Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 29 Maart 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Ingevoerde woorde
Net soos Suid-Afrika se eie plante deur uitheemse plante verdring kan word, word Afrikaanse woorde dikwels deur ingevoerde woorde verdring. Nou die dag is op een so ’n woord gewys: implementeer, wat ’n nabootsing is van ’n Engelse woord wat juis deur Engelse taalkenners nie hooggeag word nie.
Nog so ’n woord is die baie algemeen gebruikte daarstel. Dié een kom uit Duits, van die woord “darstellen”, wat eintlik iets heeltemal anders beteken as waarvoor daarstel rond en bont in Afrikaans gebruik word.
Die Duitse woord beteken om iets uit te beeld, weer te gee, voor te stel, en nog meer. So kan van die “Darstellung” van byvoorbeeld ’n landskap in ’n roman gepraat word. ’n Toneelopvoering kan ook ’n “Darstellung” heet. Die Afrikaanse daarstel het heeltemal ander betekenisse verwerf.
Die groot Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en HAT sê albei dat dit ’n Germanisme is. Of dit nog as sodanig beskou kan word, val te betwyfel, omdat dit al daardie nie-Duitse betekenisse gekry het en so sterk ingeburger geraak het. Maar dit bly ’n woord waarvoor die gebruikers van Afrikaans op hul hoede moet wees. Daar moet nie toegelaat word dat dit die eie Afrikaanse woorde verdring nie.
Heel tereg merk WAT op dat daarstel maklik vervangbaar is, waaruit afgelei kan word dat hy nie danig ingenome is daarmee nie. Daar is ’n hele rits Afrikaanse woorde wat in plaas daarvan gebruik kan word en nie deur hom verdring behoort te word nie, woorde soos instel, skep, vestig, ontwerp, tot stand bring, in aansyn roep, teweegbring, verwesenlik.
’n Belangrike oorweging is dat die woord luiheid in die hand werk. Mense gebruik dit te pas en te onpas, dikwels te onpas, sonder om na te dink watter woord die beste in ’n bepaalde verband pas. Dit maak hul taalgebruik onpresies, soms selfs vaag. Daar is al geskryf dat eenheid daargestel moet word in plaas van geskep of tot stand gebring, of dat ’n leerstoel aan ’n universiteit daargestel is in plaas van ingestel of geskep. Dit is ook al gebruik waar dit gegaan het om die stigting van ’n vereniging, die skepping van ’n kunswerk, selfs die oprigting van ’n gebou. ’n Plan word soms ook “daargestel” in plaas van gemaak of beraam of, in ’n ander sin, ontwerp of opgestel.
Hoe die woord voortgewoeker het, blyk daaruit dat dit selfs by die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans gebruik is. Volgens dié vertaling lui die vyfde vers van 2 Samuel 23: “Hy het ’n ewige verbond vir my daargestel.” In die nuwe vertaling is van die woord ontslae geraak; die vers lui nou: “Hy het aan my ’n verbond vir altyd gegee.”
Ingevoerde woorde is nie voor die voet ongewens nie. Hulle kan Afrikaans verryk, maar dan net as hulle in ’n bestaande behoefte voorsien wat daarstel nie doen nie en dus nie bestaande eie woorde verdring nie, wat die woord wel doen. Dit is nou al so stewig gevestig dat ons nooit daarvan ontslae sal kan raak nie. Maar dit moet met oorleg gebruik word, en mense moet hulle telkemale afvra of daar nie ’n beter Afrikaanse woord is wat sê presies wat hulle bedoel nie.
J.J.J. Scholtz, Taalgereedskap, 21 Oktober 1991 © Die Burger, Media24
trefwoorde
Duits | Germanisme | taalluiheid
berus
Besluite neem of maak?
Betekenis vra konteks
betekenisverhoudings
Betekenisverruiming gee woema
boer en Boer
Bologne tot Benoni
bywoord
DBAT
Deftig wees
Dialektiese variasies
Die tyd is nou
diernaam
dit wat
Één een
fooi
Gesukkel met name
Hoe werk die Taalkommissie?
Hoekom sprinkaan?
huh en uh-huh
huidiglik
hulpmiddele by skryf
Idiome wys taalvaardigheid
ingevoerde woorde
Is Afrikaans jonk?
kaplaks
kerfstok
kiri slam en iesegrimmig
Komma as desimale skeier
kort name
lankmoedig en verdraagsaam
Lexikos
loop en stap
meerkat
Mense laat hul voorsê
met iets deel
metonimie
Moenie ’n schmuck wees nie
Moge ’t treffe
nie
Nie net vir koppel nie
Nuwe taalreëls
Ontgroende word oorlams
Ontlening boei
Paps en Mams
plekhouers en stopwoorde
Probleme berispe