Woordeboek van Afrikaans Vandag

Bygewerk op 5 Februarie 2025

Redakteur: Jana Luther | Help ons | Woordewisseling | Podsendings

Van 2020 af word eietydse taalgebruik – nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat meestal nog nié in ander woordeboeke staan nie – intyds hier versamel en in Pharos Aanlyn bygewerk. Van November 2023 af word, met toestemming, ook ’n groot versameling taalrubrieke, -podsendings en ander -insetsels stelselmatig bygevoeg. Dit kry jy slegs hier. Tik ’n woord in die soekkassie en vind dit dadelik, indien dit in een van of in albei hierdie bronne opgeneem is – ook Engelse woorde. Onthou dat ’n lewende woordeboek, nes Afrikaans, heeltyd groei en verander. Neem aan ons leesprogram deel en help ons!

Getal trefwoorde vandag: 3 318 (woordeboek) | 222 (rubrieke)

Soek in:

binominaal b.nw. | binominale | met twee name.

binominale paar (taalkunde) twee woorde wat moedertaalsprekers altyd in dieselfde volgorde gebruik, gewoonlik verbind met en of of.

heinde en verre, hot en haar, pimpel en pers

Naas vaste uitdrukkings: spreekwoorde, spreuke en gesegdes (onder die son is daar niks nuuts nie, elke einde is ’n begin, “hef aan” lê nog voor) het Afrikaans, nes Nederlands en ander tale, ook ander multiwoordeenhede: kollokasies (in aanbou), leenwoordgroepe (carpe diem), multiwoordeiename (Afrikaans Vandag), groepsetsels (van meet af).
 
’n Vyfde multiwoordgroep word in die stilistiek en taalkunde binominale pare genoem – pare woorde wat moedertaalsprekers, saam, altyd in dieselfde volgorde gebruik: dubbel en dwars (nie dwars en dubbel nie), dik en dun (nie dun en dik nie); ditjies en datjies, koeitjies en kalfies ...

Woorde van dieselfde soort, met een of ander semantiese verwantskap tussen hulle, wat min of meer onomkeerbaar deur ’n voegwoord verbind word: byvoeglike naamwoorde (soet en suur), selfstandige naamwoorde (sak en pak, raad en daad), werkwoorde (kom en gaan). Party is naverwant of sinoniem (kanne en kruike); ander teenoorgesteldes (hoog en laag, goed en kwaad). Name van mense of fiktiewe karakters hoort dikwels bymekaar (Hansie en Grietjie, Batman en Robin). Dikwels met alliterasie en rym (willens en wetens, hortend en stotend).

Interessant is pare waarvan een of albei lede nie meer in ons algemene spreektaal voorkom nie; net nog in hul samegroeiing: fossielwoorde soos heinde, hot, haar en pimpel.

Heinde beteken, volgens die WAT, “digby” of “naby”. Mense wat van heinde en ver(re) kom, kom van alle kante, uit elke uithoek; nie net van ver af nie, maar ook van heinde, wat van ’n Middelnederlandse woord, gehende, afgelei is. Gehende, wat ook “naby” beteken het, kom op sy beurt van hend, ’n wisselvorm van hand. Iets wat heinde is, is dus letterlik “op hande”, “by die hand”, byderhand, digby of naby.

Volgens Nederlandse woordeboeke is hot en haar ou koetsiersterme: woorde wat die bestuurders van koetse en perdekarre uitgeroep het om die perde na regs of links te stuur. Ja, let wel, in Nederlands beteken hot “na regs” en haar “na links”. Maar let op – as jy aan links-regsverwarring ly, sal jy empatie hê: Vanslewe se Afrikaanspraters het die twee loop staan omruil.

Volgens Gerhard van Wyk se Etimologiewoordeboek by die WAT kry Afrikaans sy eerste optekening van hot – in 1880 by Pannevis – as “links”. Volgens Afrikaanse woordeboeke is hot “aan of na die linkerkant” (as jy links is, skryf jy met jou hotklou) en haar “aan of na die regterkant” (al hoor mens nie eintlik van haarkloue nie). Saam gebruik, beteken hot en haar in Afrikaans, anders as in Hollands, dus: “links en regs” of, volgens die WAT, “rond en bont, heen en weer, na alle kante, orals”.

Die herkoms van pimpel in pimpel en pers is ’n bietjie onseker. Ons weet dit was vroeër pimpelpers (soos borriegeel). Die meeste etimoloë meen die pimpel-deel kom van pimpelmees: Die naam van ’n Europese sangvoël met ’n kenmerkende hemelsblou, kobaltblou kol op sy kop.

In Suid-Afrika is ons bekendste mese die swartmees en die grys piet-tjou-tjou.

Jana Luther
Woordewisseling: Beeld, Die Burger, Netwerk24, 20 Mei 2022 © Netwerk24
In die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem met toestemming.  



Let wel
Kies in watter bron(ne) jy wil soek. As ’n soekwoord nie as trefwoord opgeneem is nie, word voorbeelde van die woord in ander artikels vertoon, indien dit voorkom. Soek dan met CTRL-F om sulke voorbeelde op jou rekenaarskerm uit te lig. Kyk hier onder hoe jy ook met behulp van spesiale karakters kan soek.

Please note
This dictionary mainly contains words, meanings and expressions that have not yet been included in other Afrikaans dictionaries, together with a collection of language columns, blogs, video inserts and podcasts. If a search word is not included as a headword, examples of the word in other entries (definitions, usage examples, usage notes, etc) are displayed, if they occur. Then search with CTRL-F to highlight such examples on your screen.


  Artikels, rubrieke en podsendings van 2025

● Taalverskeidenheid (Afrikaans Vandag vir RSG, Kompas)

Taalgoggas wat baie laat struikel (Netwerk24)

● Idiome skets prentjies (Afrikaans Vandag vir RSG, Kompas)

Jana se reis met woorde (Afrikaans100)

● Oor bottels, flesse, vate, kuipe, balies ... (RSG)

Welkom in die tyd van die Soetkoek-eters (Netwerk24)

So maak jy met ’n motor wat in die modder sit (Netwerk24)

● Oor kalbasse en kruike en ander holgoed (RSG)

Besigtig die volledige lys taalrubrieke, podsendings en nog ander blogs en artikels hier.


Soek met spesiale karakters

SimboolFunksieVoorbeeld
"..."Frase"ten opsigte van"
_Een ontbrekende karaktercal_one
%Enige aantal ontbrekende karakterska%abidiol
/1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in dié volgorde"wat lei"/7
@1-9Binne dié getal woorde van mekaar, in enige volgorde"wat lei"@7
&Vind al tweevirus & epidemie
|Vind die een of die andervirus | epidemie
#Vind die een of die ander, maar nie al twee nievirus # epidemie

Hierdie woordeboek is aan geen ander woordeboekprojek verbonde nie en word deur niemand geldelik gesteun nie. Dit is ’n onafhanklike inisiatief van die redakteur in haar vrye tyd.

Kopiereg © 2020-2025 Jana Luther