Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 20 Junie 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Gebruik van idiome wys taalvaardigheid
Idiome is ’n belangrike deel van ons oggend- en aandpraatjies. ’n Kenmerk van ’n vlot moedertaalspreker is sy korrekte en veral gepaste gebruik van idiome.
Afrikaans het ’n groot klomp idiome wat nuut is, maar daar is ook ’n hele klomp wat erfgoed uit onder meer Nederlands is. As dit by idiome kom, is dit beter om die taal nie altyd op sy woord te neem nie, omdat idiomatiese taal dikwels juis nie letterlik verstaan moet word nie.
By baie idiome kan ’n regstreekse verband getrek word tussen die idiomatiese waarde en ’n moontlike letterlike lesing. Sulke idiome se idiomatiese waarde het dikwels uit die letterlike ontwikkel. Vergelyk byvoorbeeld ’n idioom soos kinders moet gesien, maar nie gehoor word nie. Die betekenis van hierdie idioom is redelik deursigtig.
’n Effens groter sprong kry ons in ’n voorbeeld soos al dra ’n aap ’n goue ring, hy is en bly ’n lelike ding. Maar by sommige idiome is dit glad nie moontlik om die idiomatiese waarde by ’n letterlike betekenis uit te bring nie. ’n Voorbeeld van hierdie tipe is ’n hond uit ’n bos ... Hier kan ’n hele klomp werkwoorde ingevoeg word om die idioom volledig te maak, byvoorbeeld ’n hond uit ’n bos eet/praat/sing/werk/huil/skreeu. Die betekenis in al hierdie gevalle is iets soos “aanhoudend”, “met oorgawe”, “baie”. Maar ’n mens kan beswaarlik by dié betekenis uitkom deur na die letterlike waarde van die idioom te kyk.
Idiome wat as erfgoed hul plek in ons Afrikaanse versameling gekry het, is dikwels nie sonder meer verstaanbaar as ons nie ’n stukkie etimologie pleeg of aandag aan ouer taalgebruik gee nie. Die idioom iemand die loef afsteek is vandag nog goed bekend en wel met die betekenis “iemand uitoorlê”. Die oorsprong van die idioom is minder bekend.
Die loef is die windkant van ’n seilboot. As ’n seilboot so vaar dat hy die wind in die seile het, kan daar gesê word dat hy die loef het of die loef behou. Sou ’n ander boot aan sy windkant kom vaar, kry die ander boot die voordeel van die wind en word die eerste boot se vooruitgang belemmer. As jy dus wou verhinder dat ’n ander boot vinnig vaar, moes jy met jou boot die loef van daardie boot afgekeer het. Dan het jy hom uitoorlê. Om iemand die loef af te steek, is om hom te uitoorlê deur iets wat hom bevoordeel het, nou tot jou voordeel te gebruik.
Ons kan baie van ons Afrikaanse idiome beter verstaan as ons ’n slag gaan kyk na hoe, waar en waarom die idioom ontstaan het.
Rufus H. Gouws
Taalgereedskap: Die Burger, 14 Februarie 1994 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.
trefwoorde
uitdrukking
Benamings laat struikel
berus
Besluite neem of maak?
Betekenis vra konteks
betekenisverhoudings
Betekenisverruiming gee woema
boer en Boer
Bologne tot Benoni
bywoord
DBAT
Deftig wees
Dialektiese variasies
Die tyd is nou
diernaam
dit wat
Één een
fooi
Gesukkel met name
Hoe werk die Taalkommissie?
Hoekom sprinkaan?
huh en uh-huh
huidiglik
hulpmiddele by skryf
Idiome wys taalvaardigheid
ingevoerde woorde
Is Afrikaans jonk?
kaplaks
kerfstok
kiri slam en iesegrimmig
Komma as desimale skeier
kort name
lankmoedig en verdraagsaam
Lexikos
loop en stap
meerkat
Mense laat hul voorsê
met iets deel
metonimie
Moenie ’n schmuck wees nie
Moge ’t treffe
nie
Nie net vir koppel nie
Nuwe taalreëls
Ontgroende word oorlams
Ontlening boei
Paps en Mams
plekhouers en stopwoorde