Bygewerk op 30 Oktober 2024

Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings

Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en gereeld in Pharos Aanlyn bygewerk. Van November 2023 af word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit in een van of in albei hierdie bronne opgeneem is – ook Engelse woorde. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!

Getal trefwoorde vandag: 3 502

A | B | C | D | E | F | G | H | I | J | K | L | M | N | O | P | Q | R | S | T | U | V | W | X | Y | Z

Van huisraad tot kos, waarom nie ook retro-taal nie?

Hierdie blog is ’n uitgebreide en verrykte weergawe van ’n rubriek wat op Vrydag 23 Maart 2018 in Beeld verskyn het.



Seisoen ná seisoen bly retro-giere en retro-modes in die nuus.

Retro – van die Latynse voorvoegsel re-, wat “opnuut”, “van voor af” beteken, en die bywoord retro, “agtertoe”, “terugwaarts”. Retro is ook ’n verkorting van die byvoeglike naamwoord retrospektief met die sinoniem terugskouend. Want ons kyk graag terug.

Van die 1970’s al verwys die woord retro na die nabootsing van voorkomste wat in vroeëre eras, in toeka se tyd, gewild was. Blaai ’n mens deur ’n stapel ou tydskrifte kom jy dit gou agter:

“Ons keer terug na die veertigs met getailleerde pakke …”

“Daar’s die retro-boetiek met die goed uit die vyftigs. Dis nou rêrig mooi; só in die mode …”

“Die geometriese patrone van die smeulende sestigs is terug …”

“Retro-fietse uit die sewentigs is weer in in Brittanje …”

“Dra jou denims met ’n tikkie retrosjiek …”

“Goeie nuus! Dié retro-lipstiffie sal by ál jou uitrustings pas …”

Retro-bekers, -kleure, -kolle, -kussings, -lampe, -stoele; retro-haarstyle, -beenkouse, -broeke; van retro-suède-tekkies tot retro-popmusiek; retro-armbande en -oorbelle en antieksjiek nommertjies tot retrotrouvenues en retro-klassieke geregte.

Op Facebook is Ali en Magriet se Huisraad Quirky Finds and Collectibles een van my gunstelinge. Van “gatskop- ou radio’s”, retro-TV-trollies en “windgattafeltjies” uit die jare vyftig kom verby, “kaaltannieskilderye” tot art deco-pronkstukke.  

Soos Laurika Rauch sing: “Ons gee ons oor aan die nostalgie.”

So, hoekom nie uit dié oude doos, terselfdertyd, ook sommer ’n paar van ouma en oupa se woorde afstof nie? Soos die naam van nog ’n sosialemediablad met digby die 10 000 lede dit stel: Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool!

Og, nou ja, nie álmal nie. Uit die sesde papieruitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT6) is altesame 3 246 Noagwoorde weggelaat, en al staan baie van daardie oues nog in HAT Aanlyn wek nie almal ewe veel nostalgie nie: Niemand bel meer aan as hy of sy die deurklokkie lui nie. Iemand is dalk lief, maar nie aanminlik nie. As jy vra of jy jou hand mag gebruik om ’n beentjie af te kluif (“kou”), of in Ouma se babbeljoentjie (“hemelbed”) mag slaap, sal mense gou-gou sê jy basel (“praat kaf”).

Wie word nog gebenedy (“geseën”)? Van vlugtelinge wat berooid (“van hulle aardse besittings gestroop”) oor die aardbol swerf, hoor niemand nie. Ons word dalk besteel, maar bestolenes is ons nie. Heilgimnas en heilgimnastiek vir fisioterapeut en fisioterapie? Kinderskaar vir ’n groep kinders, kloekmoedig vir dapper, kondoleansie vir medelye, pompelmoere vir appelliefies? Sak, Sarel.

Nie elke oue is ’n goue nie, nee, sekerlik nie. ’n Lewende taal word daaraan uitgeken dat dit verander. Laat ons niks verwerp omdat dit nuut is nie. Piet Verdriete se sikkeneurigheid oor elke pikkedil, pikeer net soveel as mense wat vir woorde soos sikkeneurigheid (“foutvinderigheid”), pikkedil (“kleinigheid”) en pikeer (“irriteer”) (nie almal in dieselfde sin nie) hulle wenkbroue lig.

Ten opsigte van eietydse taalgebruik is hiperkritiese houdings, taalluiheid en mense wat gedurig daarop uit is om met ander se taalgebruik die spot te dryf, ewe ongewens. As gevolg daarvan word bruikbare woorde dalk net in die doofpot gestop, en as bruikbare woorde en betekenisse wat verdwyn, nie deur ander woorde met dieselfde betekenis vervang word nie, verarm die taal, verloor dit seggingskrag.

Tooi gerus dus jóú Afrikaans, nes jou huis en jou lyf, na jóú sin. Gerus ook met ’n tikkie retro, as jy wil.

Wat van bebrou? Piet bebrou alles. Beknor? Daardie twee beknor mekaar al die hele week. Bral? E. se gebral (‘gespog’) staan my nie aan nie. Wys my wie’s nie moeg vir gluiperige (‘huigelagtige’) politici nie? Sy kan T. se glunderende (‘selfvoldane’) bakkies nie langer verduur nie. Gerda is vandag weer baie kittelorig (‘opvlieënd’). Die kinders ravot (‘speel uitbundig’) op die gras. Ek het al weer my tyd hier sit en verbabbel. Die dief is geswind (“gedenk aan Klaas Geswind syn perd”, “rats”) oor die muur.

Ouderwets? Miskien. Maar beskou dit as ’n nostalgie-ding. Verhinder niemand om sy of haar dubbeltjies in Afrikaans se armbus te gooi nie, en spits gerus jou ore: ’n Taal met byderwetse ritmes en hier en daar ’n retro-klank is jonk en funky.

Jana Luther, 23 Maart 2018  

trefwoorde

argaïsme | Latyn



Let wel
As ’n soekwoord nie as trefwoord opgeneem is nie, word voorbeelde van die woord in ander artikels vertoon, indien dit voorkom. Soek dan met CTRL-F om sulke voorbeelde op jou rekenaarskerm uit te lig.

Please note
This dictionary mainly contains words, meanings and expressions that have not yet been included in other Afrikaans dictionaries, together with a collection of language columns, blogs, video inserts and podcasts. If a search word is not included as a headword, examples of the word in other entries (definitions, usage examples, usage notes, etc) are displayed, if they occur. Then search with CTRL-F to highlight such examples on your screen.


  Rubrieke en podsendings van 2024

Uitbundig uitgeput, maar hoera vir al die uitkykanties (Netwerk24)

Wat is 'n huis sonder sy lappies? (Netwerk24)

Lente se eerste komloertjie het geval (Netwerk24)

Taal ingespan vir diagnose van depressie (Netwerk24)

Afrikaners is plesierig dan baklei hulle so (Netwerk24)

In Afrikaans is dit 'n, nie ñ nie (Netwerk24)

As hartsmens identiteitsdief is wat gaslight (Netwerk24)

Dis Kersfees in Julie, gevul met sespuntkristalle (Netwerk24)

Jagluiperds se fluit fnuik tot die voëltjies (Netwerk24)

Kelkiewyn dra kosbare water in sy verevag (Netwerk24)

Vermy omgang met kêskuikens en melkbaarde (Netwerk24)

Kannie is dood. Lank lewe kannie! (Netwerk24)

Bruilof-wortels lê geanker in rituele (Netwerk24)

Word daar nog saans stories in jou huis vertel? (Netwerk24)

Dit is waar ’n babbeljoentjie vandaan kom (Netwerk24)

Dalk is dit nou tyd vir Red-’n-Woord-projek? (Netwerk24)

“Engels hou só Afrikaans se arms omhoog” (Netwerk24)

“Ek doen” (Netwerk24)

Afrikaans is ’n steentjie in die Afrikamosaïek (Netwerk24)

Luister mooi, stilbly is ook ’n antwoord (Netwerk24)

Die bouwerk wat ons help uitstyg (Netwerk24)

Dikdood of op ’n wilde perd die nuwe jaar in (Netwerk24)


Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is aan geen ander woordeboekprojek verbonde nie en word deur niemand geldelik gesteun nie. Dit is ’n onafhanklike inisiatief van die redakteur in haar vrye tyd.

Kopiereg © 2020-2024 Jana Luther