Indeks | A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z | 1 | 2 | 3 | 4 | 5


aaire bw. aire

aanbouwoordeboek s.nw. | aanbouwoordeboeke | aanbouwoordeboekie | (metaleksikografie) woordeboek wat deurlopend aangevul word; woordeboek in bewerking: Die WAV is ’n aanbouwoordeboek. | SINONIEM(E): lewende woordeboek | ENGELS: living dictionary

aandagtigheid s.nw. [geen meervoud] (strewe na bemeestering van) die kuns om elke oomblik van jou lewe bewustelik te leef: Baie mense probeer deesdae aandagtig leef – kalm en in voeling met die tyd – en wilskrag vind om die kuns van aandagtigheid te bemeester (Huisgenoot, 6 September 2019 ). Aandagtigheid oftewel mindfulness is een van daardie begrippe wat jy kort-kort raaklees, maar wat beteken dit eintlik? (Zerelda Esterhuizen, Vrouekeur, 14 Desember 2015). Aandagtigheid [is] ’n sekulêre benadering en hoewel jy jou verstand met meditasie kan fokus, is daar baie ander belangrike aspekte aan die filosofie verbonde. Hoe ons oefen om te aanvaar en meer van ons eie karaktertrekke en egogedrewe gedrag bewus te wees, is twee van die belangrikste hoekstene van die benadering (Olwyn Rheeder, Vrouekeur, 14 Desember 2015). | SINONIEM(E): bewustheid | ENGELS: mindfulness
KYK OOK: bewustheid, mindfulness


aangesigtyd s.nw. | aangesigtye | (informeel) Ook aansigtyd direkte kontak/interaksie wat van aangesig tot aangesig plaasvind. | SINONIEM(E): sientyd | ENGELS: face time | face-to-face-time

aanjaagfooi s.nw. | aanjaagfooie | (informeel) spoedfooi

aanjaagtarief s.nw. | aanjaagtariewe | (informeel) spoedtarief

aanjanter ww. janter aan | het aangejanter | (informeel) op ’n traak-my-nieagtige manier voortgaan en/of met weinig sukses: Hulle janter maar net aan. Aanjanter: Ons gebruik dit vir iemand wat veral swak werk lewer, ongeïnteresseerd is in dit wat hy moet doen. Soos ’n tiener wat moet kamer skoon maak of skottelgoed was (Karen Pretorius, Facebook, 26 September 2020). | SINONIEM(E): aankarring | aanpoer | ENGELS: muddle along | plod along

aanpoer ww. | het aangepoer | Ook aanpoer-poer
1
sonder veel moeite voortgaan: Ag, ons poer maar aan. Daar moet genoem word dat van die spelers van Fidji se toewyding op die verdediging uiters teleurstellend was. Van hulle het in ’n skuifeldraffie agter die vlieënde aanvallers van Uruguay aangepoer-poer (Netwerk24, 25 September 2019).

2
stadig en/of sukkelend ry: Die rektor kom toe aangepoer-poer met 'n nederige motortjie, 'n DKWof so iets, en hy parkeer tussen die Cadillacs (Die Burger, 7 September 1994).

UITDRUKKING(S):
aanpoer agter die vragmotors op 'n oop stuk pad uit onkunde of luiheid nie veel moeite doen om vooruitgang te maak nie: Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020

KYK OOK: aanjanter


Aapstad s.nw. [geen meervoud] (informeel, skertsend) Pretoria.
KYK OOK: Apiesdorp


aaptwak s.nw. [geen meervoud] (informeel, skertsend) dagga: Baie jare het verloop sedert die dae toe ’n mens skelm ’n bankie vol aaptwak in ’n agterstraat moes gaan koop as jy dagga wou rook (Jessica Pitchford, Vrye Weekblad, 10 Mei 2019).
KYK OOK: dagga


Aarto akr. Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe. | ENGELS: Administrative Adjudication of Road Traffic Offences. | Aarto
samestellings:
Aarto-wetgewing


abba ww. | het geabba |
UITDRUKKING(S):
na die berg geabba wees nie uit verdienste nie, maar deur begunstiging van ’n famielid of vriend ’n belangrike pos beklee: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


abbagemeenskap s.nw. | abbagemeenskappe | gemeenskap waar mense mekaar bystaan: M. self kom uit ’n abbagemeenskap: waar die inwoners mekaar omarm het, waar jy enige tyd sout of suiker by die bure kon leen (Julian Jansen, Rapport, 3 Maart 2019). | ENGELS: supportive community

abdas s.nw. [gewoonlik enkelvoud] (Islam) met lopende water was as vorm van spirituele reiniging; wasritueel: Ons het ook nog van haar familielede leer ken, soos haar neef in die tweede hoofstuk van “kronieke van ’n plaasjapie in die stad” wie se abdas sy nie moet breek nie (Cultsha Kennis, 28 Julie 2017). Voordat ’n Moesliem sy bede (salaah) gaan doen, is dit ’n voorvereiste om sekere liggaamsdele met lopende water te reinig. Die gesig, voorhoof, hande tot by die elmboë en voete tot by die enkels, word gewas met hierdie woedoo. Dit is ook ’n geestelike voorbereiding voordat daar aan die Qur’an geraak word (Moosa Patel, Islam vir bekeerlinge, belangstellendes, vreemdelinge en nuwelinge). | SINONIEM(E): woedoo
OORSPRONG:
Arabies salāh.

samestellings:
abdasplek


Abdol s.nw. [geen meervoud] (kinderspel) Ook Abdol maak pootjie(s) skoon, Abdol maak potjie skoon soort speletjie: Abdol speel mens met ’n klip of ander voorwerp soos ’n lekke ghoen as jy het, op ’n rympie met wysie, nogal: “Abdol maak pootjie/potjie skoon (x 2), tiengelieng, daa lui die klok (x 2).” En dan van vooraf. Spelers sit in kring met toe oge en op die maat van die rympie word die klip op die grond van die een na die ander aangeskuif. As die eerste ronde van die rympie stop, maak almal oge oop. As die klip voor of naby jou lê, is jy uit en die persoon langs die een wat uit is, begin die volgende ronde. Alles word herhaal tot almal uit is. Laaste een oor, is die wenner. Ons het dit veral op koue of reëndae binnenshuis gespeel (Anastasia de Vries, Facebook, 31 Maart 2020). Luister: Tot nou was sy altyd te moeg geswoeg vir ’n ma se pangakyk om ’n kind op die regte spoor te hou. Vir die speletjies wat haar as kind speel-speel gesond gehou het terwyl sy só die reëls van die lewe kon leer: skaloeloe; drie blikkies; bok, bok, staan styf; kennetjie; Abdol maak pootjies skoon (Anastasia de Vries, Vrye Weekblad, 27 Maart 2020).

AD afk. [afkorting van: anno digitali] (Latyn, skertsend) in die digitale tyd (ná die uitbreking van die koronaviruspandemie). | ENGELS: AD
KYK OOK: VK


AfCFTA afk. [Engels: African Continental Free Trade Agreement] Afrika-vryehandelsooreenkoms: In Julie vanjaar het die AfCTA (African Continental Free Trade Area) in werking getree nadat die voorgeskrewe minimum getal lidlande van die Afrika-unie die ooreenkoms aanvaar het (Johan Willemse, Landbouweekblad, 9 Augustus 2020).

affogato s.nw. | affogato’s | [dikwels hoofletter] (Italiaans) skep vanieljeroomys in ’n koppie waaroor daar warm espresso gegiet word as nagereg: Pasch sê die [rum] kom tot sy reg skoon op ’n paar blokkies ys, maar jy kan dit ook met gemmerbier en ’n paar druppels bitters meng. Dis besonder lekker saam met vanieljeroomys en maak ook ’n heerlike Affogato (Annelize Visser, Vrye Weekblad, 16 Oktober 2020).
OORSPRONG:
Van Italiaans affogare om te verdrink; affogato het verdrink, verdronke


aflatoksien s.nw. [geen meervoud] gifstof afgeskei deur sommige soorte muf: Aflatoksien, ’n gifstof wat deur gemufte grondboontjies, mielies en ander graanprodukte afgeskei word, kan kanker veroorsaak (Vida Booysen, Die Burger, 20 April 2017). Hulle het onmiddellik opdrag gegee dat die grondboontjiebotter, wat met aflatoksien vergiftig is, van die rakke verwyder word (Dawie van Heerden, Rapport, 13 Mei 2001). | ENGELS: aflatoxin

Afrikaaps of Afrikaaps s.nw. [geen meervoud] (taalkunde, taalbeweging) Ook AfriKaaps variëteit van Afrikaans wat op die Kaapse Vlakte gepraat word: Volgens die akademikus Quentin Williams van die Universiteit van Wes-Kaapland […] is AfriKaaps ’n taalkundige etiket wat verwys na ’n ontluikende variëteit van Kaaps, wat tipies in die Wes-Kaap gehoor word, en op sosialemediaplatforms breër gebruik word (Crystal Orderson, Vrye Weekblad, 13 September 2019). AfriKaaps is ’n variëteit wat gebruik word deur ’n generasie van Kaaps-sprekers wat ná die 1980’s in Suid-Afrika gebore is. “Dit is ’n etiket wat wys na die transformasie van die klankpatrone, die leksikale variëteit en die grammatikale struktuur van Kaaps, na wat ons vandag beskou as ’n nuwe manier van praat en wees in daardie variëteit. Met ander woorde, om AfriKaaps te praat, is om ’n nuwe spreker van Kaaps te word.” (Quentin Williams, Vrye Weekblad, 13 September 2019). Ek besig Afrikaaps omdat almal rondom my dit begryp en omdat die taal volgens my eintlik meer kleurryk word (Louis Sheldon, Die Burger, 16 Augustus 2019). Eerstens het my trotsheid om Afrikaaps te praat sterker geword en ek het selfs my monoloog vir my oudisie in Afrikaaps geskryf (Tarryn-Leigh Solomons, Die Burger, 19 Junie 2019). Sommige mense noem [Jolyn Phillips se] werk Kaaps of Afrikaaps. […] Wat noem jy jou werk? […] “Dis Afrikaans!” (Die Burger, 16 September 2019). | ENGELS: AfriKaaps

Afrofobie s.nw. [geen meervoud, ook met kleinletter] sieklike haat/afkeer van mense/dinge uit Afrika: Ek is woedend oor die Afrofobie wat versteek word agter xenofobie, ’n woord wat soos ’n grandiose Griekse tragedie klink (Anastasia de Vries, Vrye Weekblad, 13 September 2019). Van die temas was slawerny, vergete tale en vergange gemeenskappe, Afrofobie, en die kompleksiteit van die moderne samelewing in Afrika (Die Burger, 12 Junie 2017). “Afrofobie” is ’n opgewarmde woord. Toe dit in 1976 “gemunt” is, het H.B. Koplowitz, ’n Amerikaanse skrywer wat die krediet daarvoor opeis, dit omskryf as “ ’n irrasionele vrees van wit mense vir swart mense”. In 2012 en in die mond van mense soos […] ’n uitgeweke Zimbabwiese akademiese aktivis […] word Afrofobie die oortreffende trap van xenofobie en ’n veroordeling van Suid-Afrika se deportasiebeleid (André le Roux, Beeld, 15 Junie 2012).

afskafkultuur s.nw. [geen meervoud] kultuur, veral in die sosiale media, waarin dit algemene praktyk geword het om (bekende) persone of organisasies wat politiek of kultureel iets verkeerd gedoen of gesê het, of deur ander, veral gesaghebbende meningsvormers, as ideologies anders beskou word, sosiaal uit te sluit en/of te boikot. | SINONIEM(E): uitsluitkultuur | kanselleerkultuur | ENGELS: cancel culture

afsnol ww. snol af | het afgesnol | (informeel) afhardloop: Ek het die res van die trappies vier-vier afgesnol (Tinus Horn, Droster, 1997). | ENGELS: run down
KYK OOK: snol


afstandsamelewing s.nw. | afstandsamelewings | [gewoonlik enkelvoud] samelewing waarin individue sorg dat hulle op ’n gesonde afstand van mekaar bly, veral om die verspreiding van ’n infeksiesiekte te probeer bekamp of voorkom. | ENGELS: distanced society

afstandsgesprek s.nw. | afstandsgesprekke | gesprek wat oor ’n (lang) afstand plaasvind: Via Zoom en WhatsApp word afstandsgesprekke gevoer. | ENGELS: long-distance conversation

afstandskepping s.nw. [geen meervoud] Ook afstandhouding
fisieke afstandskepping Ook fisieke afstandhouding (tydelike) beperking van sosiale kontak en die behoud van ’n gesonde afstand (minstens twee meter tussen individue) in die fisieke wêreld om verspreiding van ’n infeksiesiekte te probeer voorkom: Fisieke afstandskepping […], soos om van die huis af te werk, nie te vlieg nie, skole te sluit en groot byeenkomste uit of af te stel, kan die verspreiding van Sars-CoV-2 help vertraag (Vrye Weekblad, 20 Maart 2020). Sowat 70 persent van alle huishoudings maak van Suid-Afrika se meer as 200 000 minibustaxi’s gebruik terwyl baie ander busse of treine gebruik. Al dié vorme van vervoer word deur oorlading gekenmerk – van fisieke afstandskepping kan daar dus nie veel sprake wees nie (Max du Preez, Vrye Weekblad, 20 Maart 2020). Die regering se inisiatiewe tot fisieke afstandskepping deur grense en skole te sluit, groot byeenkomste te verbied en kroeg- en restauranture te beperk, is vroeër […] as in Amerika, Brittanje en die meeste Europese lande afgedwing (Max du Preez, Vrye Weekblad, 20 Maart 2020). Hier, selfs in van die digsbevolkte gebiede ter wêreld, is fisieke afstandhouding van die begin af ingestel (Adri Kotzé, Vrye Weekblad, 20 Maart 2020). | ENGELS: social distancing

KYK OOK: isolasiespasie


Agda akr. [Engels: Agricultural Development Agency] Ook AGDA Landbou-ontwikkelingsagentskap: Die bekendstelling van ’n landbou-ontwikkelingsagentskap in Pretoria gister is een van die grootste mylpale nog in die Suid-Afrikaanse landbou (Nico van Burick, Landbouweekblad, 19 Februarie 2020).

agitprop s.nw. [sametrekking van: agitasie en propaganda] [versamelnaam] kuns, letterkunde, musiek, plakkate, en dergelike, wat geskep word om vir ’n bepaalde beskouing of optrede propaganda te maak: Ekologie en letterkunde is ’n studieveld wat toe­nemend aandag kry. Kommer vind neerslag in die kunste. Hopelik geen agitprop of plakkaatkuns nie, maar komplekse dinge (Beeld, 2 Julie 2012). [Die teaters] sukkel om hul sosiaal bewuste programmering aan te pas vir gehore wat moeg geword het van wat hulle as agitprop oftewel propagandadramas ervaar (Die Burger, 13 April 1993).
samestellings:
agitpropmusikant: So word sanatoriums, soos Los Cocos in die buitewyke van Havana, die teelaarde vir ’n antikommunistiese teenrevolusie onder leiding van agitprop-musikante soos die sogenaamde grootmoeder van Kubaanse rock, María Gattorno (Rapport, 5 Desember 2016). | agitproppamflet: Nietemin het Johan van Wyk en Elza Miles ’n aantal agitprop-pamflette met poësie en tekeninge die lig laat sien, waarvan die meeste terstond verbode verklaar is deur die destydse sensors (Die Burger, 17 Julie 2000). | agitpropteater: Maar daar was ’n geweldige opbloei in agitpropteater, proteskuns en -musiek gedurende dié tyd, en baie Suid-Afrikaners het gevoel ’n algemene boikot op kultuuraktiwiteite sou teenproduktief vir die struggle wees (Chris du Plessis, Vrye Weekblad, 19 Julie 2019).


agteros s.nw. | agterosse | agterosse |
UITDRUKKING(S):
die agteros uit die kraal skop (eufemisties) (deur afdanking of op ’n ander wyse) van ’n/die onderpresteerder ontslae raak: (Heino du Plessis, Facebook, 3 Mei 2020).


ahimsa s.nw. (Sanskrit) godsdienstige of spiritueel-filosofiese konsep van geweldloosheid en eerbied vir alles wat lewe: Ahimsa is die kern van die Jainisme/Djainisme en ’n belangrike waarde van Boeddhisme en Hindoeïsme. Gandhi het sy lering van lydelike verset (ahimsa) eers [hier] uitgetoets (Breyten Breytenbach, Woordwerk: Die kantskryfjoernaal van 'n swerwer, 1999). | ENGELS: ahimsa
OORSPRONG:
Sanskrit a nie, geen + hims leed, letsel, skade; himsa besering.


aire bw. (uit Engels, lekties) Ook aaire
1
hetsy; of: Djy het die keuse om te betaal vi jou goed aire by ’n mens of by ’n robot (Olivia M. Coetzee, LitNet, 15 November 2018). | ENGELS: either

2
eerder: Ek gan aaire by Lameez se hys slaap venaan (Chase Rhys, Kinnes, 2018). Die [Nieu-Seelandse krieketspan] kan mos ma nou gerus terug […] huis toe. Hulle kan ma aaire ga skape oppas (Twitter, 2 Januarie 2013). As hulle vir my so baie moet moer, dan sal ek ma aaire niks van ander mense af sê nie (@icemanbrfc, Twitter, 23 Februarie 2012). | SINONIEM(E): aireste | ENGELS: rather

OORSPRONG:
Engels either


aireste bw. (lekties) liewerste(r); eerder: soe ek vra aireste vi haa of sy plan om vis te maak vi Easter (Nathan Trantraal, Rapport, 1 April 2018). Waa assit rêrag too much raak dan gan staan jy aireste oppie straat (Nathan Trantraal, Rapport, 7 Februarie 2016). | SINONIEM(E): aaire | ENGELS: rather

aksentdiskriminasie s.nw. [geen meervoud] aksentisme

aksentisme s.nw. [geen meervoud] Ook aksentdiskriminasie diskriminasie teen iemand op grond van sy/haar aksent en uitspraak van woorde: Aksentisme is ’n vorm van taaldiskriminasie. | ENGELS: accentism

akwafaba s.nw. [geen meervoud] (kookkuns) water waarin kekerertjies of ander peulvrugte gekook of ingelê is, (veral in veganistiese kookkuns) in die plek van eierwit gebruik: Ook word die vloeistof in geblikte kekerertjies, akwafaba, beskou as ’n wondermiddel in gebak. Dit is hoog in proteïen en reageer soos eierwit wanneer dit geklits word, wat lieflike meringues en makrolletjies maak (Mari-Louis Guy, Sarie, 17 November 2017). Gemaalde kekerertjies gemeng met akwafaba maak ’n fantastiese romerige pastasous en kan selfs in gebak soos brownies gebruik word (Mari-Louis Guy, Sarie, 17 November 2017). | ENGELS: aquafaba

akwamasie s.nw. | akwamasies | | ENGELS: aquamation resomasie

akwaponies b.nw. | akwaponiese | vir of met betrekking tot akwaponika: Akwaponiese boerdery is ’n landboutegniek wat akwakultuur (varswatervisboerdery) en grondlose gewasgroei saamvoeg (Johan Brits, Beeld, 20 September 2017). Groeiligte is geskik vir gewasse en blomme (soos krisante) in tonnels en ook vir hidroponiese, akwaponiese en aëroponiese stelsels (Carien Kruger, Landbouweekblad, 15 Oktober 2018). akwaponiese stelsel | ENGELS: aquaponic

akwaponika s.nw. [sametrekking van: akwakultuur + hidroponika] [geen meervoud] (daarstel van 'n) simbiotiese omgewing waarin plante wat in 'n varswaterstelsel geweek word, deur die uitskeidings van visse gevoed word, en die plante op hulle beurt die water suiwer sodat vis daarin kan aanteel: Akwakultuur is as ’n lewensvatbare en volhoubare metode geïdentifiseer om Suid-Afrika se vermoë te verbeter om bekostigbare proteïen te produseer (Rapport, 18 April 2016). Akwaponika integreer hidroponika (plante wat in water gekweek word) en akwakultuur. (Lucille Botha, Landbouweekblad, 19 Februarie 2018). Met akwaponika word die minimum water gebruik om groente (en selfs vrugte) van uitstekende gehalte te produseer. Vis word ook in dieselfde boerdery geproduseer (Johan van der Merwe, Landbouweekblad, 25 Maart 2019 ). | ENGELS: aquaponics
samestellings:
akwaponikastelsel


akwaties b.nw. | akwatiese | (uit Engels) met betrekking tot water; wat in water lewe/aanteel/groei/plaasvind; vir water geskik; water=: akwatiese omgewing akwatiese spesies Sy is ’n akwatiese ekoloog en haar onderneming […] gee raad oor waterhulpbronne en veral riviervloeibestuur (Ané van Zyl, Netwerk24, 23 Maart 2019). In 1938 het [die lugredery] ’n akwatiese vliegtuig op hul Durban-roete bekend gestel (Rapport, 29 Junie 2012). | ENGELS: aquatic

alfalfa s.nw. [geen meervoud] (landboukunde) plant wat as veevoer gebruik en soms ook as groente geëet word: Pryse vir alfalfa, beter bekend as lusern, skiet die hoogte in weens die tekorte aan veevoer en ’n groter mark vir uitvoer (Rapport, 26 Januarie 2016). Lusern wat in perdekos gebruik word (“alfalfa”), word die vader van alle kossoorte genoem en is ’n peulgewas (Hanlie Malan, Netwerk24, 23 Maart 2019). | SINONIEM(E): lusern | ENGELS: alfalfa

alie s.nw. | alies | alietjie | (informeel) agterstewe  
UITDRUKKING(S):
… soos jou alie nie goed nie; treurig; sleg; vrot: Waarom kry ek nie … in enige woordeboek of speltoetser nie? Of soek ek soos my alie? (Gerhard van Huyssteen, VivA Taalwerkersforum, 4 Julie 2019).

jou alie af …
1
baie seer: Ek het my alie af geval! En baie klasse gemis (Anél Coetzee, Rapport, 9 Junie 2019 ).

2
so goed/hard/ens. as wat jy kan: Ons bied ook vir hulle werksessies aan met kenners van oor die wêreld heen … en daar moet hulle eintlik maar hul alie af netwerk. (Ricardo Peach, Netwerk24, 12 Junie 2019).

jou/sy/haar alie sien sleg gaan met …; moeilikheid kry: Die rand sien sy alie, die kapitaalmark stort in duie en handelaars, joernaliste en beleggers bel mekaar om kop of stert uit te maak van hierdie totale f**op (Dawie Roodt, Netwerk24, 10 Junie 2019).


alkaliese hidrolise woordgroep | [gewoonlik enkelvoud] proses waarby ’n oplosbare bytmiddel, veral kaliumhidroksied, gebruik word om die stoflike oorskot van ’n mens of dier onder druk in warm water te laat ontbind/oplos. | SINONIEM(E): resomering | ENGELS: alkaline hydrolysis
KYK OOK: resomeer


alles s.nw.
UITDRUKKING(S):
alles en wat-wat (lekties) alle moontlike dinge: “Windows Seven! Windows Seven! Genuine China copies! Vyftag rant virrie vollene Professinil bossie met alles en wat-wat!” Only in Cape Flats Afrikaaps can the Windows 7 Professional Bundle be referred to as a “bossie” as if you are selling a tied bunch of fish on the side of the road, and additional Windows Professional features be called “wat wat” (Jeremy Veary, thedialecticalcop.blogspot, Januarie 2017). | SINONIEM(E): alles en nog wat | ENGELS: that and the other | everything but the kitchen sink


almal vnw.
UITDRUKKING(S):
almal koop maar tandepasta en toiletpapier almal is mense, nie een beter as die ander nie: (Heino du Plessis, 3 Mei 2020).


amadoda s.nw. | amadodas | (bendetaal, tronktaal) bendelid met gesag.
OORSPRONG:
Zulu, Xhosa amadoda mans, manne


amant s.nw. | amante | (Namakwalands) diamant: Niemand in hierdie geweste praat geredelik oor klipgooi nie […] Soveel so, die oumense het gepraat van “amante” (Hein Eksteen, Vrye Weekblad, 3 Januarie 2020). Geen wonder ek het so lanklaas gehoor van iemand wat met amante gevang is nie (saforums.co.za, 23 Februarie 2010). Hy sal mens te lyf gaan as jy naby sy grot kom. Hy’t amante wat hy daar opgaar (A.A.J. van Niekerk, “Oupa Dirk se skool”, Bittergousblom, 1974). | SINONIEM(E): (blink)klippie | ENGELS: diamond
KYK OOK: klipgooi


amashoba s.nw. [versamelnaam] (Zoeloe) beessterte wat ’n Zoeloekryger tradisioneel om sy boarms en kuite bind: Wanneer die krygers eindelik uit die hut tree, van kop tot toon in oorlogsdrag geklee, dra ’n jong Johnny Clegg dieselfde amashoba, izinjobo (lang diervelle om die heupe gebind) en amabheshu (’n lendedoek van kalfsvel) as die res (Chris du Plessis, Vrye Weekblad, 19 Julie 2019).

Amie afk. [Engels: Association of Meat Importers and Exporters] Vereniging van vleisinvoerders en -uitvoerders.

amperie sametrekking (lekties) amper die: My word, die niewe TV’s is massive, nuh, vat amperie hele muur op (Chase Rhys, Kinnes, 2018). | ENGELS: almost the …

AMT afk. | AMT’s | aanmeldbare mediese toestand. | ENGELS: notifiable medical condition | NMC

anderding s.nw. | andergoed | (informeel) (in gesproke taal gebruik om te verwys na) iets wat nog nie ’n naam het nie, waarvan die naam nie aan die spreker bekend is nie, of waarvan die naam hom/haar ontgaan. | ENGELS: whatchamacallit | whatsit | whatsitsname

anderjanstorie s.nw. (informeel) | anderjanstories | Ook annerjanstorie skinderstorie.

Anglikaans s.nw. [geen meervoud] (informeel, skertsend) Mengels

ankole s.nw. [ook met hoofletter]
1
Ook ankolebeesras [geen meervoud] sangabeesras met indrukwekkende lang horings, op sommige plekke in Afrika as ’n statussimbool en heilige gelukbringer beskou: Die Ankole is 'n gewilde bees in Suid-Afrika, onder meer danksy sy majestueuse horings (Charl van Rooyen, Landbouweekblad, 1 April 2019). Die Ankole in Uganda is ’n groot statussimbool en ek kon eerstehands ervaar hoe lief die mense vir dié beesras is. (Daniel Naudé, Landbouweekblad, 19 Januarie 2018).

2
| ankoles | Ook ankolebees | ankolebeeste | enige bees wat tot die ankoleras behoort: Vleis van Ankoles het lae cholesterolvlakke, ’n fyn grein en is smaaklik – ideaal vir gesondheidbewuste verbruikers (Heléne Booyens, Landbouweekblad, 22 Januarie 2018). | ENGELS: Ankole

samestellings:
ankolekudde: In een van Daniel Naudé se foto’s in Cyril Ramaphosa se boek, Cattle of the Ages, staan Ramaphosa tussen sy Ankole-kudde op sy plaas Ntaba Nyoni buite Badplaas (Jo-Ansie van Wyk, Vrye Weekblad, 14 Februarie 2020).


ant s.nw. [geen meervoud, ook aanspreekvorm] Ook antie | anties | antietjie |
1
jou ma/pa se suster: Van al my anties hou ek die meeste van ant Lily. Môre, Antie.

2
(a) vrou wat heelwat ouer is as jy: Die klein gemeenskap van Alicedale rou sedert Maandag toe Florence Fortuin, beter bekend as ant Porra, in die Grahamstad-hospitaal oorlede is (Enrico Claassen, Son, 19 Januarie 2018). Hy’t daai antietjie lelik gestreep (George Weideman, Die donkermelk van daeraad, 1995). (b) beleefde vorm waarmee ’n ouerige vrou aangespreek word: Antie Mona. | SINONIEM(E): tante | tannie | ENGELS: aunt | auntie | aunty


antie s.nw. | anties | [dikwels verkort tot: ant] [ook aanspreekvorm]
1
jou ma/pa se suster: Van al my anties hou ek die meeste van ant Lily. Môre, Antie.

2
(a) vrou wat heelwat ouer is as jy: Die klein gemeenskap van Alicedale rou sedert Maandag toe Florence Fortuin, beter bekend as ant Porra, in die Grahamstad-hospitaal oorlede is (Enrico Claassen, Son, 19 Januarie 2018). Hy’t daai antietjie lelik gestreep (George Weideman, Die donkermelk van daeraad, 1995). (b) beleefde vorm waarmee ’n ouerige vrou aangespreek word: Antie Mona. | SINONIEM(E): tante | tannie | ENGELS: auntie | aunty

KYK OOK: Antie Rona


Antie Rona woordgroep (medies, informeel) korona: Antie Rona het kô kuier. Nou vi dies wattie wietie: “Rona” issie die meisie af in die paddie, maa ek praat hie van Covid-19 of die coronavirus wat annie begin van Maart uitgestiek het hie in Suid-Afrika (Olivia M Coetzee, Vrye Weekblad, 27 Maart 2020).
KYK OOK: rona, korona


antieksjiek b.nw. | [attr. en pred.] swierig/elegant/modieus op ’n manier wat aan die mode van ’n vroeër tyd herinner: ’n antieksjiek rok/voorkoms Nóú gaan ek nie weer nee sê vir soetgoed nie, en bestel melktert en ’n koppie tee. Dit word keurig bedien in ’n antieksjiek koppie, -piering en -bordjie, baie soos dié wat in my ouma se huis was (Daniëlla van Heerden, Rapport, 26 Augustus 2018). | ENGELS: antique chic

Antifa s.nw. [verkorting van: antifascisties] [ook met kleinletter]
1
[enkelvoud en meervoud] beweging van outonome groepe wat saamspan om op militante wyse teen fascisme en ander vorme van verregse ideologie te betoog: Veral die beweging Antifa is geneig om enigiemand wat nie ver links is nie, as ’n Nazi uit te kryt en dit dan as regverdiging vir sy eie geweld te gebruik (Hanno den Boer, Beeld, 15 Augustus 2019). | Engels: Antifa

2
| Antifa’s | antifascis: Die bakleiery het plaasgevind in die konteks van groot verdeeldheid in Frankryk oor die onlangse wettiging van gay-huwelike. Duisende konserwatiewe Franse het oor die hele land vreedsaam daarteen betoog, maar die regses het tot geweld oorgegaan. Die groep teen wie hulle baklei het, staan bekend as die “Antifa’s” (Antifasciste) (Leopold Scholtz, Netwerk24, 11 Junie 2013). | ENGELS: antifascist

samestellings:
Antifa-ondersteuner


antihistamien s.nw. | antihistamiene | (medies) middel wat gebruik word om ’n allergie te behandel: Dit gebeur ook soms dat ’n spinnekop jou gaan byt. Bly kalm, want dit beteken nié jy gaan op die plek dood neerslaan nie. In die meeste gevalle gaan jy net ’n pynstiller, ontsmettingsmiddel, ’n verband en antihistamien nodig hê om jou reg te sien (Schalk Jonker, Weg!, 30 Januarie 2019). Allergiese konjunktivitis is gewoonlik seisoensgebonde en die behandeling behels ’n antihistamien en steroïeddruppels (Maretha Combrink, Baba en Kleuter, 25 September 2018). | ENGELS: antihistamine
samestellings:
antihistamienpil | antihistamienroom | antihistamienstroop


antiinflammatories b.nw. | antiinflammatoriese | wat inflammasie teëwerk: antiinflammatoriese eienskappe/middels/bestanddele Arnika, ’n plant in die sonneblomfamilie, het ’n antiinflammatoriese uitwerking (Huisgenoot, 13 Junie 2012). | ENGELS: anti-inflammatory

antilokusie s.nw. [geen meervoud] Vorm van vooroordeel waarby daar in die openbaar of in ’n private omgewing, negatiewe aanmerkings teenoor ’n persoon, groep of gemeenskap gemaak word, maar waar die aanmerkings nie direk tot die persoon, groep of gemeenskap gerig word nie: In sy klassieke werk The nature of prejudice (1954) wys [Gordon] Allport daarop dat rassevooroordeel dikwels in vyf fases ontwikkel, naamlik antilokusie, vermyding, diskriminasie, fisieke aanval en uitwissing. Wat duidelik behoort te blyk, is dat rassisme uiteindelik geweldstoevoeging tot gevolg kan hê (J.M.T. Labuschagne in Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, Jaargang 64, 2001).

Antjie Somers woordgroep
1
(figuurlik) afskrikmiddel; bangmaakding: Ek gaan eis dat AfriForum my kommissie betaal. Hulle gebruik my as 'n Antjie Somers om lede te werf (Max du Preez, Vrye Weekblad, 2 Augustus 2019). Maar in stede van ’n kommunis agter elke bos het ons nou witmonopoliekapitaal wat die groot Antjie Somers moet wees (Die Burger, 20 April 2017).

2
(folklore, histories) geheimsinnige man vermom as ’n vrou, ’n karakter in Afrikaanse volksoorlewerings, soms gebruik om stout kinders bang te maak: Die Hertzogprys-bekroonde dramaturg Tertius Kapp het as draaiboekskrywer inspirasie geput uit karakters soos Antjie Somers, die tokkelossie en die spook van Uniondale (Die Burger, 25 Maart 2019). Antjie Somers kom jou haal.





antroponose s.nw. | antroponoses | (patologie, geneeskunde) enige siekte of infeksie wat op 'n natuurlike wyse van ’n mens na ’n dier oorgedra kan word. | TEENOOR: soönose | ENGELS: antroponosis
OORSPRONG:
Grieks anthrōpos mens + nosos siekte.


Antroposeen s.nw. [geen meervoud] (geologie) die Antroposeen(tydperk) geologiese tydperk wat op die Holoseen volg, die tyd wat die aarde nou binnegaan: Plastiek is só alomteenwoordig dat dit as ’n aanduier in die Antroposeen – die huidige geologiese era gekenmerk deur die mens se ramspoedige impak op die aarde se klimaat en ekosisteme – beskou word (Jorisna Bonthuys, Vrye Weekblad, 6 Desember 2019). Wetenskaplikes debatteer nou nog oor die werklike begin van die Antroposeen. Sommige meen dit moet die tydperk voor die 1800’s tydens die begin van die Nywerheidsrevolusie wees, terwyl ander glo 1950 is die eintlike datum (Elise Tempelhoff). | ENGELS: Anthropocene (Epoch)

Apgar-telling s.nw. | Apgar-tellings | [ook met kleinletter] maatstaf gebruik om vas te stel hoe goed ’n baba ná geboorte vaar: ’n lae Apgar-telling Ek het geglo hy’s die soetste baba! Maar sy Apgar-telling (’n metode om die fisiese status van ’n pasgeborene te evalueer) was slegs twee, sy spiertonus en suigreflekse swak (Liezl Vlok, Netwerk24, 2 Maart 2019). | ENGELS: apgar score | apgar rating
KYK OOK: Apgar-toets

OORSPRONG:
Uit Engels, akroniem: activity, pulse, grimace, appearance, respiration


Apgar-toets s.nw. | Apgar-toetse | [ook met kleinletter] maatstaf gebruik om vas te stel hoe goed ’n baba ná geboorte vaar. By die uitvoer van ’n Apgar-toets word daar gelet op die baba se spiertonus, sy of haar pols- of hartslag, refleksreaksies op prikkels, velkleur en -voorkoms, en asemhaling: ’n Apgar-toets help die pediater om jou baba se gesondheid rég na geboorte te bepaal (Nia Visagie, Baba en Kleuter, 1 November 2017). | ENGELS: apgar test
KYK OOK: Apgar-telling

OORSPRONG:
Engels activity, pulse, grimace, appearance, respiration


Apiesdorp s.nw. [geen meervoud] (informeel, skertsend) Pretoria: Ek lees vroeër vandag dat iemand na Pretoria verwys as Apiesdorp (n.a.v. die Apiesrivier). My pa het altyd na Potchefstroom as Potjiesdorp verwys. Watter Afrikaanse byname ken julle vir dorpe en stede? (Ebies Ebersohn in die groep Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool!, Facebook, 17 Augustus 2019). Ek wil nie graag in Apiesdorp bly nie (C. van der Merwe, Beeld, 1 Augustus 2003). | SINONIEM(E): Aapstad | ENGELS: Pretoria

Kommentaar

“Daardie ‘Apiesdorp’ vir Pretoria is nogal interessant met verskeie verduidelikings verwysende na die woord Tshwane. Een daarvan is dat dit die Sesothowoord is wat na ’n ‘klein apie’ verwys en ’n ander teorie is dat dit die Sothoverwysing is na die Afrikaanse riviernaam, die Apiesrivier in daardie omgewing, en dan is daar ook nog ’n derde verwysing na een of ander kaptein in die 1800’s wat grond daar gehad het. Wat ook al die ware herkoms, ons Afrikaanse Namekomiteelede het baie gou tydens die Pretoria-Tshwane-debat destyds die uitdrukking begin gebruik: ‘Van Aapstad tot Kaapstad ... skreeu almal in SA vandag vir die Bokke’.”

Corlietha Swart, Bloemfonteinse Skrywersvereniging
17 Augustus 2019, Facebook  



apparatsjik s.nw. | apparatsjiks | (Russies) amptenaar wat in diens van ’n regering of ander instansie blindelings bevele uitvoer en niks bevraagteken nie: Tot dusver is geen enkele apparatsjik werklik aanspreeklik gehou vir hierdie massaslagtings nie (Leon Schreiber, Rapport, 25 Februarie 2018). Só beskou, is ’n stem vir die ANC allermins net ’n stem vir Ramaphosa – dis óók ’n stem vir die Zuptas, wie se apparatsjiks steeds in talle verkiesbare posisies sit (Dawie, Netwerk24, 16 Maart 2019). | ENGELS: apparatchik

Arabiese Lente woordgroep [geen meervoud] reeks betogings en gewapende rebellies teen onderdrukkende regerings wat einde 2010 in Tunisië begin en deur Noord-Afrika en die Midde-Ooste versprei het: Werkloosheid, veral onder gegradueerdes, was een van die belangrikste dryfvere vir die Arabiese Lente (Vrye Weekblad, 7 Junie 2019). | ENGELS: Arab Spring

ARB afk. [Engels: Advertising Regulatory Board] Suid-Afrikaanse Advertensiebeheerraad.

ARDS afk. [Engelse afkorting: Acute Respiratory Distress Syndrome] akute respiratoriese-nood-sindroom: Nog ’n groot faktor is sommige mense wat akute respiratoriese-nood-sindroom ontwikkel – wat talle se dood veroorsaak – en ander nie (Elsabé Brits, Vrye Weekblad, 1 Mei 2020).

arganboom s.nw. | arganbome | arganboompie | (botanie) bedreigde boomsoort (Argania spinosa), inheems in halfwoestyndele van Marokko en Algerië, met olieryke sade waaruit arganolie verkry word. | ENGELS: argan

arganolie s.nw. [gewoonlik enkelvoud] plantaardige olie verkry uit die sade en vrugte van die bedreigde arganboom, in medisinale en kosmetiese produkte, asook by die bereiding van voedsel gebruik: Tem jou hare met arganolie (Huisgenoot, 21 September 2018). | ENGELS: argan oil

argitektuur | s.nw. | [geen meervoud]
defensiewe argitektuur Ook verdedigende argitektuur, vyandige argitektuur vorm van die ontwerp van openbare geboue, bushaltes, voorwerpe, ens., wat bedoel is om bepaalde gebruike (misbruike), byvoorbeeld deur haweloses, skaatsers, graffitikunstenaars, dwelmverslaafdes of diere, te voorkom: Leeglopery, bedelary en boemelary moet tot elke prys verhoed word. Boemelaars mag nêrens veilig slaap nie. Hulle mag nie veilig ablusie gebruik nie. Hulle waardigheid moet sover moontlik ontneem word. Daar is selfs ’n naam daarvoor. Defensiewe argitektuur. Vyandige argitektuur. Ek verkies die Engelse term “hostile architecture” (Bettina Wyngaard, Vrye Weekbad, 31 Januarie 2020). | ENGELS: defensive architecture | hostile architecture


arkaan s.nw. | arkaans | (Islam) geloofsbeginsel; leerstelling; pilaar (van Islam): Na die belydenis (Kaliema Shahaadat) wat beskou word as die eerste pilaar of leerstelling van Islam, volg die ander arkaans (pilare) van Islam. Die ander arkaans is Salaah (aanbidding van Allah); Zakaat (aalmoese aan behoeftiges); Soum (heilige vas gedurende die maand van Ramadaan) en Hadj (die heilige pelgrimstog na Makkah) (Moosa Patel, Islam vir bekeerlinge, belangstellendes, vreemdelinge en nuwelinge).

arm s.nw. | arms | armpie | liggaamsdeel   | ENGELS: arm
UITDRUKKING(S):
sonder arms rondstaan nie saam met ander werk nie; lui wees; (figuurlik) lyf wegsteek.


ARNS afk. (geneeskunde) akute respiratoriese-nood-sindroom: Mense wat baie siek word, ervaar ernstige asemnood of skoklong, wat ’n akute respiratoriese-nood-sindroom is (Elsabé Brits, Vrye Weekblad, 31 Januarie 2020). | ENGELS: Acute Respiratory Distress Syndrome | ARDS

asado s.nw. | asado’s | (Spaans, kookkuns) tradisionele Suid-Amerikaanse spitbraai: Ek het chimichurri (vars kruiesous) ontdek, en om braaivleis van ’n asado te eet was ’n belewenis (Anél Potgieter, Rapport, 3 September 2017). | ENGELS: asado

aseksualiteit s.nw. [geen meervoud] ongevoeligheid vir seksuele prikkels en lae of afwesige belangstelling in seksuele aktiwiteit: Aseksualiteit kom voor by mense wat min of geen seksuele aantrekking ervaar nie, en uitsluitlik in ’n emosionele konneksie belangstel. Dit word in sekere oorde as ’n seksuele oriëntasie beskou (Annelize Visser, Vrye Weekblad, 6 November 2020). Dit moet – ook en veral deur die kerk – genoem word dat daar nie net twee seksuele oriëntasies (gay en straight) is nie. Daar moet gepraat word oor aseksualiteit, die oënskynlik groeiende kategorie op die spektrum van oriëntasies (Rudi Swanepoel, Netwerk24, 21 Oktober 2016). | ENGELS: asexuality

aseksueel b.nw. | aseksuele | wat ongevoelig vir seksuele prikkels is en nie in seksuele aktiwiteit belangstel nie. | ENGELS: asexual
KYK OOK: aseksualiteit


asimptomaties b.nw. | asimptomatiese | wat nie ’n kenmerkende siektebeeld vertoon nie; sonder (sigbare) simptome: Hy het gesê die passasiers is nou asimptomaties, maar hulle is as ’n voorsorgmaatreël van die skip verwyder en word getoets (Netwerk24, 16 Maart 2020). Data dui daarop dat mense wat asimptomaties of matig simptomaties is, die siekte kan oordra (Werner Beukes, Netwerk24, 7 Februarie 2020). In die asimptomatiese stadium is dit moeilik om te toets, want die viruslading is nog nie hoog genoeg in jou slymvliese nie (Willemien Brümmer, Netwerk24, 13 Maart 2020). Baie diere, soos beeste, bokke, skape, wild, honde en voëls, is asimptomatiese draers en wys geen siektesimptome nie, maar is draers van soönotiese, siekteveroorsakende agente, soos bakterieë en virusse (Jan du Preez, Landbouweekblad, 23 Maart 2018). asimptomatiese besmetting. | ENGELS: asymptomatic

asimptomatikus s.nw. | asimptomatikusse, asimptomatici | (informeel) iemand wat ’n siekte (onder lede) het, maar geen van die kenmerkende simptome van die siekte vertoon nie.

asknoper s.nw. | asknopers | (informeel) (vir ’n voertuig, veral ’n vier-by-vier) moeilik begaanbare pad/terrein: Hierdie sogenaamde opwarmingsgedeelte het ’n reeks steil hellings, ’n paar skerp draaie, asknopers en diep verspoelings (WegRy, 9 Augustus 2014). ’n asknoper van formaat wat jou wiele in die lug laat hang en vir ’n paar riller fotomoontlikhede sorg (WegRy, 9 Augustus 2014). Dis nou wel nie ’n asknoper nie, maar as jou voertuig van die roete afwyk en tussen die bosse beland, kan jou voertuig maklik ’n paar skrape kry (Weg, 9 September 2009 ). | ENGELS: axle-tangler

ASMR akr. [Engelse afkorting: autonomous sensory meridian response]: ASMR […] staan vir outo-sensoriese meridiaanrespons – ’n nog vae konsep wat te doen het met ’n tintelende gevoel wat sekere sensoriese stimuli (soos fluister of jou hare borsel) by sekere mense veroorsaak. Daar word ook daarna verwys as ’n “kop-orgasme”. Blykbaar is een van die snellers van ASMR om te kyk hoe iemand ’n herhalende taak uitvoer en laat dit jou uiters ontspanne voel (Saskia Hill, Huisgenoot, 20 Maart 2016 ). OSMR

aspartaam s.nw. [geen meervoud] kunsmatige versoetingsmiddel wat sowat twintig maal soeter is as suiker: Die koeldrankreus het in die meeste gevalle soveel versoeters – soos aspartaam, asesulfaam-k en sukralose – in hul gewone, niedieet-koeldranke begin gebruik dat hulle nie meer ’n sent suikerbelasting hoef te betaal nie (Dawie Boonzaaier, Rapport, 24 Februarie 2019). | ENGELS: aspartame | APM

aspoester- woorddeel [ook met hoofletter] Ook Aspoestertjie- wat (volgens die spreker/skrywer) (te) min aandag kry of afgeskeep word: aspoestertjielande aspoestertjiespan aspoestertjiespel aspoestersport Suid-Afrikaners se passie vir pinotage en trots op ’n variëteit uit eie bodem het beslis die wynwêreld begeester. Daar is nou heelwat meer belangstelling in hierdie Aspoestertjie-druif, hier en oorsee. Dit hoort perfek by ons land se diverse en kleurryke karakter (Vrye Weekblad, 16 Oktober 2020). | ENGELS: Cinderella

asr s.nw. [ook met hoofletter] (Islam) asser

Assalamoe aleikoem tussenwerpsel, woordgroep (Moesliemgroet) Ook Assalamoe alykoem die vrede van God op u: Die groet van ’n Moesliem is “Assala[a]moe alykoem”, wat beantwoord word met “Wa alykoemoes salaam” Die langer vorm van groet is: Assala[a]moe alykoem wa ragmatoellah of assala[a]moe alykoem wa ragmatoella[a]hie wa baraka[a]toe. Dan sal die antwoord wees: Wa alykoemoes salaam wa ragmatoella[a]hie wa baraka[a]toe (Die vrede van God, en die genade en seëninge op u) (Moosa Patel, Islam vir bekeerlinge, belangstellendes, vreemdelinge en nuwelinge).

asse en maars woordgroep besware; teëpratery; teenpratery: Oor die skynbaar onmoontlike, Brexit, loop Johnson oor van […] ongebreidelde selfvertroue: “Ons sal op 31 Oktober uitkom [uit die Europese Unie], geen asse en maars nie (Adri Kotzé, Vrye Weekblad, 2 Augustus 2019). | ENGELS: ifs and buts

asser s.nw. [ook met hoofletter, gewoonlik enkelvoud] (Islam) Ook (Arabies) asr derde verpligte gebed van die dag: Die derde salaah van die dag is bekend as Asr, wat sowat 2 tot 3 uur voor sonsondergang uitgedra word. Die verpligte salaah bestaan uit vier raka-ats (Moosa Patel, Islam vir bekeerlinge, belangstellendes, vreemdelinge en nuwelinge).
KYK OOK: salaah, fard


athaan s.nw. [enkelvoud] (Islam) › die athaan die oproep tot gebed: “My oorlede oupa, ’n pastoor, het altyd die athaan as ’n alarmklok gebruik en dan sou hy sy stiltetyd en Bybelstudie hou voordat hy sy dag begin. Rofweg vertaal is die athaan ’n uitnodiging tot gebed, ‘want gebed is beter as slaap’ in enige geloof” (inwoner van die Paarl, Netwerk24, 11 Desember 2018). Die moskee het dus tot die slotsom gekom dat die athaan, die gelui van kerkklokke of enige ander oproep tot aanbidding nooit as ’n geraas gesien kan word nie (Zeenatul-moskee, Bo-Kaap / Roshé Taka, Netwerk24, 13 Mei 2019). | ENGELS: athaan

ATM afk. Afrikaanse Taalmuseum en -monument.

awê tussenwerpsel (informeel) Ook aweh groetwoord: “Aweh!” groet hy aan die begin met sy kenmerkende groet. […] “Aweh!” groet die gehoor geesdriftig terug (Jean Oosthuizen, LitNet, 7 Maart 2017).

aweh tussenwerpsel (informeel) Ook awê groetwoord: “Aweh!” groet hy aan die begin met sy kenmerkende groet. […] “Aweh!” groet die gehoor geesdriftig terug (Jean Oosthuizen, LitNet, 7 Maart 2017).