Indeks | A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z | 1 | 2 | 3 | 4 | 5


chappie s.nw. | chappies | (bendetaal) tjappie

char (Engels)
ww. | het gechar | betaal word om vir iemand anders in sy/haar huis te werk: So, dit was juis met hierdie heilige, politieke skoene wat ek eendag in Desember 1972 saam met Ouma in Seepunt by die Williamson-familie gaan char het (Jeremy Vearey, Jeremy van die Elsies, 2018). Om in sak en as te sit, is nie wie sy is nie daarom het sy elke werk wat sy gedoen het – van in ’n klerefabriek werk tot oumense was en char – met ywer aangepak (Ernusta Maralack, Kuier, 16 Mei 2019).

s.nw. | chars | iemand, veral ’n vrou, wat geld verdien deur ander met roetinetake in hulle huise te gaan help: Om dinge tuis makliker te maak, het Lawrence skool in standerd 8 (graad 10) verlaat nadat sy ma, wat as char gewerk het, vir hom ’n werk as skoonmaker by haar werkgewer se meubelfabriek in Woodstock gekry het (Marteli Brewis, Kuier, 12 April 2019). | SINONIEM(E): huiswerker | huishulp | ENGELS: char


charcuterie s.nw. (uit Frans, kookkuns)
1
[geen meervoud, versamelnaam] (die kuns van) verwerkte (gerookte en gedroogde) vleis: Op dié spyskaart was charcuterie (salamistokkies, biltong, pastrami, koedoe-carpaccio en salami met piekel en mosterd) (Kuier, 27 Jan. 2016).

2
| charcuterieë | vleisdelikatessewinkel; vleisdeli. | ENGELS: charcuterie


charcutier s.nw. | charcutiers | (uit Frans, kookkuns) persoon wie se werk dit is om vleis te verwerk, te rook en te droog: Die professionele charcutier op die plaas dring daarop aan dat geen nitrate of nitriete in die reeks produkte gebruik word nie (Marleen Smith, Landbouweekblad, 8 Oktober 2018). | ENGELS: charcutier
KYK OOK: charcuterie


charlatan s.nw. | charlatans | iemand wat bluf, grootpraat, bedrieg: As jy gedink het [die oudminister] was ’n nasionale verleentheid en ’n charlatan, dan sal haar bedankingsbrief as parlementslid elkeen van jou vooroordele bevestig (Vrye Weekblad, 14 Junie 2019). Die man is ’n charlatan van die eerste water (Vrye weekblad, 3 Mei 2019).
OORSPRONG:
Oorspronklik uit die 17de eeu in verwysings na rondreisende verkopers van kwaksalwermedisyne; via Frans uit Italiaans ciarlatano om te babbel.


chiasaad [versamelnaam] Ook chiasaadjie | chiasaadjies | [verkleinwoord] (botanie, kookkuns) klein, proteïenryke saadjies van die plant Salvia hispanica, inheems in die sentrale en suidelike deel van Mexiko en in Guatemala: Jy kan hierdie plantaardige omega 3 maklik inkry deur elke dag twee teelepels chiasaad of gemaalde lynsaad of een eetlepel kanolaolie in te neem (Baba & Kleuter, 23 Januarie 2018). Nou baie gewild is chiasaad wat oor ontbyt gestrooi word as ’n proteïen of in glutenvrye gebak as bindmiddel gebruik word (Herman Lensing, Sarie, 17 November 2017). | ENGELS: chia seeds

chick lit s.nw. [versamelnaam] (uit Engels) (populêre fiksie) Ook chic lit moderne fiksie met driedimensionele karakters en ’n eerstepersoonsverteller wat dikwels met humor ’n intieme blik bied op die lewe, romantiese uitdagings en herkenbare probleme van moderne vroue van verskillende ouderdomme, meestal teen ’n stedelike agtergrond: Volgens Elize Parker word chick lit gekenmerk deur die anti-heldin. Die hoofkarakter is glad nie perfek nie. Sy kan byvoorbeeld ’n bietjie lomp wees, soos in die geval van Bridget Jones’s Diary (Carolyn Meads, Books Live, 14 Oktober 2011). Chick lit is fantasie en van nature “over the top”; góéie chick lit word terselfdertyd onderlê deur egte deernis en menslikheid en oortuigende karakterisering (J.B. Roux, Die Burger, 1 Julie 2019). | SINONIEM(E): romantiese komedie | ENGELS: chick lit | chick literature
KYK OOK: liefdesroman, romanse

samestellings:
chick lit-skrywer | chick lit-roman: Erskine is ook die skrywer van Donatello en Volksie, destyds beskryf as die eerste chick lit-roman in Afrikaans wat deur ’n man geskryf is (Die Burger, 7 Desember 2017).


chimichurri s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (Spaans, kookkuns) pietersielie-en-knoffel-sous waarmee bees-, skaap- of hoendervleis bedruip word, oorspronklik van Argentinië: In Argentinië hou hulle van ’n pietersieliesous (chimichurri) by hul braaivleis (Carmen Niehaus, Huisgenoot). | ENGELS: chimichurri | chimmichurri
OORSPRONG:
Uit Baskies tximitxurri mengelmoes; in die 19de eeu het baie Baske hulle in Argentinië gevestig.


Chinees b.nw. | Chinese |
Chinese griep (disfemisme) Covid-19

Chinese virus (disfemisme) koronavirus


chlorokien s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (farmakologie, geneeskunde) kinien wat geneeskundig gebruik word as ’n middel teen malaria, en omdat dit die immuunstelsel lig onderdruk, ook vir die behandeling van sommige outo-immuunsiektes, soos rumatoïede artritis en lupus eritematose, ’n outo-immune bindweefselsiekte: ’n Onlangse waarnemingstudie oor chlorokien en hidrochlorokien het dié malariamiddels verbind met ’n verhoogte sterftekoers en ’n aritmiese hartklop in hospitaalpasiënte met Covid-19 (Elsabé Brits, Vrye Weekblad, 5 Junie 2020). Chlorokien is reeds tydens die Tweede Wêreldoorlog ontwikkel en vir baie jare was dit die voorkeurmiddel om malaria te behandel of te voorkom dat jy die siekte kry. Ongelukkig het die malaria­parasiet grootliks weerstandig teen hierdie middel geraak. Vandag word chlorokien, veral hidroksiechlorokien omdat newe-effekte minder is wanneer hoë doserings geneem word, gebruik om inflammatoriese toestande soos rumatoïede artritis en lupus te behandel (Heinz Mödler, Rapport, 19 April 2020 ). | ENGELS: chloroquine

choke (Engels, informeel, figuurlik)
ww. | het gechoke | onsuksesvol wees; lam raak; verlam word; nie die mas opkom nie: In ’n week waarin […] die nasionale krieketspan hulself ongekend choke, …
(Sarie Marais-Nell, Die Burger, 15 Junie 2019).
Dit was letterlik ’n hele gemeenskap wat opstaan. Ons sou voor dwelmverkopers se huise parkeer en só hul besigheid choke want dan kom koop niemand daar nie (Kader Jacobs aan Hanlie Retief, Rapport, 21 Julie 2019 ).

s.nw. [geen meervoud] mislukking: Ons is darem die choke gespaar (Louis de Villiers, Rapport, 9 Junie 2019).


CIPC afk. [Engels: Companies and Intellectual Property Commission] Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom.

cis b.nw. [verkorting van: cisgender] (informeel) cisgender

cisgender b.nw. [soms verkort tot: cis] [attr. en pred.] van of met betrekking tot iemand wie se genderidentiteit ooreenstem met die geslag wat by geboorte by hom/haar waargeneem en gevolglik aan hom/haar toegeskryf/toegeken is: Twee mans kan beide cisgender wees, maar die een straight en die ander gay.
[soms ook selfstandig gebruik]: In Stellenbosch het ek vir my eerste twee jaar baie hard probeer om die cisgender-ding te doen. Eers met ’n Halloweenparty laas jaar het ek weer die moed gekry om ’n rok aan te trek (Du Toit Albertse, Klyntji, 22 November 2018). | TEENOOR: transgender | ENGELS: cisgender


Cites afk. Ook CITES Konvensie vir Internasionale Handel in Bedreigde Spesies | ENGELS: Convention on International Trade in Endangered Species of Wild Fauna and Flora | CITES

clichétoeris s.nw. | clichétoeriste | toeris wat vakansies beplan en plekke besoek op grond van foto’s wat ander mense in die sosiale media van hulle reisbestemmings deel. | ENGELS: cliché tourist

corona s.nw. [geen meervoud] (patologie, geneeskunde) korona

coronaparanoia s.nw. [geen meervoud] oordrewe agterdog teenoor mense wat (dikwels ongeregverdig) daarvan verdink word dat hulle ander met die coronavirus kan besmet: (Taalbank.nl, 28 Januarie 2020).

coronavirus s.nw. | coronavirusse | [afkorting: CoV] (patologie, geneeskunde) Ook koronavirus soort algemene virus met verskillende stamme wat by mense infeksies veroorsaak wat meestal nie ernstig is nie, maar wat by sommige soorte gevaarlik kan wees, met simptome soos koors, hoes, kortasemheid, buikpyn, diarree, verlies van reuk en smaak, en algemene moegheid: Vyf dinge wat jy van die coronavirus moet weet (Annelene Oberholzer, Huisgenoot, 24 Januarie 2020). Die 61-jarige man is dood weens ’n nuwe coronavirus wat al by 41 mense gediagnoseer is (Die Burger, 13 Januarie 2020). Die Universiteit van Hongkong het eergister die VSA se Sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming se bevinding bevestig dat die sogenaamde coronavirus die sindroom veroorsaak. (Die Burger, 31 Maart 2003). | ENGELS: coronavirus
OORSPRONG:
Van Latyn corona en Grieks korṓnē, kroon, (strale)krans.

KYK OOK: koronavirus


CoV afk. (uit Engels) coronavirus(se); koronavirus(se)
KYK OOK: koronavirus


Covid-19 s.nw. [Engelse verkorting van: coronavirus disease 2019, CoV disease 2019] [geen meervoud; hoofletter, na die Engels, algemeen gebruik in die media] (patologie, geneeskunde) Ook (volgens reëls vir skryfwyse van afkortings in Afrikaans) covid-19, COVID-19 besmetlike koronavirussiekte wat veroorsaak word deur ’n nuwe koronavirus, EARS-CoV-2, wat waarskynlik van soönotiese oorsprong is en waarvan die uitbreking in Desember 2019 in die Chinese stad Wuhan teen 11 Maart 2020 amptelik ’n pandemie tot gevolg het: Die grootste deel van die ekonomie sal weer oopgestel word. Dit is ongeag infeksiesyfers wat betref Covid-19, wat die afgelope dae die hoogte ingeskiet het (Elvira Wood, 25 Mei 2020). Op 11 Februarie maak die Internasionale Komitee vir Virustaksonomie en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir beide die virus en die siekte ’n amptelike naam bekend: “EARS- (SARS-)CoV-2” vir die virus, om die verband met “EARS-CoV”, wat in 2003 ’n soortgelyke “ernstige akute respiratoriese sindroom” (“EARS”) veroorsaak het, te beklemtoon, en “Covid-19” (“coronavirus disease 2019”) vir die siekte (Jana Luther, Beeld, 28 Februarie 2020). Minstens 500 nuwe gevalle van Covid-19 is in China en Suid-Korea bevestig (Netwerk24, 26 Februarie 2020). | SINONIEM(E): Wohanvirus
samestellings:
Covid-19-geval: Die getal bevestigde Covid 19-gevalle [in Suid-Afrika] het tot 22 583 gestyg (Netwerk24, 25 Mei 2020). | Covid-19-pandemie | Covid-19-taakspan

KYK OOK: EARS-CoV-2, koronavirus





covidioot s.nw. | covidiote | [sametrekking van: covid-idioot] (informeel) Ook (met hoofletter na die Engels) Covidioot
1
persoon wat hom/haar nie steur aan maatreëls om die/’n korona-epidemie/pandemie te bekamp nie en deur onverantwoordelike gedrag daartoe bydra om die risiko vir ander en die ekonomiese gevolge van die uitbraak te vergroot.

2
persoon wat paniekinkope doen en ten tyde van die/’n korona-epidemie/pandemie buitensporig baie voorraad (probeer) opgaar. | ENGELS: Covidiot