Bygewerk op 30 Oktober 2024
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en gereeld in Pharos Aanlyn bygewerk. Van November 2023 af word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit in een van of in albei hierdie bronne opgeneem is – ook Engelse woorde. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Getal trefwoorde vandag: 3 502
’n Woord hoef nie altyd alles te sê nie
Die oorname van woorde uit ander tale is nie uit die bose nie, altans nie sonder meer nie. Die vernaamste tale waaruit Afrikaans deesdae woorde oorneem, is Engels, veral Amerikaanse Engels, en dan vir vak- en geleerde begrippe Latyn en Grieks.
In die Afrikaanse woordelys en spelreëls wat in 1991 verskyn het, is daar talle woorde van Engelse herkoms opgeneem, omdat sprekers wat op hulle taal let, ook dié woorde gebruik. Dit is woorde soos cheetah, chalet, charter, chevron/sjevron, chowder, cottage, establishment, faks, laser, steak, country (soos in sy sing country), stres en tjop.
Party van dié woorde wat in die 1991-AWS verskyn, moes eintlik al in die 1964-AWS, of nog vroeër verskyn het.
Nogtans het baie sprekers van Afrikaans die gevoel dat sulke ontlenings eintlik “derdegraadse” woorde is.
“Tweedegraadse” woorde is eerstens die leenvertalings soos slap skyf (uit Engels floppy disc), harde skyf (uit Engels hard disk), kompakplaat (uit Engels compact disc) en langspeler (uit Engels longplayer), en tweedens die klankaanpassings, soos laser, radar, katamaran en kultivar.
Die sprekers van Afrikaans is veral trots op eie woorde wat die sprekers self geskep het wanneer hulle leefwêreld verbreed. Dit is vir hulle eersteklaswoorde.
Die selfgemaakte woorde verhoog die taal se waarde in die oë van die gebruiker. Sulke selfgemaakte nuwe woorde waarvoor Afrikaanssprekendes waardering het, is apparatuur (Eng. hard ware), kernpersoneel (Eng. skeleton staff), kramdrukker (Eng. stapler, staple gun), programmatuur (Eng. soft ware), skimkabinet (Eng. shadow cabinet), stippeldrukker (Eng. dot matrix printer), versapper (Eng. liquidizer), volfiliaal (Eng. wholly-owned subsidiary), en waseg (Eng. colourfast).
Maar woorde waarvoor die Afrikaanssprekendes min ooghare het, is die lang-derm-woorde-wat-alle-betekenis-elemente-probeer-vasvat. Dit is eenvoudig nie hoe “lekker” woorde gebou word nie. Dink daaraan dat ’n glas (drinkding) lank al nie meer net van glas gemaak word nie, dat ’n kurk (toemaakprop) al van plastiekstof gemaak word, en dat ’n lughawe nie ’n hawe vir of van lug of in die lug is nie. Kortom ’n woord hóéf nie alles te sê wat hy beteken nie.
Buitendien hoef mens nie ’n woord weg te gooi en nuwerwetserig te vervang net omdat sy dele nie meer absoluut korrek is nie.
Ons weet almal presies wat pluimvee is. Maar in die gewone taal het dié voëls geen pluime nie, en tel hulle lank al nie meer as vee nie. Nogtans deug die woord as geheel presies vir wat hy aandui. Moet ’n geneesheer ’n man wees, net omdat ’n deel van die woord -heer is?
Dit is ’n ope vraag waarom party nuutskeppings wel inslag vind; woorde soos kassetspeler, kishou, potjiekos, pretdraf, strooisage, trutol en sweettrui.
En dit is ’n ope vraag waarom party nuutskeppings net nie wil inslag vind nie. Ek hoor graag julle GEMOTIVEERDE opinies oor blykbaar “onaanvaarbare” woorde soos trosbehuising, blêrkas, boetebessie, flaterwater, sprietui en die afkorting me. Waarom is hulle nie lekker woorde nie? En wat plaas ons in hulle plek? Help asseblief dink.
Johan Combrink, 20 September 1993 © Die Burger
trefwoorde
Afrikaanse woordelys en spelreëls | AWS | definisiewoord | Engelse woord | klankaanpassing | leenwoord | neologisme | nuutskepping | vreemde woord
vertaling
voegwoord
vokaalopeenhoping
vokaalrekking
vokaalverlenging
volksetimologie
volvorm
voorkeurvorm
voornaamwoordelike bywoorde
voorvoegsel
vraag
vraagsin
vraagteken
Vraagteken uit Latyn
vreemde woord
vullerwoord
Waar hou woorde op?
Wanneer anglisisme?
wanvertaling
weglaatteken
Welkom vreemdelinge
werkwoord
wisselvorm
Woord sê nie alles nie
woordeboek
Woordeboekdag
woordomruiling
Xhosa
Zoeloe