Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 29 Maart 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Woorde staan nie op eie houtjie nie
’n Mens dink dikwels dat elke afsonderlike woord wat in die woordeskat van ’n taal optree, maar op eie houtjie daar staan en geen verband met ander woorde in die woordeskat het nie.
Dit wil voorkom of woorde soos byvoorbeeld want, amper en dan geen ooreenkoms met enige ander lid van die woordeskat het nie. Met ’n eerste oogopslag lyk die leksikon na 'n ongeordende versameling items. Daar is naamlik min sprake van samehang tussen die verskillende woorde, en om enige sin te maak, moet ’n mens eers van die woorde sinne maak. Dan word daar orde geskep. Maar die leksikon is nie so ongeordend soos dit mag lyk nie. Dit blyk veral wanneer ’n mens na die betekenissamespel tussen die verskillende items kyk. Dan is dit duidelik dat want en omdat dieselfde betekenis het, maar in verskillende sinstipes gebruik word.
Vergelyk byvoorbeeld “Sy is huis toe omdat sy sleg gevoel het” teenoor “Sy is huis toe, want sy het sleg gevoel.” Omdat verbind ’n hoofsin en ’n bysin, terwyl want twee hoofsinne verbind.
Ook die woord amper staan nie los van die res van die woordeskat nie, maar sluit op betekenisvlak aan by die woord byna hoewel elk sy eie gebruiksoptrede het.
Dan behoort tot ’n klein groepie woorde wat bepaalde uitdrukkings merk vir die tyd waarna in die uitdrukking verwys word. Dié groepie is dan, toe en nou.
Dan word gebruik vir ’n toekomsverwysing: “Môre gaan ek tandarts toe, en dan sal hy my moet inspuit.”
Toe is vir verledetydsverwysing: “Ek was gister by die tandarts, en toe het hy my ingespuit.”
Nou is vir verwysing na die teenwoordige tyd: “Ek is nou by die tandarts.”
Vanuit ’n betekenisperspektief is dit gou duidelik dat daar eintlik ’n hele netwerk van verhoudinge tussen die elemente van die woordeskat bestaan.
Woorde bestaan nie in isolasie nie, maar vorm telkens deel van een of ander betekenisverhouding. Sommige woorde staan in ’n verhouding van sinonimie tot
mekaar, terwyl ander weer in betekenisopposisie tot mekaar staan. Ons onderskei ook groepe woorde wat tot bepaalde betekenisvelde behoort.
Alle krieketterme of alle woorde wat na modes verwys, behoort tot so ’n betekenisveld. Tussen die woorde kolwer en bouler bestaan daar dus ’n betekenisverwantskap omdat albei tot die veld van krieketterme behoort.
’n Ander tipe verhouding wat tussen sommige woorde bestaan, is dié van etimologiese verwantskap. Woorde wat tans oënskynlik niks met mekaar te make het nie, kan dikwels herlei word tot ’n gemeenskaplike herkoms. Soms betrek dit die hele woord en soms slegs ’n deel.
Die Afrikaanse woorde treurmare en vermaard is voorbeelde van so ’n gedeeltelike etimologiese verwantskap. Soos hierdie woorde nou in Afrikaans gebruik word, is daar geen ooreenkoms nie. Maar vir die etimoloog wat met woordherkoms speel, is hierdie woorde bloedfamilie.
Die -mare in treurmare en die -maar- in vermaard kom uit die ou Middelnederlandse vorm mare. Hierdie selfstandige naamwoord het verskillende betekenisonderskeidinge gehad met onder andere die waardes “gerug” of “tyding” en “roem”.
’n Treurmare is ’n treurige tyding en ’n vermaarde persoon is iemand wat roem verwerf het.
Daar is ander Afrikaanse woorde waarvan die etimologie met dié van treurmare en vermaard in verband gebring word, maar wat nie daarmee verwar moet word nie. Dit is naamlik die woorde maarskalk en nagmerrie.
Middelnederlands het meer as een woord mare gehad. Een van dié woorde kan vandag in Afrikaans met merrie, ’n vroulike perd, vertaal word. Dié woord mare sit nog in die Afrikaanse vorm maarskalk: die “skalk”, d.w.s “dienaar” van die stal. Die maarskalk was eintlik die stalkneg wat die perde moes oppas.
Nagmerrie se -merrie kom ook uit die Middelnederlandse mare, maar dié mare het die betekenis “kwelgees”. ’n Nagmerrie is dus die gees wat jou snags kwel.
Rufus Gouws, Jong Burger, 13 Desember 1993 © Die Burger, Media24
trefwoorde
voegwoorde | etimologie | treurmare | maarskalk | nagmerrie
zilch
zoedel
zoei
zolkoekie
zombifikasie
zombifiseer
Zoom
zoombie
Zoombom
Zoomer
zoomzombie
Zumaïet
zumba
zump
-a
Afkorting en volvorm
afslaer
Asterisk wys nagedagte
Bê, sê die bok
Benamings laat struikel
berus
Besluite neem of maak?
Betekenis vra konteks
betekenisverhoudings
Betekenisverruiming gee woema
boer en Boer
Bologne tot Benoni
bywoord
DBAT
Deftig wees
Dialektiese variasies
Die tyd is nou
diernaam
dit wat
Één een
fooi
Gesukkel met name
Hoe werk die Taalkommissie?
Hoekom sprinkaan?
huh en uh-huh
huidiglik
hulpmiddele by skryf
Idiome wys taalvaardigheid
ingevoerde woorde
Is Afrikaans jonk?
kaplaks
kerfstok