Bygewerk op 30 Oktober 2024
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en gereeld in Pharos Aanlyn bygewerk. Van November 2023 af word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit in een van of in albei hierdie bronne opgeneem is – ook Engelse woorde. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Getal trefwoorde vandag: 3 502
Koppelteken word nie net vir koppel gebruik
Die woord koppelteken is eintlik ’n vrotsige term. ’n Term behoort eenduidig te wees, en koppelteken is juis nié.
Dit is wel waar dat mens met ’n koppelteken koppel. Kyk byvoorbeeld na gevalle soos “die pad Malmesbury-Moorreesburg”, “mnr. Johnstone-Brown” en “Jean-Pierre Rampal”. Maar die sogenaamde koppelteken het ook verskeie ander funksies.
Ten eerste word die koppelteken gebruik as ’n weglaatteken. Dit gebeur byvoorbeeld in mans- en seunsklere, netbal- en hokkiespelers en staats- of provinsiale hospitale.
Die weglaatteken word slegs gebruik as mens ’n woorddéél weglaat. Omdat ons staatshospitale as een woord skryf, is hospitale dáár ’n woorddeel. Dán gebruik mens ’n weglaatteken as jy staats- of provinsiale hospitale skryf. Maar omdat ons provinsiale hospitale as twee woorde skryf, is hospitale dáár ’n woord, nie ’n woorddeel nie. Dán gebruik mens nie ’n weglaatteken as jy provinsiale of staatshospitale skryf nie.
Ten tweede dien die sogenaamde koppelteken juis as ’n vergemakliker van die leesproses, veral in drie tipes gevalle.
Die eerste tipe geval is dié van klinkeropeenhoping in samestellings, soos in landbou-unie, toe-eien, na-aper en bo-oor. Hier skei die skeidingsteken om lees te vergemaklik.
Die tweede tipe geval is dié van komplekse waarvan die eerste lid ’n twee- of drielettergrepige element van Griekse of Latynse herkoms is, wat op ’n klinker eindig, en waarvan die tweede lid met ’n klinker begin. Die element van Griekse of Latynse herkoms eindig veral op ’n o, maar soms ook op ’n i of ’n a: gastro-enteritis, hidro-elektries, sosio-ekonomies; kwasi-intellektueel, ultra-elasties.
Wanneer hierdie elemente voor ’n medeklinker te staan kom, gebruik ons nié ’n skeidingsteken nie: gastroskopie, hidrograaf, sosiopolities, kwasigeleerd, ultrasonies.
Die derde tipe geval waar koppeltekens juis vergemaklikers van die leesproses is, is dié van samestellings wat (a) ongewoon, of (b) baie lank is. Ongewone samestellings waarvan die lees deur die sogenaamde koppelteken vergemaklik word, is byvoorbeeld sitvlak-terugpluk (i.v.m. ongerymdhede in perdewedren), en een voorbeeld van ’n lang samestelling wat makliker lees mét die sogenaamde koppelteken, is mikrorekenaar-verkoopsyferstygings.
Maar die sogenaamde koppelteken is nie slegs ’n koppelende en ’n leesvergemaklikende teken nie. Dit is ten derde eintlik ’n afbreekteken aan die einde van skryftaalreëls.
En ten vierde is dit die aanduider van bepaalde tipes verhoudings tussen die dele weerskante van die teken. Dit kan die verhoudings simboliseer wat deur los woorde soos en, of, per, tot en tussen weergegee kan word. In ’n woord soos brandstof-lug-verhouding sê die eerste koppelteken: “tot”.
En dan het die koppelteken buitendien ’n vyftal tradisionele plekke. Ons gebruik die koppelteken, in samestellings én afleidings, tussen ’n syfer of simbool of letter of afkorting enersyds en ’n uitgeskrewe woorddeel andersyds, byvoorbeeld 3-tal, &- teken, verbindings-s en ANC-tak.
Die vyfde tradisionele plek van die sogenaamde koppelteken is: voor ’n hoofletter wat ons wil behou, binne-in ’n woord, soos in pro-Frans, neo-Kapenaars, en veteraan-All Blackhaker.
Die koppel-weglaat-lees-verhoudings-tradisie-teken? Een ding is seker: ’n koppelteken koppel nie net nie.
Johan Combrink, Taalskatkis, 1 Februarie 1993 © Die Burger, Media24
trefwoorde
afbreekteken | eenduidigheid | Grieks | Klassieke herkoms | koppelteken | Latyn | leesbaarheidskoppelteken | samestelling | verhouding | vokaalopeenhoping | weglaatteken
leenwoord
leesbaarheidskoppelteken
leesteken
leksikografie
letternaam
Lexikos
loop en stap
lyftaal
Maleis
matriek
meerkat
meervoud
Mense laat hul voorsê
met iets deel
metonimie
Moenie ’n schmuck wees nie
Moge ’t treffe
naamgewing
nadruk
neologisme
neutrale vorm
neweskikker
Ngunitaal
Nie net vir koppel nie
nuutskepping
Nuwe taalreëls
omgangstaal
onderskeidingsteken
Ontgroende word oorlams
ontkenning
ontlening
Ontlening boei
oorklanking
Paps en Mams
paraaf
paragraaf
paragraafkoeël
paragraafteken
parentese
persoonseienaam
plekhouers en stopwoorde
pleknaam
polonie
Probleme berispe
punt
purisme
Raak naamgewing