Woordeboek van Afrikaans Vandag

Bygewerk op 29 Maart 2025

Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings

Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui of jy in die woordeboek of rubrieke wil soek. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!

Soek in:

pleonasme s.nw. | pleonasmes |
SINONIEM(E): woordoortolligheid
ENGELS: pleonasm

Weer herhaal dui op dof dink

’n Pleonasme is ’n woordgroep waarin dieselfde gedagte twee maal uitgedruk word, soos in Ek wil die sin weer herhaal, as die spreker “die sin” nog net één keer gesê het.

Die weer + her-werkwoord''-gevalle wemel in Afrikaans. Ek het opgeteken: weer herdruk, weer herdenk, weer hersien, weer heropen, weer herkies en weer herinner.

Ons voorvoegsel her- kom uit Latyn re-, óf via Frans óf direk uit Latyn. Maar weer + re-gevalle het ek min gehoor: weer reorganiseer en weer + rehabiliteer.

Pleonasmes kán nuttig wees, veral as mens bang is jy sal nie goed begryp word nie. Maar meesal gebruik sprekers pleonasmes omdat hulle sélf nie helder dink nie. Hier is ’n klompie wat ek in gesprekke opgeteken het: uitstel tot later (kan mens iets uitstel tot vroeër?), in staat om te kan; ouerlose wesies; opsetlike brandstigting; wettige huwelik (’n huwelik is óf wettig óf nie ’n huwelik nie); ’n skatryk biljoenêr; hy was by by die doop; ’n ernstige noodgeval; ’n yslike knewel; ’n dooie lyk; sy doen dit alleen op haar eie; John moes alles van voor af weer opnuut oorbegin (vier- of vyfdubbeld pleonasties); te voet loop; daar mag moontlik dalk probleme wees (driedubbeld).

Hierdie soort pleonasmes – dié wat aan denkslordigheid te wyte is moet mens probeer vermy.

Maar party pleonasmes is histories; mens móét hulle gebruik as jy natuurlik wil praat. So is daar byvoorbeeld die het + ge- van die verlede tyd, in ’n geval soos “Hulle het getrek”. Sowel die het as die ge- druk verlede tyd uit, maar grammaties kan ons in Afrikaans nie sonder álbei klaarkom by trek of loop of grawe of bedel nie.

Afrikaans het in die volksmond ontstaan, en juis die gewone sprekers wat nie danig taalskoling gehad het nie, gebruik baie maal pleonasmes. (Nie dat akademies opgeleide mense totaal skoon te spreek is nie.)

Teen die tyd toe daar begin is om Afrikaans op te teken was sommige pleonasmes reeds onvervangbaar deel van die grammatika. Sulke gevalle is byvoorbeeld het ge- en van ... af.

Ander gevalle is minder vas, meer los, byvoorbeeld (saam) ... met en tot ... (toe) of (tot) ... toe.

In “Kom jy saam met my?” kan mens die saam nie weglaat nie. En party sprekers kan ook nie saam weglaat in ’n sin soos “Ek het gister met hom saam gepraat nie”. Maar die meeste sprekers gebruik beslis nie saam in ’n sinsnede soos “met die beste bedoelings” nie.

Tot ... (toe) is ’n baie eienaardige geval. Mens kan nie in Afrikaans *“Tot siens toe” sê nie, slegs “Tot siens”. Maar ek het al “Tot weersiens toe” gehoor.

Aan die ander kant is tot vervelens toe, tot satwordens toe en ál die ander “tot + ww.-ens toe”-gevalle gewone Afrikaans, maar mens kan ook die slot-toe weglaat, sonder semantiese skade.

Maar jy kan nie die toe behou en die tot weglaat nie. Kyk maar: *“Hulle het vervelens toe vrae gevra”. En andersyds kan mens die toe weglaat, maar nie die tot nie, in ’n sin soos “Tot anderkant Bloemfontein toe het Pietie geslaap”.

Ten slotte, ter laaste finale eindafsluiting, ’n vyfdubbele pleonasme: “Ek sou meer wou kon gereis het in die verlede.”

Johan Combrink
Taalgereedskap: Die Burger, 27 Oktober 1997 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.  



Let wel
As ’n soekwoord nie as trefwoord opgeneem is nie, word dit in ander artikels vertoon, indien dit voorkom. Soek dan met CTRL-F om sulke voorbeelde op jou rekenaarskerm uit te lig. Jy kan ook met spesiale karakters soek. Kyk hier onder.

Please note
This dictionary mainly contains words, meanings and expressions that have not yet been included in other Afrikaans dictionaries, together with a collection of language columns, blogs, video inserts and podcasts. If a search word is not included as a headword, examples of the word in other entries (definitions, usage examples, usage notes, etc) are displayed, if they occur. Then search with CTRL-F to highlight such examples on your screen.


  Podsendkanaal

  Artikels, rubrieke en ander bydraes van 2025

As jy meer van jou hond hou as van mense (Netwerk24)

Verwaand is nou verwant aan waansin (Netwerk24)

Japie my skapie moet dalk liefs ’n kraak maak (Netwerk24)

Weet jy wat is die agtste ‘bot’ se betekenis? (Netwerk24)

Taalgoggas wat baie laat struikel (Netwerk24)

Jana se reis met woorde (Afrikaans100)

● Oor bottels, flesse, vate, kuipe, balies ... (RSG)

Welkom in die tyd van die Soetkoek-eters (Netwerk24)

So maak jy met ’n motor wat in die modder sit (Netwerk24)

● Oor kalbasse en kruike en ander holgoed (RSG)

Besigtig die volledige lys taalrubrieke, podsendings en nog ander blogs en artikels hier.


Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is aan geen ander woordeboekprojek verbonde nie en word deur niemand geldelik gesteun nie. Dit is ’n onafhanklike inisiatief van die redakteur in haar vrye tyd.

Kopiereg © 2020-2025 Jana Luther