willems, Netwerk24, 4 Junie 2015). | SINONIEM(E): telegeneeskunde | ENGELS: e-health | eHealth

Eid s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (Islam) Eid-oel-Fiter

Eid-oel-Fiter s.nw. [dikwels verkort tot: Eid] [gewoonlik enkelvoud] (Islam) drie dae lange fees wat begin op die dag van die beëindiging van Ramadaan. | SINONIEM(E): Labarang | Labarangfees

eisbein s.nw. | eisbeine | [ook met hoofletter] (Duits, kookkuns) gereg van varkskenkel, dit is die gedeelte van 'n varkpoot tussen die knie- of elmbooggewrig en die wortelbeen van die voet, die gedeelte wat ooreenstem met die onderbeen of onderarm by mense, waarvan die vleis, sag en geurig, omring deur ’n dik laag vet, gesout/gepekel en lank gekook word totdat dit maklik van die been loskom: By dié koffiewinkel en restaurant kan jy binne aansit óf buite op die stoep onder die koelte van ’n wilde-vyeboom. Die opsies is wyd: ontbyt, burgers, sloppy Joe’s, slaaie, wraps, selfs eisbein (Mia Louw, Weg, 25 Mei 2020). 4 eisbeine (gerookte, gepekelde varkskenkels), kepies in die swoerd gesny (Huisgenoot, 23 September 2015). Vir die winter is ’n heerlike glas wyn van jou keuse saam met ’n goedverouderde, sagte biefstuksnit, of ’n keuse tussen die lamsnek, lamskenkel, varkribbetjie, eisbein, varkkotelet of hoendervlerkies net die regte medisyne (Burger, 5 Augustus 2005). Bo en behalwe die geilheid van haar lyf was daar die goeie Duitse wyn wat sy vir my aangedra het, tesame met die ekstra bord gebakte aartappels, ’n kombinasie van eend en Eisbein of varkvleis in netvet gebraai (een van haar ma se Hantam-resepte), Sauerkraut of Rotkohl, afgerond met kaaskoek en kersielikeur (George Weideman, Draaijakkals, 1999). | ENGELS: Eisbein
OORSPRONG:
Duits Eis ys + Bein been, moontlik omdat skenkelbene eens vir die maak van ysskaatse gebruik is.


ejiao s.nw. [geen meervoud] (Chinees) gelatien verkry van donkievelle: Donkiebevolkings in verskeie wêrelddele stort in duie weens die Chinese vraag na die gelatienagtige vloeistof wat net onder dié diere se vel voorkom. Dié vloeistof word as bestanddeel in tradisionele medisyne gebruik en staan in dié konteks bekend as ejiao (Elise Tempelhoff, Netwerk24, 20 November 2019). Hoewel daar bloedweinig wetenskaplike bewyse vir ejiao se medisinale waarde bestaan, word dit in Chinese medisyne en produkte gebruik vir enigiets van bloedarmoede tot ’n beter libido, die verkleining van gewasse, menopouse en plooie (Madeleine Barnard, Vrye Weekblad, 20 Desember 2019 ). Suid-Afrika is een van die groot verskaffers van donkievelle in die wêreld vir die maak van sogenaamde Chinese medisyne, wat as ejiao, bekend staan (Elise Tempelhoff, Netwerk24, 8 Mei 2018).
OORSPRONG:
Hanyu Pinyin ē jiāo

samestellings:
ejiao-mark | ejiao-medisyne


eko-aktivis s.nw. | eko-aktiviste | Iemand wat met ywer deelneem aan of self sosiale of politieke veldtogte voer wat ten doel het om (verdere) skade aan die omgewing en die aarde te verhinder: Eko-aktiviste sue die regering nou oor Eskom en Sasol se erge besoedeling in Mpumalanga (Son, 14 Julie 2019 ). | SINONIEM(E): omgewingsaktivis | ekostryder | (informeel, soms neerhalend) boomomhelser | ENGELS: eco-activist | environmental activist

ekobaksteen s.nw. | ekobakstene | [ook met koppelteken] Ook ekosteen plastiekbottel met skoon, droë, niebioafbreekbare rommel gevul, as isoleerstene in bouwerk, vir die vervaardiging van meubels, en so meer gebruik: ’n Ekosteen is ’n 2 ℓ-koeldrankbottel wat styfvol geprop is met plastiek- en tjipssakkies wat die hele wêreld vol rondlê. Die bottel word styf toegedraai sodat dit as ’n harde bousteen vir beddings of bankies of self huisies gebruik kan word (Leonette Smit, Karooblog, 15 Junie 2018). Eko-bakstene is ’n briljante idee — jy neem ’n tweeliter-PET-bottel en stop alle (skoon) onherwinbare plastiek daarin. Op die ou end sit jy met ’n klomp “bakstene” waarmee daar gebou kan word. Bankies, stoele, selfs eenvoudige strukture. Verskeie gemeenskapsprojekte wêreldwyd bou met eko-bakstene (Madeleine Barnard, Vrye Weekblad, 28 Junie 2019). | ENGELS: ecobrick

ekoprotes s.nw. [geen meervoud] protes/verset teen beskadiging van die ekosisteem. | SINONIEM(E): ekoverset | ENGELS: ecoprotest

ekosteen s.nw. | ekostene | ekobaksteen

ekostryder s.nw. | ekostryders | Iemand wat met ywer deelneem aan of self sosiale of politieke veldtogte voer wat ten doel het om (verdere) skade aan die omgewing en die aarde te verhinder: ’n Navorser van die Noordwes-Universiteit (NWU) doen haar deel om ’n nuwe geslag ekostryders toe te rus met kennis en toewyding om waterskaarste en ander uitdagings wat met klimaatsverandering te doen het, te bestry (Noordwes-Universiteit Nuus, 22 November 2018). | SINONIEM(E): eko-aktivis | omgewingsaktivis | (informeel, soms neerhalend) boomomhelser | ENGELS: eco-warrior | environmental activist

ekoverset s.nw. [geen meervoud] ekoprotes

ekovrees s.nw. | ekovrese | omgewingsangs

elaichi s.nw. (Indies, kookkuns) Ook badi elaichi, kali elaichi donkerbruin tot swart kardemompeule met ’n rookagtige smaak weens die manier waarop dit gedroog word: Van poppadoms tot garam masala, van roti’s tot gemmerroomys; name wat skielik sing: methi en dhania, karamonk of elaichi en … o ja, die bekende geel borrie! (Nettie Pikeur, Vrye Weekblad, 13 November 2020). Kardamom (elaichi) word die koningin van speserye genoem en is een van Indië se gewildste speserye. Die droë saadpeule – asook die gemaalde saad – word as geurmiddel vir soet- en soutgeregte gebruik (Landbouweekblad, 20 Junie 2003). | SINONIEM(E): swart kardemom
samestellings:
elaichipeul | elaichitee


elektronies b.nw. | elektroniese | [geen meervoud]
elektroniese neus Ook e-neus
1
elektroniese instrument wat basiese reuke van mekaar kan onderskei, en wat oor ’n patroonherkenningstelsel beskik wat dit in staat stel om van eenvoudige tot komplekse geure te ontleed.

2
(medies) apparaat wat die lug ontleed wat ’n pasiënt uitasem en op grond daarvan bepaalde siektes kan identifiseer: Die elektroniese neus kan binne ’n minuut aan jou asem ruik of jy COVID-19 het. | ENGELS: electronic nose | e-nose

elektroniese sport e-sport


elmbooggroet s.nw. | elmbooggroete | groet waarby twee mense hulle elmboë teen mekaar bring: Die minister en die president gee mekaar die elmbooggroet. | ENGELS: elbow(-to-elbow) greeting
KYK OOK: voetgroet





elmbooghoes s.nw. | elmbooghoese | elmbooghoesie | hoes van iemand wat sy/haar mond met die waai van die arm in plaas van met die hand bedek om moontlike druppelbesmetting en verspreiding, daarna, van siektekieme deur aanraking te voorkom. | SINONIEM(E): elmboogkug | ENGELS: elbow cough

elmboogkug s.nw. | elmboogkugge | elmboogkuggie | elmbooghoes

elmboogmacaroni s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (kookkuns) macaronistukkies in vorm van halfronde buisies: 300-400 g pasta van jou keuse (Strikke of skroefpasta en elmboogmacaroni werk goed.) (Landbou.com, 14 Oktober 2014). | ENGELS: elbow macaroni

elmboognies s.nw. | elmboogniese | nies van iemand wat sy/haar mond met die waai van die arm in plaas van met die hand bedek om moontlike druppelbesmetting en verspreiding, daarna, van siektekieme deur aanraking te voorkom. | ENGELS: elbow sneeze

emmerskoplys s.nw. | emmerskoplyste | emmerskoplysie | (informeel) lys van dinge wat iemand graag wil doen voordat hy/sy eendag sterf: Vir baie mense is dit nog ’n droom wat eendag waar gaan word. Iets wat jy nog op die emmerskoplys moet afmerk (Weg!, 21 Februarie 2019). Alaska en die Amasone is ook op sy emmerskoplys (Liani Jansen van Rensburg, Sarie, 21 Mei 2019). Die beroemde wildebeesmigrasie van die Serengeti-vlakte sit al vir ’n wyle hoog op my emmerskoplysie (WegRy, Januarie-Februarie 2016). | ENGELS: bucket list

e-neus s.nw. | e-neuse | [sametrekking van: elektroniese neus]
1
elektroniese instrument wat basiese reuke van mekaar kan onderskei, en wat oor ’n patroonherkenningstelsel beskik wat dit in staat stel om van eenvoudige tot komplekse geure te ontleed.

2
(medies) apparaat wat die lug ontleed wat ’n pasiënt uitasem en op grond daarvan bepaalde siektes kan identifiseer: Die e-neus kan binne ’n minuut aan jou asem ruik of jy COVID-19 het. | ENGELS: electronic nose | e-nose


engel s.nw. | engele | engeltjie | | ENGELS: angel
UITDRUKKING(S):
engel te perd (uit Engels, kookkuns) engelruitertjie


engelruitertjie s.nw. | engelruitertjies | [verkleinwoord, gewoonlik meervoud] (kookkuns) Ook (uit Engels) engel te perd repie spek om ’n vars of gerookte oester gedraai en in ’n pan gebraai. | ENGELS: angel-on-horseback

enkelgebruik= woorddeel wat slegs een maal gebruik (kan) word en dan weggegooi (moet) word: enkelgebruikhouer enkelgebruikplastiek Die pandemie het toegeslaan toe politici in baie lande beloof het om ’n oorlog teen enkelgebruik-plastiek te voer (Netwerk24, 19 Oktober 2020). Die Europese Unie beoog om alle plastiekverpakking teen 2030 hersikleerbaar te maak en wil plastiekeetgerei, -borde en -strooitjies verbied as deel van sy strategie om enkelgebruikplastiek te verminder (Mariam Isa, Finweek, 7 Junie 2018). | ENGELS: single-use

enkripsie s.nw. (rekenaar) enkodering wat die gebruik van ’n geheime sleutel/kode vereis om die oorspronklike data te kan ontsluit: Die app gebruik soortgelyke enkripsie as die bankwese om gesprekke privaat te hou (Delia du Toit, Rapport, 28 Junie 2020). Wanneer jy by die blad kom waar jy jou kredietkaart- of ander persoonlike inligting invul, soek vir ’n “s” ná “http” in die webtuiste-adres van die blad – dit moet lees: “https”. Die enkripsie is ’n veiligheidsmaatreël wat jou data deurmekaarkrap terwyl dit ingetik word (Huisgenoot, 28 Mei 2020). | ENGELS: encryption
KYK OOK: enkripteer


enkripteer ww. | het geënkripteer | (rekenaar) › het geënkripteer van gewone taal/teks oorsit in ’n kode (= enkodeer) op ’n manier wat die gebruik van ’n geheime sleutel/kode vereis om die enkodering te ontsluit en na die oorspronklike inhoud terug te keer: Losprysware enkripteer die slagoffer se inligting, wat hy dan nie kan gebruik nie. Die kuberkrakers dring aan op ’n losprys om die geënkripteerde inligting weer bruikbaar te maak (Johan Eybers, Rapport, 9 Februarie 2020). | ENGELS: encrypt
KYK OOK: geënkripteer, enkripsie


entjie s.nw. | entjies | [verkleinwoord] (informeel) sigaret: Op sommige van die nuwe pakkies staan die prys R22,50, maar dit word verkoop teen R80 tot R120. Danger pay, sê die sigaretsmokkelaars, want as hulle gevang word, is dit nag. Maar wat sê dit van die kamstige verbod op die verkoop van entjies? (Anastasia de Vries, Vrye Weekblad, 22 Mei 2020).

ERA akroniem [afkorting van: Europese Ruimteagentskap] | ENGELS: European Space Agency | ESA

Erasa akroniem [Engels: Electricity Resellers of South Africa] Vereniging vir die Herverkopers van Elektrisiteit.

ervaringstoeris s.nw. | ervaringstoeriste | iemand wat reis om nuwe, ongewone of opwindende ervarings te beleef en/of hom/haar, byvoorbeeld, in die geskiedenis, kultuur, kos, en so meer, van plekke en omgewings verdiep waarvan hy/sy tevore min kennis gehad het: Dit beteken dat in die raamwerk van die ervaringstoeris dit nie regtig belangrik is of hy rek-spring vanaf ’n hyskraan in San Francisco of van ’n brug in Afrika nie, maar wel die versnellende pas waarteen dit geskied (Amanda du Preez, “Rekspring en die ekstreme sublieme”, Tydskrif vir Letterkunde 41(2), September 2004). | ENGELS: experience traveller | immersion traveller
KYK OOK: ervaringstoerisme


ervaringstoerisme s.nw. [geen meervoud] Ook ondervindingstoerisme die reis na plekke om daar nuwe of opwindende ervarings te beleef, om jou byvoorbeeld te verdiep in die geskiedenis, kultuur, kos, en so meer, van plekke en omgewings waarvan jy tevore weinig kennis gehad het: Die doel van ondervindingstoerisme is om jou met rou emosie en ’n honger vir meer te laat – selfs maande ná jou besoek (Johan Horak, Vrye Weekblad, 3 Mei 2019). | ENGELS: experience travel/tourism | immersion travel
KYK OOK: ervaringstoeris


e-sport s.nw. [geen meervoud] Ook elektroniese sport die speel van videospeletjies as ’n sport deur (dikwels professionele) spelers wat in georganiseerde byeenkomste met mekaar meeding terwyl toeskouers kyk hoe hulle speel: E-sport sal na raming teen 2021 al die grootste sportligas in Amerika, behalwe die NFL, uitstof in terme van kykersgetalle (DF Luttig, UWK, Netwerk24, 12 Februarie 2019). | ENGELS: electronic sports | esports | e-sports | eSports
samestellings:
e-sport-speler: Hoewel dit oorspronklik in Amerika ontstaan het, het die konsep in die laat 1990’s tot vroeë 2000’s posgevat in Suid-Korea om e-sport-spelers op die verhoog te plaas soortgelyk aan glanspersoonlikhede (DF Luttig, UWK, Netwerk24, 12 Februarie 2019). | e-sportspeler: Kuro “KuroKy” Salehi Takhasomi is die e-sportspeler wat die meeste geld verdien het tot nog toe – ’n allemintige $4 miljoen, en hy is maar 26 jaar oud. (DF Luttig, UWK, Netwerk24, 12 Februarie 2019). | e-sport-superster: Hulle was hul tyd vooruit deurdat speletjies soos StarCraft gelei het tot die stigting van professionele spanne en borge, asook wedstryde wat uitgesaai is op televisie, terwyl ’n groot skare in teaters/stadions toegekyk het hoe die e-sport-supersterre meeding op ’n verhoog vol flikkerende ligte en allerlei katoeters om mense geïnteresseerd te kry (DF Luttig, UWK, Netwerk24, 12 Februarie 2019).


Eswatini s.nw. [geen meervoud] (geografie) Ook eSwatini › Koninkryk van Eswatini nuwe naam van Swaziland: Koning Mswati III van Swaziland het Donderdag aangekondig dat die land amptelik tot die Koninkryk van eSwatini – “land van die Swazi’s” – hernoem sal word (Netwerk24, 20 April 2018). Onthou om die volgende keer wat jy op Swaziland se grens aankom, vir die grensbeampte te sê julle wil kom vakansie hou in eSwatini – koning Mswati III het dié land se naamverandering in April vanjaar aangekondig (Suzaan Hall, Weg!, 25 Junie 2018). Die sentrale bank van eSwatini (voorheen Swaziland) het ontken dat hy geld van ’n voormalige president van Suid-Afrika hou (Jenni Evans, Netwerk24, 13 April 2019).

ethereum s.nw.
1
[geen meervoud, ook met hoofletter] (handelsnaam) een (van die bekendste/gewildste) van verskeie kriptogeldeenhede.

2
| ethereums | (digitale munt) (een) ethereum(-eenheid). | ENGELS: ethereum kriptogeldeenheid


ettig tussenwerpsel uitroep van verbasing/blydskap/ergerlikheid/ens.: Daar is ’n sê-ding op Oudtshoorn wat mens gou laat besef dat jy van die Hoorn is … “Ettig, jong!” Maar die manier wat dit gebruik word op verskillende frekwensies bepaal die betekenis – of jy nou verbaas, kwaad of bly is (Laurette Meyer, Kuier, 15 Mei 2019). | ENGELS: crikey

Europese Ruimteagentskap woordgroep [afkorting: ERA] [Engelse afkorting: ESA] | ENGELS: European Space Agency
KYK OOK: Gaia