Bygewerk op 30 Oktober 2024
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en gereeld in Pharos Aanlyn bygewerk. Van November 2023 af word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit in een van of in albei hierdie bronne opgeneem is – ook Engelse woorde. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Getal trefwoorde vandag: 3 502
Die verdwaalde -s van Paps en Mams
Franse kleuters het ’n paar eeue gelede uit père en mère onderskeidelik die stamelwoorde papaN en mamaN gemaak. Die aN stel hier ’n genasaleerde aa- klank voor.
Dié stamelwoorde het deur Nederlands na Afrikaanse gekom as pappa en mamma. Soos kinders groter word, maak hul uit pappa en mamma die grootmenswoorde pa en ma. Maar daar is ’n stadium dat hulle Pappie en Mammie sê. (Party mense sê lewenslank so.) As hulle dan Pappie en Mammie heuning om die mond wil smeer, byvoorbeeld as hulle geld wil hê om mee te gaan baljaar, word Pappie maklik ou Paps(ie) en Mammie maklik ou Mams(ie).
Troetel -s
Dié -s van paps, papsie, mams en mamsie heet ’n troetelagtervoegsel. Mens gebruik dit as jy die aangesproke persoon (of die besproke persoon) met die mond vertroetel. Van kleinheid is hier geen sprake nie. Die -s gee net die houding van die spreker te kenne, nie grootte van die aangesprokene nie.
Maar emosie is op ’n manier soos ’n grappie: Die eerste keer tref dit, die tweede keer minder, die tiende keer omtrent glad nie. Dan moet mens weer iets anders vorendag haal. As mens jou pa gewoonlik as “Pappie” aanspreek, is “Paps” juis so ’n “treffende” troetelvorm. En omgekeerd. As mens jou pa gedurig as “Paps” aanspreek, is “Pappie” weer so ’n “treffende” troetelvorm.
En naas albei kan “Pappa” dan weer op sy beurt “treffend” wees.
Emosie
So het ons in Afrikaans drie troetelagtervoegsels: -a, -e en -s. Nie een van die drie is ’n verkleiningsagtervoegsel nie. Hulle dui al drie net emosie en houding aan.
Waar die -s vandaan kom, is onduidelik. Die volgende teorie is die aanneemlikste. Latynse eiename soos Marthinus, Hermanus en Stefanus lewer noemname soos Tiens, Maans en Faans, maar ook noemname soos Tienie, Manie en Fanie.
As iemand gewoonlik as Tienie of Manie of Fanie aangespreek word, en ’n spreker wil so iemand heuning om die mond smeer, dan is Tiens of Maans of Faans voor die hand liggend. Vir die spreker doen -s dan dieselfde werk as ’n troetelagtervoegsel. En so wórd die -s naderhand ’n troetelagtervoegsel.
Aanspreekvorme
Die aantal Afrikaanse persoonsname waarby die -s alleen optree, is taamlik min. Ek ken die volgende: Lets (naas Lettie), Luls (naas Lulu), Truds (naas Trudie), Wims (naas Wim), Bets (naas Bettie), Ans (naas Annie uit Anna), Miems (naas Miemie uit Maria), Riets (naas Rita uit Margaretha), Riens (naas Rina uit Mariana) en Els (uit Ellie).
S en -a(s) en -ie(s)
Maar die -s het ook na aanspreekvorme versprei wat nie eiename is nie. Naas Paps en Mams, ken ek Byps (uit Baby vir ’n groot vrou), Outs (uit Out uit Ouboet), Rooies en Wittes vir volwasse mans.
Daar is talle gevalle van -s wat ná ’n troetelende agtervoegsel soos -ie of -a optree. Ek dink aan Henties, Antjies, Mannetjies, Faantjies, Hempas, Hentas en Antas (uit Anna).
Bowendien kan ’n -ie of ’n -a ná die -s ook optree: Miemsa, Ansie en Ansa (uit Anna), Pietsie (’n jong man), en Lappies uit Labuschagne en Dippies uit Dippenaar.
Johan Combrink, Taalskatkis, 01 Februarie 1993 © Die Burger, Media24
trefwoorde
aanspreekvorm | eienaam | persoonseienaam | stamelwoord | troetelagtervoegsel | troetelnaam | troetelvorm
meerkat
meervoud
Mense laat hul voorsê
met iets deel
metonimie
Moenie ’n schmuck wees nie
Moge ’t treffe
naamgewing
nadruk
neologisme
neutrale vorm
neweskikker
Ngunitaal
Nie net vir koppel nie
nuutskepping
Nuwe taalreëls
omgangstaal
onderskeidingsteken
Ontgroende word oorlams
ontkenning
ontlening
Ontlening boei
oorklanking
Paps en Mams
paraaf
paragraaf
paragraafkoeël
paragraafteken
parentese
persoonseienaam
plekhouers en stopwoorde
pleknaam
polonie
Probleme berispe
punt
purisme
Raak naamgewing
reduplikasie
register
Retro-taal, waarom nie?
riemspring en streepsuiker
Rododendron of viooltjie?
saam (met)
samestelling
schwa
Sê en meen is twee
See-erfenis in idiome