Woordeboek van Afrikaans Vandag
Bygewerk op 5 Februarie 2025
Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings
Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Sedert 2024 word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit opgeneem is – ook Engelse woorde. Let op dat jy moet aandui in watter bron jy wil soek, of in albei. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!
Getal trefwoorde vandag: 3 318 (woordeboek) | 222 (rubrieke)
pleknaam s.nw. | plekname |
Verafrikaansing van plekname
’n Leser wil weet of daar reëls is vir wanneer ’n bepaalde pleknaam verafrikaans word en wanneer nié.
Die kort antwoord is: Nee, daar is nie sulke reëls nie. Die lang antwoord is baie interessanter.
Plekname van hoë ouderdom word nie soseer vertaal nie, hulle ondergaan klankaanpassing. Vergelyk Wien en Wene, London en Londen, Paris en Parys, Bruxelles en Brussel, Lisboa en Lissabon.
Nuwe name – dié waaraan wel iets gedoen word – ondergaan ook meesal klankaanpassing. Vergelyk die Engels en Afrikaans van Colesberg, Carnarvon, Alberton, Pretoria, Johannesburg en ook Standerton. (Let daarop dat -ton ’n afgeslete vorm van town is.)
Hier en daar word ’n pleknaam vertaal, byvoorbeeld Kaapstad en Cape Town, Three Sisters en die nieamptelike Drie Susters, East London en Oos-Londen.
Maar in verreweg die meeste gevalle word plekname in Suid-Afrika nie vertaal nie, altans nie tussen Afrikaans en Engels nie. Vergelyk Malmesbury, Richmond, Vereeniging, Pietersburg, Durban en Port Nolloth.
Niemand van wie ek weet, kan voorspel dat die een naam, byvoorbeeld Discovery, vertaal gaan word, maar die ander een nie, bv. Springs.
Dieselfde geld byvoorbeeld Kaapstad en Griekwastad aan die een kant en Ohrigstad en Kokstad aan die ander kant. Kortmarkstraat in Kaapstad heet in Engels Shortmarket, maar Houtstraat se naam word in Engels net klankmatig aangepas, nie vertaal nie.
Johan Combrink
Taalgereedskap: Die Burger, 27 November 1995 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.
Nie uit die bose nie
’n Leser is ontstoke oor die Afrikaanse vorm Grahamstad. Hy sê ander plekname met die Engelse town word nie vertaal nie. Vergelyk King William’s Town, Queenstown en Jamestown. Is dié vertaling van Grahamstown na Grahamstad reg? Is dit nie verkeerd om van “Grahamstad” te praat nie?
Amptelik heet die plek “Grahamstown”. Nie-amptelik praat baie Afrikaanse mense van “Grahamstad”. Daar is niks mee verkeerd nie. [Vandag is die amptelike naam van Grahamstown Makhanda.]
Eiename van plekke pas eenvoudig nie resloos in netjies logiese kategorietjies in nie. Anders gesê: Net omdat ander Engelsetown-name nie vertaal word nie, is dit nog geen rede om te sê Grahamstown se Afrikaanse ekwivalent is uit die bose nie.
En waarom is dit Afrikaanse mense wat gedurig ander arme Afrikaanssprekendes deurloop vir hulle “onnoselheid”? Afrikaans het nie nóg vyande nodig nie.
Dié hele kwessie van deel-vir-deel-vertaling, of klankaanpassing van eiename het niks met domheid te make nie. Elke eienaam het sy eie unieke geskiedenis, en slegs hier en daar speel analogie ’n rol.
Dink daaraan dat die Engelse Kaapstad, Simonstad en Griekwastad onderskeidelik vertalend aangepas het tot Cape Town, Simon’s Town en Griqua Town, maar dat hulle Hoopstad, Ohrigstad, Marabastad, Venterstad, Wolmaransstad en Riebeekstad nie so vertaal het nie.
Die leser voer as rede aan dat hy nog nooit gehoor het dat ’n persoon wie se naam Graham is as “Graam” aangespreek word nie.
Geagte leser, dit is nie ’n goed genoeg rede nie. En buitendien, daar ís van die afstammelinge van stamvader sir William Graham van Kincardine (Skotland) wat as Graam, en Gram bekend wil staan, byvoorbeeld, oom Jacobus Graham (Koos Gram).
Weer eens, oor eiename kan mens baie moeilik veralgemeen, behalwe dat jy kan veralgemeen deur te sê dat jy baie moeilik oor eiename kan veralgemeen.
Johan Combrink
Taalgereedskap: Die Burger, 18 Desember 1995 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.
piñata
piñatakoek
Pinyinsisteem
pirocumulonimbus
pirocumulus
pirokonveksie
pis
pissie
pitaja
pizzapastei
PK
PKR
plafon
plak
plakker
-plakker
plantgebaseer
plantproteïen
plastiekboekanier
plastiekeiland
plastieksop
platinum
platkos
pleknaam
plekspeld
pleonasme
plettervat
pliebaadjie
pliggie
plofkop
plofwoord
plukbrood
plustens
podiumpoësie
podsending
poefsakkie
poeierhol
poenang
poenankies
poeplorrie
poepsakkie
poering
poer-poer
poespas
poetoepap
poewasa
POF